2 bladsye.

Is Hemelvaart wel Nodig?

Maar Ek sê vir julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel…

Johannes 16:7, 8

Stel jou voor dat Jesus nie na die hemel toe gegaan het nie, maar dat Hy sy woning op die aarde gevestig het, in Jerusalem natuurlik, en dat Hy daarvandaan die apostels uitgestuur het. Dit sou mos so kon gebeur?

Maar Jesus wys dit af, of liewer, dit sou wel so kon gebeur, maar dit sou nie goed wees nie: “Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan” sê Jesus;want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur” (Johannes 16:7).

Vreemd? As Jesus nie sou weggaan nie, dan sou die Voorspraak, die Heilige Gees, ook nie kom nie. Jesus kan tog ook sy Gees vanaf Jerusalem af wêreldwyd uitstuur? Hy hoef tog nie daarvoor juis in die hemel te wees nie?

Kom ons kyk eers verder wat in Johannes16 staan. Dit val op dat Jesus dikwels praat oor sy “weggaan na die Vader”. Met hierdie woorde bedoel Jesus egter nie in die eerste plek die hemelvaart nie, maar sy weg van lyding tot in die uiterste vernedering. Dit lyk na ʼn weg wat Hom nog verder van sy Vader af wegneem, tot in die totale verlatenheid, maar Jesus doen daarin juis die wil van die Vader, daarom was dit ʼn weg na die Vader toe.

Jesus het self gesê: as Ek van julle af weggaan, dan kom daarin juis God se geregtigheid na vore (Johannes 16:8, 9). Die dissipels vind dit onbegryplik dat Hy sonder hulle op ʼn weg van lyding en vernedering gaan. Hulle was immers bereid om hulle lewens vir Hom op te offer! Christus sê nee, julle kan julleself nie red nie, nie eers in die geringste mate nie. Daarom gaan Ek alleen op hierdie lang pad. Ek kom julle weer haal, maar nou gaan Ek alleen.

Die hemelvaart was die laaste stap op die lang pad alleen. Dit is ʼn glorieryke stap, maar net soos al die ander stappe, ʼn stap in gehoorsaamheid en liefde. In ʼn sekere opsig was dit ook ʼn stap van vernedering, want Hy het immers aan die kruis die reg op die hele wêreld verwerf. Hy gaan ewenwel in stilte weg, met die dissipels wat Hom agterna kyk. Die onderwerping van die skepping bly nog uit.

Nederigheid kenmerk dus selfs sy oorwinningstog na die hemel. Sien Hom daar voor God se troon staan, met die skaal vol kosbare offerbloed — waarvan elke druppel van onbeskryflike lyding spreek. Hier is Ek weer, Vader, Ek het U wil volbring…

Is dit werklik volbring; of sal God oordeel dat dit steeds ontoereikend is?

Dít is die fees van die Hemelvaart: God neem die offer met vreugde aan. Dít is wat Hy bedoel het: soveel liefde, soveel nederige gehoorsaamheid. Kom my Seun, kom sit op die troon! Jy het dit volkome verdien.

Dan kyk hulle na die Heilige Gees. Eindelik mag Hy, want die Gees kan alleen maar op grond van feite werksaam wees. Hoe sou Hy ons kon oortuig van God se liefde as Hy geweet het dat God dié bloed ontoereikend bevind het?

Dan gaan die Heilige Gees heen. Nou sal Hy die wêreld voor Christus laat buig; maar ook Hy werk in die styl van Christus, nederig en nie met triomfantlike oordeelsgeweld nie. Daarom hamer Hy nie ons ongeloof om nie, maar neem Hy baie tyd — trouens eeue — om ons te oortuig met warme argumente van regverdige liefde.

Ons glo en bely dat die Heilige Gees van ewigheid af van die Vader en die Seun uitgaan.Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 11