Bron: Vox Viva. 3 bladsye.

Hy wat nie met my versamel nie - verstrooi

 

 

Vinkel en koljander – die een is soos die ander. Kan dit van alle kerke gesê word? Maak dit werklik nie saak van watter kerk ek lidmaat is nie? Of selfs nog anders : is elkeen wat in Jesus Christus glo, nie reeds deel van die kerk nie? Is die kerk nie iets (vir ons) onsigbaar, maar wat net Christus kan sien nie? Het Christus nie sy kinders ‘n tuiste gegee in allerhande kerke en kerkverbande nie?

Dit is natuurlik waar dat daar baie dinge van die kerk is wat ons nie kan sien nie. Ons sien nie die kerk soos Christus die kerk sien nie. Ons is hopeloos te beperk en selfs sondig in die manier hoe ons na die kerk kyk. Op nog ‘n ander manier kan ons ook nie die kerk sien soos Christus kan nie – ons kan nie in mense se harte kyk nie. Ons weet dat daar ook huigelaars in die kerk is - hulle wat wel uiterlik in die kerk is, maar wat nie werklik daaraan behoort nie.

Dit neem egter nie vir een oomblik ons verantwoordelikheid en roeping weg om sorgvuldig en met groot oplettendheid te onderskei waar Christus se kerk is nie. Ons kan nie - omdat ons nie alles van die kerk kan oorsien nie - die kerk iets onsigbaars maak nie. Die kerk is en bly ‘n vergadering van gelowiges. Dan mag ons soos Elia soms in moedeloosheid dink ons is die enigste wat nog die Here dien. Intussen sien ons nie die sewe duisend wat steeds nie die knie voor Baäl gebuig het nie. Daarom moet ons met sulke groot sorgvuldigheid en oplettendheid uit die Woord van God onderskei watter kerk ‘n gemeente van Christus is.

Is dit nie geweldig verwarrend nie – elke liewe sekte wat daar in die wêreld is, maak aanspraak op die naam “kerk”. Dit word ten onregte gedoen, maar neem nie die verwarrende effek daarvan weg nie. Die effek daarvan op baie mense word verwoord in die titel van ‘n boek wat redelik onlangs verskyn het oor wat die betekenis van die kerk vandag is in ‘n samelewing wat al hoe meer kerkloos en kerklos word : “Ja vir Jesus, nee vir die kerk”. Baie mense beoordeel dit juis positief dat daar soveel groeperings is wat elkeen aanspraak maak op kerkwees. Is dit nie ‘n uitdrukking van die veelheid van onderskeie gawes wat Christus uitdeel nie? Is dit nie soms ook hoogmoedig om van ‘n ander te sê dat hulle geen kerk van Christus is nie?

Miskien is dit baie belangrik om onmiddellik duidelik te maak dat dit nie in Artikel 29 NGB dáárom gaan om in die afwys van ander ‘n regverdiging van ‘n “eie” bestaan te kry nie. Hierdie artikel is in die eerste plek daar om ons self altyd weer in die lig van die Woord te toets. Is ons nog kerk van Christus? Ja of nee? Die geskiedenis en lewe van ‘n kerk staan nooit stil nie. Daar sit beweging in. Nader aan Christus of (hoe skrikwekkend is die gedagte!!) weg van Christus. Kerkwees is dinamies. Adam en Eva het eers twee seuns gehad. Kain en Abel. Die een leef in geloof en die ander leef met ‘n wrok in sy hart – twee seuns uit een gelowige huis. Uit Isak word selfs ‘n tweeling gebore – Jakob en Esau. Uit die een gaan die Here vêrder om sy kerk voort te sit op aarde en uit die ander kom die geslag van die Edomiete. Van die grootste teëstanders van die kerk van die Here in die hele Ou Testament.

