3 bladsye.

John Knox die Galeislaaf

Dit is ’n koue winternag in Januarie 1548 in die stad Nantes in Suidwes-Frankryk. Op die Loirrivier wat langs hierdie stad vloei, lê die reuse galei-skip, die Nostre Dame. Dis ’n slaweskip. Meer as ’n honderd bandiete is elkeen aan sy linkervoet vasgeketting op sy sitplek agter ’n roeispaan. Twee of soms meer sulke slawe moet so ’n roeispaan trek as die skip op die water beweeg. Gewoonlik is daar, soos op die Nostre Dame, sowat twintig roeispane aan elke kant van die skip. Op die ritme van ’n groot trom op die agterstewe van die skip moet al die roeiers gelyk hulle spane trek. In die middel, tussen die twee rye roeiers, is daar ’n loopplatform waar die slawedrywers met lang swepe die manne op hulle kaal rûe slaan om hulle te dwing om die roeispane te trek. Onwilligheid is nie geduld nie.

Balnaves se Geloofsbelydenis🔗

Nou is dit winter op die Loirrivier. Die Nostre Dame gaan waarskynlik ’n week of meer by Nantes vertoef om voorrade in te neem en op ’n nuwe opdrag te wag. Naby die lantern wat aan die middelste mas hang, sit-lê een van die galeislawe en - kan ’n mens dit glo? - hy is die latere groot kerk-hervormer John Knox van Skotland. Hy is besig om op ’n stapeltjie vasgebinde papiere aantekeninge te maak. Op een of ander manier het hy ’n veerpen en ’n botteltjie ink in die hande gekry. Die papiere, ’n manuskrip van ’n klein boekie, het hy alreeds weke vantevore in die hawestad Rouen by ’n smokkelaar gekry. Wat was hierdie geheimsinnige papiere? O, wat ’n aangrypende stukkie kerkgeskiedenis! Dit is ’n gereformeerde geloofsbelydenis, die Confession of Balnaves . Balnaves, ’n Skotse protestant, was toe ’n gevangene in die kasteel van Rouen.

Diep in die nagtelike ure, as die ander gevangenes probeer slaap en hier en daar ’n gekreun of ’n gefluister op die galeiskip gehoor word, is John Knox besig om Balnaves se Geloofsbelydenis in kort hoofstukke te deel en sy eie aantekeninge by te voeg om die hele boekie persklaar te maak. So gou moontlik moet hierdie stuk in Skotland kom om daar vir die gereformeerde gemeente van St. Andrews gedruk te word. Die tyd raak min. Gelukkig ken Knox ’n man wat dit in die geheim sal pos - nogal een van die matrose wat in die geheim ’n protestant is. Saam met die Geloofsbelydenis gaan John Knox (hy noem homself “die geboeide dienskneg van Jesus Christus”) se brief aan die gemeente van die kasteel van St. Andrews. Hy skryf dit “terwyl ek in ysters lê in baie seer liggaamlike pyne op ’n galeiskip met die naam van Nostre Dame”.

Hoe het Knox ’n galeislaaf geword?🔗

Hier het ons een van die mees dramatiese stukke kerkgeskiedenis in die 16de eeuse Reformasie. In 1546 was Skotland steeds ’n Roomse land. Kerkleiers wat gereformeerd geword het, is meedoënloos vervolg. Baie, soos die prediker Patrick Hamilton, het die marteldood op ’n brandstapel gesterf. In hierdie tyd het John Knox, ’n opgeleide Roomse priester, onder invloed van Calvyn se 1539-uitgawe van die Institusie, openlik die gereformeerde leer van die Reformasie aanvaar. Saam met George Wishart, ’n dinamiese prediker van die Evangelie, het hy in die ooste van die land opgetree. Wishart is toe deur kardinaal Beaton van die stad St. Andrews gearresteer en op 1 Maart 1546 op ’n brandstapel laat verbrand. Hierop het ’n groep manne van die kasteel op hulle beurt weer kardinaal Beaton uit wraak op Wishart vermoor.

