Bron: Kompas, 2013. 2 bladsye.

Jesaja 9:6 - Die Geboortekaartjie van die Messias

koevert

In die meeste geboorteberigte staan daar: “God het aan ons ’n seun/dogter toevertrou” of: “met groot vreugde vertel ons dat God aan ons ’n seun/dogter geskenk het”. Geen ouer kan in ’n geboortekaartjie skryf dat hulle seun of dogter later, dit of dat gaan doen nie. Josef en Maria kon dit egter wel doen. Die engel het vir Maria gesê: Jou baba sal die Seun van die Allerhoogste genoem word en Hy sal op die troon van sy vader Dawid sit. Josef hoor van die engel dat die seun van Maria die volk van hul sondes sal verlos. By die geboorte van Jesus het daar nie ’n geboortekaartjie uitgegaan nie. Maria het die woorde van die engel in haar hart bewaar. En tog het daar al reeds by die geboorte van Jesus mense kom kuier. Heel eerste die herders: sterk manne, wat normaal nie regtig belangstelling vir babas het nie, tensy dit hul eie kind is. Later kom die wyses uit die Ooste. Hulle sien ’n baba wat nie anders lyk as al die ander babas nie, maar tog kniel hulle voor Hom neer en gee aan Hom goud, wierook en mirre. Want hulle het geweet: hier lê die groot Koning!

Al lank voordat Jesus gebore is, het sy geboortekaartjie uitgegaan. Dit was bestem vir die inwoners van Jerusalem. Jesaja roep dit triomfantelik uit: ’n Kind is vir ons gebore!

Jerusalem🔗

Hoe is hierdie berig in Jerusalem ontvang? Jerusalem was in die greep van angs. Angs vir aanvalle uit die Noorde. Berigte van gruwelike moorde deur Assiriese soldate bereik Jerusalem al ’n paar maande lank. In die streek van Sebulon en Naftali is soldate besig om ’n bloedbad aan te rig. En hulle is op pad na Jerusalem. Gestel hulle bereik die poorte van Jerusalem? Wie is dan nog veilig?

In hierdie atmosfeer kom Jesaja met ’n geboorteberig: daar is ’n kind gebore. Hy sal lig bring in die duisternis, Hy sal verlossing bring vir die volk. In die lig van die voorgeskiedenis (Jesaja 7:14) sal dit oor ’n kind gaan wat in die paleis van koning Agas gebore is. (Miskien Hiskia?) Dit sou nie dadelik baie hoop gegee het nie, want die inwoners van Jerusalem het nie baie vertroue in koning Agas gehad nie. Sal sy seun die juk wat op hulle druk, kan verbreek en bloedbaddens kan voorkom? Die meeste inwoners het dalk hulle skouers opgehaal vir hierdie profesie van Jesaja. Want hoe kan jy al by die geboorte van ’n baba sê dat hy ’n wonderbare Raadsman, sterke God en ewige Vader sal wees en dat hy die langverwagte vrede sal bring? Hoe kan ’n mens soveel hoop put uit die geboorte van ’n kind? Net ’n klein deel van die inwoners van Jerusalem het geweet dat dit ’n teken is van die koms van die groot Seun van Dawid en het die profesie geglo.

Die Name van die Messias🔗

Die kind wat in die stal van Betlehem gebore sal word, kry heerlike name. Hy het nog baie meer name as dié wat in ons teks genoem word. Jy kan gerus ‘ensovoorts’ na die teks plaas. Want die rykdom van hierdie kind kan nie in ’n paar woorde uitgedruk word nie.

krib

Sy eerste naam is wonderbare Raadsman: wonderbaar beteken dat hierdie Kind ons verstand ver te bowe gaan. ’n Wonder is iets wat teen al jou verwagtings ingaan. Die verlossingsplan van God om deur die menswording van sy eie Seun die mensdom te red, het nog nooit in ’n mensehart opgekom nie. Jesus Christus is ’n Wonderkind. God en mens verenig in een persoon. In Hom het God twee wêrelde wat deur die sonde uitmekaar geslaan was, weer met mekaar versoen; ’n wonderwerk wat deur niemand as moontlik beskou is nie.

