Bron: De Wekker. 2 bladsye.

Jakobus 3:13-18 - Wysheid van Bo

Lees Jakobus 3:13-18

Oor wysheid word op verskillende maniere gepraat. ʼn Bekende manier is dié van die wetenskap waarin navorsing gedoen word oor wat om ons bestaan en gebeur en die regte verklaring daarvoor probeer vind. Liefde vir die wysheid — of filosofie, soos dit van ouds genoem word. `n Mens kan verskil oor die vraag of dìt die enigste wysheid is.

Die Bybel praat egter heeltemal anders oor wysheid.

Kortom, dìt wat ons vandag ‘bevoegdheid’ noem, noem die Bybel wysheid: kennis, insig en vaardigheid om ʼn gestelde doel te bereik.

Die doel wat ʼn koning vir homself behoort te stel, is om sy volk goed te regeer en te beskerm. As hy dit regkry, noem ons hom ʼn wyse koning.

Die koning van Israel het wyse manne in sy diens gehad. Met hulle raad en advies moes hulle die koning bystaan om sy doel te bereik. Daar is ook ander wat wyses genoem word, soos die Prediker of die samesteller van die Spreukeboek. Hierdie wyses het ʼn ander doel gehad, naamlik om mense, en veral jong mense, die pad te wys na ʼn goeie lewe, ʼn lewe wat voor God reg is. By hulle het dit bo alles gegaan oor - “Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid” (Psalm 111:10).

Skrifgeleerdes en rabbi’s, leermeesters, is in die tyd van Jakobus ook as wyses beskou. Van hulle is gesê dat hulle geweet het hoe om dienend voor die aangesig van God te lewe. Jakobus het ook in die vorige gedeelte oor die leermeesters gepraat. Dit lê dus voor die hand om te dink dat Jakobus hierdie mense bedoel wanneer hy die wysheid behandel.

Onderskeid Maak🔗

Jakobus wil hê die gemeente moet besin. Het hulle goeie leermeesters? Die gemeente moet weet waarop hulle moet let. Wie van julle is wys en verstandig?

In die vorige gedeelte is die mense vermaan om nie te gou ’n leermeester te wil wees nie. Jakobus het ook gewaarsku teen onbewaakte tonge. Elkeen moet weet hoe dit hoort. Dit is nie goed as daar in die gemeente partye is wat teenoor mekaar staan en rusie maak om hulle standpunte te stel of bekend te maak nie.

Die gemeentelede moet dus versigtig wees dat ‘wyse’ leermeesters nie onbehoorlik optree nie. Wysheid en verstandigheid hoort bymekaar. Altwee woorde dui op bevoegdheid. Die gemeente moet kan onderskei. Iemand doen hom voor as leermeester, maar hoe gedra hy hom? Jakobus het al kritiek uitgespreek oor skerp tonge. Nou wys hy op die teenoorgestelde van die skerp tonge; sagmoedige wysheid of wyse sagmoedigheid. Nie jaloersheid, beterweterigheid en opdringerigheid nie, want daarmee word nie ’n wyse voorbeeld gestel nie. Dit gaan oor welwillendheid en om God en die naaste met sagmoedigheid te dien.

Normaal?🔗

Ons moet onderskei tussen wat vir ‘die mense’ normaal is en wat God goed noem. Dit is vir mense normaal om hard teen mekaar te kere te gaan. ’n Bakleierige stemming ontstaan sommer gou. ’n Mens wat werklik wys is behoort nie daaraan mee te doen nie, hy behoort terselfdertyd die mense tereg te wys. Iemand wat dit nie doen nie, en maar met die rusie saamgaan, het geen rede om op wysheid te roem nie. As jy mense teen mekaar aanhits in die naam van die waarheid, is jy in werklikheid baie ver van die waarheid. So iets kan nie met waarheid verband hou nie en enige so ’n pretensie is ’n leuen. Dan is jy op ʼn aardse manier besig. Egte waarheid kom van God; egte wysheid ook. Egte wysheid is geestelik rein. Aardse wysheid kom voort uit ons eie gedagtes en opinies, wat deur die leuen bederf is. Die leuen kom van die duiwel, en sulke wysheid kan tereg duiwels of demonies genoem word, al is dit vir die mense normale wysheid. Dat dit duiwelse wysheid is, blyk uit die gevolge. Die duiwel wil oral kwaad doen en chaos veroorsaak — maar by uitstek in die gemeente van God. Hy kry dit reg deur afguns en partydigheid te saai en vervolgens lei dit tot allerhande verdere kwaad, wanorde en slegte gewoontes. Daarom moet die lidmate goed toesig hou oor die verloop van sake. Hoe gedra die leermeesters hulle?

Wysheid van Bo🔗

Teenoor al hierdie heftigheid en toestande wat hand uitruk, staan die wysheid wat deur die Heilige Gees bewerk word – Hemelse Wysheid – omdat die bron daarvan in die hemel is. Psalm 12:7 verwoord dit op so ’n unieke manier: “Die woorde van die HERE is rein woorde, silwer wat gelouter is in ʼn smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal”. So suiwer is die Woord van God, en so suiwer is die wysheid van die Gees wat daarmee werk.

 Suiwere wysheid kan ook nie aan iets wat sleg is, gekoppel word nie. Daarom is dit vir die wysheid onmoontlik om in stryd of partydigheid op te gaan. Dit kan alleen maar vrede in die oog hê. Dit kan nie haatdraend wees nie, maar moet vriendelik en inskiklik wees. Dit kan nie aggressief en hardvogtig wees nie, want met wyse mense moet jy goed kan praat. Die wyse kan nie selfsugtig wees nie; hy is juis vol van barmhartigheid. Dit blyk uit alles wat hy doen - die vrugte van die geloof! Wysheid is reguit, maar deur en deur opreg.

Wyse leermeesters veroorsaak nie bitter partyskappe in die gemeente nie. Jakobus het dit oor vrede, en egte wysheid bring vrede. By wysheid hoort geregtigheid. Jakobus vergelyk dit met ʼn saailand. Die graan word gesaai in die hoop op ʼn goeie opbrengs. Die Here Jesus leer dit ook in sy gelykenisse. Dit word gesaai, groei en bring baie vrugte voort. Hier word in vrede gesaai, met die doel om vrede te oes. Die regverdige vrug wat dit oplewer is — hoe kan dit anders — vrede.