Bron: Kerk en Woord. 3 bladsye.

Johannes 19:23-24 - Hy is Ontklee sodat ons Beklee mag word

En toe die soldate Jesus gekruisig het, neem hulle sy klere en maak vier dele, vir elke soldaat ’n deel, en die onderkleed; maar die onderkleed was sonder naat, van bo af in een stuk gewewe. En hulle het vir mekaar gesê: Laat ons dit nie skeur nie, maar laat ons die lot daaroor werp, wie s’n dit sal wees - sodat die Skrif vervul sou word wat sê: ‘Hulle het my klere onder mekaar verdeel en oor my gewaad het hulle die lot gewerp.

Johannes 19: 23 - 24

Dit is merkwaardig hoe God se voorsienigheid werk, so anders as wat die mense dink dat dit moet gaan.

Deesdae is dit weer soos in die dae van Marcion die groot boodskap aan die klok, niks nuuts nie, dat die Nuwe Testament nie vanuit die Ou Testament verklaar mag word nie, en ook omgekeerd.

Hoe tragies is hierdie boodskap as ons dan die teendeel op elke bladsy van die Bybel raakloop? As ons dan in skynbaar totaal onopvallende dinge moet hoor dat dit juis deur God so bestuur is om te bevestig dat die twee Testamente waarlik een en dieselfde Goddelike boodskap verkondig?

So iets wat na ’n blote randsaak lyk, is byvoorbeeld dat Jesus se onderkleed sonder ’n naat was, van bo af in een stuk gewewe. Hoe belangrik kon so iets gerings dan nou enigsins wees?

Nou ja, laat ons dit liewer nie vra vir diegene wat pynlik oor hulle klere gesteld is nie, want vir hulle is dit inderdaad van uitnemende belang hoeveel nate daar in hulle kleed is en presies waar die nate is. Maar vir die mense is dit ’n saak van ons uitwendige voorkoms in die samelewing wat hierdie puntenerigheid veroorsaak. Ons wil eerstens nie uit die mode wees nie, en tweedens wil ons nie afsteek teen die wat ons omring nie.

Dis redes wat met die spreekwoordelike ydelheid in verband staan. Maar wanneer Johannes dit waardig ag om te vermeld dat Jesus se onderkleed uit een stuk gewewe was, doen hy dit om ’n totaal ander rede as die heersende mode. Hy vermeld self wat die rede is – “sodat die Skrif vervul sou word wat sê: Hulle het my klere onder mekaar verdeel en oor my gewaad het hulle die lot gewerp.” (’n Aanhaling uit Psalm 22: 19).

En dan moet ons nie wonder hoedat Johannes op Psalm 22 gekom het nie. Die hele manier waarop Johannes die lyding van Jesus beskrywe is om telkens aan te wys hoedat die Skrif (Ou Testament) in en deur Christus in vervulling gegaan het. En dan het hulle juis by Christus die unieke verskynsel gevind wat ons vandag nog aan tafel by huisgodsdiens kry as ’n kind ’n psalm opgee om te sing. Ons herken dit sommer regstreeks: “Soos ’n hert in dorre streke” of “God het ek lief” of “Straf tog nie in ongenade” of “Leer my Heer u regte weë.”

Dit doen Jesus ook terwyl Hy nakend aan die kruis hang: Hy gee ’n Psalm op - “My God, my God waarom verlaat U My!” Nou kon almal wat rondom gestaan het wat iets van die Ou Testament geweet het, onmiddellik die eerste woorde van Ps 22 herken. Die Jode dryf die spot daarmee teen hulle heldere beterwete in, maar Johannes gaan doen navorsing. Hy het Ps 22 herken. Hy wil graag sy Meester se profetiese woorde nog tot elke asemteug toe as dit maar enigsins moontlik kon, indrink en verstaan.

En wat ’n ontdekking is dit nie as hy Ps 22 oopslaan nie! Jesus het nie net die eerste sinnetjie nie, maar die hele Psalm deur sy eerste sinnetjie op Homself betrek. Lees maar die Psalm en u sal nie eers ’n skildery nodig hê en selfs geen film of passiespel om Jesus se lyding aan liggaam en siel te verstaan nie. En daar sien Johannes in Ps 22 presies geprofeteer, die detail van Jesus se bokleed en sy onderkleed en wat die soldate daarmee gedoen het. Selfs nog daar aan die kruis in pyn en lyding het Jesus onderrig gegee. Gaan lees Psalm 22. Dat die Seun selfs sy kleed gedra het presies soos sy Vader dit voorgeskryf het. Psalm 22 vers 19 is ’n tipiese Hebreeuse parallelisme.

Die tweede helfte wil ’n nadere verklaring van die eerste helfte gee. En tog is daar ook onderskeid. In hierdie geval 100% letterlik vervul in Christus. Sy bokleed wat nate gehad het, het die vier soldate onder mekaar verdeel. En die onderkleed? - wel die onderkleed het geen nate gehad nie - en dit is volmaakte Goddelike voorsiening sodat hulle oor die onderkleed die lot sou werp soos Psalm 22: 19b verkondig.

Wat wil dit dan tog sê dat Jesus se klere ook nog genoem word by die kruisiging? Watter verband het dit enigsins met die kruis? Watter heilsbetekenis het dit?

Wel die saak begin by die begin. Toe het die mense van die tuin van Eden in so ’n glansryke heerlikheid van geregtigheid en heiligheid geleef dat hulle naaktheid hulle nie kon pla nie. Beeld en gelykenis van God. Toe hulle egter God se gebod weerstreef, was dit hulle eerste gewaarwording. Die Beeld van God in hulle is geskend. Die glans van heerlikheid en geregtigheid is weg. Hulle sien hulle is naak. Geheel ontbloot voor God se heiligheid en geregtigheid.

