Hy vir Wie Baie Vergewe is, het Baie Lief
Hy vir Wie Baie Vergewe is, het Baie Lief
Hoe ervaar ons die onderlinge liefde? Is die liefde iets wat ons gemeenskap kenmerk? Is die liefde vir God en vir ons naaste iets wat ons onderlinge omgang kenmerk? Ervaar ons dat ons werklik met liefde bejeën word? En wat nog belangriker is: bewys ek van my kant oorvloedige liefde vir my naaste? En indien die liefde ontbreek, wat kan die oorsaak daarvan wees?
In die geskiedenis van Lukas 7:36-50 gee die Here vir ons ’n pragtige les. Hierdie les naamlik: as jy weet hoe baie God vir jou vergewe het, sal jy baie liefhê.
Simon, ’n Fariseër, nooi Christus om by hom te kom eet. Die Here aanvaar die uitnodiging. Hy stel homself beskikbaar vir alle tipe mense, watter posisie of agtergrond hulle ook al het. Tydens die maaltyd kom daar ’n vrou binne wat bekend staan vir haar sondige lewe. Dalk ’n prostituut of ’n egbreekster. Sy loop onmiddellik na Jesus toe met ’n albaste fles met salf. Dis duidelik dat sy die Here daarmee wil eer. Sy kan haar trane egter nie bedwing nie. Voordat sy dit besef val haar trane op Jesus se voete. Sy het geen doek om die trane van sy voete af te droog nie. Daarom maak sy haar hare los en droog sy daarmee die trane af. Dan soen sy Jesus se voete en salf hulle met die salf.
Kan jy jouself die situasie voorstel daar in die huis van die Fariseër? ’n Pynlike verleentheid vir Simon, so ’n sondares in sy huis. En dan nog al die trane, die los hare in deftige geselskap en die salf op Jesus se voete. Hoe kan Jesus dit van so ’n sedelose vrou aanvaar? Die Fariseër kan dit nie begryp nie. Hy begin om Jesus met ander oë te sien. As Jesus ’n profeet is – dink hy by homself – dan moet Hy tog weet dat hierdie vrou sleg is en dat haar gawes met sonde besoedel is. Geen eerbare profeet sou toelaat dat hy deur so ’n vrou met ʼn slegte reputasie onrein gemaak word nie. Want die vrou het nie alleen sy voete aangeraak nie, maar dit ook herhaaldelik gesoen.
Hoekom laat Jesus dit toe? Jesus se houding word bepaal deur die evangelie van genade en verlossing. Jesus herken by die vrou geloof en berou. Die fles met kosbare salf, die trane en die feit dat sy daarmee na Hom gaan, spreek ’n duidelike taal. Hier is ’n sondares wat berou oor haar sondes het en wat haar vertroue in Jesus Christus, die Redder van die wêreld, stel.
In sy hoogmoed en eiegeregtigheid sien die Fariseër dit nie. Vir hom is die vrou slegs ’n verlore sondares, iemand wat jy moet afwys, nie iemand waarna jy moet uitreik nie. Hy het geen tyd of agting vir haar nie.
Jesus ken Simon se gedagtes en wys hom deur middel van ’n gelykenis tereg. Daar was ’n geldskieter wat twee skuldenaars gehad het. Die een het vyfhonderd pennings geskuld en die ander een vyftig. ’n Penning was die dagloon van ’n arbeider. Die een het dus ongeveer een jaar en nege maande se loon geskuld en die ander een ongeveer twee maande se loon. Hulle het niks gehad waarmee hulle die skuld kon afbetaal nie. Dan gebeur daar iets ongeloofliks: die geldskieter skenk kwytskelding aan altwee. “Sê nou” vra Jesus aan Simon, “wie van hulle sal hom die meeste liefhê?” Simon antwoord en sê: “Ek veronderstel die een aan wie hy die meeste geskenk het.”
