Bron: Kerk en Woord, 1995. 2 bladsye.

Josua 5:13-15 - Waarom Josua en Israel Kanaän Moes Verower

Lees Josua 5:13-15

Jerigo, die sterkste vesting in die hele Kanaän, was van groot strategiese waarde, die poort na die hele beloofde land! Wie hierdie stad het, het feitlik ook die hele land!

Maar die verowering van Jerigo was van nog groter betekenis vir God se heilsgeskiedenis met sy volk! Met ’n eed het die HERE dit aan Abraham, Isak en Jakob en hulle nageslagte beloof (Gen 15). Kanaän was die erfenis wat God vir sy volk gereed gehou het.

By Jerigo sou die HERE duidelik maak langs watter weg Israel in besit sou kom van die beloofde erfland: Nie deur eie krag of krygslis of wapengeweld nie, maar deurdat die HERE dit uit vrye welbehae aan hulle skenk.

Die HERE was toe al ’n geruime tyd besig om Kanaän aan Israel te skenk: Sodom en Gomorra, Adama en Seboim het Hy toe al verwoes.

Maar dit was nog nie die tyd op God se uurwerk vir die volkome uitroeiing van die Kanaäniete nie. Die ongeregtigheid van die Amoriete was nog nie vol, soos Gen. 15 sê nie.

As Josua en die volk deur die Jordaan is, dan het die uur geslaan. Dan gaan God die hele Kanaän, met al hulle gruwelike goddeloosheid, met die banvloek tref.

In hierdie goddelike oordeel span die HERE Israel in, soos Deut 7:2 duidelik sê. Israel mog hulle glad nie laat besmet deur die smerige Kanaänitisme nie. Onophoudelik, soos ’n alarmklok, het God dit by Sinai laat klink: “Wees heilig, want Ek is heilig.”

Israel moes egter die belydenis leer van Ps 44:2: “Hul swaard het hul dit nie laat erwe, hul arm geen seëpraal verwerwe. Dit was u hand, u arm, die lig wat afglans van u aangesig, wat hul met guns en seën bestraal.”

Hoe God egter sy beloftes sou vervul, verneem Josua daar by Jerigo in die eensaamheid van die natuur: Meteens staan daar ’n man voor hom met ’n uitgetrekte swaard. Hy is gereed vir die stryd.

Op Josua se vraag of Hy by hulle of by hul vyande behoort, kom die verrassende antwoord: “Nee, maar Ek is die leërowerste van die HERE”.

Josua ontmoet daar die Engel van die HERE.

Dit is Hy wat met Sy leërmagte die Kanaäniete sou vernietig, wat dit ook vir Israel teen Bileam opgeneem het. Dieselfde God wat Moses by die doringbos verseker het dat Hy die een is wat sy volk uit Egipte sal verlos, verseker hier ook vir Josua dat Hy die een is wat sy volk die erfland sal binnelei. Daar onderkant die mure van Jerigo staan die Christus, God se sterke Held. Hom stuur God om Josua en die volk voor te gaan.

Josua kon weet: Jerigo sou geen verweer kon hê nie. Dit is immers nie Josua en Israel se stryd, waarin Hy hulle te hulp snel nie. Nee, dit is God se stryd wat by Jerigo gestry word om sy heilswerk voort te sit, om sy beloftes te vervul. Die HERE het opgestaan tot die stryd vanweë sy eie saak.

Daarby sê die Man met die ontblote swaard: “Ek het nou gekom.”

Dit is die moment waarop Israel Kanaän binnegelei moet word. Pas besny, pas aan die Pasga met die HERE, pas opnuut in die verbond bevestig, is dit die aangewese tyd dat die HERE vir hulle die erfenis in hande gee, maar alles vanweë die werk van die HERE alleen! Ek het nou gekom!

Josua begryp dat Hy met ’n Boodskapper van God te doen het, en eer Hom met sy gesig op die grond. En dan sy nederige vraag: “Wat wil my HERE aan sy dienskneg sê?”

Die antwoord is net so verrassend soos die vorige: “Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waarop jy staan is heilig.”

Die HERE gee dus die erfland aan Israel, nie as ’n land besmet met al die vuilheid van die Kanaäniete nie, maar as ’n rein land as ’n geheiligde land: Die inwoners sou almal gedood en die stad verbrand word. Slegs die metaal wat daarin was, moes gesmelt en deur vuur geheilig en vir die tent van samekoms gehou word. Josua en sy volk kon op geheiligde erf die HERE dien. By voorbaat moes hy dus sy skoene van sy voete aftrek.

Sedert Josua het God sy heilswerk voortgesit deur altyd weer op die keerpunte van die heilsgeskiedenis tot sy volk te kom. Na die sondeval het Hy gekom na Adam en Eva - die belofte van vyandskap.

So het Hy gekom na die sondvloed met sy boog in die wolke. So het Hy gekom na Abraham en sulke heerlike dinge aan Hom en sy nageslag belowe. En so was dit ook by Isak en Jakob. So was dit met Dawid en ook in die tyd van die profete.

Maar in die volheid van die tyd het Hy gekom in sy Seun wat in Betlehem gebore is, en wat in die vlees gely en gesterf het vir ons skuld.

En op Pinksterdag het Hy gekom om sy kerk te vervul met sy Gees.

En so sal Hy weer kom op die laaste dag - om dan al sy beloftes te vervul. Maar totdat Hy terugkom op die laaste dag, en ons die ewige erfenis binnelei, is Hy by ons met sy Gees en sy woord. Daarin roep Hy sy kerk om hier op aarde die goeie stryd te stry, maar gee Hy ons ook die versekering vir dié stryd: “Kyk, Ek het nou gekom”. Heb. 4 leer ons dat Hy die Een is wat ons in die rus sal inlei.

Maar dan moet ons nie ons hart verhard en deur ongehoorsaamheid die erfenis verbeur, soos Israel destyds nie. Vandag as ons sy stem hoor uit die Woord, laat ons in gehoorsaamheid ingaan in die erfenis.

Ons moet glo dat Hy die vloek wat ons oor onsself en die hele aarde gebring het, in beginsel weggeneem het. Hy leef. En Hy het opgevaar en sy Gees uitgestort sodat Hy Homself en al sy verlostes en ook die aarde aan sy Vader kan wy.

Wie glo in Christus en sy heilswerk, is nou reeds God se kinders. Hulle trek hulle skoene van hulle voete af. Hulle gebruik die aarde en stel dit in diens van die Here. Want dieselfde aarde geheilig deur Christus se offer, gaan Hy skoonbrand, om ewig saam met die nuwe Hemel ons erfenis te wees!