Bron: De Wekker. 2 bladsye. Vertaal deur  Nic Grobler .

Johannes 16:7 - Is dit Goed dat Jesus nie Meer Hier is nie?

‘O, was Jesus nog op aarde, het ek haastig na Hom heen gevlug’ lui ʼn ou Nederlandse versie. Maar miskien is dit tog ook ʼn hedendaagse verlange? Sou dit nie met ons geloof beter gaan as ons – soos Thomas – Jesus kon sien, hoor en aanraak nie (Johannes 20:27-29)? Die woorde van ons Here, ‘Nie sien nie en tog glo,’ beteken inderdaad dat ons nou met ʼn gemis lewe. Ons lewe vér van die Here, in die vreemde – “deur geloof en nie deur aanskouing nie” (2 Korintiërs 5:6, 7). Dié gemis is eers verby in die groot toekoms, dán sal “ons Hom ... sien soos Hy is” (1 Johannes 3:2).

ʼn Eerste antwoord is dat Hy die waarheid wil volvoer dat Hy nie net die Messias van Israel is nie, maar die Heiland van die wêreld. Hoe sou Hy sy werk kon doen as Hy net op één plek op ʼn slag kon wees? In ons tyd sou Hy hom deur radio en televisie wêreldwyd kon laat hoor en sien. Daar sou massavergaderings georganiseer word en pelgrimstogte onderneem word na die plekke waar Hy hom op enige gegewe tyd bevind. In die eeue voordat die media daar was sou die laaste moontlikheid die enigste gewees het. Jesus sou dan op die aarde moes leef ongeveer soos die Pous – maar net in alle eenvoud en sonder pontifikale smuk...

Sou dit ewewel met die geloof beter gegaan het as ons Hom kon sien? Het dit soveel beter gegaan terwyl Jesus nog op aarde was? Eers het die massas na Hom gestroom, maar later het hulle aanstoot geneem en van Hom weggeloop. Moenie dink dit sou by ons anders gewees het as Hy nou nog liggaamlik by ons was nie.

Juis ná sy hemelvaart het Jesus miljoene volgelinge gekry, en Hy kry steeds meer! Ons moet ons nie vaskyk teen die massale geloofsafval in die Weste nie. Dit ís vreeslik, maar die swaartepunt van die kerk lê nou elders: in Afrika, Asië. Dáár bly die gemeente groei, dikwels teen verdrukking in. Hoe is dit moontlik?

Dit het Pinkster geword🔗

In Johannes 16:7 sê Jesus: “Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie”. Deur liggaamlik weg te gaan, skep Jesus ruimte vir die koms van die Gees. Vandaar sy woorde aan Maria Magdalena: “Raak my nie aan nie...” (Johannes 20:17; letterlik ook ‘moet My nie vashou nie’ – RSC). Om net weer die Pous te noem: hoe bly ons ook al is as die biskop van Rome goeie dinge van Jesus sê – sou die instituut ‘Pous’ nie (ook) ʼn poging wees om Jesus tog maar liggaamlik vas te hou nie; al is dit dan ‘in die plek’ van Jesus? Daar is maar Één in die plek van Christus – die Gees.

Jesus was nie klaar nie🔗

Iemand in die plek van ʼn ander is ook nie ʼn plaasvervanger nie. As die Gees Jesus sou vervang, sou Jesus se werk met Pinkster afgehandel gewees het. Dit is vir ons ʼn vreemde gedagte, maar in die gemeente van Korinte was daar mense wat so gedink het! Hulle het skerp onderskeid getref tussen die aardse Jesus – die Gekruisigde – en die hemelse Christus. Vir hulle was die werk van Jesus afgehandel, soveel so dat hulle, sogenaamd deur die Gees, kon sê: Vervloek is Jesus (1 Korintiërs 12:3). Want die Gees verbind ons met die hémelse Christus, so meen hulle, en gee nou reeds aan ons deel aan die hemelse lewe. In feite is ons dus bo die aardse verhewe. Vandaar is vir hulle dié vernaamste geestesgawe, wat die naaste aan die hemelse is: tongetaal. En by die nagmaal was hulle gefokus op die hemelse lewe wat in die brood en wyn geniet word. Sodoende kon mens by die gepaardgaande liefdesmaal gerus maar die behoeftige medegelowiges met ʼn leë maag laat bly sit – dit was immers tog maar aards!? Maar wanneer ons om die Nagmaalstafel in die onderlinge liefde faal, praat Paulus van ʼn onwaardige viering – al is ons daarby ook hoe hemels-geestelike ingestel (1 Korintiërs 11:20-29).

