Bron: Kerk en Woord. 2 bladsye.

Jesaja 49:16 - Die Here is Ewig Trou aan Sy Verbond

Kan ’n vrou haar suigling vergeet...? Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer jou mure is gedurig voor My.

Jesaja 49:16

Jes 40-66 is troospreke vir Israel in Babel, mense wie se tempel verwoes was, wie se land deur ander beset was. In vs 14 hoor ons hulle klag: “JAHWE het my verlaat, en ADONAI het my vergeet.” Jahwe - Ons verbondsgod - het ons totaal in die steek gelaat. Nêrens vind ons Hom nie! En Adonai - Hy wat alles beheers - het ons vergeet. In ons weggesteekte hoekie kan Hy nie help nie. Weggevoerdes, pas in die vreemde, hoop nog vurig dat hulle weer na hul vaderland kan terug. Dit word egter anders as jare aanstap sonder bevryding. Dan bly die hoop nie so brandend nie. As jy as kind in die vreemde gebore is of daar pa en ma word, sê Jerusalem jou nie meer soveel soos vir die voorgeslagte nie. Dan is dit nie snaaks as jou wortels al dieper in die vreemde land vasgroei nie. Daarom het Jesaja se troospreke menigmaal gestuit teen moedeloosheid, défaitisme, selfs teen verwyte en ongeloof. Sy skildering van ’n nuwe toekoms en ’n herboude stad was vir hulle leë lugspieëlings! Baie wou dit nie meer hoor nie.

En aangesteek deur die jong geslag, het dié wat Jerusalem nog in sy goeie dae meegemaak het, ook begin twyfel: Het die Here ons nie afgeskryf nie. Sion, tempelberg, sentrum van die kerkstad, gebruik Jesaja as naam vir die volk.

Wat was die enigste wat Jesaja die moedelose volk kon voorhou? Slegs God se beloftes. Wat was die enigste waarmee die vaders hulleself en hulle kinders kon bemoedig? Net die Bybelse boekrolle. Daarin is wonderlike dinge aan Abraham en sy nageslagte beloof - ’n ewige verhouding met die Here. En aan Dawid is daarin ’n ewige koningskap toegesê. Maar daarin is ook gesê dat hulle, Sy verbondsvolk, jarelank ontrou was. Dog die Here, trou aan sy Naam, is wat Hy is, Hy kan nooit ontrou wees nie. Israel kon rotsvas op Hom vertrou. Hulle kon glo in ’n toekoms onder sy beloofde Messiaskoning.

Kyk, as skielike ellende ons oorval, is ons gewoonlik die kluts totaal kwyt. Baie Christene wankel dan. Dan laat ons ons nie meer lei deur God se beloftes nie, maar deur dit wat ons om ons sien gebeur. So dink baie in die RSA vandag: Die Here het sy kerk verlaat. Die Here het sy kerk vergeet. Die nood en geweld laat ons aan die Here se beloftes twyfel, in plaas daarvan dat dit maak dat ons ons daarop beroep. Begin ons dalk al ons paspoorte regkry om, wat ons sien as ’n sinkende skip, te verlaat?

Maar geloof beteken: Vertrou op God se beloftes. Hy sorg vir sy kerk. Hy sit sy heilswerk voort. Daarom kom Jesaja na die vertwyfelde Israel met die onoortreflike mooi versekering dat die Here hulle gewis nie verlaat of vergeet het nie. Daarvoor gebruik hy die beeld van ’n moeder wat haar pasgebore baba nooit in die kan steek laat nie.

Mens hoor in Jesaja se woorde eintlik sy verontwaardiging: “KAN ’n vrou...?” Wel, as ’n vrou so waak oor die kind van haar skoot. Die volk van God lê Hom nog veel nader aan die hart!

En dan laat Jesaja die vreeslike moontlikheid oop: Dalk kan daar ’n ma wees wat slegter is as ’n dier... En ons beleef dit vandag soveel: moeders wat die naam nie werd is nie, wat hulle hulpelose kindjie weggooi. Maar dit sal God julle nooit aandoen nie: Hy vergeet sy volk nooit!

Hou dit vas: In die skynbare chaos in die RSA is die Here besig om te werk aan ons bevryding. Nie noodwendig ’n tydelike nie, maar ’n ewige bevryding. En Hy sal nie toelaat dat iemand dit verongeluk nie. Ook nie die duiwel nie. Miskien duur ons probleme nog lank hier in die RSA. Miskien moet ons selfs die lewe laat in die proses, maar ’n Christen leef mos nie by die sigbare werklikhede nie. Ons leef mos by God se beloftes. En daarom, al hou ons soms ons hart vas, ons moet voortgaan met ons plig. En as Nuwe Testamentiese volk van God mag ons dit selfs doen met blydskap: “Wie sal ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus ons Here is?” Wees onversetlik seker: Sy liefde is ’n ewige liefde! Ons dra tog die waarborg van die Doop op ons voorkop?!

Met 'n tweede beeld wou Jesaja hierdie versekering in Israel se hart inbrand. “Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer; Jou mure is gedurig voor My”. God julle vergeet...? Nog nooit! Inteendeel, ONOPHOUDELIK hou Hy julle juis voor oë, sê Jesaja.

Wat sien ons elke dag meer voor ons oë as ons hande? En in God se handpalms, voortdurend voor sy oë, staan juis Israel se naam gegraveer dié hande wat kragtig werk aan hulle heil. Hulle is daar ingegraveer. Dink maar aan die onuitwisbaarheid van tatoeëermerke. Dit kan nie afgewas word nie. Daar is geen middel wat dit verwyder nie. Maar God wil ons verseker: By alles wat Hy aanpak, gaan dit vir Hom steeds oor sy kerk.

Die ou Israeliete kon net aan die puinhope van Jerusalem dink. Dog in God se hande was die plan van die stad met sy herboude mure klaar geteken! Israel mog leef met God se waarborg: Daardie mure gaan weer regop staan. Hy waarborg die terugkeer van die oorblyfsel. Konkrete redding kom. Sy heilswerk gaan Hy voltooi.

Het dit beteken dat geen enkele Israeliet verder in die vreemde sou sterf nie? Sou man vir man na Kanaän terugkeer?

Sekerlik nie. Maar ouers wat in Babel gesterf het, kon hulle kinders wys op die liefde van God wat met sy volk verder gaan. Daardie liefde strek verder as hulle aardse bestaan. Daar die liefde is vasgelê in die beloftes wat oor eeue heen in vervulling gaan sonder dat iets dit kan stuit.

So het die teruggekeerde oorblyfsel van die volk die herbou van Jerusalem meegemaak. En nog latere geslagte, Simeon en Anna, Josef en Maria, Sagaria en Elisabet, het die koms van die Messias gesien.

En as ons aan die tafel van ons Here sit en van die brood eet en van die beker drink, dan bely ons: HY is gekruisig. Hy het gesterf en is begrawe. Dit alles was die voortgang van God se heilswerk, ook die opstanding en die hemelvaart. Nog steeds is ons as kerk in God se handpalms gegraveer. Ook die nuwe Jerusalem wat weldra daar is. En ons sal daar kom. Laat ons ons oë opslaan en dit raaksien: Van alle oorde en uit alle volke vergader God hulle. En daarom is elke Nagmaal die voorsmaak van die Bruilof van die Lam.