Bron: Die Kerkblad, 1995. 5 bladsye.

Homoseksualiteit en Ons

Dit was baie jare gelede, toe ek nog maar taamlike groen domineetjie was, omtrent tien-uur die aand, toe Basie, soos Nikodémus die nagdissipel, by my voordeur aangeklop het. Hy wou my dringend spreek. Ons het in my studeerkamer gaan sit. Hy was ’n mooi jongman. Fyn gelaatstrekke. Kunstenaartipe - veral lief vir musiek. Daar was iets vrouliks in sy gesigsuitdrukking. Toe ek hom na die doel van sy besoek vra, het hy stamelend begin. Na baie gesukkel het hy daarmee voor die dag gekom: “Dit was al moeilik genoeg vir my om katkisasieonderwyser te wees. Maar noudat ek gekies is vir diaken, breek dit my heeltemal. Sien, dominee, ek … ek kan dit nie help nie. Ek … ek raak op mans verlief. Ek weet die Bybel sê dit mag nie. Die Here weet, ek wil nie so wees nie. Maar ek kán nie anders nie.” En toe het hy die hele tragiese verhaal van sy lewe vertel. Hy is radeloos met homself. Sy ouers weet nie daarvan nie. Hy is doodbang dit kom op die lappe. Ondertussen voel hy soos ’n skurk om met so ’n vuil geheim voort te leef. Of ek tog nie vir hom hulp het nie ... Dit was lank na middernag toe hy afskeid geneem het.

Soorte Homoseksualiteit🔗

Dit was my eerste persoonlike kennismaking met hierdie ontsaglik moeilike vraagstuk. Om eerlik te wees: jonk en onervare soos ek was, was ek tot in my siel geskok. Lidmaat van my gemeente uit ’n baie goeie familie, seun van ’n ouderling – ’n homoseksueel! Later het ek met hierdie probleem meermale van naby te doene gekry. Ek het oor die vraagstuk begin lees, want destyds was dit ongekende saak. Jy het nooit in jou wildste drome vermoed dat daar lidmate in jou gemeente kon wees wat homoseksueel is nie.

Ek het in my soektog afgekom op wêreld van seksuele afwykings wat my byna duiselig gemaak het:

  • Homofilie (ook genoem angelisme) - verhewe liefde (op erotiese maar nie seksuele vlak) tussen twee mense van dieselfde geslag.
     
  • Uranisme - homoseksualiteit met uitgesproke afkeer van die teenoorgestelde geslag.
     
  • Pediastrie - die Sokratiese liefde - tussen meester en leerling van dieselfde geslag.
     
  • Lesbianisme - liefdesverhouding tussen twee vroue.
     
  • Biseksualisme - by persone wat in staat is om beurtelings hetero- en homoseksueel op te tree.
     
  • Hermafroditisme - tweeslagtigheid - kom baie selde by gewerweldes (mense en diere) voor. Dit het twee vorme:
    Mense met uitwendige genitalia wat deur ontwikkelingstoornisse kenmerke van albei geslagte vertoon.
    Mense met ’n teëstelling tussen uitwendige geslagskenmerke enersyds, en andersyds die sekschromatine (chromosome), kiemselle, hormone, of geslagsorgane.
     
  • Pseudo- (of periferiese) homoseksualiteit - die persoon is en bly in wese heteroseksueel maar gedra hom soms homoseksueel.
     
  • Kernhomoseksualiteit - begeerte na en beoefening van algehele seksuele gemeenskap.

Oorsake🔗

In my soektog het ek ook op die oorsake van homoseksualiteit afgekom. Daar is ’n wyd geskakeerde menigte moontlike oorsake.

