Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Jesus verskyn aan sy kerk

Die veertig dae tussen Jesus se opstanding en sy hemelvaart skep die indruk van 'n tussenspel — 'n tyd van stilte na die storm, afwagtend op nuwe ingrypende gebeure. Tog was daardie veertig dae van die belangrikste dele van Christus se omwandeling op aarde. Dit was immers die tyd waarin Jesus die brokstukke van sy kerk weer bymekaar gemaak het. Daarvoor het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle gepraat.

Liggaamlike opstanding🔗

Ons weet van ten minste tien geleenthede waarby Jesus na sy opstanding aan die dissipels of aan die ander gelowiges verskyn het (Luk. 24; Joh. 20 en 21; Hand. 1; 1 Kor. 15:5-8). Deur aan hulle te verskyn, het Jesus alle twyfel uit die weg geruim dat Hy werklik opgestaan het en dat Hy lewe. So het Thomas, toe Hy die opgestane Jesus sien, geglo (Joh. 20:28). Hierdie verskynings is in die Bybel opgeteken sodat die gelowiges van alle tye kan weet en glo: Waarlik, die Here het opgestaan en Hy leef!

Hierteenoor sê die mens wat alles met sy verstand wil verklaar: 'n lyk kan nie weer lewend word nie. Daarom kon Jesus nie liggaamlik uit die dood opgestaan het nie. Sy opstanding was dus nie 'n werklikheid nie, maar waarskynlik 'n verhaal wat die vroeë kerk uitgedink het om hulle verleentheid te verberg. Die Rasionalisme wil dan hê dat die opstanding van Jesus simbolies verklaar moet word, met iets soos "Jesus het in die harte van die gelowiges herleef" of "by diegene vir wie Jesus Christus 'n lewende werklikheid is, het Hy opgestaan". Wie egter weier om te erken dat Jesus liggaamlik uit die dood opgestaan het, weier ook om Jesus in sy verskyning raak te sien.

Nuwe perspektief🔗

Jesus het egter om belangriker redes verskyn as om te wys dat Hy werklik opgestaan het. Hy het naamlik in die midde van sy kerk verskyn om met hulle te praat. Die woorde wat Hy gepraat het, het nie 'n nuwe boodskap bevat nie. Inteendeel, Hy het slegs bevestig wat Hy reeds vantevore vir hulle gesê het. Maar sy woorde het hulle gelei om te verstaan wat werklik by Golgota plaasgevind het en om nuwe perspektief op sake te kry. Hy het dus in daardie veertig dae sy kerk vergader, toegerus en voorberei vir die nuwe bedeling wat vir hulle met Pinkster sou aanbreek.

Om Jesus te sien, was dus vir die kerk 'n geloofsinspuiting, sodat die kerk weer in die daaropvolgende eeue vanuit die geloof Jesus kon sien. Dink maar aan Stefanus, die eerste martelaar vir die geloof. In Hand. 7:55 lees ons dat hy vol van die Heilige Gees die oë op die hemel gehou het en hy het "die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God". Dieselfde Jesus wat werklik liggaamlik in die veertig dae voor sy hemelvaart aan sy dissipels verskyn het, verskyn na sy hemelvaart aan die regterhand van die Vader, sodat Stefanus in die geloof (vol van die Heilige Gees) Hom daar kon sien staan.

Jesus se verskyning vandag🔗

Dieselfde Jesus is steeds liggaamlik aan die regterhand van die Vader, vanwaar Hy oor sy kerk regeer, ook vandag. Nogtans, al is Hy in die hemel aan die regterhand van die Vader, verskyn Hy steeds daagliks in die midde van sy kerk — nie liggaamlik nie, maar deur sy Heilige Gees (Heidelbergse Kategismus Sondag 18). Dit beteken dat ons ons Here steeds kan sien, nie liggaamlik nie, maar in die geloof. In Heb. 12:2 word ons juis aangemoedig om in ons geloofstryd te volhard, "die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof”.

Jesus verskyn nie net deur sy Gees in ons midde nie, maar ook deur sy Woord. Dit beteken dat ons Hom nie net met die oog van die geloof by ons sien staan nie, maar dat ons Hom ook met die oor van die geloof hoor praat. Ons het naamlik sy Woord waarna ons kan en moet luister. In Joh. 10:27 sê Jesus self: "My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My". Die Woord het deur God se genade ook Skrif geword, sodat ons die Bybel het om te lees. Uit die bladsye van die Bybel verskyn die stem van ons opgestane Here in die midde van sy kerk.

Elkeen wat vandag die opgestane Jesus sien, sien Hom met die oog van die geloof. Ons sien Hom as die Seun van God wat mens geword het. Ons sien Hom as ons Verlosser wat ons skuldlas op Hom geneem en die toom van God vir ons gedra het. Ons sien Hom as die Middelaar wat met sy liggaamlike opstanding die dood vir ons oorwin het en wat voor sy hemelvaart liggaamlik in die midde van sy kerk verskyn het. Ons sien Hom as die Koning wat aan die regterhand van God sit en oor alles en almal en veral oor sy kerk regeer.