’n Openlike godsdiensoorlog het ontbrand. Protestante, waaronder John Knox, het hulleself in die stad en kasteel van St. Andrews verskans. Daar is toe die eerste gereformeerde gemeente gevorm, die sogenaamde “Congregation of St. Andrews”. Knox is deur hulle as predikant beroep. Hy het begin om hulle dag vir dag uit die Heilige Skrif en uit die Institusie van Calvyn te onderrig en vir hulle te preek.

John Knox se prediking in St. Andrews was buitengewoon geseënd. Sondag na Sondag is die Evangelie in die groot kerkgebou gepreek. Die Roomse altaar is verwyder en die preekstoel is op die regte plek geplaas. Die mense het na die eredienste gestroom. Die hele soldategarnisoen en die meeste van die stadsbewoners het die Roomse geloof afgesweer. Toe die eerste Heilige Nagmaal volgens die Bybelse beginsels gevier is, was dit duidelik: Die Reformasie het met mag in Skotland deurgebreek!

Baie gou was Satan in sy woede opgesweep. Geweld was die antwoord om die Gereformeerde Kerk van St. Andrews te verwoes.

’n Franse mag beleër St. Andrews🔗

Die owerhede van die Roomse kerk het Frankryk se hulp ingeroep. Die gebeurtenisse wat na Knox se prediking van ’n paar maande gevolg het, was skokkend. Einde Junie 1547 sien die mense van St. Andrews ’n verskriklike ding op die see: ’n Franse oorlogsvloot onder bevel van generaal Leo Strozzi. Skielik het alles vir die gemeente donker geword. Honderde swaar gewapende soldate word afgelaai en hulle trek ’n ring om die stad. ’n Maandlange beleg volg en geen kos vir die stad word toegelaat nie. Sommige kry dit reg om te vlug, maar Knox bly by sy mense en versterk hulle daagliks met die Woord en gebede.

Op 31 Julie 1547 het die breekpunt vir die gemeente gekom. Om te oorleef, moes hulle oorgee. Hulle wat die eed van getrouheid aan die Roomse kerk onderteken het, is vrygelaat, maar die ander, die groot meerderheid? Hulle is as gevangenes na Frankryk weggevoer. O, hoe wreed - so staan dit in die historiese dokument: “Op versoek (Engels: solicitation) van die pous en die Skotse biskoppe, is hulle as oorlogsgevangenes (prisoners of war) verklaar”. Die meerderheid van hierdie Skotse gevangenes is toe onbepaald in tronke van Rouen, Cherburg, Brest en Mont St. Michel aangehou. Knox en ’n klein groep is hardhandig na galeiskepe gestuur. Daar is hulle met kettings aan hulle linkervoete vasgebind. So sou John Knox, die Skotse hervormer, vir negentien maande ’n slaaf op die galeiskip Nostre Dame wees. Vir 570 dae lank was hy ’n “bound servant of Jesus Christ in irons”. Altyd, dag en nag, behalwe enkele tydjies onder toesig van ’n wag, ’n draai by die toilet; altyd maar vas op sy sitplek; altyd maar weer met tye vooroorbuig en die roeispaan onder maat van die trom en onder sweepslae na agter trek. Altyd maar liggaamlike pyn.

Wie kan dan nog glo?🔗

In sulke bange dae en donker nagte was God se Woord vir Knox die enigste toevlug in sy lewe. Saam met medeslawe het hulle die tyd uitgekoop om vir mekaar stukke uit die Bybel op te sê. Knox se geliefde psalm was Psalm 6. Hy het dit uit sy hoof geken en later ’n kommentaar daaroor geskryf. Die beginwoorde is dieselfde as die ander lydenspsalm, naamlik Psalm 38: “O HERE, straf my nie in u toorn nie, en kasty my nie in u grimmigheid nie”. As hy maar net elke dag, elke uur die krag kan kry om in die geloof staande te bly!

En hy het staande gebly, tot op die laaste van sy gevangenskap, toe hy weer losgelaat is en na Engeland kon uitwyk. Dáár kon hy weer met vrug op verskillende plekke die Evangelie verkondig totdat hy weereens so wreed deur die Roomse koningin, Bloedige Maria, vervolg is en in 1552 na Genève moes uitwyk.

