Bron: Kompas, 2005. 4 bladsye.

Immanuel en die Maagdelike Geboorte Die Probleem in Jesaja

ster in nag

In die dae wat aan Kersfees voorafgaan, trek die Immanuelprofesie altyd weer baie aandag. Die rede hiervoor kan in die Evangelie van Matteus gevind word, waar Jesus en Immanuel baie nou aanmekaar gekoppel is. In sy weergawe van die geboorte van Christus plaas Matteus die profesie van Jesaja aangaande Immanuel sentraal. Hy begin deur te sê dat Maria swanger bevind is uit die Heilige Gees (1:18) en hy eindig die gedeelte deur te noem dat sy geboorte gegee het aan ʼn Seun wat sy Jesus noem (1:25). Tussenin wys hy uit dat dit die vervulling was van ʼn ou profesie van Jesaja, naamlik dat die maagd geboorte sal skenk aan ʼn seun. As die posisie van die profesie van Jesaja in Matteus in aanmerking geneem word, is dit nie vreemd dat dit tradisioneel beskou is as ʼn direkte profesie betreffende die maagdelike geboorte nie. Toe Handel in sy groot oratorium “The Messiah” hierdie profesie ingesluit het saam met die ander Ou Testamentiese aankondigings van die Redder se geboorte, was dit in ooreenstemming met die algemene opinie van sy tyd.

Desnieteenstaande die populariteit van hierdie standpunt is dit egter nie sonder probleme nie, soos Calvyn se eksegese aantoon. In teenstelling met Joodse kommentators, verdedig Calvyn die standpunt dat die Immanuelprofesie direk na Jesus Christus verwys. Volgens hom het sommige rabbynse verklaarders die profesie op Koning Hiskia toegepas. Calvyn skryf dit toe aan hul begeerte om onwaarhede te vertel, want Hiskia was ongeveer 15 jaar oud toe hierdie profesie gegee is. Ander Joodse Skrifverklaarders het dit beskou as ’n profesie aangaande die geboorte van ʼn onbekende seun van Koning Agas. Calvyn stel direk die vraag: “Met watter reg kan iemand wie se lewe geëindig het sonder enige amp of glorie, Immanuel genoem word? Aan Hom is die hele aarde onderwerp”. Calvyn noem nog ʼn derde moontlikheid, naamlik dat hierdie profesie verwys na ʼn seun van die profeet Jesaja self, maar hy verwerp dit sonder om die stelling eers te weerlê.

Vir Calvyn is dit duidelik dat Jesaja se profesie van Christus spreek. Toe Israel se koning geweier het om vir ʼn teken te vra dat Jerusalem veilig sal wees, het God self ʼn teken gegee. Die beloofde Saligmaker sal kom. In Hom sal God sy heerlikheid onder die mense bekend maak. Dit is duidelik dat die Joodse teenstanders met wie Calvyn argumenteer, oor hierdie verklaring sal verskil. Calvyn noem wel hulle teenargument, naamlik dat dit in hierdie situasie dwaas is om ʼn teken te gee wat eers agt eeue later sou verskyn. Volgens hulle kan ʼn gebeurtenis wat so lank na die dood van Koning Agas geskied, nie as teken dien vir Agas en sy tydgenote nie.

Calvyn probeer die probleem oplos deur te verklaar dat Jesaja van twee kinders spreek. Die profeet behandel eers die volledige redding wanneer hy van die kind praat wat regtens God genoem word. Daarna behandel hy ʼn spesifieke redding wat in die nabye toekoms sou plaasvind. Daar praat hy van ʼn nuutgebore kind, of een wat binnekort gebore sou word. Om spesifiek te wees: Calvyn sien vers 14 van Jesaja 7 as ʼn profesie van Jesus Christus en die volgende twee verse as ʼn profesie van ʼn kind wat in daardie dae gebore sou word.