Hy is ook Raadsman. Christus is die hoogste wysheid. In Hom is al die skatte van wysheid en kennis verborge (Kolossense 2:3). Dit het die Skrifgeleerdes al vasgestel toe hulle met die 12-jarige Jesus in die tempel in gesprek was. Almal was verbaas oor sy verstand en sy antwoorde. Hy is die hoogste Profeet en Leraar wat die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekendgemaak het. Wanneer jy radeloos is, gaan na Jesus Christus, Hy sal jou raad gee (Psalm 73:24).

Sy tweede naam is sterke God: die Messias sal van Goddelike oorsprong wees. Daar is nie ’n duideliker teks in die Ou Testament, waaruit blyk dat Israel ’n Messias verwag het wat ook waarlik God sal wees nie. Jesaja profeteer hier nie van ’n halfgod nie, hier word God self verwag. In die Messiaanse Kind sal God self met al sy heil en liefde teenwoordig wees. In Christus woon die volheid van die Godheid liggaamlik (Kolossense 2:9).

As ons die eerste twee name (wonderbare Raadsman en sterke God) saamneem, sien ons hoe onmisbaar albei is. Dink jou dit in: ’n wyse raadsman wat nie die mag gehad het om sy wysheid uit te voer nie. Dit is nogal pateties. Of dink jou dit in: ’n Magtige heerser, maar sonder wysheid. Dit is baie gevaarlik. Maar Christus gebruik sy Goddelike mag om sy wyse raad, wat Hy het en wat Hy gee, uit te voer.

Sy derde naam is ewige Vader: die Seun van God word hier ‘Vader’ genoem. Dit wys ons weer dat ’n mens die persone binne die Drie-eenheid wel kan onderskei, maar nie van mekaar mag skei nie. Die Seun deel dieselfde liefde vir ons as God die Vader vir sy kinders. Maar Hy vra ook dieselfde gehoorsaamheid as sy Vader in die hemel. Vroeër het konings hulself graag ‘vader van die volk’ genoem. Hierdie Koning sal soos ’n vader wees vir sy onderdane en aan sy Koningskap sal geen einde kom nie. Die laatste naam van die Kind is Vredevors: in dieselfde teks sê Jesaja dat die heerskappy op sy skouer is. Dit gaan dus oor ’n Koningskind. Hy is die Vredeskoning. ‘Vrede’ (= ‘sjaloom’) is vir ’n Jood die woord wat die heil wat God aan ons gee, die beste opsom. Hierdie Koning sal al die versteurde verhoudings weer herstel: tussen God en sondaars, tussen mense onderling en in die natuur. Dit begin daarmee dat jy vrede ken in jou eie gewete, dat jy genade gevind het by God, dat jy weet dat jy deur geloof geregverdig is. Maar dit werk ook deur na die mense in jou omgewing. Hierdie vrede is in hierdie lewe altyd nog maar net ’n beginsel. Later, as die Messias vir die tweede keer kom, sal die leeu en die lam bymekaar lê. Dan sal sy vrede volmaak wees vir almal wat voor hierdie Kind neergekniel het.

Shalom

Kersfees🔗

Elke Kersfees gaan hierdie geboorteberig die wêreld oor. Dit word ontvang in ’n wêreld waarin ons nog steeds die gedreun van soldatestewels hoor en waarin daar nog elke dag onskuldige bloed vloei. Ons word dikwels beheers deur angs en onsekerheid oor die toekoms. Maar ’n Christen roep dit uit: ’n Kind is vir ons gebore! Soveel vreugde en blydskap klink daarin deur. Hoe pragtig het Händel hierdie teks in sy musiekstuk “Die Messias” (“For unto us a child is born”) verwoord!

Nou word die geboorte van Jesus wêreldwyd gevier, want die geboorte van die kindjie in Betlehem is vir baie mense mos ’n pragtige storie. Maar twee woorde uit Jesaja 5 word amper konsekwent weggelaat: die woorde ‘vir ons’. Dit gaan nie net oor die geboorte van ’n kind nie, dit gaan daaroor dat Hy vir my, vir ons gebore is. God het mens geword vir my, om my sondes te dra. Eers as jy dit reg verstaan het, voel jy die diepe blydskap van Kersfees. Eers dan word ’n mens stil van eerbied.