Bron: Vox Viva. 3 bladsye.

Hulle wat Hierdie Naam Aanroep

Bid ons tot Jesus of deur Jesus?  Die vraag kan misleidend eenvoudig klink…  Agter hierdie vraag lê ‘n hele bondel implikasies vir ons geloof, ons gebed en ons hele erediens as gemeente.  Die antwoord op hierdie vraag raak die hart van ons Christelike geloof. Dit raak ons verstaan van Jesus Christus as die Seun van God wat mens geword het. Anders gesê – die plek wat aan Christus in ons gebede gegee word, is ‘n uitdrukking van hoe ons God ken. Dit is ‘n aanduiding van ons verhouding met God wat mens geword het.

…terwyl Hulle God Geprys het🔗

Dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel, …terwyl hulle God geprys het en in guns was  by die hele volk. Só  beskryf Lukas in die  tweede deel van sy vertelling (Handelinge) wat kenmerkend was vir die gemeente van Jesus Christus kort na sy hemelvaart (Handelinge 2:46-47).  Die wat hulle in geloof oorgegee het aan Jesus Christus, het glad nie verslap in die gebed tot God in die tempel nie. 

“Hulle was juis “in guns by die hele volk”.  Dit is nogal veelseggend!  Christene wat nie ewe skielik ‘n ander God aanbid as die enige Here van Israel nie!  Hierdie Christene het God in hul gebed steeds geprys in die tempel. Hierdie gebed tot God het spesifiek steeds in die tempel gebeur. Geen Israeliet sou kon dink dat die volgelinge van Jesus van Nasaret ‘n ander God in gebed aanroep en prys nie. Terwyl Petrus in die tronk was, het aanhoudende gebede tot hierdie God deur die gemeente vir hom opgegaan (Handelinge 12:5). 

…hulle wat U Naam Aanroep🔗

Intussen het alles tog nie ongestoord aangegaan nie.  Daar was ‘n baie ywerige aanbidder van God, wat tog onrustig geword het oor die gebede van die volgelinge van Jesus.  Hulle kom nou wel steeds in die tempel vir hulle gebede.  Tog het daar iets verander.   Hulle het God aanbid, maar hierdie God is Jesus.  Dít het Saulus (later Paulus) baie goed raakgesien.  Hy het volmag van die owerpriester gekry om almal wat Jesus se Naam aanroep, gevange te neem (Handelinge 9:14). 

Trouens, die manier waarop Christene geken en genoem was, is juis hulle wat “die Naam van Jesus aanroep”. Só spreek dieselfde Paulus, wat eers die Christene gevange geneem het vir hulle gebede wat tot Christus gerig was, later die gemeente in Korinthe op hierdie manier aan: “…aan die gemeente van God wat in Korinthe is, aan die geheiligdes in Christus Jesus…saam met almal wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep…” (1 Korinthiers 1:2). Hulle wat deur God in Christus geheilig is, is tegelyk hulle wat die Naam van ons Here Jesus Christus aanroep. En dit gebeur nie meer net in die tempel in Jerusalem deur Jode wat tot geloof gekom het nie. Hierdie gebede tot Christus word “op elke plek” gebid! Timotheüs word deur Paulus aangemoedig om in sy werk as medewerker in die uitdra van die evangelie homself beproef voor God te stel. As Timotheüs ‘n werker wil wees wat hom nie hoef te skaam nie, dan moet hy ‘n rein lewe najaag in gemeenskap met hulle wat daardeur gekenmerk word dat hulle die Here (Jesus) uit ‘n rein hart aanroep (2 Timotheus 2:22). Almal wat Hom aanroep, mag deel in die groot genade van God. Daar is werklik geen onderskeid meer nie. Dit word nog in soveel woorde geskryf aan ‘n gemeente wat vir ten minste ‘n groot deel bestaan het uit gelowiges met ‘n nie-Joodse afkoms. Die gelowiges in Rome mag weet dat hulle  glad  nie  tweederangse  lede  van  die volk van die Here is nie. Dieselfde Here is Here van almal en is ook ryk met sy genade “oor almal wat Hom aanroep” (Romeine 10:12).  

Jesus as Here Regstreeks Aanroep🔗

Die aanroep van die Naam van Christus in gebed (gesamentlik of individueel) is een van die handelsmerke van Christen-wees. Dit is wat gelowige Jode en nie-Jode onderskei het van Jode wat Jesus as Messias verwerp het. Die belofte van die profeet Joël was: “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word” (Joël 2:32). Sonder enige huiwering is dit deur die apostel Paulus na sy ontmoeting met die verheerlikte Christus toegepas op gebede wat gerig is tot hierdie Jesus. Daar is verlossing vir hulle wat Christus as Here aanroep (Romeine 10:13)!