Calvyn is in ʼn baie moeilike situasie. Aan die een kant kan hy nie saamstem met die Joodse verklaarders nie, want dan sou hy Jesus as Messias moet verwerp. Aan die ander kant moet hy toegee dat Jesaja ʼn teken moes gee wat die mense van sy tyd kon aanskou. Sy oplossing is om Jesaja se profesie in twee duidelike dele op te deel, alhoewel dit voorkom asof Jesaja se woorde ʼn eenheid vorm. Calvyn is ʼn goeie voorbeeld van die probleem om Jesaja se profesie en Matteus se toepassing te verbind.

Jesaja se Profesie (Jesaja 7:14)🔗

Ons moet Jesaja se profesie oor die Immanuel van nader bekyk. Dit is gespreek in ʼn tyd toe oorlog die koninkryk van Juda bedreig het. Twee konings, die koning van Israel en die koning van Sirië, het hulle magte saamgetrek om Juda aan te val. Ons sal nie die ingewikkelde politiese situasie van die tyd bespreek nie,1 maar dit is duidelik dat dit kritiek is vir Jerusalem, die twee stamme en die koninklike huis van Dawid.

twee krone

Op hierdie tydstip word Jesaja gestuur om aan koning Agas van Juda te sê dat hy nie bang hoef te wees nie, want die brandende woede van hierdie twee konings is niks meer nie as die laaste gloed van brandende hout voordat dit disintegreer (Jesaja 7:4). Jesaja word selfs toegelaat om aan Juda se koning ʼn teken te gee. In die regte konteks gesien is hierdie teken duidelik bedoel om Agas se vertroue in God se woord te versterk. Daarby was dit iets wat God al voorheen gedoen het. ʼn Parallel kan gevind word in die geskiedenis van koning Hiskia wat baie siek was en ʼn profesie ontvang het dat hy volledig sal herstel. Hy kon tussen twee tekens kies: die skaduwee sou óf tien grade vooruitgaan óf tien grade agteruit. Hiskia het hierdie bemoedigende teken aanvaar en die moeiliker teken gekies, naamlik dat die skaduwee tien grade agteruit moet gaan (2 Konings 20:8-11).2 In vergelyking met Hiskia, het Agas meer ruimte vir keuse ontvang. Hy is vry om enige teken te kies – óf in die diepste diepte óf in die hoogste hoogtes. God wou Agas se moraal versterk, sodat hy die druk kon weerstaan, en nie op magte en verdrae sou vertrou nie, maar op God sy vertroue sou bly stel.

Dit is opvallend dat Agas weier om deur die teken versterk te word, onder die voorwendsel dat hy dit nie kan waag om God te toets nie. Die werklike rede was dat hy alreeds beplan het om teen God se wil te gaan en ʼn verdrag met die magtige Assiriërs te sluit. Hy wou nie ʼn teken sien nie. In hierdie situasie het God hom tog ʼn teken gegee, selfs al wou hy dit nie hê nie: “Die maagd sal swanger word en ʼn seun baar…” In die volgorde van gebeure kan die teken slegs iets wees wat Agas self sou ervaar. As ʼn bevestiging van God se profesie van veiligheid vir Jerusalem moet dit verwys na ʼn gebeurtenis wat plaasgevind het in die dae van Agas en Jesaja.3 Calvyn se eksegese kan nie gehandhaaf word in die lig van wat Jesaja opgeteken het nie. Die Immanuelteken moes verwys het na ʼn gebeurtenis wat deur die koning self waargeneem is.

Dit beteken dat Jesaja nie direk praat van Christus se geboorte uit die maagd nie. Dit word bevestig deur verskeie ander elemente in die teks. In die eerste plek is die woord wat Jesaja gebruik, nie die normale woord vir maagd nie, maar vir ʼn jong meisie van hubare ouderdom. Verder moet die naam van die kind Immanuel wees, en die seun van Maria is nooit Immanuel genoem nie – hy moes Jesus genoem word (Matteus 1:21). Daarby sal die kind wat in Jesaja genoem word, dikmelk en heuning eet, iets wat hoegenaamd geen verband met Jesus het nie. Wat die saak egter beklink, is die feit dat die land van die twee strydende konings vernietig sal word as die kind nog baie jonk is. Dit het binne drie jaar gebeur (sien 2 Konings 16). Jesaja se profesie het werklikheid geword eeue voor die geboorte van Jesus Christus.4

