Bron: Kompas. 6 bladsye.

Hoe Lees Ons die Boek Job?

job

Ons weet almal dat in die Bybel ʼn boek met die naam Job voorkom. Ons ken almal die verhaal van Job. Nogtans is dit nie so maklik om hierdie boek te lees nie. Die eerste twee hoofstukke trek ons aandag en is nie moeilik om te verstaan nie. Dieselfde geld van hoofstuk 42. Dit is egter nie so maklik om te verstaan wat ons in die hoofstukke 3-41 lees nie. Die doel van hierdie artikel is om ʼn bietjie hulp te verleen by die lees en verstaan van hierdie mooi Bybelboek.

Is Job 3-41 God se Woord?🔗

Vyf persone is in hierdie hoofstukke aan die woord. Dit is Job, sy drie vriende: Elifas, Bildad en Sofar. Dan is daar nog ʼn ander vriend van Job: Elihu. En tot slot praat die HERE self in die hoofstukke 38-41. (Ons lees in hoofstuk 42 dat Job sy skuld bely en hoe die HERE op Job se vriende reageer en Job weer in sy groot seën laat deel.)

Een van die moeilikste dinge in die boek Job is om vas te stel wanneer Job verkeerd van die HERE gepraat het en waar Job se vriende verkeerd gegaan het. Ons moet ook uiters versigtig wees om sommer tekste in hoofstukke 3-37 te gebruik om iets te bewys. Ons moet seker maak of dit wat daar gesê is in ooreenstemming met God se wil is. Ons moet bedink dat ons in Job 42:7 lees:

En nadat die HERE Job toegespreek het met hierdie woorde, sê die HERE aan Elifas, die Temaniet: My toorn het ontvlam teen jou en jou vriende; want julle het nie reg van My gespreek soos my kneg Job nie.

As ons antwoord wil gee op die vraag of Job 3-37 God se Woord is, behoort die antwoord ja te wees. Die Heilige Gees het ook hierdie hoofstukke tot deel van God se Woord gemaak. Nogtans beteken dit nie dat alles wat ons daar lees die regte pad en leer vir ons wys nie. Hier is dit belangrik om ʼn onderskeid tussen historiese en normatiewe gesag te maak. Alles wat ons in hoofstuk 3-37 lees, is ʼn betroubare verslag van dit wat Job, sy vriende en die HERE gesê het. Die woorde word op ʼn histories betroubare manier aan ons oorgelewer. Nogtans het nie al die woorde in hierdie hoofstukke normatiewe gesag nie. Ons kan nie van al Job se vriende se woorde sê dat dit regte woorde was nie. Al hul woorde is nie met Goddelike gesag beklee nie. Juis daarom die oproep tot versigtigheid om hierdie woorde te gebruik as bewysstukke. Selfs Job sê in hierdie hoofstukke dinge waaroor die HERE hom in hoofstukke 38-41 bestraf. As ons byvoorbeeld na vraag en antwoord 13 van die Kategismus kyk, en die tekste wat as bewystekste daar gebruik word, sou dit dan ook beter wees om die tekste vanuit Job 4 en 15 met gedeeltes in Romeine 3 te vervang.

Wie was Job?🔗

Wie die menslike skrywer van die boek Job is, weet ons nie. Die boek Job gee vir ons geen enkele aanwysing nie. Dit is ook eintlik van mindere belang solank as wat ons bly vashou aan die wete dat dit wat ons in hierdie boek lees, werklik so gebeur het. Ons lees in hierdie boek wat op ʼn sekere oomblik in die hemel (1:6-12; 2:1-7) en op die aarde gebeur het.

As ons op die toesprake in die boek Job let, sien ons dat hulle in ʼn poëtiese styl geskryf is. Dit wil nog nie sê dat Job en sy vriende mekaar in poëtiese woorde geantwoord het nie. Die poëtiese vorm kan ʼn bewerking onder leiding van die Heilige Gees wees wat op ʼn volledig betroubare wyse weergee wat daar gesê is.

