Bron: De Wekker. 2 bladsye.

Jakobus 1:1-12 - Beproewing

Jakobus was ʼn halfbroer van die Here Jesus. Hy en sy broers en susters het vir lank nie geglo dat Jesus die Messias is nie. Die Here het hom na die opstanding opgesoek.Jakobus het tot bekering gekom en daarna beklee hy ʼn belangrike plek in die kerk van Jerusalem.

Dit moes ʼn ervaring gewees het om in dieselfde gesin as die Here Jesus groot te word! ʼn Broer wat niks verkeerds doen nie, wat altyd regstaan as dit nodig is, wat vanselfsprekend liefde bewys, wat ʼn toonbeeld is van ʼn godvrugtige lewe. Jakobus noem nie dat hy in dieselfde gesin as die Here Jesus grootgeword het nie. Hy spog ook nie oor sy plek in die kerk nie. In sy brief sê hy nederig:” ʼn dienskneg van God en die Here Jesus Christus.” Dit sê baie, want ʼn dienskneg van die allerhoogste Koning het tog ʼn heel ander status as byvoorbeeld die slaaf van ʼn handelaar. Maar hierdie dienskneg sê: Hy is my Meester. Jakobus word saam met die Here Jesus groot en hy sê: Hy is my Meester. Hy wil geheel en al aan Hom gehoorsaam wees en dit wil hy ook aan ander oordra.

Beproewings🔗

Jakobus skryf vir die gelowiges in die verstrooiing. Hulle kry swaar. Die mense het die Here Jesus vervolg, en hulle doen dit nou ook met sy volgelinge. Die Christene ervaar dat verdrukking deel is van hul Christenskap, dat regerings en owerhede teen hulle is omdat hulle Christene is.

Na die steniging van Stefanus het baie Christene van Jerusalem af weggegaan. In hulle nuwe woonplekke word hulle maar weer verdruk. Dan word dit belangrik hoé jy as `n gelowige lewe. Dit is dan ook vanwee die praktiese uitvoering hiervan dat Jakobus skryf. Om Christen te wees, is om `n navolger van Christus te wees. Die vrugte van die geloof moet gesien kan word.

Die eerste saak wat Jakobus behandel, is die swaarkry van die Christene.

Ons wil liefs nie swaarkry nie. Dit is in ons geaardheid om te kla. ʼn Opdrag wat swaarkry van ons vra, is in teenstelling met ons natuur. “Ag dit louter vreugde, my broeders . . . “ (Jakobus 1:2) is ‘ʼn aansporing wat gehoorsaamheid vereis. Dit is nie so maklik nie!

Tog het Jakobus gelyk. In die beproewinge sien hy die hand van God. Die duiwel kom met allerhande beproewings van verdrukking tot verleiding, van armoede tot siekte. God het egter alles onder beheer. Wat die mens as baie ongewens beskou, kan God gebruik om iets baie goed mee te bereik. Dit is nie net Jakobus wat hierop wys nie. Ons lees dit ook in Romeine 5:3-5 en 1 Petrus 1:6-7,14. God maak ons vir sy diens bekwaam. Deur die beproewing heen kan die geloof ontwikkel na volmaaktheid en volwassenheid. Ons kan ons nie voorstel wat dit is om volmaak te wees nie. Ons weet hoe baie ons oortree en ken ons eie beperking. Tog sal elke kind van God eenmaal volmaak voor hom staan. Dit is die regte rigting waarin ons moet ontwikkel en op die pad beproef die Here ons.

Onverdeelde Oorgawe🔗

Die manier waarop Jakobus skryf, kan ons verwar. Hy raak die een na die ander onderwerp aan sonder dat ons ʼn lyn daarin sien, maar die verband is wél daar. Hoe ons moet lewe as gelowige volgelinge van Christus vorm een groot lyn in die brief met `n boodskap wat alles omvat. ʼn Samehang wat moeiliker is om raak te sien, word deur sleutelwoorde gevorm: die woorde “gebrek” en “kortkom” in verse 4 en 5 hou verband met mekaar. Ons sal nog volmaak wees, nie gebrekkig nie, maar ons kom nog die wysheid kort. Wysheid beteken vaardigheid, kennis en insig, wat vir ʼn bepaalde doel nodig is. Ons doel is om ware volgelinge van die Here Jesus te wees, ook in verdrukking. Dit kom nie vanself nie, ons het besondere wysheid nodig, en dit moet ons van God vra. Ons kan volkome op God vertrou. Hy bestuur alles en het Sy kinders volmaak lief. God verhoor ons gebed, ons twyfel nie daaraan nie want in Hom is daar geen dubbelsinnigheid nie. Ons weet wie God is en hoe Hy sy kinders aansien. Hy gee mildelik en sonder verwyt. Die twyfel lê by ons eiesinnigheid.

Die twyfelaar is soos iemand wat deur die golwe van die see geslinger en dan hierheen en dan daarheen deur die water gedryf word. `n Innerlike dubbelsinnigheid staan lynreg teenoor ‘n ondubbelsinnige verlange om ʼn ware volgeling van die Here Jesus te wees en te bly. Dit is die regte pad om te gaan en dit vra onverdeelde oorgawe aan God en vertroue op sy steun.

Die woordjie “weë” in vers 8, die onbestendige weë van die dubbelhartige man, word gekoppel aan die verwelklike “weë” van die ryke in vers 11. Vanuit hierdie oogpunt begin Jakobus nou om die armes en die rykes toe te spreek..

Om te Lewe Vanuit die Einddoel🔗

Onverdeelde oorgawe vra ʼn lewensuitkyk wat anders is as dié waaraan ons gewoond is. Van nature dink ons eerder vanuit ons eie omstandighede as aan ʼn lewe met die Here. Armes voel hulleself onseker. Rykes voel ʼn gewaande veiligheid in hulle rykdom. Ons sig daarop moet verander — soos die Here Jesus dit leer. Armes word, deur die geloof, erfgename saam met Christus. Hulle is nou al burgers van die Koninkryk van Christus. Geen aardse rykdom kan dáárby kom nie. Rykes het geen rede om op die armes neer te sien nie. Hulle moet ook hulle bestaan beoordeel vanuit die einddoel: om by Christus in sy heerlikheid te wees. Wie dit nie doen nie sal sy fout agterkom. Aardse skatte en ryk mense is net so verganklik soos die blomme in die veld. God kan omstandighede skielik verander. Die rykes se pad is inderwaarheid maar onseker.

Wanneer beproewinge kom, moet ons hulle dus nie sonder meer negeer nie. ʼn Mens kom tot die ewige lewe deur stryd gelouter, dus wie in beproewing volhard doen vaardigheid op vir die doel. Dit is God wat dit beloof het, daarom weet ons nou al dat Hy sy belofte ook sal vervul.