Die Vervulling in Matteus🔗

Dit bring ons terug by Matteus se gebruik van die Immanuelprofesie. As Jesaja 7 nie ʼn profesie van die maagdelike geboorte bevat nie, waarom sê Matteus dat Jesaja 7 vervul is in die geboorte van Jesus Christus?5 Wat bedoel Matteus met “vervul”? In werklikheid gebruik hy die woord verskeie kere as ʼn profesie vervul is. Dit sal help om na sommige Skrifgedeeltes te kyk om te sien in watter opsig iets vervul is. Die uitslag mag verskil met ʼn mens se verwagtings.

Volgens Matteus 2:15 het Josef vir Jesus en Maria vir veiligheid na Egipte geneem. Dit was ʼn vervulling van die profesie van Hosea 11:1 – “Uit Egipte het Ek my seun geroep”. Selfs ʼn vinnige blik op hierdie hoofstuk is genoeg om aan te toon dat die uitdrukking “my seun” in hierdie teks verwys na die mense van Israel en nie na die kind Jesus nie: “Toe Israel ʼn kind was, het Ek hom liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep.” Verder verwys Hosea na iets wat voor sy tyd gebeur het, maar Matteus praat van iets wat baie later gebeur het. Die begrip “vervulling” beteken hier nie dat iets deur Hosea voorspel is en in die tyd wat Matteus beskryf, gerealiseer het nie.

Iets soortgelyks kan gesien word in die ander voorbeeld van profesievervulling in Matteus 2. Hier word die slagting van jong seuntjies van Betlehem gesien as die vervulling van die profesie van Jeremia: “’n Stem is in Rama gehoor…” (vs. 18). Jeremia het gepraat van ʼn gebeurtenis in sy tyd, gedurende die gevangeneming van Israel. Dit kan duidelik gesien word in die verwysing van die Here na die terugkeer van Israel uit ballingskap (Jeremia 31:16). In hierdie gevalle moet die woord “vervulling” aandui dat iets wat in die Ou Testament gebeur het, op ʼn voller en groter wyse in die Nuwe Testament voorkom. 6 Ons kan probeer om dieselfde benadering op die Immanuelprofesie toe te pas.

krib

Nog ʼn oorweging is dat ons noukeurig aandag moet gee aan waar in Matteus 1 die Immanuelprofesie gebruik is. Dit is nie verbind aan die ontvangenis van Jesus nie, want dit word al voor dit (vs. 18) genoem. Ook is dit nie verbind aan die geboorte van Jesus nie, want dit word eers later vermeld (vs. 25a). Dit is eerder verbind aan die opdrag van die engel aan Josef om die kind van Maria Jesus te noem. Die engel benadruk dit dat die kind gekom het vir die vergewing van sondes. Die gemeenskaplike faktor wat Jesaja 7 en Matteus 1 verbind, is verlossing. Tog, as Matteus van vervulling spreek, bedoel hy dat die verlossing wat hier genoem word, voller is as die een wat deur Jesaja genoem word. In die geval van Jesus Christus is die verlossing volledig.

In die dae van Agas was Juda in ʼn moeilike situasie. Hy is deur twee nasies aangeval wat albei groter was as hyself. Dit is geen wonder dat die koning na ʼn bondgenoot gesoek het nie. Jesaja bring egter die boodskap dat die koning nie bang hoef te wees nie, want God sal sy volk red. God belowe om sy uitverkore volk te bewaar teen oorweldigende opposisie. Die teken dat dit sou gebeur, was die kind wie se naam alles sê: Immanuel, God met ons.                                         

Die verlossing waarvan Matteus spreek, is egter groter. Dit is nie ʼn verlossing van vyande wat God se volk bedreig met onderdrukking en dood nie, maar die verlossing van sondes wat die uitverkorenes bedreig met vervreemding van God en die ewige dood.