“By daardie torings gaan ek weer preek!”🔗

Op ’n keer moes die Nostre Dame weer dringend na die waters van die Noordsee vaar. Vir baie dae en nagte was hulle op die oop see. Dit was bitter swaar. Soms moes hulle vir ure lank teen die wind in vaar. Die drywers met die swepe het hulle geen rus gegee nie. John Knox se kragte het begin ingee. Hy het byna beswyk. Sy roeimaats het die drywer gesmeek om hom tog net ’n bietjie te laat rus. In sy swakheid het hy skuins agteroor gelê - half bewusteloos.

Toe gebeur dit. Een van Knox se vriende ruk aan sy skouer om hom wakker te skud: “John, kyk daar, jy moet dit sien... die torings van St. Andrews!... daar waar ons voor verlede jaar gevang is”. Meteens kom daar lewe in Knox se oë. Hy draai sy kop na die kus. Hy lig sy regterhand op en met sy lang, bewende voorvinger wys hy na St. Andrews se torings. “Ja, ja”, sê hy hardop, “daar’s hulle ... die torings van St Andrews. Daar het God vir die eerste keer my mond geopen om te preek ... en ek weet, Hy sal my weer daar sy Woord laat preek ... op Sy tyd”.

Besonder merkwaardig: hierdie feit van John Knox se geloof is opgeteken, nog lank voordat hy werklik meer as tien jaar later in 1560 in St. Andrews gepreek het, soos wat hy gesê het, “in the brunt of the battle”.

“Laat ons dame self swem om haar te red!”🔗

John Knox was ’n humoris. Humor is ’n gawe van God en dit help ’n mens soms in die grootste verknorsing. So het Knox se humor die hele klomp galeislawe eenmaal laat uitbars van die lag sodat die wagte magteloos was om iets te doen. Dit het so gebeur:

Op een van die groot riviere (waarskynlik die Loir) by ’n hawe, het die Roomses vir die soveelste keer een van hulle bygelowige godsdienstige rituele vir die gevangenes gereël. Die priester kom dan met ’n geraamde skildery van moeder Maria wat deur elkeen onder dwang gesoen moet word. Die meeste van die manne weier om dit te doen. Dan word die skildery met geweld teen hulle mond gedruk en die priester prewel ’n klomp onverstaanbare Latynse woorde oor en oor. Toe die skildery van die maagd Maria by Knox kom, vat hy dit plegtig met altwee sy hande. Die priester is doodgelukkig met so ’n “eerbiedwaardige” hantering van “our Lady”. Maar toe kom die vreeslike skok: Knox vat die portret met sy raam en laat dit soos ’n “frisbie” oor die water sweef. Toe sê hy in Engels: “Let our Lady save herself; she’s light enough, let her swim”. Die offisiere was woedend, maar die spontane lagbui het hulle magteloos gemaak en van hulle het ook begin lag. Met ’n klein roeibootjie is die skildery gered. Die priester was rasend kwaad. Tog was Knox die stille held.

“Gedenk julle voorgangers” (Hebreërs 13:7)🔗

Wie is ons? Ja, wie is ons dat ons nog so ongehinderd na die prediking van die Evangelie kan luister, terwyl die geskiedenis vol van vervolging en martelaarskap is? So bly die hervormers van die 16de eeu steeds vir ons “voorgangers wat die Woord van God verkondig het”, maar ook bitter swaar onder vervolging gely het

Luther het in die Wartburgkasteel gely; Calvyn moes vir sy lewe uit Parys vlug; Zwingli het op die slagveld gesneuwel; Knox, die hervormer van Skotland, het ’n galeislaaf geword; Cranmer, die Engelse hervormer, is in Oxford verbrand. Honderde, ja duisendes, het ter wille van hulle geloof in Jesus Christus die marteldood gesterf soos in Bartholomeusnag op 24 Augustus 1572.

“Die bloed van die martelare is die saad van die kerk”, het die kerkvader Tertullianus geskryf. Karl Barth het ’n korreksie op hierdie uitspraak aangebring: “Nee”, het hy gesê “die bloed van Jesus Christus is die saad van die kerk”.