Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Hoe Behou die Kerk sy Jeug?

Skerp, snydende verwyte word aan die adres van die kerk geslinger:

Die kerk verloor sy jeug ...
Die kerk praat nie meer die taal van die jeug nie ...
Die kerk verwaarloos sy jeug ...
Die jeug is nie aktief in die erediens nie ...
Die kerk doen te min om die jeug te trek ...
Die kerk gee te min ontspanning vir die jeug ...
Die kerk word ’n organisasie van ou mense ...
Die kerk doen nie dit nie en die kerk doen nie dát nie ...

Die grootste oorsaak van die afval🔗

Dit is alleen ’n dwaas met die grootste onkunde wat nie sal erken dat daar wel in die algemeen ’n groot afvallig­heid van die kerk se jeug is nie. Kerklike rapporte en diepte-ondersoeke vertel ’n droewige verhaal. Soms is daar selfs skokkende getuienisse oor, baie jong­mense wat die rug op die kerk draai. Baie word in hulle godsdiens van hulle gereformeerde fondamente losge­ruk en meegesleur deur sektariese geesdrywery. Daar is selfs gevalle waar gedoopte jongmense hulle na heidense godsdienste wend.

Maar waar lê die fout? Geheel en al by die kerk? Is die erediens te onaantreklik, te saai en moet die preek liewer plek maak vir ’n sosiale aangeleentheid? Moet ons die kinders meer aktief maak deur hulle na die Nagmaalstafel te bring?

Helaas bring hierdie soort kerklike retoriek ons nog nie by die wortel van die probleem nie. Nee, die eintlike probleem met die jeug begin by die huisgesin. As ons as ouers dit nie wil besef nie, gaan die kerk ook nie vorder nie en word die onbetaalde rekening steeds groter.

Die ouers se roeping🔗

As ’n ouer die wysvinger na die kerk rig, kan dit wees dat drie van sy hand se vingers na homself terugwys. En die ontmaskering is groot:

As ’n kind se ouers self nie meer leef uit die geloof nie ...

As vader en moeder nie meer in die vrees van die Here leef nie ...

As die ouerhuis ’n swak, slordige voorbeeld aan kinders gee - gebrekkige gebedslewe, powere of geen huis­godsdiens meer nie, ’n losbandige lewe, ’n ongekon­troleerde meedoen aan die dinge van die wêreld ...

Ag, dan sal die kinders van die kerk afvallig word. As ouers dan nie eens meer gereeld wil kerk toe gaan nie, hoe kan ons dan van die kinders verwag om dit te doen? As die ouers dan van die Sondag ’n lui-lekker dag van plesier wil maak, hoe kan daar dan ooit aan die jeug vermanings gerig word om tog anders as die wêreldlinge en heidens te lewe?

Maar die ergste is nog dat ons ouers se beloftes by die doop van ons kinders dikwels so goedkoop geword het. Het ons dan so gou vergeet wat ons op daardie belang­rike dag vir die klein hulpelose kindjie in ons arms beloof het? As ouers van God se verbond het ons voor sy aange­sig ’n heilige belofte afgelê dat ons kinders in die Woord van God onderrig sou word.

Ons het so gou vergeet. Ons het ons heilige beloftes in die kerk so gou en dikwels so ontsettend moedswillig verwaarloos. Dit word by al die afvalligheid en selfs ver­wildering van die jeug ’n aangrypende vraag aan elkeen van ons as ouers: Wat het jy met God se kinders gemaak? Het jy jou roeping met hulle nagekom?

“Jy moet dit jou kinders inskerp”🔗

Juis op die oomblik toe die Here, die God van die ver­bond, die grootste eis van sy wet aangekondig het (Deut 5:6), naamlik die algehele liefde aan Hom, toe gee Hy sy bevel aan die ouers van kinders:

“Hierdie woorde wat Ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan   ...” (Deut 6:6-7).

Ons as verbondsouers in die Gereformeerde Kerke sal dit nou baie vinnig moet begin besef: Die afval van die jeug vind sy grondoorsaak in die afval van die huisge­sinne. As die geloof dáár binne in die intieme familielewe ’n uiterlike vormdiens geword het, dan is die gevolge rampspoedig. As die Here se verbond met sy beloftes van die ewige lewe en ook die eis van gehoorsaamheid aan die Here misken word, dan word God se verbonds­wraak oor ons en ons kinders uitgeroep.

In ’n gevaarlike tyd van verwarring en verwildering met al sy verleiding en versoeking, sal ons seuns en dogters met trouelose, ongehoorsame ouers, nie kan staande bly nie. In ’n wêreld waar die Bybelse sedes gruwelik vertrap word, is dit vir ons kinders alreeds baie moeiliker as wat dit vir ons as die ouer geslag was. Die aanslag op die Christelike lewenstyl en op ons gerefor­meerde beginsels is vandag sterker - dit kom tot binne in ons sitkamers met ’n dekadente Amerikaanse kultuur van onkuise bedtonele, suggestiewe vervolgverhale waarin die huweliksmoraal vertrap word, ’n bedenklike etiek van moord en geweld ... Daarby ook nog ’n afge­waterde gevoels- godsdiens met die mens in die middel­punt waarin God self selde aan die woord kom.

Word die skaaplammers nog met die Woord versorg?🔗

Dit is ook ’n harde, meedoënlose feit, dat die kerk dikwels groot skuld aan die afval van die jeug het. Die profeet Eségiël spreek ’n oordeelswoord oor die herders wat die skape van God se kudde (die kerk) verwaarloos. Die verregaande troueloosheid word aan die kaak ge­stel:

Die herders (d.w.s die ampsdraers) laat die skape nie wei nie. Hulle gee nie aan hulle die regte voedsel nie. Die suiwer Woordverkondiging word dus nagelaat. Die pastorale sorg laat veel te wense oor:

“Julle versterk die swakkes nie en maak die siekes nie gesond nie en die wat gewond is, verbind julle nie en wat weggedryf is, bring julle nie terug nie en wat verlore is, soek julle nie; maar met strengheid heers julle oor hulle en met hardheid” (Eség 34:3, 4).

Suiwer, aktuele Woordverkondiging ...
Gereëlde katkisasies met ware Verbondsonderrig ...
Getroue, deeglike huisbesoek by elke jongmens ...

Jesus Christus se driedubbele opdrag aan sy kerk het nog nooit verander nie:

“Laat my lammers wei ...”
“Pas my skape op ...”
“Laat my skape wei ...”

Dan sal die kerk weer kerk wees, en ons jeug sal weer ’n kerkjeug wees!