Bron: Die Kerkblad. 5 bladsye.

Het Hulle Hom Ooit Verwag?

By al die baie wetenskaplike bena­derings deur vakmanne van die Ou Testament en onder ’n groot massa teologiese literatuur rondom die Ou Testament ook buite-Bybelse boeke en geskrifte van heidense volke in die tyd van Israel, gaan ek die onderwerp met opset vanuit die Nuwe Testament benader. Kom ons gaan kyk wat Jesus Christus self oor die “Messiasverwagting in die Ou Testament” gesê het.

Die drie manne op pad na Émmaüs🔗

Dit was reeds teen sonsondergang van die opstandingsdag. Dit was die belangrikste Sondag van die Nuwe Testament. Kleopas en sy vriend was op die 12 km stofpad op weg na die dorpie Émmaüs. Hulle hele gesprek draai om die aangrypende gebeurtenis met Jesus van wie hulle so gehoop het dat dit Hy sou wees wat Israel sou verlos (Lukas 24 : 21). O, hierdie Jesus wat gekruisig is! As Hy eers op jou pad gekom het, kan jy nooit weer van Hom loskom nie. As ’n vreemdeling tuimel Hy as’t ware in hulle gesprek in. Hulle her­ken hom nie. Hy is die “vreemdeling in Jerusalem” wat skynbaar niks weet van die dramatiese gebeure op die Goeie Vrydag en die Paassondag nie.

En tog, juis hierdie Man gaan vir hulle die Ou Testament uitlê soos wat hulle dit nog nooit gehoor het nie. Hulle is verbysterd oor die wrede, morbiede kruisiging. En boonop het sekere vroue nog ’n klomp stories oor Jesus se opstan­ding vertel. Hoe kan dit waar wees?

Dit is toe dat die “vreemdeling” begin praat het. En Hy verwyt hulle sommer oor hulle swak Bybelken­nis. Julle is blykbaar mense wat nie ’n idee het waaroor dit gaan nie:

“Wat ’n gebrek aan begrip en wat ’n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? Moes die Christus nie hier­die dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?” (Lukas 24 : 25, 26).

En toe is dit asof die hele Ou Tes­tament gaan stol in een enkele teksvers in die Nuwe Testament:

“Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuit­sprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê” (vers 27).

En nou lê hierdie selfde woorde van Jesus vandag nog steeds hier voor ons. Dit is Hy, die ewige Seun van God, die Koning van die konings, wat met sy goddelike gesag spreek. Dit is sy onveranderlike almagswoord oor die profesie oor Hom in die Ou Testament en wel in besonder die profesie oor sy ly­ding en heerlikheid. Hier is Jesus Christus self die waarborg van die Messiaanse verwagting in die Ou Testament.

Die vraag is heel eenvoudig: wie van ons aanvaar Jesus se eie woor­de kinderlik en gelowig as gesagvol as die laaste antwoord? Of kom ons maar weer vir die soveelste keer met ons menslike reserwes? Dit mag wees dat Hy ook aan my sê: “Wat ’n gebrek aan begrip en wat ’n traagheid van gees!” (vers 25).

Hy loop met sy vriende die stofpad na Émmaüs, maar Hy loop ook met hulle die pad daar ver van Moses en al die profete af, die Ou Testament waarvan hulle so ’n gebrek van be­grip het en waaroor hulle so traag van gees is.

Wet van Moses, die profete en die psalms🔗

Wat word nou met “Moses en al die profete” bedoel? Oor hierdie Skrif­uitleg van die Ou Testament, het die twee manne op pad na Émmaüs se harte “warm geword”. So staan dit in vers 32. En nog daardie selfde aand, as hierdie twee vriende inder­haas na die elf dissipels gaan en Jesus in hulle midde verskyn, dan gaan Hy oor hierdie Moses en pro­fete nog ’n stap verder:

“Dit is die betekenis van die woor­de wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is” (vers 44).

Hier word die hele Ou Testament in sy drie dele aangedui: Moses, die profete en die psalms.

Die “profete” dui volgens Joodse gebruik nie alleen op die eintlike profetiese boeke nie, maar ook op ’n deel van die historiese boeke. Hulle is Josua, Rigters, Samuel en Konings, die sogenaamde “eerste profete”.

