Bron: Die Kerkblad, 1986. 1 bladsye.

Iets oor Meelewing

hande wat troos

In die Nagmaalsformulier staan onder andere die volgende: “Ter wille van ons geliefde Saligmaker wat ons eerste so uitnemend liefgehad het, moet ons ook liefde nie alleen met woorde nie, maar ook met die daad teen­oor mekaar bewys”. Die oproep om dus as lidmate van ’n gemeente met mekaar mee te leef, is geen oppervlakkige en vrywillige saak nie. Dit is iets wat direk uit ons verhouding met Christus voortvloei. As jy in Christus glo en lewe; as jy besef wat Christus vir jou gedoen het en as jy sy uitnemende liefde begryp – dan kan jy as gelowige nie net jou eie pad loop nie, maar dan wil jy jou liefde aan jou medegelowiges konkreet met meelewing bewys.

Onderlinge meelewing anker dus in jou geloofsverhouding met Christus. Hy is die Hoof van die liggaam wat die lidmate saambind. Meelewing is die vrug en resultaat van jou verhouding met Christus deur die Gees. Een implikasie hiervan is dat wanneer jy jou geloof in Christus ondersoek, dan kan jy onder andere vra na jou bereidwilligheid tot daadwerklike meelewing met jou wyk en jou gemeente. Indien daardie bereidwilligheid daar is en dit juis in die daad blyk, dan kan jy vanuit die vrug van die meelewing seker wees van die opregtheid van jou geloof in Christus.

Meelewing is nie net ’n geselsie hier en daar nie. Dit is om jouself te gee. Dit is om te deel. Die heerlike is dat Christus sy skatte en gawes nie vir Homself gehou het nie, maar dit met ons deel. Daarom moet ons ook as lede van een liggaam ons gawes (geestelik en stoflik) met ander deel.

Elke Sondag bely ons ons Christelike geloof dat ons glo in die gemeenskap van die heiliges. Is ons opreg en eerlik as ons dit uitspreek voor God? Dit is sonde om dit te bely en dit tog nie in konkreetheid na te jaag nie. As ons dit bely en dit ook nie doelbewus soek nie, dan is dit ’n valse belydenis wat die Here terg.

Ons lewe in ’n tyd waar eensaamheid en onbetrokkenheid toeneem. So baie leef maar net in sy eie blokkie wêreld en soek net sy eie voordeel. In so ’n wêreld moet elke gemeente ’n lewende getuienis laat uitstraal, van liefde, onderlinge meelewing en ondersteuning. So ’n getuienis kan ander, in die koue van ongeloof, oortuig en nader trek.