Bron: Waarheid en Dwaling. 3 bladsye.

Jeremia 33:15-16 - Die HERE ons Geregtigheid

In dié dae sal Juda verlos word en Jerusalem veilig woon; en dit sal die naam daarvan wees: Die HERE ons geregtigheid.

Jeremia 33:15-16

Die groot kerkhervormer van die 16de eeu, Martin Luther, het erns gemaak met God se geregtigheid. Hy het goed verstaan dat God geregtigheid eis; dat Hy sondes nie verskoon nie; dat Hy sondes nie sommer so onder die mat in vee nie.

Luther het daarom in vrees en bewing vir die Here se geregtigheid geleef. Vandaar sy bekende uitroep: "waar sal ek ʼn genadige God kry?" Sy lewe in die klooster as ʼn Roomse monnik was gekenmerk deur ʼn ontsaglike innerlike stryd met die geregtigheid van God en sy oordeel oor die sonde.

As Luther na Wittenberg gestuur word om die Bybel te bestudeer, bring die Here hom langsamerhand tot ander insigte oor die betekenis van geregtigheid. In besonder dat die HERE (Jahweh) sy verbondsvolk deur geregtigheid sal verlos.

In die verbond wat God met sy volk gesluit het, is daar eise en beloftes. Hierdie verbondseise kan saamgevat word in die 10 gebooie. As die verbondseise nie nagekom word nie, moet daardie oortreding gestraf word. God se geregtigheid vereis dit. Hy belowe nie net seën vir die wat die verbondseise nakom nie. Hy belowe ook straf vir die wat die verbond verbreek. Die gevolge van die verbondsverbreking sien ʼn mens al vanaf Sinai. Die volk se volharding in die verbondsverbreking raak naderhand so erg dat die HERE die tien noordelike stamme deur die Assiriërs laat wegvoer.

Hy belowe ook dat Hy die suidelike koninkryk na ʼn ander land gaan laat wegvoer. Dit gebeur met die ballingskap na Babel. Die Skrifgedeelte speel hom af in die tyd nadat die koning, geleerdes en hooggeplaastes al na Babel weggevoer is. Daar was ʼn tweede koning aan bewind, naamlik Sedekia wat deur Nebukadnesar in Jerusalem aangestel is. Hy het later teen Nebukadnesar gerebelleer. Nebukadnesar het met sy leër teen Jerusalem opgetrek om dit finaal te verwoes.

Die volk is onder die ergste druk denkbaar. Jerusalem staan op die punt om deur die magtigste leër op aarde binnegeval te word. Kos, goedere en middele is skaars weens die beleëring. Daar is geen lig in die tonnel nie. Die HERE het belowe dat Hy die volk deur middel van Nebukadnesar gaan straf. Jeremia kondig voortdurend die oordeel oor die volk aan. Die volk het Hom daaroor verfoei.

Te midde van die dreigende oordeel kom daar die boodskap van hoop en bevryding. Dit is die bevestiging daarvan dat die verbond vir ewig is. God sal sy volk weer terugbring. Hy sal sy volk weer veilig in hulle land laat woon. Hulle sal sing van sy goedertierenheid (verbondsliefde) wat tot in ewigheid is.

Voordat die HERE sy oordeel laat geld, laat Hy al klaar herstel aankondig. Dit klink vreemd. Voor die volk gestraf gaan word, word die belofte van hoop al weer gegee. Waarom doen die HERE dit? Want sy verbond met die volk is vir ewig. Deur sy troue verbondsliefde (goedertierenheid) sorg die Here dat die verbond nie tot niet gaan nie.

Daar moet egter onthou word dat daardie verbondsliefde nooit sonder geregtigheid is nie. In Jesaja lees ʼn mens dat die Here sy volk deur strafgerig en deur geregtigheid sal verlos. Hier sien ons die eerste aanduidings dat God se geregtigheid juis ook sy goedertierenheid is. Beteken geregtigheid dan nie straf nie? Hoe is geregtigheid dan verlossing? Die volk is gestraf, maar daar is ook straf oor Babel en sodoende verlossing vir die volk. Hy sal Babel regverdig oor al haar sondes straf en so vir Juda deur die koms van die Persiese ryk bevry.

Hierdie teksgedeelte uit Jeremia kyk verder as die volk se terugkeer uit ballingskap. Dit gaan oor die profesie van die Messias wat sal kom. Vir Dawid sal daar ʼn Spruit van geregtigheid kom, staan daar in vers 15. Hy sal reg en geregtigheid in die land laat geskied. Juda en Jerusalem se naam sal wees: Die HERE ons geregtigheid. In Jeremia 23 lees ons dat hierdie Spruit van Dawid se naam ook sal wees: Die HERE ons geregtigheid.

Hierin word twee dinge geopenbaar. Eerstens dat Hy geregtigheid aan sy volk sal bewys en tweedens dat die HERE Self daardie geregtigheid is. Die verlossing van Juda uit ballingskap was ʼn voorloper, ʼn heenwysing. Daardie verlossing kon alleen gebeur op grond van geregtigheid; op grond daarvan dat die HERE Self hulle geregtigheid is. Die verbond kon net bly bestaan as hulle kant van die verbond nagekom word.