Hoe die gebed regstreeks tot Jesus ‘n plek gevind het in die eerste gemeente, sien ons in die gebed van Stefanus wanneer hy gestenig word oor sy getuienis oor Jesus. Stefanus sien Christus in die hemel wanneer hy sy oë opslaan na die hemel. Daar sien hy die heerlikheid van God en Jesus wat staan aan die regterhand van God. Daaroor getuig hy teenoor die verharde Jode: “Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan”. Alle klem is op Jesus wat op die troon van God staan as mens! Hý is die Een wat aangeroep word. Hý en God is werklik een.  Israel mag weet die Here ons God is een Here. 

Dit is juis hierdie getuienis oor Jesus wat as Seun van die mens op die troon van God staan wat die Jode hulle ore laat toedruk en skreeu en soos een man op Stefanus afstorm. Wanneer hulle hom dan buite die stad sleep en begin stenig, doen Stefanus wat die kenmerkende is vir die Christene. Hy roep die Here aan. Hy bid tot die Here. En wie is hierdie “Here”? Hy bid: “Here Jesus, ontvang my gees!” (Handelinge 8:55-60).

Dit is hierdie getuienis oor en gebed tot die Seun van die mens op God se troon, waarvan Saulus ‘n toeskouer was terwyl Stefanus gestenig word (Handelinge 8:58). Trouens, Stefanus se getuienis oor Jesus as die een wat as Seun van die mens op God se troon is, word verseël wanneer hy sterwende nog weer tot Jesus bid: “Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie”. En hierdie gebed word heel konkreet verhoor deur die Seun van die mens, wanneer Hy vir Saulus op pad na Damaskus as Here van die heerlikheid van God ontmoet. Saulus wil hulle vervolg wat hulle gebede tot Jesus van Nasaret bid. Maar Saulus die ywerige Fariseër word self een wat die Naam van Christus aanroep en selfs sy “ontydige” apostel en getuie!

Die Here en Sy Gesalfde🔗

Moet ons die gebed tot God die Vader  heel skerp onderskei van gebed waarin Christus aangeroep word? Dit lyk tog asof die gebed tot God en die Seun van die mens probleemloos met mekaar geïntegreer is. Nadat Petrus en Johannes voor die Joodse Raad verskyn het na aanleiding van die genesing van die verlamde man in die Naam van Jesus (!), word hulle uiteindelik na talle waarskuwings om nie in die Naam van Jesus te spreek of te leer nie, losgelaat. Wanneer hulle dan weer in aanbidding verenig word met die res van die gemeente, gaan daar van hulle almal saam ‘n hartlike lofgebed op na die troon van God (Handelinge 4:24-30). 

Hulle aanbid God as die skepper van hemel en aarde, die see en alles wat daarin is. Hulle bring in herinnering die woorde van Dawid wat getuig van die opstand teen die Here en sy Gesalfde. Hierdie God wat alles gemaak het, het nou weer sy hand uitgesteek na mense om tekens, wonders en genesings te doen. En dit gebeur baie spesifiek deur die Naam van God se “heilige kind Jesus” (Handelinge 4:30). Dan bid die gemeente saam. Tot wie? Die Here? Sy gesalfde? Dit word nie gesê nie. Dit is ook nie nodig nie! Die Here en sy Gesalfde is een Here. En wanneer die Here só aangeroep word in gebed, word hulle almal vervul met die Heilige Gees (Handelinge 4:31)!

Daar het ons God, Vader, Seun en Heilige Gees teenwoordig en werkend, waar daar ‘n eendragtige gebed opgestuur word tot ons een Here deur wie ons is en bestaan. Is dit nie ‘n alternatiewe uitvinding van die kerk wat gebede nie meer tot Christus of die Gees rig of wil rig nie? Word gebede werklik net tot die Vader gerig deur Jesus as Middelaar in die krag van die Gees? Kan ons nie in gebed uitroep: “Kom, Skepper-Gees!” nie?

Gebed tot ons een Here is die belangrike saak en daarin wil ons juis deur ons gebed tot die Seun van die mens ons duidelik onderskei van hulle wat Jesus nie as die gesalfde van God wil erken nie. Ons gebede tot die Gees is noodsaaklik om Hom as ons Here te erken wat veel meer as net ‘n krag is wat van God uitgaan. Hy is self Here en word saam met die Vader en die Seun aanbid (Geloofsbelydenis van Nicea). Ons hoef hier geen kunsmatige kompartimentering aan te bring en byna ‘n angstigheid hê wanneer ons bid nie. Laat ons bid!