Die geleerdes deel dit hoofsaaklik in twee groepe in, naamlik aangebore en aangekweekte homoseksualiteit:

Dit wil sê, die persoon word eenvoudig met ’n homoseksuele aanleg gebore as gevolg van moeilik opspoorbare voorgeboortelike, afwykende oorsake. Psigiaters is dit met mekaar eens dat dit die allermoeilikste gevalle is om te genees. Dis feitlik net so ’n onbegonne taak om die seksuele natuur van mens waarmee hy ontvang en gebore is, te verander, as wat dit is om die blou oë waarmee gebore is, in bruin oë te verander. Daar is gevalle bekend wat ’n bietjie baat gevind het by diep hipnotiese behandeling - maar hulle is nie genees nie. Die doel van die terapie in hierdie gevalle is om die geslagsdrif te verminder, om alle geslagsprikkeling sover moontlik te probeer vermy en om die skuldbesef waaronder die persoon gebuk gaan, te verminder. Die harde feit is: ’n persoon met aangebore homoseksualiteit sal (hoë uitsonderinge daargelaat) waarskynlik nooit volkome verander kan word in ’n normale, heteroseksuele persoon nie, en die vreugde van ’n normale huwelikslewe sal hy nooit ken nie.

Omstandighede en invloede van die omgewing moedig veral jongmense in die adolessensie (18 tot 25 jaar) aan om hulle homoseksueel te gedra. Veral as ’n persoon reeds latente (=verborge) homoseksuele neigings het, kan dit tot volle ontwikkeling gestimuleer word deur sulke omstandighede en invloede. Om maar ’n paar te noem:

  • Gesinsverhoudings. ’n Seuntjie wat groot word in huisgesin waarin die ma ’n sterk, oorheersende persoonlikheid het, besitlik die seuntjie vir haarself opeis, en skynheiliglik op alle seksualiteit ’n taboe plaas, terwyl die “hen pecked” pa soos muil altyd op die agtergrond bly - so ’n seuntjie, veral as hy bietjie sensitief is, staan in groot gevaar om homoseksuele geslagspatroon te ontwikkel.
     
  • Homoseksualiteit kan ook deur seksuele molestering of teistering wat in die kinderjare plaasgevind het, veroorsaak word.
     
  • Dit word ook beweer dat afsonderlike skole vir seuns en dogters waarin die leerlinge op onnatuurlike wyse van die teenoorgestelde afgehok word, en dus op geslagtelike gebied nie normaal kan ontwikkel nie, homoseksuele tendense kan stimuleer.
     
  • Dieselfde geld vir geslagtelike afsondering in tye van verpligte militêre diens waarin jongmanne lang tye op mekaar se geselskap aangewys is. Die Rooms-Katolieke kloosterwese kom ook hier in die gesigsveld.
     
  • Daar is gevalle bekend van vroue wat uit vrees vir ’n ongewenste swangerskap in lesbianisme probeer ontvlug het.

Die bogenoemde is maar ’n paar moontlike oorsake van hierdie verskynsel - daar is seker veel meer in die ryklik geskakeerde menselewe.

Omvang🔗

In die afgelope jare is daar wêreldwyd ’n sagter beoordeling van die verskynsel van homoseksualiteit. Dit het tot gevolg dat baie meer homoseksueles as voorheen deesdae openlik vorendag daarmee kom dat hulle homoseksueel is. Die bekende geslagsnavorser Kinsey beweer dat soveel as 37 persent Amerikaanse mans in een of ander stadium van hul lewe ’n noemenswaardige homoseksuele ervaring gehad het! Uit die Gereformeerde Kerken in Nederland is ’n tyd gelede berig dat sowat 40 000 van hul 800 000 lidmate homoseksueel is. Dit wil sê 5 persent. Dit is vraag of hierdie syfer ook vir die kerke in Suid-Afrika geld. Kan dit wees dat vyf uit elke honderd van ons lidmate homoseksueel is? ’n Mens sal nooit weet nie. My eie bedieningservaring van ons kerklike lewe deur byna vyftig jaar laat my vermoed dat die persentasie by ons waarskynlik laer is.