Die twaalf stamme van Israel skeur in twee ná Salomo. Tien stamme word opstandig en maak Jerobeam hul eie koning. In die noorde in Dan rig hulle hul eie erediens in met hul eie heilige plekke en heilige voorwerpe. Weg van Jerusalem waar die Here gekies het om te woon en sy regterstoel te laat staan. Kerk word teenkerk. Selfs Jerusalem keer teen haar eie bedoeling in wanneer die Here nie meer in geloof aanbid word nie. Die Here vertrek met sy heerlikheid uit Jerusalem om te gaan wees by die ballinge in Babel. Die Here se omgang met sy kerk is lewendig en dinamies. Dit is nie vas te vang in ons eie gietvorms nie. Ons mag nooit kerk wees deur te vra of ons nog dieselfde is as 20 of dertig of vyftig jaar gelede nie. Ons mag ons nie met onsself vergelyk nie. Dit is die einde van werklik kerkwees. Ons behoort sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God (NGB Artikel 29) altyd weer te onderskei watter die ware kerk is.

Een misverstand moet dadelik uit die weg geruim word. Selfs in die ware kerk is nie alles wat blink goud nie. Die ware kerk is geen volmaakte kerk nie. Dit is bes moontlik dat daar in die kerk huigelaars is. Wanneer Christus op aarde is, verwys Hy self gereeld na die kaf wat tussen die koring voorkom. Hulle vermeng hulle met watter motief dan ook, met die gelowiges, maar eintlik behoort hulle nie aan die kerk nie. Hulle is wel die oorsaak dat daar dikwels heel sleg van die kerk gepraat word.

Wat is dan nou die kenmerkende van die kerk? Martin Luther skryf heel aangrypend hieroor : “’n Kind van 7 jaar weet Goddank wat die kerk is”. Maak Luther dit hiermee nie te eenvoudig en kinderlik nie? Luther sê dit nie omdat die onderskeid in die sestiende eeu dalk makliker gemaak kon word as in die 21’e eeu nie. Die belangrike vir Luther is dat selfs ‘n kind kan weet dat die kerk die gelowiges en skapies is wat  na die stem van die Herder luister. ‘n Kind kan die kerk uit die Skrif ken. God maak die kerk kenbaar, nie uit sy lidmate nie, maar vanuit sy Woord.

Die kenmerke waaraan selfs ‘n kind die kerk kan uitken, is die volgende : “wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf”. Artikel 29 sê nie die ware kerk is daar waar gepreek word nie. Asof die kerk ‘n preekplek is! Dit gaan oor die prediking van DIE SUIWER EVANGELIE. Oor die bevestiging van daardie suiwer evangelie deur die doop en nagmaal en deur die vashou by die suiwer evangelie deur die kerklike tug wanneer daarvan weggeloop word. Die vraag is daarom nie óf daar gepreek word nie. Die vraag is : “WAT word daar gepreek?”

Dit is opvallend dat Jesus self sy gemeente in die Bergrede die lig van die wêreld noem. Hoe kan dit dat heel swak mense ‘n lig vir die wêreld kan wees? Dit kan net gebeur omdat die gemeente self nie die lig is nie, maar dit Christus se teenwoordigheid by hulle is. Daaroor gaan dit dan ook in die bergrede. Dit is hulle wat rondom Hom by die berg vergader, wat ‘n lig is vir die wêreld. Deur die teenwoordigheid van die Woord van die evangelie by ons, word en is ons gemeente van Christus. Want die Woord is ‘n lig vir ons voet en ‘n lamp vir ons pad. Dit is die opening van die Woord wat lig gee. Daarom kan die ware kerk maklik van die valse kerk onderskei – die lig van God se evangelie-Woord kan onderskei en herken word!!

