Bron: Kompas. 3 bladsye.

Hoeveel Kinders?

Groot gesin

Gesinsvorming bly ’n sensitiewe saak. ’n Mens praat nie maklik met ander daaroor nie. Daar is op hierdie gebied baie vreugde, maar ook baie vrae en verborge stryd. Egpare ervaar die kinderseën nie altyd as ’n seën nie. Hulle worstel met die vraag wat in hul situasie verantwoord is. Mag hulle vir ’n tyd van die kry van kinders afsien?

Opdrag🔗

Wat is die eerste wat God teenoor die mens doen? Hy seën hulle. Hy gee vir die mens die kragte wat hy nodig het om te doen wat Hy beveel. Ons lees immers: “En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Genesis 1:28).

Hiermee wys God die taak van die mens, die taak van sowel die man as die vrou, aan. Hulle moet saam die aarde vul en onderwerp. Daarom moet hulle dit ook in goeie oorleg met mekaar doen. Hy het nie sonder rede die aarde toeberei as woon- en werkplek vir die mens nie. Hy wil daar bewoners hê, medewerkers, heersers, profete, priesters en konings. Daarom die opdrag: Wees vrugbaar en vermeerder.

Let op die verband van hierdie opdrag. Dit staan in verband met die groot opdrag om as God se onderkonings oor die skepsele te heers en om die hele aarde te onderwerp (sien Genesis 1:26). Om die hele aarde te onderwerp, moet die aarde eers gevul word. Die werk van die ontwikkeling van God se werke, vra baie mensehande en menseverstande. Daarom word die groot opdrag in Genesis 1:28 voorafgegaan deur die opdrag: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde.”

Geld die opdrag nog vir vandag en vir alle mense? Na die sondvloed, dus ook na die sondeval, herhaal God die opdrag in Genesis 9:1. Maar word elke persoon nou geroep om voort te plant? Die seën en opdrag is algemeen. God spreek hier in Adam en sy vrou die hele mensheid aan. Vir Adam en sy vrou geld dit as ’n lewenssaak. Hoe sou die mensheid die taak immers kan volbring as Adam en sy vrou dit nie doen nie? Dan sou daar geen ander mense wees nie. Die opdrag tot voortplanting word dus met klem aan die eerste bewoners van die aarde opgelê. Hulle moet ’n begin daaraan maak. Die aarde moet vol mense word.

Dit wil nie sê dat elkeen vandag dieselfde roeping ontvang nie. God roep nie elkeen persoonlik tot die huwelik nie. God gee nie vir elkeen die seën en daarmee die roeping om kinders te kry nie. God gee aan elkeen ’n eie gawe. Dink maar aan wat Paulus in 1 Korintiërs 7:7 skrywe wanneer hy spreek oor ongetroud wees. Hy sê: “Want ek wens dat alle mense soos ek was; maar elkeen het sy eie genadegawe van God, die een so en die ander weer anders.” En met die gawe gee God die roeping. Elkeen moet dan op sy eie plek en met sy eie gawes saamwerk aan die vervulling van die kultuuropdrag.

Dit beteken, as ek getroud is en die moontlikheid ontvang om binne die huwelik kinders te kry, dat ek die kinders nie mag afwys nie. God wil sy aarde vol mense hê, ja veral met Christelike mense, met profete, priesters en konings, medewerkers van Hom. Die Here self het die noue verbinding tussen huwelik en kinderseën en tussen geslagsgemeenskap en voortplanting gelê. Laat ons nie sonder goeie redes skei wat God saamgevoeg het nie. Is dit dan reg om die voorregte van die huwelik te wil hê, sonder om die verantwoordelikhede wat daarmee saamgaan te wil aanvaar?

Reëlmatig word geboortebeperking aanbeveel in verband met die oorbevolking van die aarde. Mense is bang dat die grondstowwe uitgeput sal raak. Ons moet inderdaad die aarde sorgvuldig beheer. Maar is oorbevolking vir ons werklik ’n probleem? As ’n mens byvoorbeeld terugkyk na die einde van die negentiende eeu, dan was daar in die Westerse wêreld baie armoede. Sedert daardie tyd het die bevolking in die lande meer as verdubbel, terwyl die mense nou in groot weelde lewe. Wie sou ’n eeu gelede kon gedink het dat dit moontlik sou wees? Die probleem van armoede lê nie soseer in die geboorte van te veel kinders nie, maar eerder in die gebrek aan verantwoordelikheidsbesef ten aansien van die gebruik en ontwikkeling van die aarde en sy moontlikhede.

’n Seën🔗

Die Bybel benadruk dat kinders ’n seën van die Here en ’n bron van vreugde is. Ons lees in Psalm 127: “Kyk seuns is ’n erfdeel van die Here; die vrug van die moederskoot is ’n beloning.”

