Bron: Kerk en Woord. 1 bladsye.

Isolement en Katolisiteit

Dit is ’n bekende gesegde: In ons isolement lê ons krag. Met hierdie isolement word nie afsondering bedoel nie. Inteen­deel, dit gaan om selfstandigheid, om be­ginselvastheid. Wie dit anders beskou ver­val maklik in ’n gees van afsondering of selfs sektarisme. Die selfstandigheid wat ons bedoel, wil alle ruimte laat vir die katolisiteit (universaliteit) van kerk en Christendom. Hulle hoort bymekaar: die algemeenheid van die gemeente van Christus in die wêreld en die vastheid van beginsel, die selfstandigheid, wat immers nie gewortel is in selfgenoegsaamheid nie.

In laasgenoemde skuil dikwels ’n wortel van skynheilige hoogmoed, in ’n gemeente die grootste kwaad. Wie isolement soek omdat hy homself beter waan as ander, het daarin ’n oordeel oor homself gevel. Hy staan voor ’n val.

Wie isolement soek vanweë die beginsel en die vastheid wat die lewe daarin gevind het, weet ook van die ootmoed wat bely dat dit genade is en niks anders nie. En wie oor genade praat en daaruit leef, weet dat hierdie genade nie net aan homself nie, maar ook aan ander geskenk word. Die katolisiteit van die Christendom be­waar ons teen die eng gesindheid wat die lewe begrens tot die eie groep en selfs tot die eie kerk. Dit laat ons die hand reik aan almal wat met ons ’n ewe dierbare geloof ontvang het.

Konsentrasie en ’n breë blik🔗

Wat die kerke van vandag nodig het, stellig ons s’n nie die minste nie, is die soeke van die beginsel wat probeer om die vaste grond te hou, wat bou op die enigste Rots. Wat verdieping van die lewe tot op die bodem vereis. Dit vra van ons ’n voortdurende ondersoek na ons eie motiewe.

Daarby kom dit daarop aan, dat ons die Skrif en die belydenis as absolute voor­waarde vir die wedersydse erkenning binne die kerke aanvaar. Konsentrasie op die kern van hierdie belydenis sal ons leer, in hoe ’n mate ons broeders en susters om ons heen vind, wat dieselfde pad loop, dieselfde geloof bely, dieselfde Christus liefhet.

Hoe genesend sou dit kon werk. Waar die lewende geloof ontbreek, kan mens verstrengel raak in ’n sug na vernuwing, aan alles wat anders is as vroeër. ’n Mens kan net so maklik krampagtig vashou aan alles van vorige generasies. In beide gevalle is daar ’n groot gevaar.

Die konsentrasie op die Skrif en belyde­nis gee daarenteen ’n breedheid van blik, wat in die ruimte en in die tyd werk. Dit beteken dat hulle geld in die kategorieë, waarin ons geskape is. Ons vergeet nie dat ons geskape is nie. Dit beteken oot­moed.

Maar ons vul tegelykertyd hierdie grense tot die uiterste: ons beleef die universali­teit in die diepte van die geskiedenis en terselfdertyd in die breedte van almal wat waarlik Christen heet. Daar in net een fak­tor wat belemmerend werk: die kerklike verdeeldheid van almal wat hierdie isole­ment bely en hierdie universaliteit beaam.