Jesus pas die gelykenis op die konkrete situasie toe. Hy vra Simon se aandag vir die vrou. Wat ’n ironie! Hierdie sondares, wat deur Simon verag is, word nou deur Jesus aan hom voorgehou as ’n voorbeeld waarvan hy moet leer. Sy het aan Jesus gedoen wat Simon as gasheer nagelaat het om te doen. Jesus sê vir Simon: “Ek het in jou huis gekom – water het jy nie vir my voete gegee nie; maar sy het met haar trane my voete natgemaak en dit met die hare van haar hoof afgedroog. ’n Soen het jy My nie gegee nie, maar sy het, vandat sy ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. Met olie het jy my hoof nie gesalf nie, maar sy het my voete met salf gesalf” (verse 44-45). Daardie vrou het baie liefde getoon, terwyl hy, die gasheer, min liefde getoon het. Deur haar baie liefde bewys sy dat sy weet van die vergewing van baie sondes. Vergewing van God se kant produseer liefde van ons kant. Daarom sê Jesus in vers 47: “Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief.”
Is dit nie vreemd om te sê dat haar baie sondes vergewe is, “want sy het baie liefgehad” nie? Wat bedoel die Here? Die Here bedoel in elk geval nie dat haar sondes vergewe is omdat sy eers baie liefgehad het nie. Die omgekeerde is waar. Omdat haar baie sondes eers vergewe is, daarom het sy baie liefgehad. Ons kan die woorde van die teks vergelyk met die sin: dit reën, want die vensters is nat. Daarmee sê jy nie dat die nat vensters die oorsaak van die reën is nie. Nee, daarmee konstateer jy eenvoudig dat dit reën omdat jy reëndruppels op die vensters sien. Die water op die vensters is ’n bewys daarvan dat dit reën.
Hierdie vrou se liefde vir die Here is ’n bewys daarvan dat haar sondes vergewe is. Die feit dat sy haar trane nie kon bedwing nie en dat sy nie opgehou het om Christus se voete te soen nie en dat sy sy voete gesalf het is ’n bewys van haar redding wat God bewerk het.
In teenstelling daarmee sê Christus: “Maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief.” Beteken dit dat die sondes van Simon weinig is en dat hy dan weinig liefhet omdat hy maar weinig sondes gehad het wat vergewe moes word? Dit is nie die geval nie. In God se oë is daar ook by hierdie Fariseër baie sondes.
Dit gaan daaroor dat ek eers moet besef dat ek baie sondes het en dat die baie sondes vergewe is, voordat ek baie kan liefhê. As ek dink dat ek nie soveel slegte dinge doen nie en dat God my skaars hoef te vergewe, dan sal dit sigbaar wees in my houding teenoor Jesus en ander mense. “Hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief.” Simon, die Fariseër, moet sy baie sondes eers raaksien en bely. Dan sal hy ’n nuwe mens wees. Alleen dan sal hy die volle vreugde ervaar wat die vergewing van sondes teweegbring. Slegs dan sal hy baie liefde vir God en sy naaste toon.
Dieselfde geld vir ons vandag. In die gemeente het God ons naas mekaar geplaas. Hy het ons deur sy Woord en Gees tot ’n verbondsgemeenskap gevorm. Hy het ons in Christus aan mekaar verbind. Wat sal dus ons houding en gedrag teenoor mekaar bepaal? Wel, onthou dit: my houding teenoor ander mense weerspieël gewoonlik my houding teenoor God. Hoe kan ek my naaste werklik en van harte liefhê en aanvaar? Dit kan slegs as ek weet dat Christus my baie vergewe het en my aanvaar het. Jesus het gesê: hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief.
Ervaar ek die groot genade van God in my lewe – dat Hy my ontelbare sondes vergewe het? Indien ek dit glad nie of skaars ervaar, dan sal dit ook wys in my houding na ander toe. Dan sal ek waarskynlik min barmhartigheid toon. Liefdeloosheid gaan dan maklik die verhoudings domineer. Dan sal vergewensgesindheid dikwels ontbreek en daar min geduld met ander se gebreke getoon word. As daar dan moeilikhede kom, sal die skuld vinnig by die ander gelê word. “Hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief.”
Aan die ander kant: hy vir wie baie vergewe is, het baie lief. Hoe meer ek verstaan wat vergewing is en hoe meer ek oor God se vergewing van my baie sondes verwonderd is, hoe meer sal ek in liefde vir Hom en my naaste groei. Laat ons daarom God se groot genade in ons lewe raaksien en ons daaroor verwonder. Hy het baie vergewe, nie waar nie? Laat hierdie werklikheid ons houding teenoor mekaar bepaal. Dan sal ons baie liefhê. Dan sal ons ons eenheid in Christus bly wys, in geloof wat deur die liefde werk.