Bron: Die Kerkblad, 1995. 3 bladsye.

Huweliksliefde

Liefde is 'n wesenselement van die huwelik. Normaalweg trou 'n man en 'n vrou juis met mekaar omdat hulle mekaar liefhet. Maar hierdie liefde vir mekaar is ook 'n eis van God: hulle moet mekaar liefhê (Ef 5:25, 28, 33; Kol 3:19; 1 Sam 18:20; Hoogl 2:5; 5:8; 8:6. 7; Tit 2:4; Openb 2:4).

Maar nou is die vraag: Presies wat word met hierdie huweliksliefde bedoel? Wat behels dit?

Om die eis van wedersydse liefde tussen man en vrou te kan verstaan, is dit nodig om daarop te let dat daar volgens die Skrif eintlik drie soorte liefde is. In Grieks is die woorde daarvoor: eros, filia en agape. In Afrikaans kan die drie woorde naastenby aangedui word as erotiese liefde (eros), vriendskapsliefde (filia) en selfverloënende liefde (agape). Hierdie drie soorte liefde kan nie van mekaar geskei word nie, maar dit is tog nodig om hulle te onderskei.

Erotiese liefde🔗

In die erotiese liefde val die nadruk baie sterk op die sensuele en die seksuele. (Vergelyk Gen 3:16; Spr 5:18-19; Pred 9:9; Hoogl 7:7-8; 1 Kor 7:2-5, 9).

Op grond van die Skrif en veral op grond van die boek Hooglied en 1 Korintiërs 7, kan oor die funksionering van die erotiese liefde in die huwelik die volgende gesê word: Binne die huwelik as liefdesgemeenskap het geslagsgemeenskap nie net 'n plek en funksie met die oog op voortplanting nie, maar het dit ook 'n eie onmiskenbare plek en betekenis. Geslagsgemeenskap word trouens deur man en vrou aangevoel en ervaar as een van die belangrikste maniere waarop hulle uiting gee aan hulle besondere liefde vir en trou aan mekaar en aan die innige wedersydse begeerte om in hulle liefde so na as moontlik aan mekaar te kom en met mekaar een te word. As geslagsgemeenskap onder normale omstandighede in 'n huwelik onmoontlik gemaak word, beteken dit noodwendig verminking van die huwelik. Man en vrou beroof mekaar dan van een van die belangrikste vorms van huweliksbelewing.

Vriendskapsliefde🔗

Dit is opvallend dat hierdie soort liefde in die Skrif nie direk van die man teenoor die vrou geëis word nie, maar wel van die vrou teenoor die man (Tit 2:4). Tog sal hierdie besondere aksent in die liefde van die man nie mag ontbreek nie, veral in die lig van die feit dat filia en agape in die Skrif soms as wisselvorme gebruik word, soos in Johannes 20:2 en 21:7, 20.

Hierdie vriendskapsliefde dui liefde aan waarin twee mense tot 'n hegte vriendskap saamgebind word sodat hulle vir mekaar werklik boesemvriende is. Dit dui 'n besonder vertroulike verhouding tussen twee mense aan – ‘n verhouding wat gekenmerk word deur hartlikheid, teerheid, innigheid en 'n begrip vir mekaar se gevoelens en oortuigings. Hierdie vriendskapsliefde dui ook die gesindheid en geneentheid aan van twee mense, twee kamerade, wat hulle ten volle vir mekaar verantwoordelik voel.

Mens sou kon sê dat waar by die betoning van die erotiese liefde twee liggame letterlik fisies één word, daar by vriendskapsliefde twee harte figuurlik één word; dit word twee harte wat saam klop. Dit is ’n verhouding waarin twee mense oor dieselfde saak van harte saam kan lag of saam kan huil en saam kan bid.

In Afrikaans kan 'n mens dit verder aandui as 'n verhouding waarin twee mense met 'n besondere gehegtheid aan mekaar werklik goeie maats is.

