Bron: Kerk en Woord, 1997. 3 bladsye.

Hoe Begroot Ons?

In sy rubriek, “Moreel Beraad” in Nederlands Dagblad van 16 Desember 1995 het prof J. Douma op die skerp teenstelling by mense gewys. Terwyl die één in rou gedompel is, vier die ander fees. Dit hoef nie mekaar uit te sluit nie. Daar word wel van ons fyngevoeligheid gevra om met mekaar rekening te hou. As die ryk man elke dag feesvier, terwyl die arme Lasarus voor sy deur sit, is dit ’n skande. En as ons rojaal lewe, sonder om ’n deel van ons geld opsy te sit vir behoeftiges in die kerk en wêreld, is dit ook ’n skande.

Na aanleiding van hierdie opmerking vra ’n leser prof Douma of hy konkreet wil aandui wat “rojaal” is. En ook watter deel van ons geld ons moet afstaan vir hulp aan ander. Die Bybel praat van tiendes. Moet ons dit ook gee? En gaan die tien persent dan oor bruto of die netto inkomste? Buitendien, wat val alles onder finansiële hulpverlening? Die kerk en die sending, maar ook welsynsinstellings en die Rooikruis?

Prof Douma stel dat die vermoede bestaan dat die vrygewigheid onder Gereformeerdes afneem. Waarom? Het ons dit minder goed as jare gelede? Sommige sal dit tereg kan sê. Ons moet die sente omdraai en kan maar net min opsy sit vir die kerk en vir ander doeleindes. Maar baie van ons het dit nog net so goed as tien jaar gelede, hoewel hulle ywer om finansieel by te dra, besig is om te verflou.

Ons word so maklik deur die aangename dinge van die lewe in beslag geneem dat ons eerder duisend rand ekstra bestee aan ’n nog beter rekenaar of aan ’n paar dae ekstra vakansie as aan die kerk, die sending en aan die naaste naby ons of vêr weg. Dit is ’n feit dat baie instansies, wat vroeër onder ons die nodige geld maklik kon kry, nou moet bedel.

Aan Wie en Hoeveel?🔗

Offervaardigheid omvat meer as om aan ons kerklike finansiële verpligtinge te voldoen. Kerk, diakonie en sending, asook die aan die kerk verbonde skole en organisasies, is die eerste groep wat ons aandag verdien en wat ook die grootste deel van ons bydrae moet ontvang. Tot die tweede groep behoort die meer algemeen christelike organisasies soos organisasies wat aborsie teenstaan, die publikasie van goeie boeke en die Bybelgenootskap. Hulle verleen hulp in ’n christelike gees, sonder om ’n eksklusiewe of direkte verband met een bepaalde kerk te hê. Die derde groep omvat algemene en nie-spesifieke christelike instellings soos kinderwelsyn en die Rooikruis asook organisasies ter bestryding van bepaalde siektes soos kanker, epilepsie, ensovoorts. Ook steun aan die beskerming van die omgewing hoort daarby.

Dan is daar nog ’n vierde groep waartoe Douma die spontane aksies reken wat deur koerant, radio of TV op akute nood wys, veroorsaak deur byvoorbeeld aardbewings, oorstromings, hongersnood en oorlogsgeweld.

Wanneer die vraag gestel word hoeveel ons van ons oorvloed moet gee vir hierdie vier groepe, is daar nie ’n maklike antwoord vir almal te gee nie. God het ’n blymoedige gewer lief (2 Kor 9:7). Dit geld vir ons almal. Net so is dit saliger om te gee as om te ontvang (Hand 20:35). Die totaalbedrag wat bestee word, moet ’n offer beteken. Of dit nou die penning van die weduwee is, of die ton van ’n ryk broeder, hulle moet merk dat dit ’n offer is. Ander (aangename) dinge sou met die geld bekostig kon word, maar ons laat dit gaan, omdat dit saliger is om te gee as om te ontvang.

