Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Jou naaste soos jouself

In die gesprekke en debatte van ons tyd word die gebod van naasteliefde dikwels bygehaal. Mense moet nader aan mekaar beweeg, word gesê, want die Bybel eis mos dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself.

Dat die eis om naasteliefde soveel aandag kry, is rede "vir dankbaarheid. Daar is egter ook rede vir besorgdheid, veral omdat dit blyk dat die eis om naasteliefde dikwels uit verband geruk word, en op 'n manier gebruik word wat nie met die oorspronklike bedoeling daarvan klop nie.

Binne konteks🔗

In Matteus 22 en in Markus 12 lees ons dat Jesus die liefdesgebod gegee het as antwoord op die Fariseërvraag: "Meester, wat is die groot gebod van die wet?" Agter hulle vraag was daar heelwat bybedoelings.

Die Fariseërs was immers bekend vir hulle wetsverknoeiing. Hulle het die wet, wat God as 'n eenheid gegee het, gaan versplinter in afsonderlike afdelings, en dié toe in volgorde van belangrikheid gerangskik. Hulle het van die Sadduseërs verskil oor watter afdeling van die wet die belangrikste is, en by hierdie geskil wou hulle Jesus intrek. Vandaar hulle vraag na die belangrikste gebod.

Omdat Jesus die listigheid van hulle harte geken het, het Hy in sy antwoord op hulle vraag die hele wet saamgevat in die liefdesgebod; "Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met jou hele krag. Dit is die eerste en die groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan, jy moet jou naaste liefhê soos jouself".

Jesus stel dit dus baie duidelik dat die twee hoofafdelings van die wet — soos in die liefdesgebod gestel — aan mekaar gelykstaan. Dit sê Hy nie sonder rede nie, want daarmee kniehalter Hy elke poging van die mens om die wet in 'n prioriteitslys te probeer indruk. Die afdelings van die wet kan nie van mekaar losgemaak word nie:

  • Ons kan nie net God wil liefhê en naasteliefde verwerp nie. Dit is wetsverknoeiing om in kwaaivriendskap, familietwis en rassehaat te lewe en dan te sê: "Ag wat, die belangrikste is dat ek God liefhet". So 'n houding word in 1 Johannes 4:20 afgewys. Daarom sê Jesus dat die twee gebooie gelykstaan.
  • Net so is dit wetsverknoeiing om die tweede deel van die liefdesgebod tot die belangrikste te verhef. Om te sê: "Ons moet uit Christelike naasteliefde alle mense onvoorwaardelik, mét hulle foute en sonde, aanvaar (ons is mos almal sondaars); ongeag hulle geloof of oortuigings, want hulle is mos ons medemens, ons naaste – dit is nie ʼn Christelike uitspraak nie, maar is die taal van die New Age wat op humanistiese wyse naasteliefde verdraai tot 'n GodIose mensliefde. So 'n uitspraak ruk die naasteliefdegebod gruwelik uit verband, deur dit los te maak van die gebod waaraan dit gelykstaan: die liefde tot God. Hoe die naasteliefde-gebod wel met die liefde tot God in verband gebring moet word, word hieronder verduidelik.

Oorspronklike bedoeling🔗

In humanistiese kringe word daar groot gewag gemaak van die feit dat ons, ons naaste moet liefhê soos onsself — as 'Bybelse grond' vir die gedagte van 'eweredige verspreiding van rykdom'; en as motivering om van alles wat ons is en het, alles wat God ons gemaak en gegee het, afstand te doen en aan nuwe eienaars te oorhandig. Eers dan, sê hulle, het jy jou naaste lief net soveel as wat jy jouself liefhet.

Met hierdie bewerings wys sulke mense dat hulle nie die oorspronklike bedoeling van Jesus se woorde snap nie. Om jou naaste lief te hê 'soos jouself, beteken nie dat jy hom net soveel as jouself moet liefhê nie (dan sou jou naasteliefde immers daarvan afhang hoeveel jy jouself liefhet!). Die oorspronklike woorde 'soos jouself beteken:... op dieselfde manier as jouself. Die liefdesgebod gaan dus nie oor hoeveel ons, ons naaste moet liefhê nie, maar oor die manier waarop ons, ons naaste moet liefhê, naamlik op dieselfde manier as wat ons onsself liefhet.

Selfliefde🔗

Ons moet dus éérs duidelikheid hê oor die manier waarop ons onsself moet liefhê. Op hierdie punt moet die verband tussen die twee dele van die liefdesgebod in berekening gebring word. God eis dat ons onsself moet liefhê, nie in egoïstiese selfaanbidding nie, maar in gehoorsaamheid aan die eerste helfte van die liefdesgebod: omdat ons God liefhet. Omdat ons God liefhet, het ons ook die werk van sy hande lief. Wat die mens betref: God het die mens na sy beeld geskape, goed en heilig, vol geregtigheid en waarheid. As sodanig moet ons dan elke mens liefhê — ook onsself!

Ware Christelike selfliefde is dus om jouself as beeld-draer van God lief te hê. Dit beteken dat ons die gestalte van geregtigheid, heiligheid en waarheid in onsself met alles wat ons het, moet liefhê en koester en bevorder. En enigiets wat dié gestalte bedreig, moet ons met alles in ons vermoë beveg (Efesiërs 4:22-24). Ons mag die sonde, wat sedert die sondeval in elke mens (en daarom ook in onsself) na vore tree, nie liefhê nie. Ons moet dit haat en bestry! Ware Christelike selfliefde is dus 'n eis tot voortdurende selfondersoek, selftug en bekering van die sonde.

Ware naasteliefde🔗

Net so — op dieselfde manier — moet ons, ons naaste liefhê: ons moet die gestalte van geregtigheid, heiligheid en waarheid in hom bevorder omdat ons die beeld van God in hom liefhet. Maar die gestalte wat die sonde in hom aanneem, moet ons beveg! Met alle mag! Daarom is ware naasteliefde alles behalwe 'n ruggraatlose verdraagsaamheid jeens die sonde, of 'n standpuntlose aanvaarding van al wat mens is, ongeag die gestalte wat die sonde in hom aanneem.

Ware Christelike naasteliefde is 'n opdrag tot strenge tug en vermaning van jou naaste waar hy nie die weg van Gods Woord loop nie; en waar ongeloof en afgodery gedy, mag ons nie daarmee vrede maak nie. Juis vanweë naasteliefde moet ons volhou met sending en evangelisasie! Ons benadering tot die heiden en die heidendom moet steeds die wees van sendelinge wat die heerlike evangelie van Jesus wil uitdra.

Diegene wat die liefdesgebod buite bostaande raamwerk wil verstaan, is soos die Fariseërs en Sadduseërs van ouds, besig met wetsverknoeiing. Vir die ware gelowige wat geroepe is om altyd te reformeer, is sulke wetsverknoeiing onaanvaarbaar; ook enige verdraaiing of misbruik van die heilige Woord van God. Daarom: elke keer wanneer iemand die liefdesgebod buite konteks, en los van sy oorspronklike betekenis, ter ondersteuning van New Age-denkpatrone by die hare bysleep, is dit ons plig om so iemand dadelik reg te help — juis omdat ons daardie persoon as ons naaste liefhet, en nie mag toelaat dat die leuen in hom gedy nie.