Bron: Die Kerkblad, 2007. 3 bladsye.

Hoe geleerder, hoe verkeerder?

man studeer🔗

Oor die waarde (en gevare) van teologiese opleiding🔗

Hoe belangrik is teologiese opleiding vir die kerk van die Here en die koms van die koninkryk? Bybelse modelle hiervoor is maklik te vind: Rondom die rigter Samuel ontstaan profeteskole in Israel (waaruit later die profeet Natan voortkom); Jesus kies 12 dissipels uit aan wie Hy drie jaar indiensopleiding verskaf as evangeliedienaars; Paulus word omring deur medewerkers wat oral ’n besondere bydrae lewer in die uitdra van die evangelie.

Die afleiding is onvermydelik: opleiding vorm ’n onmisbare bestanddeel vir die toerusting van profete en evangeliste.

Hoe geleerder, hoe verkeerder?🔗

Wat moet ons dan dink van die (oorspronklik Nederlandse) uitdrukking: hoe geleerder, hoe ver­keerder? Is dit wérklik nodig om van voornemende dominees te verwag om ses jaar teologie te studeer en daarby ook nog Hebreeus, Aramees, Grieks, asook ’n dosis Latyn en Filosofie onder die knie te kry? Was twee van die grootste teoloë wat die Westerse Christendom opgelewer het, naamlik Augustinus en Calvyn, dan nie selfgeleerdes wat nooit formeel teologiese opleiding ontvang het soos ons dit vandag ken nie?

Kleef daar nie bepaalde gevare aan gewone en gevorderde teologiese studie nie? So in die sin van: hoe geleerder, hoe verkeerder?

Waarom is die apostel Paulus so skepties oor die wysheid en die wysbegeerte van sy tyd? In 1 Korinthiërs kruis hy in geen onduidelike terme nie swaarde met die filosofie van sy tyd. Hy vra of God nie die wysheid (sofia) van die wêreld tot onsin gemaak het nie (1:20). Die wysheid van God bestaan in die gekruisigde Christus (2:2), maar vir die Jode is dit ’n aanstoot (skandaal) en vir die Grieke onsinnig (dwaasheid) (1:24; 3:19). “Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense” (1:25).

Die boodskap wat Paulus verkondig, word nie gedra deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Heilige Gees; en so is die geloof van die Korinthiërs nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God (2:4-5, 13).

Beteken dit nou dat Paulus, self ’n geleerde man, elke vorm van geleerdheid en filosofie afwys? Sekerlik nie. Waarteen hy hom rig is die heidense geleerdheid en filosofie van sy tyd, in hierdie geval die stroming wat as gnostisisme bekend gestaan het. Die gnostisisme het onder andere geleer dat die siel van die mens as ’n goddelike vonk in die liggaam vasgevang word, en dat verlossing daarin bestaan dat hierdie siel weer na sy goddelike oorsprong terugkeer en daarmee verenig.

brein

En hoe gebeur dit? Dit gebeur deurdat die siel kennis (gnosis) van sy oorsprong en bestemming opdoen. Verlossing geskied hier nie deur die kruis en opstanding van Jesus Christus nie, maar deur menslike kennis. Die mens word sy eie verlosser.

Hierdie selfde tendens word ook in byna alle vorme van modernistiese teologie aangetref waar Jesus nie meer as Verlosser bely word nie maar slegs as goeie voorbeeld voorgehou word, as iemand wat mooi dinge geleer het om ons kennis van die lewe te verdiep. Van verlossing van sondes is hier geen sprake nie.

In hierdie laaste sin geld die spreuk inderdaad: hoe geleerder, hoe verkeerder. Verkeerde teologie het ’n gevaarkant: dit help jou van die wal in die sloot.

Maar geleerdheid kan ook positief waardeer word, byvoorbeeld waar iemand hom dieper in die Skrif ingrawe om ’n goeie evangeliedienaar te word; waar iemand verder studeer om des te beter aan die kerk en koninkryk diensbaar te wees; waar iemand hom/haar in die Skrifte verdiep om vol moed en hoop te wees (Rom 15:4). So bevat die Ou Testament groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek (2 Tim 3:16).

Dieselfde kan natuurlik ook van die Nuwe Testament gesê word. Op hierdie aspek wil ons tans nader ingaan.

Wie nie studeer nie, is nie bekeer nie🔗

Die ander kant van die muntstuk lyk weer só (ook weer ’n Nederlandse spreuk): wie nie studeer nie, is nie bekeer nie.

In hierdie benadering kan goeie en hoogstaande teologiese studie weer nie genoegsaam beklemtoon word nie. Dit gaan immers oor voorbereiding om die evangelie van die koninkryk te verkondig en uit te dra, en om dit so goed as moontlik te doen. Teologiese opleiding waarby die prediking niks baat vind nie en vir die kerk van die Here niks beteken nie, is swak opleiding.

Die hoofsaak van sy hele bediening, so sê Paulus aan die ouderlinge van Efése, bestaan daarin om die evangelie van God se genade te verkondig, die evangelie van die koninkryk van God (Hand 20:24-25).

Daarom is dit baie belangrik dat dominees ’n goeie teologiese opleiding ontvang en dat hulle ook na afloop van hulle teologiese studie aan die Teologiese Skool nie sal ophou met voortgaande teologiese navorsing nie. Dit hoef nie noodwendig formeel te geskied met die oog op graadverwerwing nie, maar dit kan ook privaat geskied deur nuwe teologiese publikasies te lees.

’n Dominee kan nie ’n gemeente in ’n moderne samelewing behoorlik toerus indien hy nie op hoogte is met die jongste teologiese publikasies en moderne teologiese en filosofiese strominge nie. Hy mag nie op hoorsê hieroor preek (en so gevaar loop om die negende gebod te oortree) nie.

Hier geld die spreuk inderdaad: wie nie studeer nie, is nie bekeer nie.

Dominees sal ook vind – so het die Nederlandse predikant J. Overduin by geleentheid opgemerk – dat hoe wyer hulle lees, hoe “makliker” word dit om ’n preek te maak en hoe “minder” hoef hulle vir elke spesifieke preek opleeswerk te doen. Dit verskaf ook aan die dominee ’n wye verwysingsraamwerk wat hom handig te pas kom wanneer hy teologiseer, preek, huisbesoek doen en katkiseer.

Dit is baie belangrik dat predikante ook nie-teologiese boeke, byvoorbeeld romans en gedigte, sal lees ten einde die tydsgees te bepaal en ’n aanvoeling te ontwikkel vir die vraagstukke van die dag waarmee lidmate te doen kry.

boeke

Slot🔗

Daar is die humoristiese uitspraak dat die definisie van ’n professor soos volg lui: hy/sy konsentreer op en spesialiseer al hoe meer in een vakgebied, weet dus al hoe meer van al hoe minder, totdat hy/sy uiteindelik alles van niks weet! (Van ’n student geld die omgekeerde: hy/sy werk in die breedte, weet dus al minder van al hoe meer, totdat hy/sy uiteindelik niks van alles weet!)

Mag dit nie waar wees van ons teologiese dosente en studente nie! Uiteindelik gaan dit ook in ons teologiese kennis daarom dat ons, saam met al die gelowiges, sal begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek, en dat ons sy liefde sal ken en vervul word met die volheid van God (Ef 3:18-19).

Uiteindelik gaan dit nie oor die wysheid van mense nie, maar oor die wysheid van God, daardie wysheid wat ons aan die kruis sien en by ’n oop graf, daardie wysheid wat vertel van geloof en hoop en liefde en van die belofte van ’n Groot Toekoms.