Ook die “psalms” dui op meer gedeeltes van die Ou Testament wat bloot eenvoudig deur die Jode “die geskrifte” genoem is.

In al hierdie geskrifte dit is die hele Ou Testament, alles wat daarin oor Jesus geskrywe is, so sê Hy, moes alles vervul word.

En hierop volg ’n uiters merk­waardige betekenisvolle uitspraak:

Verstand geopen om OT te verstaan🔗

“Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan. Verder sê Hy vir hulle: So staan daar geskrywe: Die Christus moes ly en op die derde dag uit die dood opstaan, en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder. Julle is getuies van hierdie dinge ... ” (verse 45 - 48)

Dit is merkwaardig: Beide in Jesus se Skrifuitleg van die Ou Testament aan die Émmaüsgang­ers, en in die verklaring daaroor aan die dissipels daardie selfde aand, stel Hy sy lyding op die voorgrond. Uit die newels van die Ou Testament doem die kruis hier helder en duide­lik op. Maar ook die opstanding op die derde dag, die bekering en ver­gewing van sondes en dat die predi­king van hierdie evangelie op mars na die wêreld gaan.

En nou kry ons ’n pragtige pers­pektief: Vanuit die laaste hoofstuk van die evangelie volgens Lukas, kyk ons nou terug op die hele pad van Jesus se prediking. Vanuit ’n uitkyktoring agter die kruis en die oop graf sien ons nou helder en dui­delik al die uitstaande uitsprake van Jesus waarin Hy self die profesieë oor Hom as die Christus aankondig.

Jesus se uitsprake vóór die kruis en die opstanding🔗

Tydens die jare van Christus se omwandeling op aarde, het Hy tel­kens daarop nadruk gelê dat die Skrifte, dit wil sê die Ou Testament van Hom geprofeteer het:

  1. In Joh 5 : 39 wys Jesus die Jode wat so oor hulle Skrifondersoek ge­roem het tereg:
    “Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry. En dit is juis     die Skrif wat oor My getuig.”
  2. In Joh 5 : 46 vermaan Hy weer eens die Jode wat op Moses (= die O.T.) roem, dat dit dieselfde Moses is wat van Hom, dit is die Christus, geprofeteer het:
    “As julle Moses geglo het, sou jul­le in My geglo het, want hy het van My geskrywe. Maar as julle sy ge­skrifte nie glo nie; hoe sal julle my woorde glo?”
  3. En dan daardie dramatiese ge­beure in Jesus se tuisdorp Nasaret.

Ons lees dit in Lukas 4 : 16 30:    

Daar het Hy self uit die Skrif so staan dit daar voorgelees, en dit was Jesaja 61 : 1 en 2:

“Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onder­druktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.”

So werklik, so oortuigend word daardie profesie uit die Ou Testament voor die oë van almal in Jesus in die sinagoge van Nasaret uitge­stal, dat daar geen twyfel meer bestaan nie. Hier kom die woorde van die profeet van eeue tevore in lewen­de lywe in die vleesgeworde Woord van die messias. Jesus sê:

“Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul” (vers 21).

Dit is nou hierdie woord, dat 'n profesie van die Ou Testament direk op Jesus Christus gerig is, wat die ongelowige mens nie wil aanvaar nie. Hulle het selfs kwaad geword. Hulle het Hom selfs uit hulle dorp uitgejaag. Hulle het selfs probeer om Hom van die kranse af te gooi (verse 28, 29) En dit omdat Hy dit self vir hulle vertel het!