Wat sê die Bybel🔗

Die uitsprake van die Bybel oor hierdie onderwerp is duidelik.

  • In Génesis 1:27 en 2:24 word vertel dat God die mens man en vrou gemaak het en dat ’n man daarom sy vader en moeder sal verlaat en saam met sy vrou sal lewe, en hulle sal een word. Daarmee sê God dat dit sy wil is dat die mens hom seksueel in huwelik met iemand van die teenoorgestelde geslag sal uitlewe. As God homoseksualiteit wou gehad het, sou Hy vir Adam ’n man as huweliksmaat gegee het. Dit kry ’n verdiepte, geestelike betekenis as Paulus in Efésiërs 5:32 die huweliksverhouding tussen man en vrou in verband bring met die verhouding tussen Christus en die gemeente.
     
  • In Génesis 19 word die aandrang tot homoseksuele dade deur die manne van Sodom genoem as ’n teken van hulle sedelike verwording en goddeloosheid.
     
  • In Levitikus 18:22 word eksplisiet gesê: “Jy mag nie homoseksuele verhouding hê nie. Dit is afstootlike sonde.” In Levitikus 20:13 is dit nog skerper: “Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ’n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood.” Die vereiste doodstraf hiervoor is natuurlik Ou Testamentiese moraal wat met die koms van Christus verander het - in die Nuwe Testament word die doodstraf nie vir homoseksuele dade vereis nie.
     
  • In Rigters 19:16-26 word verhaal vertel, in sekere sin analoog met die van Sodom. Hier word die gewelddadige, homoseksuele manne van Gibea ’n “klomp straatboewe” (vs 22) genoem en die daad wat hulle wil pleeg, “ ’n lae ding” (OV - “skanddaad”) (vs 24).
     
  • In 1 Konings 14:22-24 word vertel dat Juda “gedoen het wat verkeerd is in die oë van die Here, en deur die sondes wat hulle gedoen het, het hulle die Here meer uitgetart as wat hulle voorvaders gedoen het … Daar was selfs manlike tempelprostitute in die land. Die hele Juda het dieselfde afskuwelike sondes gedoen as die nasies wat deur die Here verdryf is.”
     
  • In Romeine 1:26, 27 beskryf Paulus die verskriklike “goddeloosheid en ongeregtigheid” (vs 18) van die heidene: “Daarom gee God hulle oor aan skandelike drifte. Hulle vroue verander die natuurlike omgang in ’n teen-natuurlike omgang. Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang met die vrou en brand van begeerte vir mekaar. Mans pleeg skandelikhede met mans en bring oor hulleself die verdiende straf vir hulle perversiteit.”
     
  • In 1 Timótheüs 1:9, 10 noem Paulus in dieselfde asem “mense wat hulle nie aan wet en orde steur nie, goddeloses en sondaars, mense sonder eerbied vir wat heilig en gewyd is, dié wat vader of moeder dood maak, moordenaars, ontugtiges, mense wat homoseksualiteit beoefen, ontvoerders, leuenaars, die wat meineed pleeg of enigiets anders doen wat met die gesonde leer in stryd is.”
     
  • In Judas? (OV) lees ons: “Soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aan geloop het, as ’n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan.”

Kort saamgevat: Die Bybel veroordeel homoseksuele dade in ’n taal wat nie vir misverstand vatbaar is nie.

Wat Nou van Basie?🔗

Beteken dit nou dat Basie (en alle ander homoseksueles) groter sondaars is as die heteroseksueles en daarom noodwendig vir ewig verlore gaan? Nee, beslis nie.

Daar is tog ’n duidelike verskil tussen Christene enersyds, soos Basie, wat met ’n skok ontdek het dat hy homoseksueel is en deur God se genade daarteen wil stry en, as dit kan, daarvan verlos wil word, en die wellustige manne van Sodom en die straatboewe van Gibea andersyds wat hulle daarin verlustig het om homoseksuele skanddade te pleeg.