Selfverloënende liefde🔗

Hierdie soort liefde is die sterkste moontlike liefde wat daar tussen twee persone kan wees. Dit is hierdie soort liefde wat daar volgens Efesiërs 5:25, 28, 33 en Kolossense 3:19 by die mans teenoor hulle vrouens moet wees en wat die vrou in die lig van Openbaring 2:4 teenoor haar man moet betoon. (Vergelyk Jer 2:2)

Die kenmerkende van hierdie soort liefde kan duidelik gesien word as dit met die erotiese liefde vergelyk word.

Die erotiese liefde is hoofsaaklik 'n liefde omdat. Dit laat 'n mens sê: "Ek het jou lief omdat jy so mooi en begeerlik is." Die implikasie daarvan is dat, behalwe as daar ook ander vorms van liefde vir die persoon in my teenwoordig is, ek die persoon nie meer sal liefhê as hy of sy nie meer vir my mooi of so mooi soos vroeër is nie. Maar selfverloënde liefde is nie 'n liefde omdat nie, maar 'n liefde ondanks. Dit bring ‘n mens daartoe om te sê: "Ek het jou lief ondanks die feit dat jy nie – of nie meer – so mooi en begeerlik is nie. Ek het jou lief ondanks jou siekte, ondanks die vlek in jou gesig of die vlek in jou lewe."

Hierdie selfverloënende liefde laat 'n mens verder nie net sê: "Ek het jou lief omdat jy so mooi is" nie, maar ook en veral: "Omdat ek jou liefhet, wil ek jou graag nog mooier maak." Dit is dus ‘n liefde met 'n duidelike taak en doel voor oë. Dit is 'n liefde wat bereid is om hard te werk en baie op te offer in belang van die geliefde.

Die ware krag en betekenis van hierdie liefde word baie duidelik geopenbaar in die verhouding tussen Christus en sy kerk.

Paulus sê: "Mans, julle moet julle eie vrouens liefhê soos Christus ook die kerk liefgehad het en sy lewe daarvoor afgelê het" (Ef 5:25). Christus het sy kerk liefgehad ondanks haar sonde, skuld en doemwaardigheid. Hy het sy kerk liefgehad ondanks die feit dat daardie liefde vir Hom die bitterste lyde, helse smarte en dood aan die kruis besorg het. So moet die man sy vrou liefhê.

En hoe het die gemeente, die kerk, nie vir Christus liefgehad nie? As alles goed gaan, sien 'n mens dit gewoonlik nie, maar in tye van vervolging wel. Hoeveel Christene het nie deur die eeue heen gesterf ter wille van hulle geloof in en hulle liefde vir Christus nie? Hulle het Christus liefgehad ondanks die feit dat hulle liefde vir Hom hulle bitter laat ly het en selfs laat sterf het (Hand 6:8-7:60; Hand 12:1-3; Hand 21:13; Openb 2:13). So moet die vrou haar man liefhê.

Dit is die liefde ondanks wat daar by man en vrou in die huwelik vir mekaar moet wees. Dit is 'n liefde wat nie net kan verdra nie, maar wat ook bereid is om daadwerklik vir mekaar te offer en op te offer as dit die ander een innerlik en uiterlik mooier kan maak. Soos Christus in sy liefde vir sy kerk die ontsettende offer gebring het om van die gelowiges mooi mense te maak deur hulle te verander van kinders van die duiwel wat bestem is vir die hel, na kinders van God wat vir die ewige lewe bestem is, so moet man en vrou in hulle liefde vir mekaar ook doen.

Hierdie liefde impliseer ook dat hulle enduit aan mekaar getrou sal bly.

Samevatting🔗

Dit is die drie vorms van liefde wat daar in die Christelike huwelik moet wees: die erotiese liefde, die vriendskapsliefde en die selfverloënende liefde.

Hierdie drievoudige liefde is enersyds 'n kostelike gawe van God wat met dankbaarheid uit sy hand ontvang moet word. Andersyds eis God dit ook van man en vrou teenoor mekaar. En dit beteken dat hulle positief elke dag hard moet werk om hierdie liefde in hulle huwelik 'n konkrete werklikheid te maak. Negatief moet alles wat dit kan benadeel doelbewus vermy en nagelaat word.