Bron: Die Kerkblad, 1987. 2 bladsye.

Hoe God Sy Kerk Klaar Bou

boustene

Die gemeente is verheug! 'n Groot doelwit is bereik: 'n eie kerkgebou staan. Sou dit egter hulle grootste ideaal wees, dan besef hulle nie meer dat hulle self God se lewende kerk moet wees nie.

Petrus leer ons in 1 Petrus 2:1-5 hoe God sy nuutgebore kerk klaar bou.

Hy Voed totdat Ons Volgroei is🔗

Petrus praat met jong Christene, pas bekeerdes. Hy herinner hulle aan die dag toe hulle in die kerk opgeneem is. Met hulle doop het hulle die teken en seël ontvang dat hulle in Christus elke vorm van kwaad afgelê het. Die roeping lê nog steeds op gelowiges om die nuwe lewe wat ons in Christus het, te laat blyk!

Mense in wie God sy genadewerk begin het, smag na méér. Wie onder Christus se heerskappy gekom het, verlang na die onvervalste melk van die Woord om daardeur tot saligheid op te groei. Die natuur toon dit mos: die pasgebore suigeling wil lewe en groei; hy soek moedersmelk, want hy is honger.

So is dit ook wanneer God 'n mens hérskep: dan is jy opnuut gebore. En wie die ware lewe gesmaak het, bly honger! Hy wil gevoed word met daardie kos wat hom op die dag van Christus se wederkoms volwasse sal hê. Hierdie kos is dieselfde as dié waardeur hy tot die nuwe lewe ge­kom het: die Woord.

Na hierdie Woord moet ons sterk verlang, met 'n brandende begeerte, soos pasgebore kindertjies. Hoe ontsaglik belangrik bly die Bybel vir ons! En predikante mag nooit afgewaterde melk in die preke voor­sit nie! So word ons geheg aan Hóm om wie dit in die Woord gaan: Christus. Hý is ons lewe. Die ge­meenskap met Hom – dít laat ons groei! Wie die rykdom van daardie gemeenskap leer smaak het (Petrus verwys na Psalm 34:9), kan nooit weer daarsonder nie. Deur sy Woord, waarin Hy die heerlikheid van sy Seun vir ons uitstal, voed God ons totdat ons volgroei is in Christus.

Hy Bou Ons Op tot 'n Geestelike Huis🔗

In vs. 4 sê Petrus (letterlik vertaal): "Na Hom (dit is Christus), die lewende steen, komende, moet julle julle laat opbou … tot 'n huis van die Gees."

Twee dinge tref hier:

  • 'Hom' staan voorop: na Hóm moet die gemeente kom.

  • Die werkwoord 'kom', dui op 'n onvoltooide handeling in die teenwoordige tyd: die kerk moet altyd weer tot die Christus kom. Vir die Christene aan wie Petrus skryf, was dit met ander woorde nie 'n áfgehandelde saak nadat hulle ge­lowig geword het nie.

In Christus, ons verheerlikte Middelaar en Hoof van sy kerk, is al God se genade saamgetrek. Hy is die volheid van God. In Hom ont­moet ons die lewe, die gemeenskap wat God ons wil gee. Jesus Christus is God se verbond met sondaars. Dáárom altyd wéér tot Hom kom!

Waarom? Omdat Hy God se le­wende steen is. Hy het die dood en die sonde oorwin. Hy het die Le­wendmakende Gees geword (1 Korintiërs 15:45). Hy maak ons selfs uit ons sondedood lewend … deur sy Woord. Hy is God se hoeksteen waarop Hy die kerk bou!

stene

God het voor die grondlegging van die wêreld reeds die grondplan vir ons redding daargestel. Tóé het God al bepaal wie die gelowiges sal wees wat Hy soos lewende stene op die hoeksteen sal oprig. Volgens daar­die bestek leer Hy ons (hier in die tyd) sien wie sy Seun is. Hy gee ons aan sy Seun (Johannes 6:65). Deur sy Woord trek Hy ons tot sy Seun. Hy heg ons deur die geloof aan sy Seun. En so word ons, een na die ander, as lewende stene op Christus, die hoek­steen, saamgevoeg tot 'n gebou van God (Efesiërs 2:20), tot 'n geestelike huis. Ons kan ook sê: tot 'n huis van die Gees, dus 'n huis waarin die Gees woon, 'n tempel. Die kerk is die tempel van die lewende God! Die Jode het Christus getoets óf Hy hoeksteen kan wees, maar hulle het Hom afgekeur, verwerp. God het Hom egter gebruik, Hom uitgekies as kosbare steen.

Die pragtigste en mees funksio­nele kerkgebou is daarom nutteloos en sinloos as dit nie diens doen in God se proses om sy gemeente tot 'n lewende tempel klaar te bou op Christus, die hoeksteen, nie.