Wat opvallend is, is die feit dat Job nie ʼn Israeliet is nie. Hy woon in die land Us waarvan ons met sekerheid kan sê dat dit buite Israel lê. Waar presies die land wel geleë was is nie moontlik om aan te dui nie, maar ons lees van hierdie land in Genesis 36:1, 28; 1 Konings 1:42 en Klaagliedere 4:21. Dit lyk asof dit hier oor ʼn stuk land gaan wat suid van Juda lê. Op ander plekke lees ons van Us: Genesis 10:23; 22:21; 1 Kronieke 1:17, waar die aanduiding meer noordoos van Israel is. Dit is baie goed moontlik dat verskillende stukke grond dieselfde naam gedra het.

ʼn Interessante tradisie oor Job vind ons in die Septuagint. Die Septuagint is die eerste vertaling van die Ou Testament. Dit was ʼn Griekse vertaling wat in Jesus se tyd baie gebruik is. Ons vind hier by Genesis 42:17 ʼn toevoeging waarvolgens Job dieselfde persoon as Jobab die seun van Serag sou wees. Ons lees van hierdie Jobab in Genesis 36:33. Op hierdie manier sou Job dan ʼn kleinseun van Esau wees. Dit is natuurlik niks anders as ʼn menslike oorlewering nie. Nogtans is dit so dat as ons die boek Job lees, dit die mees waarskynlike is dat Job in die tyd van die aartsvaders of selfs voor die aartsvaders geleef het. Aanwysings dat Job omtrent in die tyd van Abraham geleef het:

  • Die organisasie van sy familielewe en van sy eiendomme pas by daardie tyd in die Ou-Nabye Ooste. Hy is ʼn herdersvors en sy rykdom word uitgedruk in die besitting van vee. (Job 1:3; 42:12).

  • Hy word baie oud. (Job 42:16) Sy leeftyd van 140 jaar pas nog in die tyd van die aartsvaders of daarvoor, maar nie daarna nie.

  • In die tyd voor Israel se volksbestaan was daar gelowiges op aarde wat nie tot die nakomelinge van Abraham behoort het. ʼn Ander voorbeeld daarvan is Melgisedek. (Kyk Genesis 14)

bokke🔗

Is die Boek Job ʼn Fantasie?🔗

Ook teoloë wat as meer behoudend bekend staan, aanvaar nie altyd die hele boek Job as histories nie. ʼn Eietydse handboek vir die bestudering van die Ou Testament is R.B. Dillard/Tremper Longman se “An Introduction to the Old Testament”. Hierdie twee teoloë meen dat Job ʼn historiese figuur uit die vroeë tyd was, maar dat dele van hierdie boek uit ʼn later tyd stam. Hulle skryf o.a.:

Dit is meer waarskynlik dat sekere godsdienstige ideë in die boek eers later in die geskiedenis van Israel ontstaan het. Terwyl dit aan die een kant verkeerd is om dit net aan ʼn evolusionêre visie op die ontwikkeling van godsdienstige ideë in die Ou Testament (aldus Wellhausen) toe te skryf, is dit so dat in die Bybel die waarheid stadig ontvou midde-in die proses waarin die heilsgeskiedenis vorder. Die meer ontwikkelde leer van die engele in die boek, waarby ook meer details ten aansien van die Satan behoort, stam waarskynlik uit ʼn later periode in Israel se geskiedenis. Ons kan die gevolgtrekking maak dat die agtergrond van die boek sonder twyfel vroeg is, terwyl die datering van die oorsprong onbekend bly.

Hierdie siening kan ons in die lig van God se Woord nie aanvaar nie. Enkele redes daarvoor is:

Ons lees hier dat ʼn idee van die skrywers oor hoe die leer van God se Woord ontwikkel het, vir hulle beslissend is. Hulle kan hulle nie voorstel dat in die vroeë tyd voor Israel se volksbestaan God se kinders al so baie van die engele en die Satan geweet het nie. Ons kan nie leef by ʼn idee oor wat ons dink die broers en susters in vroeë tye al geweet het nie. Ons kan nie leef met dit wat volgens ons idee die HERE vroeër of later geopenbaar het nie. Ons moet ons ook wat hierdie dinge betref deur God se eie Woord laat leer. Ons mag van die boek Job nie ʼn boek maak wat mense uit gedeeltes van verskillende tye saamgestel het nie. Ons mag daarvan nie ʼn boek maak wat wel ʼn historiese agtergrond het, maar met ideë van later tye aangevul sou wees nie. Dan ontstaan op die ou end ʼn boek waarvan die historiese gedeelte ook nie betroubaar is nie.

