2 bladsye.

John Knox en die Beeldestorm van Perth 1559

’n Priester begin om die Roomse mis te bedien. ’n Opstandige seun maak hardop beswaar. Die priester stap na die seun en gee hom ’n klap. Die seun kry ’n stuk baksteen in die hande en gooi dit na die priester se kop. Die priester koes en die baksteen tref ’n pragtige Maria-beeld. Hierdie beeld kantel en val in stukke op die vloer. Die groot beeldestorm van Perth bars in Mei 1559 los! Die gewone volksmassa se emosie teen die Roomse kerk het breekpunt bereik. Dit was in die gebou van die ‘heilige’ Johannes die Doper, die St John’s Church wat vandag nog in al sy glorie naby die Tayrivier staan.

’n Vandalistiese optog🔗

Niks kon die gewone volksmassa meer stuit nie. Alles word stukkend geslaan. Al die beelde van ‘heiliges’ en die beeld van Jesus aan die kruis word op die vloer gegooi. Die kleurvolle glasvensters met Bybelse figure word uitgeslaan. Kerse word teen die mure geslinger. Die Roomse altaar, plek van die afgodiese mis, word uitmekaar gekap.

Daarna, toe hulle klaar hulle verwoestingswerk in die St Johannes Kirk (die Skotse woord vir kerk) gedoen het, word die twee Roomse kloosters ‘Grey and Black Friars’ en ‘Charter House’ bestorm. Ook hier word al die beelde en skilderye van ‘heiliges’ vernietig. Binne ’n dag was die inhoud van al hierdie Roomse geboue puinhope. Die kerke en kapelle in Perth het ’n skouspel geword!

Die Roomse kerk het dadelik uitgeroep: ‘Hy, John Knox, het dit alles gedoen!’ Die regentes koninginmoeder Maria Lorraine (haar dogter, Maria, het toe nog nie die troon bestyg nie) sê: ‘Vang hom! Hy het die volk opgesweep; hy moet dadelik gekeer word!’

Geweld het altyd ’n teelaarde. Knox se prediking het hoogstens ’n teelaarde vir reformasie in die kerk geskep. Nooit het hy geweld gepreek nie. Oor die emosie van die beeldebestormers het hy geen kontrole gehad nie en dit ook glad nie goedgekeur nie. Die godsdienstige klimaat wat die Roomse kerk vir dekades lank geskep het (brandstapels en tronke vir die protestante), het om ’n daadwerklike verandering geroep. Dit het op ’n kerklike leier gewag en so ’n leier was die prediker John Knox.

Die kerklike toestand van Skotland vóór die Reformasie in 1560🔗

Ons moet onthou dat teen 1560, toe Skotland nog ʼn Roomse land was, die Reformasie in ander lande soos Engeland, Duitsland, Switserland, Frankryk en ander Europese lande lank vantevore reeds deurgebreek het. Skotland het agtergebly en daarom het die pous juis dáár in alle felheid sy mag gebruik. Skotland met sy klein bevolking van ongeveer ’n half-miljoen, moes tussen twee groot politieke magte - Engeland en Frankryk - probeer oorleef. Frankryk het selfs troepe gestuur om met geweld die Roomse kerk te handhaaf. In 1547 het hulle van die protestante in St Andrews galeislawe gemaak.

Hoe dit ook al sy, in Mei 1559 het die hervormer John Knox, na ’n aantal jare saam met Calvyn in Genève, in die hawestad Leith digby Edinburg geland. Eintlik was hy nog ‘voëlvry’ nadat die Skotse owerheid hom ’n paar jaar tevore gevonnis het. Hy het eenvoudig onverskrokke voet aan wal gesit. Soos hyself gesê het: ‘in the brunt of the battle’. Op politieke en godsdienstige gebied was die hele Skotland ’n smeulende vuur wat enige oomblik in ligte laaie kon uitbreek en soos ’n veldbrand kon versprei.

‘The thundering Scot’🔗

Die nuus van Knox se aankoms in Skotland in 1559 het soos ’n skokgolf deur die land gegaan. ʼn Vergadering van Roomse biskoppe en priesters in die Greyfriars-kerk in Edinburg het in paniek verdaag. Hulle was ‘panic-struck’, sê een van die beste geskiedskrywers. Spoedig is die nuus aan die koninginmoeder meegedeel en dadelik is John Knox vir die tweede keer as ’n ‘out-law’ (balling) verklaar. Die swaard van die dood het oor sy hoof gehang. Hy het egter nie gras onder sy voete laat groei nie en na die ooste van Skotland vertrek - die gebied van sy eerste prediking, twaalf jaar vantevore.

In Perth het die protestante feitlik die stad oorgeneem en op Sondag, 31 Mei 1559, bestyg hy die preekstoel van die St John’s kerk. ’n Skare het saamgestroom. Vir die eerste keer na dekades was die kerk weer vol. Die ‘thundering Scot’, so het die mense van Knox gepraat, gaan preek!

Wat ’n belewenis was dit om John Knox te hoor preek. Van al die hervormers was hy seker in sy optrede die mees dinamiese. Sy voordrag was vurig en so oortuigend dat sy hoorders gewoonlik vasgenael op hulle sitplekke bly sit het. Andrew Melville, die latere kerkleier beskryf Knox se pakkende voordrag. Dis op hierdie man wat die mense van Perth gewag het. Hy het die Roomse beeldediens en die afgodery van die mis in die lig van God se Woord ontmasker.

Ná die diens het die groot moeilikheid begin. Knox het alreeds vertrek, maar ’n groep van die kerkgangers het nog in die kerk rondgedrentel. Sy beste biograaf, Thomas McCrie sê: ‘A few idle persons only loitered in the church’. Skielik, uit die bloute, daag ’n ‘Greyfriars’-priester met sy kerklike toga en ’n gevolg van ampsdraers op met allerhande liturgiese gereedskap, onder andere wierook en kerse. Hy pak ’n klomp kleinerige beelde op die altaar uit en begin die Roomse mis bedien. ’n Seun roep kliphard: ‘Stop your idolatry!’ (‘Staak jou afgodery!’) En die priester? Hy mompel ‘n paar woorde (sommige sê hy het gevloek), sak op die seun toe en gee hom ’n taai klap! Hierdie seun het egter wraak gesweer. Hierop volg die gebeure aan die begin gemeld.

Hierna alleen die Woord🔗

Genadiglik het die beeldestorm van Perth nie verder in Skotland posgevat nie. Die hervormers was nie manne van revolusie nie. Alleen die prediking van die Woord moes die reformasie bring - alleen die ‘plain Word of God’ soos Knox gesê het. Dit was nie klippe wat na priesters en beelde gegooi is wat die kerke weer herstel het nie, maar die voortdurende, konstruktiewe uitlê en proklamasie van die Heilige Skrif. John Knox se reekse preke oor die boeke Daniël in St Andrews en Haggai in Edinburg het weer die gevalle mure van Jerusalem opgebou. John Knox was bang vir geweld en het selfs vir sy lewe gevlug, maar op die preekstoel was hy onbevrees om die evangelie aan alle mense te verkondig. Ja, vir sy prediking het selfs konings gesidder. Die regent Morton het in 1572, toe hy as koning waargeneem het, tydens Knox se begrafnis met sy vinger na die oop graf gewys en gesê: ‘There lies he who never feared the face of man’.