Bron: Wegwijs. 3 bladsye.

Hoe het die martelare dit volgehou?

martelare

In die geskiedenis van die kerk kom ons hulle gereeld teë: Christene wat die owerheid en hul medemense ten volle aanvaar – en tog hulle lewens verloor in ʼn Romeinse arena of aan ʼn Spaans-Roomse galg. ʼn Byna oneindige ry: vanaf die onverskrokke biskop Polycarpus tot verby die blymoedige dominee Guido de Brès. Hulle word “martelare” genoem – afgelei van die Griekse “martus” en die Latynse “martyr”, wat vertaal word met “getuie”. Daarmee word dus aangedui dat die slagoffers in die eerste plek as gevolg van hulle “getuienis” gedood is. Die geloofsgetuienis van die enigste reddende Evangelie deur Jesus Christus. Martelare – bloedgetuies.

Bloedgetuies🔗

Die eksklusiewe geloofsopvatting van ‘die enigste heil in Jesus Christus’, het in die Romeinse ryk ergernis veroorsaak: wat verbeel hierdie mense hulle? En hierdie aanstoot het uitgegroei tot haat. Daar is meer as een keer ʼn eksklusiewe proses gevoer teen hierdie ‘eenkennige’ Christene. Die einde was die uitsluiting, om uitgestoot te word. Eers word hulle bespot en gedreig met geseling, en as dit nie help nie, word hulle aan ʼn kruis gespyker of op gloeiende ysters langsaam gebraai. Of anders gaan die martelare die weg na die leeus en luiperde.

Die wêreld van vandag dink dit is baie hartseer dat dit alles moes gebeur. Hoe is dit moontlik dat een mens ʼn ander dit aandoen?

Dit gaan die moderne mens se verstand heeltemal te bowe as hulle hoor dat die martelare psigies ongebroke hulle laaste treë geneem het. En dan sing hulle nog daarby! Hoe is dit moontlik?! Waar kry hulle die moed en krag vandaan om tot hul laaste snik te bly getuig?

Die martelaar sterf in sy “arena”. Hy sterf letterlik as ʼn bloedgetuie. Maar waarom? Allerlei vrae kom by ons op. Vanwaar die haat? Vanwaar sulke wreedheid? En dan ook: vanwaar die geloofsmoed? En hoe gaan ons vandag daarmee om? Kan die Christene op die drempel van die een en twintigste eeu ook nog so iets te wagte wees? Waarop moet ons ons voorberei?

Asosiale Christene?🔗

In die Romeinse ryk het die vervolgings – met soms lang onderbrekings – tot aan die begin van die vierde eeu geduur, toe keiser Constantyn die Grote aan bewind gekom het. Hy het dadelik ʼn ‘Edik van Verdraagsaamheid’ uitgevaardig, wat dit ontoelaatbaar gemaak het om Christene verder vanweë hulle geloof te vervolg. Die Christendom het toe ʼn ‘geoorloofde godsdiens’ geword (313 N.C.). Hieroor was die vreugde besonder groot, want nog kort tevore het die vorige (heidense) Romeinse keiser die katolieke kerk hewig vervolg: verwoesting van kerke, verbranding van Bybels, en die dwang om aan afgode te offer. Die aantal martelare het skrikwekkend toegeneem. Maar (met beklemtoning), daar was ook vele ontrou Christene! Die afvalliges, wat wel geoffer het, of wat ʼn verklaring daaromtrent gekoop het om die druk op hulle te ontkom. Nie elkeen het die moed gehad om langer vir die Christelike geloof uit te staan nie. “Kom ons los dit eers net vir ʼn tydjie”, so moes baie gedink het. Ons hoor later ook hoe moeilik die kerk dit gevind het om hierdie Christene weer in hulle midde op te neem.

Intussen was dit nogal erg hoe ‘die mense’ die Christene gesien het. In die oë van hulle medemens was hulle asosiaal – teen die samelewing! Hulle het met hulle geloof buite die ‘normale orde’ gestaan. Hulle het negatief gestaan teenoor die ‘gode’ van die Ryk en daarmee krities teenoor die ‘grondslae van die samelewing’. Hulle was dus fundamenteel gevaarlik en gesien as verbrekers van die eenheid van die Ryk. Dan was daar ook nog die rillerpraatjies oor kinderoffers en ander kannibalistiese feeste. ʼn Mens hoor dit tog immers: ‘Neem, eet, dit is My liggaam’…

Bybels brand

Intimidasie🔗

Was die geregtelike prosesse teen die Christene nie by voorbaat bedoel om hulle tot die dood te veroordeel nie? Nee, die bedoeling was eerder om hulle te intimideer, en om hulle van hulle eksklusiewe opvattinge te laat afsien. Deur redenering en oorreding moes hulle weer in pas kom met die ander staatsburgers! Hoe geredelik sal so iets nie ook vandag as argument kan geld om aan te pas by ‘die heersende gewoontes’ nie?

