Bron: De Wekker. 2 bladsye.

Jakobus 1:12-27 God se Woord en ons woord

Die brief van Jakobus is ʼn versameling van uitdrukkings wat ʼn geheelbeeld vorm, maar dan op ʼn ander manier as waaraan ons gewoond is. Die groot lyn wat deur hierdie brief loop, is die aanwysing vir hoe ons as ware gelowiges moet lewe.

Die onderwerpe wat behandel word, is deur sleutelwoorde onderling verbind. Die verse waarmee ons nou besig is, word verbind deur die betekenis van die woordjie “woord”. In teenstelling met ons woorde, het God se Woord groot krag en is gewaarborg. Die vraag is hoe ons met God se Woord en ons woorde omgaan. God se Woord is waarheid; maar met ons woorde slaan ons al te maklik die bal mis.

Nogmaals versoekings🔗

Jakobus kom hier terug op die onderwerp van versoekings terug. In sy inleiding het hy ons vertel hoe ons die versoeking moet hanteer. Dan gaan hy verder en leer ons dat ons nie vir God moet sien as die oorsaak van ons versoekings nie. God skenk aan almal wat in Christus glo, alles wat goed is, en bring ons daar deur middel van sy evangelie, die Woord van waarheid. Versoekings kan nie van Hom af kom nie. Wie standvastig deur die versoekings kom, is salig; want hieruit blyk hulle liefde vir God. Hulle word met die ewige lewe bekroon. Dit het God belowe en Hy doen wat Hy sê.

Versoekings kan onskuldig voorkom, maar ons word verlei en in versoeking gebring - deur ons ele begeertes. God haat die kwaad. Hy doen dit nie en lei ons ook nie na die kwaad toe nie; ons eie begeerte doen dit. Dié bly in ons en is daarop uit om ons te verstrik. Ons begeerte is ʼn bedorwe verlange. As jy met haar omgaan, maak jy haar swanger met die sonde, want sonde is die dogter van die begeerte . Jy doen dit self, hierdie bevrugting van die begeerte. Wanneer die sonde volwasse is, bring dit die dood voort. Ons moet almal sterwe, want ons elkeen het die sonde in ons lewe volwasse laat word.

Ook wat dit betref, moet ons egter nie verkeerde gedagtes kry nie. God is goed. Hy is die goeie Skepper, alles wat goed is kom van Hom af. Die son, die maan, die sterre, die hemelse ligte, is deur God geskape. Hulle het nooit gesondig nie. Hulle loop getrou langs die bane wat God vir hulle voorgeskryf het. Maar omdat hulle geskape is, kan hulle nietemin vir ons veranderlik lyk. Ons sien die gestalte van die maan verander, ons sien die son opkom en ondergaan. Sulke veranderlikhede sien ons nie by God nie. As die Skepper staan Hy bo alles. Omdat Hy goed is, gee Hy ook altyd net goeie gawes. Hy kom nie onverwags met ʼn slegte gawe nie.

Deur sy ware Woord het Hy ons die baie goeie gawe van geloof geskenk, en ons só sy kinders gemaak. Volgens die Woord van God moet ons voortaan lewe as offergawes wat aan Hom gewy is. Dit is ons plek tussen al die skepsele. Om aan versoekings toe te gee, is direk in stryd hiermee. Ons moet dus nie dink dat God ons versoek nie —Hy wil juis hê dat ons ons liefde vir Hom moet wys.

Ons woorde🔗

Ons het nou die Woord van God om uit te lewe en daarom moet ons nou heel anders met woorde omgaan. Ons spreek gans te gou ʼn oordeel oor ander uit. Daardeur loop baie dinge skeef. Mense reageer heftig, word kwaad. Dit behoort anders te wees. Ons moet ons immers bekeer van ʼn verkeerde lewenswandel. Nie vinnig oordeel nie, maar geduldig na ons naaste luister. Heftige en woedende reaksies breek bande en maak liefdevolle omgang onmoontlik. Dit is in stryd met God se bedoeling met ons. Uit die Woord van God leer ons (onder andere tydens eredienste en katkisasie) om anders te lewe. Deur middel hiervan wil die Here dat ons, as voorbereiding vir die ewige lewe, sagmoedig en liefdevol met mekaar omgaan. Dit wil God met die gawe van Sy Woord bereik.

Ons moet nie net daarna luister nie, maar dit ook in die praktyk toepas. Ons bedrieg onsself as ons dink dat dit vir `n egte geloofslewe genoeg is om net te “hoor”. Jakobus gebruik ʼn alledaagse beeld om dit te verduidelik. In sy tyd was spieëls ver van goed, maar mens kon tog ʼn redelike beeld van jouself kry. As jy egter van die spieël af weggaan, verdwyn die beeld en dit vervaag ook in jou geheue. Só moet dit nie met die Woord van God wees nie. Dit moet soos ʼn spieël wees waarin jy voortdurend kyk sodat niks kan vervaag nie. Wat God sê, moet ons voortdurend voor oë bly.

Die Woord word hier die volmaakte wet van die vryheid genoem. Die vryheid wat bedoel word, is die vryheid om die wil van God volkome te doen. Dít is die wil van God, soos die Here Jesus ons geleer het en self vervul het. Stel jou voor dat elke mens die wil van God volkome doen — dit sou ’n paradys toestand wees. Eers dan sal ons werklik vry wees. Dit is die sonde wat in die pad staan en ons verhinder. Eendag sal die kinders van God, heeltemal van die sonde vry, by Hom wees. As volgelinge van Christus, wat Hy met sy bloed gekoop het, wil ons dus steeds sy Woord voor oë hou.

Ware godsdiens🔗

Ons moenie die fout maak om net hieroor te praat nie, want dit help niks nie. Ons kies ons woorde versigtig, in besprekings oor die leer of in ons opinies oor ander sake, en dit is goed; maar geloof wat net woorde produseer, en dan dalk nog onbewaakte woorde daarby, is vrugteloos. Die ware godsdiens vereis liefde vir die naaste soos die Woord van God leer, byvoorbeeld deur die beskerming en versorging van weduwees en wese. Christene moet hulleself ook op só ’n afstand van die wêreld hou dat hulle nie verkeerde praktyke daaruit oorneem nie.