Bron: Kompas, 2002. 3 bladsye.

Hoekom Nog Preek?

Soos daar in die wêreld baie dinge verander het, so maak die kerk ook gebruik van nuwe moontlikhede. Ons gebruik nie meer kerse nie maar elektriese lampe. Die orrelis gebruik nie meer ’n traporreltjie nie, maar die lug word met ’n elektriese enjin in die pype ingeblaas. Die predikant hoef nie meer sy stem te ‘verhef’ nie maar hy kan rustig in ’n mikrofoon praat. Die diens word opgeneem op ’n kasset en die preek is op internet beskikbaar.

In die lig van al hierdie dinge wat verander, is dit verbasend dat een ding nie verander nie: Die predikant bly preek! Elke Sondag verkondig daardie een man die Woord van God aan ’n groep mense wat sit en luister.

Die vraag word gevra of die prediking nie ’n outydse middel is om die evangelie oor te dra nie. Is daar nie ander maniere nie? Is daar nie meer moderne middels nie? Lewe ons dan nie in ’n beeldkultuur nie (TV, video)? Moet die kerk nie daarby aanpas nie? Hierdie vrae mag gevra word. Dit dwing ons om na te dink oor die redes waarom daar in die kerk gepreek word.

Hoor, Israel!🔗

As ons soek na ’n Bybelse antwoord op genoemde vrae, is dit opvallend dat reeds in die Ou Testament die verkondiging ’n sentrale plek gehad het. Alhoewel daar in die OT-liturgie baie gesien kon word – offers en rituele – moes daar tog in die eerste plek geluister word. “Hoor, Israel…” (Deuteronomium 6:4). “Luister dan nou, Israel…” (Deuteronomium 4:1). So klink dit telkens weer. Dit staan in verband met die feit dat die Here self tot die volk gespreek het by die berg Sinaï.

Die HERE het met julle uit die vuur gespreek; julle het ’n stem van woorde gehoor, maar geen verskyning gesien nie – net ’n stem was daar.Deuteronomium 4:12

Die feit dat die Here tot sy volk gespreek het en ook bly spreek het deur die diens van die Moses en die profete, is die agtergrond vir die instelling van die tweede gebod. Die volk van God mag Hom nie deur middel van beelde dien nie.

Dit is belangrik om te onthou wat die betekenis van hierdie gebod was binne die kultuur van daardie tyd. Deur die tweede gebod het Israel ’n uitsonderingsposisie ingeneem. Al die ander volke het hulle gode aanbid met behulp van sigbare beelde. Israel het opdrag ontvang om die Here te dien sonder die hulp van beelde.

Uit die geskiedenis van die ou verbond weet ons hoe moeilik hierdie gebod vir Israel was. Daar was ’n haas onbedwingbare neiging om religieuse gebruike van die ander volke na te volg: verering van beelde, religieuse rituele op heilige plekke, ens. Die tweede gebod was skaars afgekondig of die volk het met Aäron se hulp ’n goue kalf gemaak om die Here op daardie manier te dien. ’n Sigbare afbeelding van God – dit is wat die volk wou hê. Dat Moses met ’n boodskap van die Here van die berg af sou kom, was vir hulle nie interessant nie.

Dat daar tot op vandag nog in die kerk gepreek word, het baie te doen met die tweede gebod. Dit blyk duidelik in die verklaring van die tweede gebod in die Kategismus: “God wil sy Christene nie deur stom beelde nie, maar deur die lewende verkondiging van sy Woord laat onderrig” (antw. 98).

Die Christelike godsdiens is nie ’n godsdiens van rituele nie. Waar heidense godsdienste probeer om die gode te manipuleer deur middel van spesiale formules en gewyde handelinge op gewyde plekke, wil die enigste ware God hê dat sy volk Hom nie probeer manipuleer nie, maar dat hulle na Hom luister. “Hoor, Israel!”

Verbond🔗

Wat is die rede dat God met sy volk ’n spreek-luister-verhouding wil hê? ’n Belangrike verklaring hiervoor is geleë in die wese van God self. Hy is nie ’n goddelike krag wat gemanipuleer kan word nie. Inteendeel, Hy is ’n persoonlike God wat ’n persoonlike verhouding met sy volk wil stig. Hierdie verhouding noem ons die verbond van God.

Hierdie verbond ontstaan deur die inisiatief van God en dit word in stand gehou deur sy trou. Die verbond kan nie deur menslike inspanning in stand gehou word nie. Dit is God se verbond en Hy kies self sy “partner” in die verbond.