Die maatskaplike druk moet ons nie onderskat nie. ʼn Mens is nou eenmaal ʼn wese wat hom geredelik aanpas by sy (nuwe) omstandighede. Dat jy die gevaar loop om ʼn kniebuiging te maak voor die moderne gode van jou eie tyd, is onbetwisbaar. Die vraag is: sien ons dit vandag nog raak?

Hoe het hulle dit volgehou?🔗

Van hulle wat die marteldood moes ondergaan, lees ons dikwels dat hulle tot die einde toe bly getuig het oor hulle geloof in Jesus Christus. Dit alles was moontlik deur die Geeskrag van God. Deur Hom was hulle gebonde aan die opdrag: En julle sal my getuies wees!’ So het hulle in hulle donkerste ure bewus gebly van hulle verbondenheid aan die Here van die kerk. Hulle het eintlik alreeds lank in die lig van God se Ryk geleef. Hulle was vroegtydig al deur Christus self gewaarsku: ʼn Kneg is nie belangriker as sy heer nie’. En daarby: In die wêreld sal julle verdrukking ly.’ Op geen manier kon hulle meer losgemaak word van hulle Heiland nie. So het hulle met blydskap die dood tegemoet gegaan.

Vir mense wat dit meegemaak het, was so iets ongelooflik! Dit moes hulle eenvoudig aan die dink gesit het. Baie mense het met respek van die martelare gepraat. En waarskynlik het dit in meer as een opsig waar geword: ‘Die bloed van die martelare is soos ʼn saad!’ Die bloed van die martelare het die kerk laat groei.

Sommige mede-Christene het een stap te ver gegaan, deur oor te gaan tot martelaarsverering, deur die martelare as heiliges te beskou. Die sterfdag van ʼn martelaar is gevier as sy ‘geboortedag vir die Koninkryk van God’. Van sulke martelare mag jy dan verwag om vir jou voorbidding te doen by God die Vader. Jy moes eintlik van martelare aandenkings besit. Verkeerd, maar in die lig van wat by so ʼn toneel gebeur het miskien tog bietjie begryplik…

Sommige Christene het selfs martelaarskap nagestreef. Biskop Ignatius van Antiogië het daarna verlang om vir sy Heiland te sterf. Hy wou geen hulp van mede-Christene hê om bevry te word van die Romeinse regters nie. Hy skryf:

Die beste wat u my kan gee is dat ek aan God geoffer word ... Laat my tog voedsel vir die wildediere wees.

So het dit ook gebeur, al maak ons die kantaantekening dat hierdie dood nie noodwendig nodig was nie.

Guido de Brès🔗

Ook in die sestiende eeu is die kerk erg vervolg. Ons beskik oor ʼn groot aantal verslae oor teregstellings uit dié eeu. ʼn Besondere getuienis het vir ons bewaar gebly oor Guido de Brès, die opsteller van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Hy sterf as martelaar op 31 Mei 1567 aan die galg te Valenciennes, saam met sy kollega Pérégrin de la Grange. Daar is die volgende oor hom geskryf:

Kort nadat hy opgestaan het, het die heer Guy (de Brès) die voorplein betree om al die ander gevangenes te groet. Terwyl hy aan hulle sy vreugde betuig, praat hy met hulle op hierdie wyse: My broeders, ek is hier ter dood veroordeel oor die leer van die Seun van God. Hý word hiervoor geprys. Ek is baie bly daaroor. Ek het nooit gedink dat God my so ʼn eer sal bewys nie. Ek voel my aangesig swel van die genade wat God al meer en meer op my laat neerdaal. En ek word van minuut tot minuut gesterk. My hart spring op van vreugde in my binneste.

saai

Netso spreek sy kollega De la Grange. Hoe wonderlik! Veroordeel deur die owerheid, en tog het hulle tot aan die einde (toe hulle onder die galg gestaan het) aan hulle geloofsgenote voorgehou: julle moet die owerheid eerbiedig!

Hulle rotsvaste geloofsoortuiging het respek afgedwing, veral as in gedagte gehou word dat iemand soos De Brès, ʼn vrou met vyf jong kinders nagelaat het. Sy afskeidsbrief aan hulle was ʼn voorbeeld van ontroerende blydskap en Christelike vroomheid. De Brès skryf onder andere:

Ek is vrolik en my hart is opgewek. Ek ontbreek niks in my droefheid nie.’ En ook: ‘Ek gaan u vooruit, en op die tyd dat dit die Here behaag, sal julle my volg.

Wat ʼn voorbeeld van geloofsekerheid! Iets om op jaloers te wees!

Literatuur:🔗

  1. J.N. Bremmer en J. Den Boeft, Martelare van die ou kerk – bewaarde dokumente van die Christenvervolging tot 300 na Christus, Kampen1988.
  2. Th. Delleman, Die martelaarskap van Guido de Brès, ʼn bedienaar van die Goddelike Woord in die Nederlande, Gravenhage z.
  3. Verder kan mens in die leer- en handboeke van die kerkgeskiedenis baie besonderhede kry omtrent die vervolginge wat die kerk in die loop van eeue getref het.