  • Hierdie siening doen nie reg aan die feit dat dit hier oor feite gaan en die Skrif dit ook so presenteer nie. Dit het in ʼn sekere tyd plaasgevind. En so lees ons dit dan ook in die Bybel. As dit in die tyd van of voor die aartsvaders is, maak dit duidelik dat die HERE toe al kennis van die engele en wat hulle in die hemel doen, aan mense geopenbaar het.

  • Die leer van die engele is nie die resultaat van mense se ideë daaroor nie, maar die HERE het die werklikheid wat daar was, geopenbaar.

  • Dit gaan hier nie oor ʼn sekere idee oor die Satan nie, maar om die openbaring van die werklikheid.

ʼn Groot gevaar wat ons hier en ook elders in sogenaamde behoudende kringe sien, is dat die Bybel as ʼn fantasie benader word. Eers vra ons dan onsself af wat na ons mening die bedoeling van ʼn Bybelboek is. As die bedoeling van die boek Job dan volgens ons is om die probleem van lyding aan die orde te stel en daaroor sekere antwoorde te gee, dan sou dit nie meer baie saak maak of dit oor geskiedenis gaan of nie. Die belangrikste is dit wat volgens ons die boodskap of idee van die boek is.

wolke

Ons mag van die Bybel geen fantasie of dogmatiek maak nie, maar moet juis sien hoe God Hom in die geskiedenis aan ons geopenbaar het. Dan sien ons baie meer van God se wysheid en grootheid as dit wat volgens ons die boodskap is.

Job was verseker ʼn historiese persoon. Dit wys die boek Job self en ook dit wat ons in ander dele van die Bybel van hom lees. (Lees: Esegiël 14:14, 20; Jakobus 5:11.)

Indeling van die Boek Job🔗

As ons die boek Job begin lees, is dit goed om die indeling van hierdie boek in gedagte te hou of langsaan op ʼn papier te hê. Die volgende indeling kan ons help:

  1. Historiese situasie, 1-2

  2. Die toesprake van Job en sy vriende, 3-31

    Job se toespraak begin in hoofstuk 3 en daarna kom die ander in verskillende rondtes aan die beurt:

Rondte:

1e

2e

3e

Elifas

4, 5

15

22

Job

6 ,7

16, 17

23, 24

Bildad

8

18

25

Job

9, 10

19

26-31

Sofar

11

20

 

Job

12-14

21

 

  1. Toesprake van Elihu, 32-37

  2. God se woorde, 38-39:35, 40-41

  3. Job se antwoord, 39:36-38, 42:1-6

  4. Job se historiese situasie onder God se nuwe seën 42:7-17

Hoe Moet Ons Elihu se Woorde Waardeer?🔗

As ʼn mens na die indeling kyk, sien jy dadelik dat die toesprake van Job se vierde vriend heeltemal los van die ander vriende staan. Is dit toevallig? Of het Elihu se toesprake ʼn heeltemal ander karakter?

Ons kry verskillende beoordelings van Elihu. Dikwels word hy maar by die ander drie gereken. Die beoordeling is dan dat hy eintlik dieselfde as die ander gesê het en onder God se oordeel val soos die HERE dit oor die ander uitgespreek het. ʼn Voorbeeld daarvan is die boek van Dillard en Longman waarna reeds verwys is. Hulle skryf oor Elihu se toesprake o.a. die volgende:

Twee faktore dra daartoe by dat volgens die gebruiklike Skrifkritiese standpunt die toespraak van Elihu oorspronklik nie tot die verhaal behoort nie. Die eerste faktor is dat die drie vriende in die laaste hoofstuk van Job wel aangespreek word, maar nie Elihu nie. God kon Elihu, soos Barr tereg opgemerk het, moontlik as onbetekenend ignoreer. Nogtans is dit die feite dat Hy hom as ʼn brutale jongman op sy plek sit. Die ander faktor wat bydra tot die teorie dat Elihu se toespraak ʼn latere toevoeging is, is die feit dat hy niks nuuts sê nie.