Satan wil graag sien dat die Christene min of geen kinders het nie. Hy weet dat dit vir God gaan om heilige saad, om kinders wat Hom erken en dien. Daarom sal hy alles in sy vermoë doen om ons wys te maak dat dit beter is om geen of min kinders te hê, en wanneer ons wel kinders het, sal hy alles doen om die kinders te mislei.

pylekoker

Kinders word vandag dikwels gesien of ervaar as ’n las, as ’n straf in pleks van ’n seën. ’n Ryk man het op ‘n dag in ’n kinderryk gesin gekom en gesê: “Kinders maak ’n ryk man arm.” Die pa van die gesin het toe raak geantwoord: “Nee, hierdie kinders maak ’n arm man ryk; want ek sou geen een van hulle wil ruil vir al jou rykdom nie.” Dit kan wees dat ek baie eenvoudig moet lewe en woon. Maar ek is baie ryk. My kinders is vir my meer werd as enige materiële rykdom. Hulle is my erfenis. Hulle is van blywende waarde, ja van ewige waarde.

Sedert die sondeval hou die kry van kinders ook verband met die stryd tussen die vrouesaad en die slangesaad, aangekondig in Genesis 3:15. Elke nuwe geboorte binne die kerk beteken ’n versterking van die geledere van God se volk. Nuwe ammunisie, soldate, as ‘t ware. Daarom lees ons in Psalm 127: “Soos pyle in die hand van ’n held, so is die seuns van die jeug. Gelukkig is die man wat sy pylkoker daarmee gevul het! Hulle sal nie beskaamd staan as hulle met die vyande in die poort spreek nie.”

’n Klomp lewenslustige kinders is ’n seën van die Here, ’n beloning, ’n erfdeel. Dit is ’n weldaad as die Here ons kinders vir Hom laat kry. Kinders wat ingesit kan word in sy stryd. Dit is ’n skitterende saak as die Here in die lyn van die geslagte sy verbond voortsit en sy kerk bou. Laat ons daarom nie meewarig ons hoof skud oor gesinne wat bly groei nie. Laat ons nie saamdoen met al die laagdunkende opmerkings wat ons van die wêreld kan verwag nie.

Ons weet tog beter! Kinders is ’n erfdeel van die Here, skatte vir God se ryk. Gelukkig is die man wat sy pylkoker daarmee gevul het! Wanneer man en vrou in biddende oorleg hul bly oopstel vir die kry van kinders, verdien hulle slegs begrip en waardering.

Verantwoordelikheid🔗

Beteken dit dat ek dan sonder om na te dink kinders moet kry en soveel as moontlik kinders moet kry? Moet ons hierin die natuur gewoon sy gang laat gaan? God het ons geskep na sy beeld, as verantwoordelike skepsels. Let op die onderskeid tussen mens en dier. Terwyl God oor die diere sy woorde uitspreek (Genesis 1:22), spreek Hy die mens persoonlik aan in vers 28. Die mens, man en vrou, word op hul verantwoordelikheid aangespreek. Ons is nie soos diere wat volgens hul drifte en instinkte paar, sonder verantwoordelikheid, sonder roeping en sonder vermoë om te oordeel wat goed of verkeerd is nie. Die mens word deur God aangespreek met sy beloftes en sy eise. Daarom dra ons ook verantwoordelikheid vir die verwekking van kinders. God skakel ons daarby in met ons liggaam en ons gees.

God het ons na sy beeld geskep om sy heerlikheid te weerspieël. Na die sondeval is Hy ook besig om ons weer na sy beeld te vernuwe. Die heerlike posisie bepaal hoe ons in of buite die huwelik moet optree. Is wat ons doen werklik ’n weerspieëling van sy heerlikheid en wysheid? Ook op die gebied van gesinsvorming? Dan kan dit nooit die bedoeling wees dat ons sonder meer soveel as moontlik kinders verwek, ongeag die situasie nie. Beide ouers is verantwoordelik vir die verwekking van die kinders. As God se priesters en konings. Daarom sal hulle ook die gesondheid van die vrou in rekening moet bring. In sorgende liefde moet die man met sy vrou omgaan. Die apostel Petrus skryf in 1 Petrus 3:7: “Net so moet julle, manne, verstandig met hulle (d.w.s. jul vroue) saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys.” Hierdie woorde is ook op gesinsvorming van toepassing. Dit wys op liefdevolle verantwoordelikheid.