Gedurende Agas se tyd het Israel se situasie so benard gelyk dat die koning gewerk het aan ʼn verbond met die wêreldmag, Assirië. Die situasie van God se uitverkorenes is nog meer desperaat. Weens hulle sonde staan hulle veroordeeld voor ʼn God wat ʼn verterende vuur is. Maar God bring sy eie Seun in die wêreld d.m.v. die maagdelike geboorte en red sy uitverkorenes so van hul sondes. Jesus moet nie geïdentifiseer word met Immanuel nie; Hy is eerder die vervulling van die Ou Testamentiese Immanuel. Deur sy eie Seun in die wêreld te bring deur die maagdelike geboorte, wys God tot in die uiterste dat Hy met ons is.

Jesus Christus is die lewende bewys dat God werklik “met ons” is. God se uitverkorenes word nie alleen gelaat in die stryd teen die sonde nie. In Maria se seun het God die Messias gestuur wat die Verlosser is in die volste betekenis van die woord.

Endnotes🔗

  1. ^ Sien verklarings 
  2. ^ Ander, vroeëre tekens is die wat aan Gideon gegee is (Rigters 6:36 e.v.) en aan Saul (1 Samuel 10:1 e.v.) 
  3. ^ Ook die twee artikels wat in voetnoot (2) genoem word.
  4. ^ Van Bruggen, J. Het die tradisionele eksegese soos gevind word in Calvyn, nl. dat Jesaja direk van Jesus Christus praat, weer laat herleef. Sien sy Matthéüs: Het evangelie voor Israel (Kampen: Kok, 1990), 42-44. Ons moet kortliks kyk na die drie hoofargumente wat sy interpretasie ondersteun. In die eerste plek noem hy dat Jesaja die woord gebruik vir “jong vrou” en nie vir “maagd” nie. Hy weerspreek die argument dan deur aan te toon dat daar geen melding gemaak word van ʼn vader nie en dat die Griekse vertaling wat deur Matthéüs gebruik word, van “maagd” praat. Dit is nie ʼn sterk argument nie. Want die weglating van die vader se naam kan in die konteks anders verklaar word. Jesaja benadruk dat hierdie jong vrou haar seun “Immanuel” sal noem. Verder beteken die woord nie noodwendig “maagd” nie, soos ook in die Griekse woordeboeke gesien kan word. Van Bruggen se tweede argument is dat Jesaja 7-12 ʼn eenheid is, en die profesie van Immanuel moet verstaan word in verband met die Messiaanse profesieë van 9:5, 6 en 11:1-10. Hierdie argument van die onmiddellike konteks, wat praat van ʼn gebeurtenis gedurende Koning Agas se leeftyd. Van Bruggen se derde argument het betrekking op die naam “Immanuel”. Om die argument te weerlê dat Maria se seun nie “Immanuel” nie, maar “Jesus” genoem is, verwys hy na Matthéüs 2:23 waar die meervoud gebruik word: “Hulle sal hom Immanuel noem”. Dit ondersteun egter nie sy argument nie, want nêrens in die Bybel word Jesus Christus “Immanuel” genoem nie.
  5. ^ Zahn het geargumenteer dat dit nie die evangelis nie, maar eerder die engel is wat na Jesaja se profesie verwys het (sien Das Evangelium des Mattaus, 4 ed; Leipzig: A. Deichertsche Verlagsbuchhandlung, 1922), 80. Hy word gevolg deur Van Bruggen, Matteus, 42. Dit is onwaarskynlik in die lig van die gebruik van soortgelyke formules in Mattheus 21:4 en 26:56, verwys na E. Lohmeyer, W. Schmauch, Das Evangelium de Mattaus ( Gotingen: vandenhoek & Ruprecht, 1967), 16. 
  6. ^ Verwys vir die verskillende standpunte vir die verstaan van die vervullingstekste in Matthéüs na R.H. Gundry, The Use of the Old Testament in St Matthew’s Gospel (Leiden: Brill, 1967). Gundry het hierop uitgebrei in sy kommentaar op Matthéüs. Let veral op die stimulerende debatte op hierdie tekste deur J.W. Smitt, Opdat Vervuld Zou Worden i, ii (Groningen: Vuurbaak, 1975f.): sien vir Matteus 1:18, 44 e.v.