Natuurlik moet die kerk in sy herderlike bearbeiding van homoseksueles aan die Woord van God getrou bly. Die kerk bewys sy homoseksuele lidmate geen diens deur aan hulle te sê, soos in baie kerke deesdae gebeur, dat die Bybel ’n outydse boek is met ’n verouderde stel godsdienstig-sedelike waardes, en dat die Bybelskrywers nie die moderne sielkunde geken het en ook geen eie pastorale ervaring van homo-seksualiteit gehad het nie. ’n Kerk wat dit sou doen, is soos dokter wat sy maagkankerpasiënt paai met die leuenagtige troos dat dit maar ligte maaggriep is wat spoedig weer self sal oorgaan.

Nee, die Bybel dui die praktiese uitlewing van homoseksualiteit aan as ’n pad wat vir die beoefenaars daarvan tot die ewige dood lei. En dit is wreed van die kerk om in die naam van ’n valse liefde en humaniteit vir die homoseksueles te sê: leef julle maar ten volle uit.

Die pad wat die kerk uit die Woord van God vir hierdie ongelukkige gelowiges in sy midde moet aanwys, is die pad van die verlossing deur die bloed van Jesus Christus. As ’n bekeerde moordenaar aan die kruis gered kon word, kan ’n bekeerde homoseksueel tog ook salig word. Maar bekering beteken hier dat so ’n broeder of suster van ’n homo- in ’n heteroseksuele mens verander sal moet word. En as dit nie kan nie, sal hy of sy in die geloof en uit liefde vir Jesus Christus, die kruis moet opneem van lewenslange seksuele onthouding. Dit kan alleen geskied in die sekerheid wat Paulus ons gee dat ons meer as oorwinnaars is deur die liefde van God wat daar in Christus Jesus is (Rom 8:37).

Dit is geen maklike stryd nie - maar deur getroue bystand van ampsdraers en medegelowiges met geloofsversterking uit die Woord van God en baie gebede om die kragtige, vernuwende werking van die Heilige Gees, en waar nodig met die hulp van Christen-psigiater, kán daar by die homoseksueel ’n nuwe gesindheid gekweek word van: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Fil 4:13). So byvoorbeeld het Basie tot sy dood toe in ’n rein, heilige lewenswandel volhard.

Ons Roeping🔗

Nie net die predikant nie, maar ook die gemeente, sal, vir sover die gelowige homoseksueles se situasie aan hulle bekend is, die liefde van Christus teenoor hierdie ongelukkige broeders en susters moet uitstraal en bewys in die besef: laat hom wat sonder sonde is, die eerste klip gooi (Joh 8:7).

Dit alles kry in die huidige tydsgewrig ’n ekstra aktuele aksent. Dink maar aan die toenemend skaamtelose wyse waarop homoseksualiteit en die praktiese uitlewing daarvan in die jongste Afrikaanse letterkunde aangedien word as volkome normaal. Ons jongmense lees dit. Watter uitwerking het dit op hulle? Die kerk het ’n groot verantwoordelikheid om in die pastoraat en die katkisasie sy jong lidmate te waarsku teen seksuele eksperimente, veral dié wat tot homoseksualiteit kan lei. Voorkoming is altyd beter as genesing.

Homoseksueles het deesdae die moed om, met beroep op artikel 3 van ons land se oorgangsgrondwet (die artikel oor menseregte), openlik by wyse van massale straatbetogings hul beweerde menseregte, naamlik om hulle sonder meer voluit te mag uitleef, op te eis. As húlle hul sin kry, sal Suid-Afrika met sy beweerde sewentig persent “Christene” eerlank soos Sodom, Gomorra en Gibea lyk. Watter ontsaglike roeping het ons kerke in hierdie verband teenoor sowel die owerheid as die bevolking!