Ons sien die aard van die verbond duidelik wanneer Abraham beveel word om die stukke diere te verdeel en dit weerskante van mekaar te plaas (Genesis 15). Die bedoeling was dat Abraham en God saam tussen die verdeelde diere moes deurgaan om die verbond te sluit. Die verbasende is egter dat God alleen tussen die verdeelde diere deurgaan. Hy weet dat Abraham nie sy kant van die verbond kan hou nie.

Daarom sorg die HERE dat Hy Self die geregtigheid van die verbond sal volbring. Deur sy geregtigheid sal Hy ook Abraham en sy nageslag se kant van die verbond hou. Dit is ten diepste die rede vir die redding uit ballingskap. Die HERE sal uiteindelik Self die verbondswraak dra, maar ook die eise in hulle plek hou. Daarom kan hulle al voor die voltrekking van die vernietiging van Jerusalem hoor van hulle verlossing en van die nuwe naam – die HERE ons geregtigheid.

Hoe sorg Hy dat daar ook van ons kant af geregtigheid in die verbond is? Hoe word die HERE dan Self ons geregtigheid? Hy doen dit deur mens te word. Hy doen dit deur die Verbondshoof te word soos wat Adam dit was. Die Engel van die verbond word vlees en bloed om die verbondswraak te dra en die verbondseise volkome na te kom. Daar word dus betaal. Die sonde word met die hel gestraf. Reg en geregtigheid het aan die kruishout op Golgota geskied. So is die HERE Self ons geregtigheid deurdat Jesus Christus ons Here word. So laat die Spruit van Dawid geregtigheid geskied as Hy Homself in ons plek offer.

Wonderbaarlik! Die Here Jesus word ons geregtigheid. Hy sorg dat die verbond nie ten gronde gaan nie. Daarom staan daar verder in die teksgedeelte dat, as die Here se verbond met die dag en nag verbreek kan word, die verbond met Dawid ook verbreek kan word. God se verbond met Dawid kan egter nie verbreek word nie, want die Here is Self ons geregtigheid.

Daar is dus geen versoening sonder voldoening nie. Daar is geen liefde sonder geregtigheid nie. Daar is geen barmhartigheid sonder geregtigheid nie. Geen verbond sonder geregtigheid nie. Ons kan nie met God versoen word as daar nie betaal word nie, anders sou God onregverdig wees. Daar is geen liefde van God tot ons sonder Jesus Christus nie, anders het God die sonde en die onreg lief. Ons moet dit stewig vashou. Daar is nie liefde van God sonder Christus nie. Geen liefde sonder die kruis nie.

Sy liefde en sy geregtigheid loop hand aan hand. God se deugde bots nooit met mekaar nie. As ons bely dat die Here se barmhartigheid ook sy geregtigheid insluit staan ons redding mos vas. Dan is ons saligheid geen gekonkel nie. Dan is ons saligheid verdien. Daar is betaal daarvoor.

As die Here ons geregtigheid is, wie kan dit ooit van ons wegneem? Ons geregtigheid is onvervreembaar. Hoe groot is sy genade nie!

Ons het alles ontvang. Ons het niks om aan God te gee nie. Ons kan nie God se eis om geregtigheid stil nie. Nie ons betrokkenheid by die kerk nie, nie ons erediensbywoning nie, nie ons lewe in navolging van Christus nie, nie ons gebede om vergewing kan voor God staan as geregtigheid nie. Ons kan vanuit onsself geen medelye by die Here opwek nie. Ons kan in onsself God nie tot barmhartigheid beweeg nie. Ons het niks om vir God te bied nie. Niks.

Die Roomse kerk leer egter vir Luther: ons kan iets doen, ons het iets om aan God te gee, ons kan iets vir die Here bied om ons geregtigheid voor Hom te wees. Luther word vrygemaak om te besef dat dit alles maar net genade is. God gebruik hierdie man om die kerk weer terug te bring na die evangelie van genade. Sy laaste geskrewe woorde getuig dat hy wel die genadige God in die Woord gevind het. ʼn Papier is deur sy vriende op sy lessenaar gevind met hierdie aangrypende woorde aan die einde geskryf:

Ons is bedelaars, dit is waar.

Ons het alles ontvang. Met hierdie belydenis het die Here die ganse kerkgeskiedenis onherroeplik en ingrypend verander. Dit is een van die grootste verskille tussen ons en Rome: dat ons ontvangers is. Dit sê alles van ons geloof, van die wyse waarop die kanon ontstaan het, van Openbaring en waarheid, van die belydenis, van ons omgang met die Skrif, van ons teologiese arbeid, van ons ganse kerkwees.

Die Here is ons geregtigheid. Ons is ontvangers, alles is genade.

En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade. Johannes 1:16

Mag ons dit tog opnuut weer bedink en helder bely in ʼn tyd waarin die Roomse ideologie die kerke insypel. Soos bedelaars ontvang ons sy oorvloedige genade. Aan ons is geregtigheid bewys. Daarom is ons arme bedelaars tog ook die rykste van alle mense!