Dillard en Longman wil nie Skrifkrities wees nie, en sê dan ook nie dat dit wat Elihu sê, nie by die boek Job behoort nie. Dit kan egter volgens hulle wel ʼn latere toevoeging wees. Hulle stem daarmee saam dat Elihu niks nuuts sê nie en ʼn voorbarige jongman is. Hierdie uitleg is nie aanneemlik nie. ʼn Mens moet daarvoor eintlik tussen die lyne lees. Die opvallende is juis dat die HERE die drie vriende bestraf en nie Elihu nie! (Job 42:7-10)

Ons sien by Elihu verseker nuwe dinge wat ons nie by die ander drie vind nie. Dit is o.a. die volgende:

  • Die drie vriende verhef hulle bo Job. Hulle beskuldig Job daarvan dat hy ʼn baie groot sondaar moet wees want die ellende wat nou oor hom gekom het bewys dit. Van tyd tot tyd kom Job se drie vriende selfs met baie konkrete beskuldigings wat moet bewys dat Job se ellende die gevolg van ernstige sondes in sy lewe is. ʼn Voorbeeld daarvan hoor ons in Elifas se woorde (22:6-9):

Want jy het pand geneem van jou broers sonder noodsaak, en die klere van die naaktes het jy uitgetrek. Aan die vermoeide het jy geen water gegee om te drink nie, en aan die hongerige het jy die brood onthou. Maar aan die man van geweld – aan hom behoort die land; en die aansienlike – hy moet daarin woon! Weduwees het jy met leë hande weggestuur, en die arms van die wese is verbrysel.

Job se drie vriende verhef hulle heeltemal verkeerdelik bo Job. Die HERE se beoordeling van Job en sy lewe is naamlik die volgende:

Die HERE vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ʼn man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad. 1:8

Ons sien by Elihu dat hy hom nie bo Job verhef nie. Sy oortuiging is nie dat Job ʼn baie groot sondaar moet wees vanweë die ellende wat oor sy lewe gekom het nie. Hy erken dat hy nie beter as Job is omdat hy nie deur groot ellende getref is nie. Hy gaan staan langs Job:

Kyk, teenoor God staan ek in dieselfde verhouding as u: van klei is ek ook afgeknyp. Kyk, vrees vir my hoef u nie te beangstig nie, en my las sal op u nie swaar wees nie.  33:6, 7

klei

  • Die drie vriende kan aan niks anders dink as dat Job ʼn groot sonde gedoen het nie. Hierteen verset Job hom. Die gevolg van die manier waarop die drie vriende met Job praat is dat Job daartoe kom om die HERE tot verantwoording te roep en selfs die HERE van onregverdigheid teenoor hom te beskuldig. (Kyk o.a. 4:6-8; 8:20; 11:11; 18:5.)

    Elihu se groot bydrae in die gesprek is nou juis dat hy wys dat ons almal die grootste ellende as sondaars verdien het. Ons het almal vanweë ons sondes en skuld God se bevryding, verlossing nodig. Hy wys, soos Job vroeër gedoen het, dat enige mens die Verlosser nodig het. (Kyk 33:23-25 en 19:25.)

    Vanuit die regte perspektief dat ons almal sondaars is en die ergste ellende verdien het, bestraf Elihu nou vir Job omdat hy God van onreg durf beskuldig. Job het begin twyfel en hom al hoe meer teen God rig (3:3; 9:22; 16:11-18; 19:6) Elihu wys dat dit nie by ʼn mens se optrede teenoor God pas nie. Hy wys op hierdie verkeerde in Job se woorde o.a. in 34:35-37:

Job spreek sonder kennis, en sy woorde is sonder verstand. Ag, mag Job getoets word tot die einde toe weens die antwoorde in die trant van die kwaaddoeners. Want hy voeg ʼn oortreding by sy sonde; onder ons spreek hy smadelik en vermenigvuldig sy woorde teen God.

Die HERE wys in dit wat Hy in die hoofstukke 38-41 sê, ook daarop. Baie kernagtig lees ons dit in 39:34, 35: “En die HERE het Job geantwoord en gesê: Wil die berisper met die Almagtige twis? Laat hy wat God teregwys, hierop antwoord!”

