Bron: Waarheid en Dwaling. 4 bladsye.

Hemelburgers Toerusting vir Diens in die Koninkryk 4

'Ons burgerskap is in die hemele.'  Wat beteken hierdie burgerskap? Watter voorregte ontvang die burgers?  Wat verwag die Here van hulle?

'Ons burgerskap is in die hemele.' Hierdie woorde staan geskryf in die brief aan die Filippense. Die eerste lesers van hierdie brief het die betekenis van hulle hemelburgerskap onmiddellik begryp. Hoekom? Hulle blyplek was nie 'n willekeurige Griekse stad nie. Filippi was 'n Romeinse kolonie. Die Skrif vermeld die koloniestatus van die stad om vir alle lidmate van die kerk in alle lande en tye hulle posisie van hemelburger te verduidelik.

Filippi - 'n Kolonie🔗

Filippi is die eerste Griekse stad waar die apostel Paulus omstreeks die jaar 50 die evangelie verkondig. Die stad besit dan al omtrent negentig jaar die status van 'n kolonie. Dié status word uitdruklik in die Skrif vermeld. Die volk van Cod in alle lande en tye moet daarvan kennis neem om die betekenis van die hemelburgerskap te kan verstaan.

Sedert die jaar 42 voor Christus kry afgetrede Romeinse soldate wat in Antonius se legioene geveg het, verlof om hulle as koloniste in Filippi te vestig. Elf jaar later (31 voor Christus) en daarna word die kolonie uitgebrei en versterk deur die vestiging van ander veterane. Hulle het gedien onder die bekwame veldheer Octavianus wat naderhand as keiser Augustus bekend staan.

Die Romeinse koloniste bly ver van hulle vaderland. Hulle woon en werk in Filippi, 'n stad in die Griekse landstreek Masedonië. Dié gebied is by die groot en magtige Romeinse ryk ingelyf. Die Romeine minag die oorspronklike inwoners wat nie die burgerskap van Rome besit nie. Grieke en ander onderworpe volke is in hulle oë 'barbare'.

'Verromeins' die Griekse Samelewing🔗

Die Romeinse owerheid verwag van sy koloniste om die bevolking van verowerde gebiede, wingeweste, tot die Romeinse beskawing te 'bekeer', ten einde 'geestelike' eenwording van die ryk te bewerkstellig.

Die koloniste onttrek hulle dus nie aan hul omgewing nie. Inteendeel, al hul aktiwiteite kom voort uit die opdrag vanuit hulle vaderland: 'Reformeer, hervorm die samelewing.’ Enige aanpassing by die burgery van Filippi is vir hulle taboe. Vergrieksing van hulle lewe sou die daadwerklike verloëning van hulle roeping beteken.

Nee, die Grieke moet beskaaf word, by die Romeinse lewenstyl aanpas. Hulle moet Romeins gaan dink, die Romeinse reg aanvaar, Romeinse sedes en gewoontes aanleer. Kortom, die koloniste beywer hulle in Filippi vir die integrale en totale 'verromeinsing van die Grieke'.

Romeinse Koloniste het Voorregte🔗

Om hulle enorme taak - die 'verromeinsing' van die 'barbaarse samelewing' - optimaal te kan verrig, ontvang die koloniste belangrike voorregte. Eerstens behou hulle die Romeinse burgerreg. Hulle name is in Rome geregistreer. Hulle word beskerm deur die Romeinse reg en - indien nodig - deur Romeinse soldate.

Lewensonderhoud? Behuising en al die nodige om aan die lewe te bly, word vanuit Rome voorsien. Vadertjie staat, die keiser en sy onderhorige owerhede, versorg die koloniste in die verre, vreemde land.

Die koloniste in Filippi het hulle kant gebring. Die 'verromeinsing'-proses het ten tye van Paulus se prediking in daardie stad ver gevorder. Die aanklag wat burgers tydens sy verblyf aldaar teen hom en sy metgesel Silas inbring, lui: 'Hierdie manne bring ons stad in opskudding, omdat hulle Jode ('barbare') is, en hulle verkondig sedes wat vir ons nie geoorloof is om aan te neem of na te volg nie, omdat ons Romeine is.'

Die aanklag word nie met enige feit gestaaf nie. Die klag 'anti-Romeins' en derhalwe staatsgevaarlik is vir die regters voldoende om die beskuldigde gesante van Christus sonder enige verhoor tot slae en gevangenskap te veroordeel. 'Barbare' het mos in die Romeinse ryk geen regte nie?!

Hemelburgers se Domisilie🔗

Teen die bostaande agtergrond verstaan die broeders en susters in Filippi en saam met hulle die kerk in alle lande en tye die diep en omvangryke betekenis van die woorde: 'Ons burgerskap is in die hemele'. Die woord 'burgerskap' is die vertaling van die Griekse woord politeuma. Hierin hoor ons die klanke van polis, stad, en politës, burger. Ons vaderland, ons moederstad is die hemel.

Die woordjie ons staan in die grondteks met nadruk voorop. Ons burgerskap word beklemtoon, teenoor die burgerskap van mense wat 'aardse dinge bedink'.  Hulle laat hulle deur 'aardse dinge', deur kragte van benede, dirigeer. Ons word vanuit die hemel gelei. Ons is verplig om die Leidsman en Voleinder van die geloof daarbo, in die hemele, te volg.

