Bron: Waarheid en Dwaling. 2 bladsye.

Het die Reën 'n Vader?

Januarie 2000: Watervloede in die Noordelike en Noordwes Provinsies lei tot misoeste.

Februarie 2000: Sikloon Eline laat duisende in Mosambiek dakloos.

Maart 2000: Sikloon Gloria bou op bo Madagaskar. Reën, reën, en nog reën. Damwalle breek, brûe spoel weg, paaie word onbegaanbaar. Siektes neem epidemiese vorms aan — cholera, malaria, bilharzia.

Die wêreld kyk na alles wat in Suidelike Afrika gebeur. Uit menslike meewarigheid word kos en medisyne ingevlieg om die ergste nood te verlig. Vanuit Suid-Afrika word helikopters gestuur om hulpelose mense van dakke en uit bome te red. Sabek-minsters hou kajuitraad om 'n gesamentlike noodplan te ontwerp. In dit alles lek die sugtende skepping aan haar wonde.

En nog is het einde niet. Want geen aardse mag kan die wolkemassas beheer nie. Geen VVO­spoedberaad gaan sikloon Gloria in toom hou nie. Geen mens sit paal en perk aan die alles meeslepende watervloede nie.

Met die aanskoue hiervan kom Job 37 en 38 helder voor die gelowige se gees te staan.

God donder wonderbaar met sy stem; Hy doen groot dinge wat vir ons onbegryplik is. Want Hy gebied die sneeu: Val op die aarde! Ook die stortreën, ja, sy geweldige stortreëns Ja, met volheid van waters belas Hy die wolke, en Hy strooi ver en wyd sy ligtende wolk.

Mense gee name vir die siklone en die wolkemassas, maar die almagtige Cod beskik daaroor. Die Skepper van alle dinge beheer die hemelsluise. So was dit van die be­gin af. So sal dit altyd wees.

Dit word ook uit Job 37 duidelik wat die Here se doel met die watermassas is.

Dit skiet oral rond volgens sy bestel, sodat hulle alles doen wat Hy hulle beveel oor die wye wêreldrond: of tot 'n tugroede, of tot nut van sy aarde, of tot wel­dadigheid laat Hy dit sy doel vind.

Reën tot nut van die aarde, tot weldadigheid van alles wat leef – so ken ons dit. Mens en dier en plant kan nie sonder reën nie. Maar nou – reën tot 'n tugroede!

Dit is angswekkend. Maar so ken ons dit ook. Veral uit die sondvloedgeskiedenis. Al die lewende wesens wat op die aarde was, is verdelg, buiten hulle wat in die ark was (Genesis 7:23). Na daardie regverdige verdrinkingsdood het God egter belowe dat Hy 'nie meer al die lewende wesens sal tref soos Ek gedoen het nie' (Genesis 8:21). 'n Tweede sondvloed sal daar nie wees nie. Die reënboog is teken daarvan (Genesis 9:8-17).

Maar wat dan van vandag se watervloede? Is dit nie soos 'n tweede sondvloed nie? Nee, dit kan nie wees nie. God breek nie sy beloftewoord nie. Vandag se watervloede is veel eerder 'n dringende oproep tot bekering. Ons word herin­ner aan die sondvloed van weleer, onteenseglik. Maar ons aandag word te meer gevestig op die finale oordeel wat moet kom, waarvan Petrus
getuig:

Want moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal hemele was en 'n aarde wat uit
water en deur water ontstaan het deur die woord van God, waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het. Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as 'n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van oordeel en die ver­derf van die goddelose mense.2 Petrus 3:5-7

Het die reën 'n vader (Job 38:28)? Is iemand in beheer van die vernietigende watervloede? Ja, die reën hét 'n vader: 'n Vader wat regverdig en barmhartig is. 'n Vader wat uit liefde tug, sodat sy kinders hulle hartgrondig tot Hom sal bekeer. 'n Vader wat die goddelose skepping in 'n krisis dwing. Die tekens van die tye gaan by geen mens ongesiens verby nie. Christus se weder­koms is op pad. Dit is vir ons om in afwagting van Sy koms kinderlik gehoorsaam volgens Vader se verbondseise te leef, sonder beterweterigheid en teë pratery.

Dit reën geen druppel te veel nie. Of te min nie. Dit kan ons alleen maar in geloof met ontsag beaam.