  1. Aan die einde van die gelykenis van die boere wat die landheer se seun doodgeslaan het (Matthéüs 21 : 33 - 41), sê Jesus vir die owerpries­ters en die ouderlinge: “Julle het tog al in die Skrif gelees: Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword. Dit is deur die Here gedoen en is ’n wonder in ons oë.”
    Hier openbaar Jesus Homself in die woorde van Ps 118 : 22 - 23 as die Messias wat deur Israel besing is ­maar juis as die lydende Christus, die verwerpeling. Israel was die trouelose landbouers wat die Seun doodgemaak het. Daarom, so staan dit in vers 43, sal die Koninkryk van God van die Jode weggeneem word en aan ander volke gegee word.
  2. Die woordewisseling oor Psalm 110: Jesus moes groot moeite doen om die Fariseërs van die Ou Testamen­tiese profesie oor die Christus te oortuig. Ons vind dit onder andere in Matthéüs 22 : 41 - 46. Eers vra Hy aan hulle: “Wat dink julle van die Chris­tus? Wie se seun is Hy?” En toe hul­le dadelik antwoord “Dawid s’n”, toe sit Jesus hulle skaakmat met Psalm 110:
    “Waarom het Dawid deur die in­gewing van die Gees Hom dan Here genoem?” En dan haal Hy Psalm 110 aan:
    “Hy sê tog: ‘Die Here het vir my Here gesê Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onder­werp het.’ As Dawid self Hom ‘Here’ noem, hoe kan Hy dan Dawid se seun wees?”
    Hier kom Jesus self en Hy ver­klaar onomwonde: Psalm 110 profe­teer van die Christus.
  3. Kom ons gaan na Joh 13 : 18. Hier gaan dit oor die verraad deur Judas. Selfs dit so sê Jesus is in ’n psalm geprofeteer. Hy ver­klaar dat die Skrif moet vervul word en dan haal Hy Psalm 41 : 10 aan : “Hy wat van my brood eet, het My in die rug gesteek.”
    Opmerklik : Die Gees van God profeteer deur Psalm 41 dat Jesus sal verraai word. En nou neem Je­sus daardie selfde profesie uit die Ou Testament, en op sy beurt profe­teer Hy dat dit juis volgens Psalm 41 sal gebeur:
    “Ek sê dit nou al vir julle voordat dit gebeur, sodat wanneer dit ge­beur, julle kan glo dat Ek is wat Ek is” (vers 19).
  4. Wat sê Jesus self oor die pro­fesie in die bekende Jesaja 53? Kan daar dan werklik iemand wees wat beweer dat hierdie dienaar van die Here in Jesaja slegs op 'n gewone dienskneg sien en nie op Jesus Christus nie? Die punt is: Wat sê Jesus self?

Ons vind sy uitspraak in Luk 22 : 37:

“Ek sê vir julle: Die Skrifwoord wat sê: ‘En Hy is as misdadiger be­skou’, moet aan My bewaarheid word, want wat op My betrekking het, gaan nou in vervulling.”

Ongelooflik dat groot wetenskap­like “gereformeerde” teoloë vol­hard om te beweer dat Jesaja 53 nie op Jesus betrekking het nie. Hy sê dit dan self! (In die 1933-vertaling word nog in hoofletters na ‘Hom’ of ‘Hy’ verwys).

Behalwe hierdie een sleutelteks uit Jes 53 waarvan Jesus self sê dat dit op Hom betrekking het en dat dit in Hom vervul is, word hierdie pro­fesie van Jesaja nog ten minste 15 keer in die Nuwe Testament aange­haal, ’n bevestiging van die Ou Tes­tamentiese profesie dat daar waar­lik van hierdie Jesus Christus ge­spreek word. Onder andere kan die volgende aanhalings uit Jes 53 ge­noem word:

Matt 8 : 17, Luk 22 : 37, Joh 12 : 38, Hand 8 : 32, 33, Rom 4 : 25, Rom 10 : 16, Rom 15 : 21, Heb 9 : 28, 1 Pet 2 : 22, 24, 25, Openb 5 : 6, 12, Openb 13 : 8, Openb 14 : 5.

Op al hierdie plekke word die pro­fesie van Jesaja 53 as die bewys van die Christus in die Nuwe Testament ingeskakel.

8. Jesus sing van Homself in die Psalms

Namate die einde genader het, slegs ure voor Jesus se kruisiging, het Hy nie alleen oor die profesieë van die Ou Testament gepraat nie, maar Hy het dit self uitgesing.

As Jesus van die Nagmaalstafel opstaan om na die tuin van Getsémané te vertrek, dan sing Hy eers saam met sy dissipels ’n aantal Psalms. Ons lees dit in Matt 26 : 30:

“En nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg.”

Hierdie lofsang is die slotpsalm van die voorgeskrewe Paasritueel van Israel. Dit is die tweede deel van die Joodse Hallel, die siklus van Psalms 113 tot 118 wat altyd deel van die seremonie rondom die Paasmaaltyd uitgemaak het. Jesus en Sy dissipels het soos al die Israeliete in daardie aand die Paasfees gevier.