Dit het by die Korintiese Christene ontbreek aan insig in die werk van die Gees. Hy het immers juis gekom om Jesus en sy aardse werk te verheerlik, in die lig te stel (Johannes 16:14). Vandaar dat Paulus hom voorgeneem het om onder die Korintiërs “niks anders ... te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde” (1 Korintiërs 2:2) – dié Jesus wat in die diepte van ons verlorenheid afgedaal het om ons dáár te dien. Wat is dan die kenmerk van die werk van die Gees? Dat ons leer om hierdie Jesus te bely as ons Here (1 Korintiërs 12:3) en Hom op sy weg te volg. Die Gees van Jesus voer ons nie omhoog, weg van die aarde, na besondere geestelike ervarings nie. Hy lei ons juis die diepte in, waar mense ly onder nood, gebrek en skuld. Die hoogste geestesgawe is die van nederige diens. En groter as al die gawes is die liefde wat ons daardeur bewys (1 Korintiërs 13).

Die gemeente as brief van Christus🔗

So word Christene, elkeen op sy plek en almal met hul eie taak geroep om Christus te verteenwoordig – wêreldwyd! Jesus, dié Lig van die wêreld, sê dat Hy van ons verwag dat ons ook sal wees soos lampies wat skyn in die nag, voor die mense, soos ligte in die wêreld. Klein vlammetjies van Sy groot lig! Hoe kan ons dit wees? Dit is die Gees wat ons soos ranke aan die wynstok, Christus, verbind sodat sy lewe ook ons lewe word (Johannes 15:1-8). En dit nie deur ʼn geheimsinnige kragstroom nie, maar deur die Woord; deur te “[neem] uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig” sê Jesus (Johannes 16:14). Die Gees bring die woorde en werk van Jesus, lank gelede in die evangelie opgeskryf, na ons toe deur die verkondiging. Dan is Jesus nie iemand uit vroeëre tye nie. Hy spreek ons hart aan, in die hede. Die Gees open ook ons hart daarvoor, en leer ons om Hom en sy woorde te glo. En dit nie één keer nie, maar telkens weer, sodat die woorde van Jesus in ons bly (Johannes 15:7a). Hulle bepaal ons lewe, en met die liefde wat ons daarin vind, is ons ook ander tot seën. In die eerste plek in die gemeente, wat deur die Gees toegerus word om op aarde ‘liggaam van Christus’ te wees; liggaam wat uit Christus, haar Hoof, lewe en só ook in woord en daad vir die wêreld ʼn lewende brief van Christus is.

Dit is in ʼn paar woorde die manier waarop Jesus ná sy hemelvaart hier aanwesig bly en oor die hele aarde sy werk laat voortgaan: Deur sy Gees, deur die Woord, deur die gemeente. Dit wil sê, deur mense.

Hindernis of instrument?🔗

Die menslike van die kerk is, helaas, dikwels die grootste hindernis vir die werk van die Gees. Dink maar aan al die sondes wat die kerk ongeloofwaardig maak. Dink ook aan die beperkings van die kerk as mensewerk. Dit kom soms op skokkende maniere aan die lig. ʼn Ortodoks georiënteerde jeugwerker het onlangs gesê: ek het agtergekom dis ʼn ‘mission impossible’ om die jeug en die kerk vir mekaar iets te laat beteken. Die boodskap van die kerk kom in hierdie tyd nouliks by die jeug en die samelewing tereg. Dit mag ʼn veralgemening wees, maar vir ʼn groot deel van die jeug geld dit. Is die hart van die jeug dan so gevange in die hedendaagse kultuur dat die Gees nie kan deurdring nie? Of is ons kerk-wees so gevange in sy menslike beperkings dat die Gees dit nie kan gebruik om die jeug te bereik nie? Dit is vrae wat moet dwing tot gebed en besinning. Hoe kan die gemeente die instrument wees van die Gees wat die jeug én ouer mense wil saambring by Christus?