Hierdie verbond is ’n lewende, persoonlike verhouding waarin die liefde en die genade van God die botoon voer. Binne die verbondsverhouding tree die Here op as ’n Vader vir sy volk. Net soos ’n vader praat met sy kinders, so spreek God in die verbond woorde van liefde, in die vorm van belofte en gebod. Hy leer ons om ook antwoord te gee in die taal van die geloof, die gebed en die lofsang. Binne dieselfde verbondsverhouding het die Seun van God gekom as iemand wat God aan ons bekend gemaak het (Johannes 1:18). Hy het opgetree as ’n profeet wat die evangelie verkondig het en geloof en vertroue gevra het. Binne hierdie verbondsverhouding het God ook die Heilige Gees gegee om die evangelie aan ons harte te bedien.

As ’n mens gaan kyk in die geskiedenis van die verlossing van God se volk, is dit opvallend dat God op belangrike oomblikke as ’n sprekende God na vore tree. Dit gebeur by die skepping (Genesis 1), by die roeping van Abraham (Genesis 12), by die geboorte van Christus, en by die uitstorting van die Heilige Gees (Handelinge 2).

Dit is om hierdie rede dat daar gepreek word in die kerk. Die preek is ’n vorm van omgang wat pas by die verbondsverhouding van die Here en sy volk.

Verklarings🔗

As ons die preek as verskynsel verstaan vanuit die verbondsverhouding, kan ons verder afskeid neem van enige filosofiese verklarings van waarom daar gepreek word.

Daar is en daar was inderdaad ’n hele paar filosofiese verklarings. In die 19e eeu was daar ’n populêre verklaring wat gesê het: Om te kyk (met ons oë) is meer gerig op die materiële, maar om te luister (met ons ore) is meer gerig op die geestelike. Daarom is die preek ’n goeie middel om die gees van die mens te bereik.

Hierdie redenering neem sy vertrekpunt in die persoonlikheid van die mens. Maar ’n psigologiese verklaring sal nie die preek ‘red’ nie. Die uitgangspunt moenie die psigologiese samestelling van die mens wees nie, maar die Persoon van God.

’n Ander filosofiese verklaring van die preek is die kulturele verklaring. Volgens hierdie redenering is die preek ’n middel wat pas by ’n kultuur waarin inligting veral mondelings oorgedra word. Die prediking is dan ’n kommunikasiemiddel wat sy ontstaan gehad het in ’n tyd toe daar nog nie boeke, koerante en TV-skerms was nie. As ’n mens hierdie verklaring aanvaar, is die konklusie eenvoudig dat ’n prekende kerk ’n konserwatiewe of selfs agterlike kerk is.

Daar word egter een ding oor die hoof gesien: Ook in vroeëre kultuurfases was daar alternatiewe vir die prediking beskikbaar: beeldediens, ritualisme, moralisme. Tog het die Here gekies vir die middel van die gesproke woord. Ons sal derhalwe die prediking nie kan verklaar as ons dit benader vanuit ’n kulturele hoek nie.

Daar is moderne teoloë wat sê: Paulus se uitspraak dat “die geloof uit die gehoor” is (Romeine 10:17), is kultuurgebonde. As Paulus na die uitvinding van die boekdrukkuns gelewe het, sou hy hierdie uitspraak nie gedoen het nie, meen hulle. Dit is egter onwaar. Die tweede gebod van die Sinaï en die werk van die prekende Paulus is nie verklaarbaar teen die agtergrond van die kultuur van daardie dae nie. Dit was juis teen die kultuur van daardie tyd in!

Ons kan dus nie anders nie as om die konklusie te trek dat die lewende God Homself aan ons openbaar as ’n sprekende God vanweë die besondere aard van die verhouding waarin Hy Homself tot ons gestel het. Dit is ’n verbondsverhouding, ’n liefdesverhouding. Daardie liefdesverhouding word in stand gehou deurdat die Here tot sy volk spreek. Trouens, werk dit in tussenmenslike liefdesverhoudings nie ook so nie? Daar is dinge wat deur die eeue heen dieselfde bly, ook as kulture verander. Veral as dit gaan oor woorde wat van hart tot hart gespreek word.

Daar is dus geen rede om die prediking af te skaf as ’n outydse middel nie. Deur die eeue heen is die gesproke woord die middel wat die beste pas by die verhouding tussen die lewende God en sy uitverkore volk.