Daarom juis het hulle hierdie Paas­liedere gesing. Dat dit psalms was, gee by uitstek betekenis aan die Messiaanse karakter van hierdie liedere.

Opmerklik, Jesus se liefde vir die psalms en die profesieë oor die Messias daarin is so groot, dat Hy van alle Bybelboeke in die Ou Testa­ment die psalms die meeste aanhaal, naamlik 13 keer. Dan gee Hy nog 32 verwante uitsprake en sins­pelings daaroor.

As die pasga van die Ou Testa­ment oorgegaan het in die Nagmaal van die Nuwe Testament, dan is dit behoorlik of al die profesieë van die Ou Testament gaan saamtrek in daardie geslagte lam wat voor hulle op die tafel lê. Daar sien ons nou die samevatting van die hele verlossing van God se volk deur die lyding en sterwe van die Seun. Hier word die finale eksodus van Israel se redding uit Egipte afgebeeld. Maar nog meer: Hyself sal nou voortaan die geslagte Lam van God wees. En daarvan sing die psalms. En daar­van sing Jesus onder andere Ps 118. Sy stem deurstrengel die koor van vissers. Uit die oppersaal weergalm diep in die nag die eeu-oue liedere van Israel. O, die lam wat geslag is! Die teken van bloed daar van Egipte af, word nou vir ewig die werklik­heid. O, die Lam van God wat nou gaan geslag word:

“Die Heer, die God van ons betroue, Hy kom ons met sy ligglans teen; bind dan die offerdier met toue en lei dit na die altaar heen.” (Beryming Ps 118 : 13)

9. By die tuinhek van Getsémané.

Tot op die laaste het Jesus Hom op die Ou Testament beroep (Mattéüs 26 : 54, 56). Petrus wat selfs die swaard wil gryp, word tereggewys, want die profesieë oor Jesus moet tot in die fynste besonderhede ver­vul word:

“Maar hoe sal die Skrif dan ver­vul word wat sê hoe die dinge moet gebeur?”

As die sandglas begin leegloop en Jesus se ure begin min word dan stap Hy meedoënloos op die Kruis af. Hy het maar één kompas: die Skrifte! Telkens maar weer die Skrifte van die Ou Testament. Dan volhard Hy steeds om te sê:

“Dit alles het gebeur sodat die geskrifte van die profete vervul kan word” (vers 56).

En wat ’n aangrypende, tragiese moment! Wat ’n skokkende ding vind plaas juis op die oomblik as Jesus Hom so op die “geskrifte van die profete” beroep! Ons lees dit in die volgende vers: “Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop.”

Die tema: “Die Messiasverwag­ting in die Ou Testament” wat die RAU aangedurf het, is werklik buitengewoon moeilik. Die hoeveel­heid literatuur is enorm groot. Vir weke lank was daar op my tafel stapels boeke in verskillende tale hieroor. Dit het geen rus gebring nie ... totdat ek eindelik op slegs één enkele bron teruggeval het: die Bybel. Die rus het nog groter geword toe ek daarin gaan soek het wat Jesus die messias self oor Sy verwagting in die Ou Testament gesê het. Dit het my gestroop van alle sogenaamde wetenskaplike teologie met so baie menslike redenasies en spekulasies. Hier is geen plek vir breingimnastiek nie. Hier waar ons Heiland en Saligmaker self helder en duidelik vanuit die newels van die skaduagtige Ou Testament na vore tree, is daar geen plek vir buikspraak van baie moderne “Skrifgeleerdes” nie.

As jy maar die Bybel gebruik en alles wat daarin staan soos ’n kind aanvaar, omdat dit die Woord van Jesus Christus is, dan word die buitengewoon moeilike onderwerp tog so maklik. Dan praat ek. nie meer as ’n geleerde skolastikus nie. Dan word ek getemper in my geleer­de oormoed en ek val terug in my laaste skans: Geloof! Dan staan ek nie meer op die platform van die profane wetenskap nie, maar selfs agter die akademiese kateder van ’n Universiteit, het ek heilige grond betree, want ek staan elke oomblik voor Jesus ... en Sy woorde!