Kinders van God, al die lidmate van die kerk, beklee die posisie van koloniste in hierdie wêreld. Soos Rome vir die Romeine in Filippi die moederstad was, is die hemel ons domisilie. Ons name staan 'in die hemele opgeskrywe'.  Ons, lidmate van die kerk, is Bo geregistreer.

Die Romeine vereer hulle keiser in Rome, aanbid en dien 'n sterflike mens as hulle god. Ons vereer en dien ons Verlosser wat as Koning aan die Vader se regterhand oor almal en alles regeer. Hy regeer nog steeds ná die ondergang van die Romeinse ryk. Sy koningskap strek oor alle eeue, tot die dag van sy koms met die wolke.

Hemelburgers se Lewensonderhoud🔗

Rome kan tekortskiet in die lewensonderhoud van die koloniste. Onse Here wat sy volk van die nodige voorsien, doen dit - soos Hy alles doen - volmaak. Hy onderhou sy bruidskerk in die vreemde sowel geestelik as stoflik.

Hy roep ons om ons taak as koloniste in die wêreld te verrig, sonder om ons te kwel en te vra: 'Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek?' Ons roeping is om eers die koninkryk van God en sy geregtigheid te soek. Lewensonderhoud? Dit sal bygevoeg word. Hemelburgers ontvang elke dag hul daaglikse brood van Bo.

Hemelburgers se Roeping🔗

Koloniste lewe en werk buite hulle vaderland, temidde van mense wat die Here nie ken of nie wil dien nie. Soos die Romeinse koloniste verplig was om die wêreld om hulle te 'verromeins', so word ons deur die Here in sy wêreld geplaas om ons omgewing te 'verhemels.' Ons Koning in die hemel roep ons om die lewenstyl wat Hy vanuit die hemel in die Skrif voorskryf, uit te lewe en uit te dra. Gelowige hemelburgers 'verchristelik' die lewe.

Die teksverband in die brief aan die Filippense maak duidelik wat die die Here van sy koloniste verwag.

Duld nie Dwaalleer in die Kerk nie🔗

Die roeping om die samelewing te 'verchristelik' beteken eerstens: Pas nie by hierdie wêreld aan nie, Die gemeente word blykens die onmiddellike teksverband deur dwaalleer bedreig. Die dwaalleraars 'wandel as vyande van die kruis van Christus.   Hulle einde is die verderf, hulle god is die buik en hulle eer is in hulle skande; hulle bedink aardse dinge'.

Wat die dwaalleer in Filippi presies ingehou het, is nie hier ter sprake nie. Die laaste sinnetjie dui op die oorsprong van elke dwaling: aardse dinge bedink. Die Romeine sou dit so sê: By die 'barbare' aanpas.

Vandag beweer teoloë dat al ons kennis van die Here van benede, van die aarde, afkomstig is. Hulle bekritiseer die Skrif soos enige ander menslike boek. Hemelburgers 'bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie'.  Hulle aanvaar en duld nie die bedink van aardse dinge, afwyking van die leer en bevele van Bo, in die kerk van die Heiland nie.

Handhaaf die Antitese🔗

Die wyer teksverband in die brief aan die Filippense tipeer die omgewing waarin hemelburgers woon en werk, kort en kragtig. Die Here plaas sy burgers 'temidde van 'n krom en verdraaide geslag',  in 'n goddelose wêreld.

Hy vermaan ons: Pas nie daarby aan nie; 'word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie'.  Laat jou lewenstyl nie deur godloses bepaal nie. Handhaaf in die kolonie - hier en vandag - die eeue-omspannnende antitese, die vyandskap wat Ek, die Here, tussen die saad van die vrou en die saad van die slang gestel het.

Laat Julle Lig Skyn ...🔗

Wat behoort hemelburgers wat nie by hierdie wêreld aanpas, wel te onderneem? Die apostel Paulus roep hulle op: 'Wees my navolgers, broeders, en let op die wat so wandel soos julle ons tot voorbeeld het.' 'Doen alles sonder murmurering en teëspraak, sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van 'n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld, deurdat julle die woord van die lewe vashou.'  Lewe hier benede, in die vreemde, volgens die leer en die opdragte van die Koning daarbo.

Het die Here sy koloniste nie as die sout van die aarde en die lig van die wêreld aangestel nie? Hy verwag van ons in die vreemde, ver van ons vaderland: 'Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik'.

Bly in Verbinding met die Domisilie🔗

Hoe kan ons dié lig laat skyn? Hemelburgers, sondige mense in 'n sondige wêreld, kan nie sonder gebed hulle opdragte uitvoer nie. Slegs voortdurende kontak met die domisilie stel hulle in staat om as koloniste te midde van 'n krom en verdraaide geslag op te tree. Hulle bid: 'Regeer ons (vanuit die hemel, die vaderland) so deur u Woord en Gees dat ons (in die kolonie, in die wêreld) ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp.'

Verlange na die hemel wat uit die sug voortkom om uit die kolonie ontslaan te word, is nie skriftuurlik nie. Koloniste wat te vroegtydig wil repatrieer, weier hulle diens aan die vaderland.

Die bede 'Kom, Here Jesus' hou in: Kom deur die diens van u koloniste. Bring deur hulle 'verchristeliking' van die lewe die laaste uitverkorene tot geloof en bekering. Skeur na die geboorte en die wedergeboorte van die laaste uitverkorene - nie vroeër nie - die hemele. Laat na die voleindiging van u laaste kolonis se getuienis  die groot dag van die laaste oordeel en die bruilof van die Lam aanbreek.