Bowendien is ons as ouers nie slegs verantwoordelik vir die verwekking van kinders nie, maar ook vir die opvoeding van die kinders in die vrees van die Here. In ons tyd kom die maksimale aantal kinders wat iemand fisies kan kry, nie altyd ooreen met die vermoë om hulle op ’n verantwoordelike wyse groot te maak nie. Die kry van kinders is nie ’n doel in homself nie. God wil kinders hê wat opgevoed word as sy profete, priesters en konings. Daarom is die vraag nie: “Hoeveel kinders kan ons, biologies gesien, nog kry?” nie. Maar: “Hoeveel kan ons tot eer van die Here grootbring?”

moedelose ma

Maar is God nie die Een wat die moederskoot oopmaak of toesluit nie? Dis tog God wat kinders gee? Hoe kan ons dan die verantwoordelikheid hiervoor dra? Vergelyk dit met die opvoeding van ons kinders. God alleen kan die geloof bewerk. Maar as ouers moet ons terdeë ons kinders in die geloof opvoed. As ons dit nie doen nie, dan hoef ons nie te verwag dat die kinders tot geloof sal kom nie. God se soewereiniteit sluit nie ons verantwoordelikheid uit nie, maar juis in. God wil sy plan uitwerk met inskakeling van ons verantwoordelikheid.

Indien ons die verantwoordelikheid nie aanvaar nie en die natuur sy gang laat gaan dan kan ons die volgende scenario kry. ’n Baie vrugbare vrou kan biologies gesien elke jaar wel ’n kind ontvang, veral as sy geen borsvoeding aan haar kinders kan gee nie. So ’n vrou ontvang dan jaar na jaar ’n baba totdat sy dit nie meer kan hanteer nie. Al sugtende doen sy haar werk, maar sy ontdek dat sy beheer oor die gesin verloor het. Totdat sy heeltemal inmekaarstort. Die waarheid dring deur dat ’n volgende swangerskap in hierdie omstandighede totaal onverantwoord sou wees. Waarna ’n mediese ingreep oorweeg word om swangerskap permanent te verhinder. Indien hulle vanaf die begin hul verantwoordelikheid aanvaar het, sou hulle moontlik selfs ’n groter gesin kon hanteer, versprei oor ’n langer periode. ’n Vreugde vir hulleself en vir ander. Nou het hulle egter vanweë ’n misvatting oor geboortereëling die vreugde van die kinderseën verloor. Gelukkig geld wat hier beskryf is nie vir elke gesin wat jaar na jaar ’n kind ontvang nie. God gee soms ook wonderbaarlike sterk vroue en gesinne. Maar daarom bly die waarskuwing staan: Laat ons vanaf die begin die verantwoordelikheid aanvaar vir die verwekking, ontvangs en opvoeding van kinders.

Hierby moet ons wel die arglistigheid van die menslike hart in gedagte hou. Die sondige mens wil hom graag onttrek aan sy verantwoordelikheid teenoor God. Dit kan dan gebeur met vroom klinkende argumente. Sondige selfsug en materialisme kan ons sommer in sy greep kry. Vleeslike oorwegings (soos die luukse vakansie, huis, kar of die loopbaan van die vrou) kan baie maklik ons gedrag gaan bepaal. Sodat ons eiemagtig (dit is: sonder om ons aan God se wil te steur) die kinders gaan beperk.

God se onderkoning wil nie eiemagtig optree nie. Hy wil juis God se wil opvolg. Daarom word die beslissings in biddende oorleg geneem. Dan kan dit soms gebeur dat die besluit geneem word om die verwekking van ’n volgende kind uit te stel terwille van die gesondheid van die vrou of vanweë die huidige situasie van die veeleisende gesin. God verwag van ons, sy onderkonings, verantwoorde ouerskap.

Tegelykertyd pas dit onderkonings nie om ’n volgende swangerskap slegs uit vrees te wil voorkom nie. ’n Onderkoning van God leef juis in vertroue op God. Daarom is Christelike gesinsvorming ’n saak wat nie sonder vertroue in die Here aangepak kan word nie. Kinders van gelowige ouers is God se kinders. Die wêreld waarin ons kinders gebore word kan ons benou. Maar dit is die wêreld waaroor God regeer. Ons mag vas daarop vertrou dat alle skepsels so in sy hand is, dat hulle hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie. Sou die troue Verbondsgod sy kinders nie versorg nie?

Hoeveel kinders? In sy wysheid skryf God nie ’n aantal voor nie. ’n Pylkoker kan klein wees en tog vol wees. God gee nie aan elkeen die moontlikheid om baie kinders te hê nie. Ons is almal verskillend. Huwelike en egpare is verskillend. Hulle kan nie almal dieselfde dinge doen en hanteer nie. Wat die Here van ons as ouers vra is verantwoorde ouerskap in vertroue op Hom. Die ouers is God se onderkonings. Die kinders is God se erfdeel.