Dan soek hulle na vyeblare. Klere. In die kleed van onskuldige vyeblare probeer hulle God se toorn ontkom, maar dit werk nie. Nie die kleed van menslike goeddunke nie, maar alleen die kleed wat God verskaf, kan die mens beskerm. Die kleed van plaasvervangende dood. Alleen toegedek in die kleed van die doodsvonnis wat bewys dat die skuldstraf betaal is, bloed gevloei het. ’n Onskuldige dier word van sy kleed gestroop om Adam en Eva te bedek.

By Jakob was dit selfs nader aan die eintlike waarheid. Dit was lank tevore reeds aan Rebekka geopenbaar dat die oudste die jongste sal dien. Dit meen dat die eersgeboorteseën met al die verbondsbeloftes op Jakob moes kom. Maar daar was ’n probleem. Sy vel was glad. As sy vader hom sou ontvang soos wat hy aan homself is, sou hy nie die seën nie, maar volkome vervloeking op die hals haal.

Daar is net een manier. Hy moet in die gestalte van sy eersgebore broer voor sy vader verskyn. Sy eersgebore broer gestroop van alle reg, en hy wat Jakob is toegedek in die kleed van ’n harige bokvliesie, aangetrek in die heerlike geur van sy eersgebore broer. So het hy die beloftes van verbondsgenade in ontvangs kon neem. Ons lees die roepkreet om ’n ware Verlosser.

Dawid is deur God se voorsienigheid in ’n toestand van sware lyding ingedompel. Hy is daardeur as ‘t ware aangedrywe om die woorde van Ps 22 uit te spreek. Maar dit kan kennelik nie alles oor homself gaan nie. Sy lyding gryp vooruit na ’n veel swaarder lyding. Die ware straf op die sonde. Verstaan ons van wie die Psalmdigter praat as hy sê: “Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot oor my gewaad?” Hulle vat my skone kleed van my af weg en eien dit vir hulle toe.

Dawid het beslis nie maar net oor homself geskryf nie as hy sê: “Ek is uitgestort soos water; al my beendere raak los; my hart het soos was geword; dit het gesmelt binne in my ingewande. My krag is verdroog soos ’n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte en U lê my neer in die stof van die dood. Want honde het my omsingel; ’n bende kwaaddoeners het my omring, hulle het my hande en my voete deurgrawe. Al my beendere kan ek tel; hulle kyk, hulle sien met welgevalle op my neer.” Dit is ’n helder Ou Testamentiese skildery van ons Here Jesus in sy lyding aan die kruis.

Dit geld ook van sy messiaanse kleed. Die kleed van sy salwing. Daardie kleed van volkome geregtigheid en heiligheid wat die onbenullige vrou wat aan bloedvloeïng gely het by geleentheid aangeraak het. Dit is van Jesus afgeneem. Ontbloot en nie toegedek nie sal Hy die volle wraakstraf van God moet dra. Waar Hy eens in die tuin van Eden moes soek na die mens en vra: “Waar is jy?” het Jesus later uit die tuin van Getsémane gestap en geantwoord: Dit is Ek, neem My. En waar eens in die tuin van Eden God vir die mense klere aangetrek het van dierevelle om hulle teen sy toorn te beskerm, het Hy sy eniggebore Seun op Gólgota juis van sy kleed ontneem om die toorn in sy volle felheid te smaak.

Nou mag ons die boodskap hoor dat ons ons ou mens moet aflê en ons met die nuwe mens - met Christus - moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid. Toegedek in die heiligheid en heerlikheid van Christus, die eersgeborene uit die dood, ons eersgebore Broer, kan ons die genade van God se verbond en die erfenis van die nuwe Jerusalem, die nuwe aarde, die boom van die lewe, die salige gemeenskap met God smaak.

En eens mag almal wat aan Hom behoort met wit klere oorklee word, wat gewas is in sy bloed (Openb 3:5, 7: 9, 13). Dan sal aan die Bruid van die Lam gegee word om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges (Openb 19:8). Want Hy is daarvan ontklee en dit sal aan haar gegee word, ware geregtigheid en heiligheid, die nuwe mens wat na die beeld en die gelykenis van God geskape is.

Hoe is ons verwagting dan nou? Sê klere iets, die klere wat ek aantrek? Moet dit noodwendig vuil, verslons of “cool” wees? Ek lees in Sagaria 3:3 “En Josua (die hoëpriester) was met vuil klere bekleed terwyl hy voor die Engel van die HERE staan. Daarop het die Engel van die HERE aangehef en aan die wat voor Hom staan beveel: Neem die vuil klere van hom weg. Toe sê Hy vir hom: Kyk, Ek het jou skuld van jou weggeneem, en Ek beklee jou met feesklere....”.

Sê ons kleredrag ook iets of is dit nou maar net een van daardie dinge van liewer dood as uit die mode? Die Boodskap van die Bybel is dat klere gegee is om te sê dat ons naakte menslike heerlikheid - selfs so wonderbaar as wat Psalm 139 dit verkondig - nie aanvaarbaar is voor God se aangesig nie. Ons kleredrag is ons profesie waarmee ons verkondig dat ons ons skoonheid nie in onsself ontdek nie, maar in die heerlikheid van Christus. Dat ons met Christus oorklee wil wees en lewe.

Ons kleredrag is die verkondiging van Paasfees, dit is die verlange na die bruilofsfees van die Lam. Beteken dit dan nou dat ons onsself met goud en tooisels, met tabberds en juwele moet behang, “studs” en ringe in elke ondenkbare liggaamsdeel? Juis nie, “maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ’n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God” (1 Petr 3:3-4).