In kort stel Artikel 29 dit duidelik : “wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwer Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp, en Jesus Christus as die enigste Hoof erken”. Wanneer Christus op aarde is, stel Hy self dit teenoor die fariseërs soos volg : “Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi” (Matt. 12 : 30). Daaroor gaan dit in die ware kerk – om met Christus en rondom Hom te versamel. Christus se hele optrede was soos ‘n helder skynende lig in die duisternis. Dit kon maklik van elke vervalsing onderskei word. Jesus verrig ‘n uitsonderlike wonder – ‘n duiwelbesete wat blind en stom was, word na Hom gebring. Drie ondeurdringbare blokkasies vir enige mens vind ons in hierdie man. Hy kan Jesus nie sien nie, hy kan Jesus se woorde nie hoor nie en dan word sy hele lewe nog opgeëis deur die inwonende bose gees in hom. Wanneer Hy die blinde en stomme laat sien en praat, was dit die lig van die evangelie wat helder oor hulle skyn : “Is Hy nie die Seun van Dawid nie”. Die skare herken die werk van Jesus. God is self hier aan die werk. Dit is so duidelik soos daglig!

Vir die Fariseërs is dit ‘n onvanpaste reaksie by die skare. Oor die helder skynende lig van Christus se verlossingsmag, wil hulle ‘n skaduwee gooi. Hulle wat die herders in Israel moes wees en leraars vir die volk van die Here, ontken dat Christus die weg is na die Vader. Sy werk word deur hulle die “werk van Beëlsebul” genoem. Christus wil rondom Homself die volk Israel vergader. Hulle is tog die olyfboom waarop die wilde-olyfboomtakke van al die ander volke ingeënt moet word. Niemand het die reg om van hierdie Christus weg te bly nie en daarom mag niemand hom afskei van die kerk wat saam met Christus en by Christus versamel is nie.

Die lidmate van die kerk van Christus is ook kenbaar. Teenoor die huigelaars, is dit opvallend dat hulle ‘n opregte geloof het in Jesus Christus as die enigste Verlosser, hulle vlug vir hul eie sonde, hulle jaag die geregtigheid na, hulle het God en hulle naaste lief, hulle wyk nie af van wat Christus ons geleer het nie en hulle kruisig hul sondige natuur met die bose werke daarvan. Lidmate van die kerk het die kenmerke van die Christene!! Hulle word nie geken aan hulle lidmaatskap van die kerk nie, maar aan hulle geloof en hulle lewenswandel.

Laat ons maar dink aan die bekende saligsprekinge van Mattheus 5 : salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word ; salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word. Rondom Homself maak Christus sy kerk bymekaar. Hy kom na Israel, die verbondsvolk van die Here. Hy bring die evangelie vir hulle. Hy wil vir hulle herstel gee van die sonde en die duisternis : “die volk wat in duisternis sit, het ‘n groot lig gesien (Matt. 4:16). Daar mag in hulle nog groot swakhede en tekortkominge wees. Hulle roep uit : Ek glo Here, kom my ongeloof te hulp”. Hulle neem altyd weer hulle toevlug tot die bloed van Christus en sy lyding en sy gehoorsaamheid.

Die valse kerk sien ons heel duidelik in werking by die Fariseërs. Hulle wil nie saam met Christus versamel nie, maar staan sy werk aktief teen. Hulle werk staan bekend as die sonde teen die Gees!! Die sonde teen die Gees is nie ‘n geval van moontlike vergifnis vir al ons sondes, behalwe vir een groot uitsondering nie. Dit gaan oor die weerstand teen Christus wat deur die Gees besig is om by en rondom Hom sy kerk te versamel. Die werk wat Christus deur die Gees doen word verwerp en teëgestaan. Die Fariseërs dryf mense weg van Christus i.p.v. om hulle na Christus te verwys. Net soos Johannes die Doper moes hulle sê : “daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.”

Die ware kerk kan maklik van die valse kerk onderskei word. Of is dit nie meer vir ons duidelik wanneer iemand by Christus versamel word, al dan nie? Die verstrooiing teen Christus is ewe duidelik as die valse kerk. Het ‘n kerk nog die (geloofs)moed om na Christus te wys as die enigste weg van verlossing na die Vader? Verwar kerke die skape wat die weg moet vind na Christus? Onvergeeflik is dit om die weg na Christus vir ander te verduister.