Bron: Kerk en Woord, 1994. 3 bladsye.

Jona 1 - God Span al Sy Diensknegte in om Sy Volk te laat Terugkeer

Lees Jona 1

Walvis

In sy Sola Scriptura II wys wyle dr. C van der Waal daarop dat die boek Jona nooit bedoel was om Israel ‘sendingbewus’ te maak nie.

Dit gaan hier nie voor alles oor die boodskap wat Jona aan Ninevé moes bring nie. Maar met die verhaal van Jona en Ninevé wou God iets vir sy eie verbondsvolk sê. Daarmee roep Hy hulle tot bekering, maak Hy hulle skaam dat hulle – sy volk – nie meer van Sy genade geleef het nie.

Jona het waarskynlik geleef in die tyd dat koning Jerobeam II oor die Tien Stammeryk regeer het. Dit was so ongeveer die jare 783 tot 743 v.C.

Jona was dus ’n tydgenoot van Amos en Hosea. 2 Kon 14:23-29 vertel hoe Jona, die seun van Amittai, ’n profeet uit Gat-Hefer, aan koning Jerobeam II ’n pragtige boodskap gebring het: Hy sou sy ryksgebied aansienlik uitbrei, verowerde grondgebied van Israel van vyande terugwen. Dit bewys dat Jona en sy verhaal nie ’n allegorie of gelykenis is nie.

Amos en Hosea vertel egter van Israel se gruwelike afval – juis in dié tyd: kalwerdiens in Dan en Betel, ja nog erger: ook Baäldiens.

Aan die een kant het hulle vir die HERE gesê: ‘My God, ons Israel, ken U.’ (Hos 8:2) Maar Hosea sê: Vele het Hom glad nie geken nie. (Hos 4) Hulle het ten gronde gegaan weens hul gebrek aan die ken van die lewende God – met fatale gevolge in die alledaagse lewe: Moord en doodslag, leuens en bedrog, owerspel en diefstal ens. ens. was aan die orde van die dag.

Oordeel🔗

Amos vertel hoe die rykes die armes onder God se volk uitgebuit en verdruk het. En Jona het geweet: Israel se wegvoering deur Assirië kon nie meer ver wees nie. Dan sou hulle nie alleen die land totaal kwytraak nie, maar ook hulle volksbestaan, ja ook hulle ewige heil.

Juis daarteen wou God hulle met Jona se gang na Ninevé waarsku.

Hulle moes sien watter verskriklike oordeel vir hulle voor die deur gestaan het soos dit ook vir Ninevé voor die deur gestaan het.

Maar hulle moes ook ’n oog kry daarvoor dat die HERE ’n genadige en barmhartige God is, lankmoedig en groot van goedertierenheid, ‘Een wat berou het oor die onheil’, as hulle hul betyds bekeer.

Hy wil nie hê dat sondaars moet sterwe in hulle sonde nie, maar dat hulle hul sal bekeer en lewe. Daarom stel Hy al sy diensknegte in die werk om onbekeerlikes betyds te bereik met sy waarskuwing om hulle te bekeer. Hy span die volle geweld van sy almag in. Selfs al is daar by Israel net soveel boosheid as wat daar destyds in Ninevé was.

Leeu en prooi

Ninevé se boosheid het opgestyg voor God se aangesig. (1:2). Nahum sê dat Ninevé en die volk van Assur soos ’n leeu vir sy kleintjies geroof het, dat hy alles wat voorkom vir sy leeuwyfies wurg.

Assirië was ’n gewelddadige en oral-gevreesde volk, ’n bloedstad. Daarom het Hy Jona hulle gestuur om hulle te laat weet: Nog ’n skrale 40 dae, dan sal Hy, die Almagtige God, Ninevé verpletter as hulle hul nie bekeer nie.