  • Ook op ʼn ander punt sien ons groot ooreenstemming tussen dit wat Elihu vir Job sê en wat die HERE sê. Elihu wys vir Job op God se majesteit. Hy doen dit veral in hoofstuk 37. Die HERE se onderwys in hoofstuk 38, 39 sluit daarby aan.

verstand🔗

Wat van Job 42:7?🔗

Is dit werklik so dat Job ook dinge gesê het wat nie reg was nie? Die vraag kom op as die HERE hom in 42:7 veral tot Elifas rig en dan sê:

My toorn het ontvlam teen jou en jou twee vriende; want julle het nie reg van My gespreek soos my kneg Job nie.

Wat is die grootste rede waarom die HERE kwaad is vir die drie vriende? Dat hulle nie reg van Hom gepraat het nie. Dit beteken nie dat hulle nie dinge gesê het wat waar is nie. Baie dinge van dit wat die vriende gesê het, is op sigself waar. Daarom kan Paulus in 1 Korinthiërs 3:19 ook ʼn woord van Elifas aanhaal (uit Job 5:13). ʼn Mens kan met baie woorde wat op sigself waar is, ʼn verhaal maak wat ʼn verkeerde strekking het. Dit is wat die drie vriende gedoen het. Hulle het baie woorde wat waar is so met mekaar verbind dat die strekking van hulle verhaal was: Enige mens wat in groot probleme is en deur moeilike dinge getref word, moet ʼn groot sondaar wees. Wie nie deur groot hartseer getref word, mag volgens die drie vriende weet dat God se toorn nie op hulle lê nie.

Die drie vriende het hierin ʼn totaal verkeerde getuienis van God gelewer. Dit is nie die manier waarop God werk nie. Die Here Jesus wys dit later ook aan as Hy die blindgeborene genees het. As daar dan vir Hom gevra word wie nou so swaar gesondig het, hierdie man of sy ouers, is Jesus se antwoord:

Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom geopenbaar word. Johannes 9:3

As die HERE sê dat die drie vriende nie reg van Hom gepraat het soos sy kneg Job nie, beteken dit nie dat alles wat Job gesê het reg was nie. Dan sou ʼn mens nie kon verstaan dat die HERE self Job in hoofstuk 38-41 vanweë sekere van sy woorde bestraf het nie. Die HERE sê in 38:2 selfs vir Job: “Wie maak die raadsbesluit daar tot duisternis met woorde sonder verstand?”

Dit gaan hier weer oor die strekking van Job se woorde. Hy hou teenoor die vriende vol dat die omstandighede waarin ʼn mens op aarde verkeer nie kan aanwys of God se toorn oor iemand se lewe lê of nie. ʼn Mens kan nie vanuit iemand anders se omstandighede die gevolgtrekking maak of hy ʼn kind van God is of ʼn goddelose nie.

Enkele Belangrike Elemente in die Boek Job🔗

Die feit dat ʼn mens by geen Bybelboek die tema van die boek kan vasstel en dan kan redeneer dat die boek oor niks anders as net dit handel nie, geld ook baie sterk vir die boek Job. Die volgende belangrike elemente in die boek Job kan dus ook nog met ander aangevul word.

  • Die stryd tussen God en Satan. Satan dink dat die HERE ʼn mens wat swaar beproef word nie tot die einde by die lewe en aanbidding van Hom kan vashou nie. Die HERE wys sy trou en krag wat bo die van die Satan uitgaan. Die blywende diens aan die HERE is nie afhanklik van aardse welvaart en geluk nie.

  • Job word deur God se trou en krag ʼn voorbeeld van lydsaamheid (Jakobus 5:10). Jy kan op God vertrou!

  • Die Satan kan nie verder gaan as wat die HERE hom toelaat om te doen nie. (Kyk 2:6).

  • Lyding in ʼn mens se lewe beteken nie dat daardie mens dus ʼn besondere sonde in sy lewe het nie. Elkeen het die Verlosser nodig.

  • Die mens kan nie die HERE in sy wysheid en majesteit beoordeel en veroordeel nie. God en sy wysheid en grootheid gaan bo ons verstand en voorstellingsvermoë uit. By ons pas slegs aanbidding van sy majesteit.

  • Die beproewinge van God se kinders is ook daarop gerig dat ons die HERE werklik ken (Kyk 42:5).

  • ʼn Mens leef en aanbid die HERE nie tevergeefs nie (Kyk 1:9).