Prof Douma stel voor dat die gee van die tiendes van ons netto-inkomste (sien die volgende) as uitgangspunt geneem word. Hy besef dat baie dit nie haal nie. Hy weet ook dat ander dit met groot gemak kan haal. Daarom sê groot gawes nog nie altyd dat dit offers is nie. Die leser wat vra wat konkreet met “rojaal” lewe verstaan word, kan moeilik ’n presiese antwoord kry. Die beste antwoord is miskien die wenk om te kyk na mense wat van 'n minimum inkomste lewe. As ons heelwat meer het, dan kan ons rojaal lewe en is daar heelwat te gee.

Hier volg Vyf Punte van Advies:🔗

  • Laat ons almal aan die einde van die jaar ons begroting vir die volgende jaar opstel. As dit die begroting van ’n gesin betref, mag die ouer kinders saampraat. In hulle opvoeding moet ook aandag aan geldbesteding geskenk word byvoorbeeld as dit oor sakgeld gaan. Wel, laat ons die opstel van die begroting begin met wat nooit die eindbedrag, maar die beginbedrag moet wees. Wat sal ons uit dankbaarheid teenoor God aan Hom en ons behoeftige naaste (so wyd moontlik geneem van die eerste tot die vierde groep) gee? Ons neem voorlopig ’n be­paalde persentasie, sê tien persent, al sal daar baie onder ons wees wat dié persentasie nie kan haal nie, sodat dit aanstons verander moet word.
     
  • Vervolgens reken ons uit hoeveel inkomste daar te verwag is en wat ons na aftrek van premies en belasting skoon sal oorhou. By die item “belasting” moet ons rekening hou met die feit dat sekere gawes afgetrek kan word van ons inkomstebelasting. Van wat ons so skoon sal oorhou, van ons netto-inkomste dus, trek ons dan die tien persent af. Prof Douma noem dit netto-inkomste, om aan te sluit by die berekenings wat in baie plaaslike kerklike handboekies gemaak word. Net, dit gaan in die handboekies dikwels uitsluitend oor die vaste vrywillige kerklike bydrae, wat vir die totale gawes veels te min is.
     
  • Daarna bereken ons hoeveel onderhoud en onderdak gaan kos, ingesluit alle vaste laste tot en met byvoorbeeld die koerant wat ons lees, maar minus die bydrae wat ons aan die kerk, sending, kinderwelsyn ensovoorts betaal.
     
  • Ons kyk vervolgens of ons van die orige bedrag (dus netto-inkomste minus tien persent en minus onderhoud en onderdak) vakansie kan hou en ons ander dinge kan veroorloof wat tot die algemene uitgawepatroon behoort. Wie dit maklik kan doen, verhoog die tien persent, wie dit nie baie maklik of baie moeilik kan doen, verminder die tien persent. Is die persentasie vasgestel, dan kan ons onsself nog afvra waarop ons moet besuinig as ons persentasie een of twee persent hoër te staan kom. Dit is ’n nuttige manier om ons bestedingsbegroting te bekyk. So iets sou ons gereeld moet doen.
     
  • Tenslotte bepaal ons waarvoor die vasgestelde persentasie aan gawes bestee sal word. Daarby hou ons rekening met al vier die genoemde groepe waarvoor daar vir die eerste twee groepe meer uitgegee word as vir die laaste twee. Maar vir alle groepe reserveer ons ’n bepaalde bedrag.

Die groot voordeel van ’n dergelike werkswyse is dat ons beter rekenmeesters word, deur ’n bewuste beheer van ons geld. Dit is nie ’n deug om van die hand in die tand te lewe nie; maar net so min is dit ’n deug om die skenk van gawes te laat afhang van die ingewing van die oomblik.

Ons word ook nie meer oorrompel deur finansiële versoeke nie en kan met ’n rustiger gewete nee sê as die vasgestelde begroting nie meer ’n gawe toelaat nie. EIke jaar kan die stand van sake opnuut bekyk word.

Prof Douma besef dat dit by so ’n begroting soos hy voorgestel het, neerkom op ’n wik en weeg. Dit is dieselfde vraag wat ons telkens sien opduik as dit oor ’n christelike lewenstyl gaan. Uit watter hart kom ons berekeninge? As ons tot die geslag van blymoedige gewers behoort, sal dit vir ons ’n genoë wees om in 1997 nie minder nie, maar meer by te dra as wat ons in die vorige jaar gedoen het.