Vlug🔗

As Jona dié opdrag ontvang, klim hy egter op ’n skip wat heeltemal die teenoorgestelde rigting van Ninevé gaan. Hy vlug na Tarsis. Hy vrees dat Ninevé hulle dalk betyds kon bekeer, dat God die gevreesde stad sou spaar. Daardie risiko wou Jona nie loop nie. Ninevé moes liewer sterf om Israel se onthalwe. In Joppe kry hy ’n skip voor anker. Hy betaal die vrag daarvan en kruip daarin weg. En dan word dit boeiend: God gebruik letterlik elke moontlike skepsel om Jona in Ninevé te bring om sy opdrag te vervul. Dit moes Israel sien. Hulle moes besef dat God geen steen onaangeroerd sou laat om hulle te waarsku dat hulle hul nog betyds kon bekeer nie.

God se Antwoord🔗

Die eerste dienskneg wat God inspan, is die wind. ‘Maar die HERE het ’n sterk wind op die see gewerp...’ Soos ’n vangtou na ’n steeks perd uitgeskiet word, slinger God die wind op die skip en Jona af. Jona het in die onderste deel van die skip gaan lê en was vas aan die slaap. Sou die slaap ook deur God gestuur gewees het – om Jona des te feller te ontbloot?

Die HERE het die storm al hewiger laat woed. En die bemanning het geveg vir hulle lewe. Vir hulle ’n snaakse wind, ’n onverklaarbare storm in die somertyd. ’n Gewisse dood in die see het hulle bedreig. Hulle gooi die vrag alles in die see en roep na hulle gode om hulp.

Dan begin hulle soek na die skuldige. En dan val die lot op Jona.

Ja, dan gebruik God ook daardie middel in sy almag om die hardgebakte profeet na die oppervlak te dwing. Hulle vind Jona aan die slaap en hulle bring hom aan dek. Ironies, maar die heidense kaptein moet Jona beveel om tot sy God te roep. God span selfs die heidense kaptein in om Jona te beskaam. En so bring die HERE Jona aan die man.

Jona erken dat dit onmoontlik is om te vlug vir die Almagtige God.

Dan versoek hy: Gooi my maar oorboord.

Ook dit was nog verset teen God. Maar as Jona in die seewater verdwyn, is die matrose ontslae van die storm: die wind gaan lê en die lug trek oop. Net soos die onverklaarbare storm stuur God ook die onverklaarbare kalmte.

En dan laat die HERE by daardie heidene sien wat Sy almagtige werk tot gevolg het. Die heidene het besef dat wat die snaakse Jona gesê het, die waarheid is: Die storm was daar ter wille van hom. Dit is sy God wat die orkaanwind gestuur het teen hulle skip. En dan erken hulle dat sy God werklik die God is van die hemel wat die land en die see beheers. Sy bevel is vir die winde wet (Ps. 104). Hulle buig diep voor die HERE.

Heidene – maar hulle weet om die God van hemel en aarde te erken.

water

Vandag🔗

Saam met die profeet Jona moes Israel tot diepe skaamte kom: Heidene het die Almag van hulle God erken. Hulleself moes daardeur weet: Ons God laat letter­lik geen steen onaangeroerd as Hy sy doel met ’n hardnekkige teësprekende volk wil bereik nie.

Die HERE kan ook in ons tyd ongedagte diensknegte van hom inspan om sy bood­skap na ’n afvallige kerk te laat deurdring.

Die kerke het nie meer die bevoorregte godsdiensvryheid van voor die verkiesing nie.

Sou God in sy almag dalk so ’n regering as ’n dienskneg gebruik om ons te laat besef: Hy stel alles in die werk om ons te waarsku om betyds tot bekering te kom en ons amp om almal profete te wees ook hier in Afrika uit te leef. Want elke Sondag hoor ons die Evangelie.

En ons beleef dit: Meer as Jona is hier: ons Here Jesus Christus.

Hy het dit Pinkster gemaak en so van alle gewone kerklede profete gemaak. En vir wit en swart en bruin in hierdie land wil Hy laat hoor: God het nie behae in die dood van sondaars nie, maar in dat hul bekering en lewe.

Ons het die profetiese Woord wat baie vas is en wat juis in hierdie donker tyd skyn as lig in die duister. Maar dan moet ons by dié lig lewe en dit bring met alle krag, en dat ander in hierdie land betyds daarby gaan lewe.