Bron: Kerk en Woord, 2005. 4 bladsye.

Judas 5 - Die Noodsaak van Herinnering, Inskerping, Dril

Die algemene brief van Judas begin deur te stel waarom dit nodig is om die gemeente op te wek om kragtig te stry vir die behoud van die geloof. Want gemeentes is deur 'n vyandige gees geïnfiltreer en die verteen­woordigers van daardie gees verander die genade van God met sy seëninge in onge­bondenheid en losbandigheid.

Terwyl hulle rustig teer op die genade van God, gaan hulle nogtans rustig voort met goddeloosheid. Die gevolg is dat hulle die Here Jesus Christus in sy Persoon en sy werk en sy Woord verloën. En die uit­werking wat dit op die gemeente het, is rampspoedig. So kom nie alleen die kerk in vervalling nie, maar so kom die oordeel van God – ook nou – oor die kerk en die gemeente.

Behandeling🔗

Watter behandeling is daar vir so 'n tra­giese gemeentetoestand? Soos 'n bekwame geneesheer wat sy pasiënt behoorlik onder­soek het en al die afbrekende simptome raak identifiseer het, so kom Judas onder inspirasie tot die volgende behandelings­voorskrif: Ek wil julle herinner aan hoe die HERE hierdie situasie in die verlede behandel het, en ek wil julle herinner aan hoe die HERE nog deur alle eeue te werk gaan om sy kerk te bewaar onder aanveg­tinge van die bose.

Judas kom hiermee met 'n doelbewuste voorskrif. In die Grieks staan hierdie voorskrif so prominent uit, dat ons selfs daaruit moet verstaan dat hy 'n noodbe­handeling voorskryf.

Onder normale rustige omstandighede sou Judas volgens verse 1 en 2 gewone toerusting gedoen het deur aan die gelowi­ges te skryf oor ons gemeenskaplike salig­heid. Hy sou dus gewoon voortgaan om die gemeente se fondamente te verstewig en te verryk. Dit is net soos ons daagliks besig moet wees met Bybellees, kategese, Bybelstudiegroepe, ons jeugverenigings en ons gemeenteblaaie.

Maar die felle aanslag van goddeloosheid wat die gemeente binnegekom het, maak dat Judas tot noodbehandeling wil oorgaan. Nou is dit die tyd dat die gemeente die volle potensiaal van die wapenrusting wat hulle reeds het, moet inspan om die krisis af te weer.

Om die gemeente daartoe te bring, moet hulle aan daardie dinge wat lankal reeds opgeskrywe is, herinner word.

Met hierdie doelbewuste herinnerings­ werk het Judas sommer dadelik die hoofsaak van alle ampsdiens in die kerk aan die orde gestel. Want om iemand aan iets te herinner, beteken dat jy nie iets nuuts vertel nie. Daarom kwalifiseer Judas ook hierdie herinnering met: "al weet julle dit nou eenmaal". Die dinge waaraan hulle herinner moet word, is reeds goed by die gemeente vasgelê. Hulle is reeds deeglik daarin gekatkiseer en onderlê. Hulle sal die feite maklik op die punte van die vin­gers kan opnoem, so maklik dat Judas dit nie eens nodig vind om diep en breed op elke voorbeeld in te gaan nie.

Nee, hy sal sommer net daarna verwys, want die detail daarvan is by sy lesers bekend. Hulle weet hierdie dinge nou eenmaal… Wonderlik dat hy daarop kan staat maak; dat hy dit kan veronderstel. Dit maak sy redevoering baie makliker.

Dit is nou die geheim van die beluiste­ring van preke, die geheim van die lees van artikels en geskrifte. Die gemeente is reeds vol met inligting gelaai en voorberei; hulle kan net daaraan herinner word om 'n bepaalde punt tuis te bring.

Hoe dikwels het ons met mense met wie ons praat, die probleem dat hulle nie eens die basiese verwysingsraamwerk van die Bybel onder die knie het nie. Die gedag­tes is wel vol van alles en nog wat, maar van Bybelkennis is daar geen sprake nie. Dan sal dit vir hulle bitter moeilik wees om redevoerings soos hierdie van Judas te kan volg.

Daarom is dit so noodsaaklik dat 'n kind in sy vormingsjare die kennis van die heils­geskiedenis ingedril kry. Dan kan ook van ons gesê word: Julle weet al hierdie dinge nou eenmaal. Daar kan dan waarlik op hierdie ingedrilde kennis staatgemaak word omdat dit onveranderlike dinge is.

Daar sal nooit 'n tyd of plek kom waar hierdie data nie meer van toepassing is nie. Die wonder is dat wanneer jy in die een of ander krisissituasie kom, dan is dit jou herinnering aan hierdie vaste godsopenba­ring wat jou krag en moed gee om verder te gaan en aan te gaan.

Hoe baie mense is daar wat hul neuse optrek wanneer die Heidelbergse Kategis­mus weer 'n keer deurgepreek word. Hulle sê: Ons ken dit mos nou al … en dis vir hulle vervelig om dit weer en weer te hoor.

Wel, daar het jy dit. Hulle trek hul neuse op vir die mees elementêre bedieningswyse van God. Hulle wil so graag iets nuuts hoor, maar Christus het sy Gees aan ons gegee, nie om vir ons nuwe dinge te kom leer nie, maar om ons te herinner aan alles wat Hy vir ons gesê het (Johannes 14:26).

Wanneer ons gedurig daaraan herinner word, sal dit later in ons dieselfde uit­werking hê as wat die ingeoefende gedril het op soldate op die oorlogsfront — hulle weet presies wat om in 'n tyd van oorlog te doen.

Daar is baie goeie voorbeelde in die Bybel hoe dit mense in 'n krisissituasie gehelp het dat hulle die inligting van God se open­baring geweet het.

Ons weet dat toe die profeet Jona in die benoudheid daar in die waters in die vis se ingewande gevange was, hy die een Psalm na die ander in sy smeekgebed aangehaal het.

Ons weet dat toe Paulus en Silas in die tronk was, hulle uit die Psalms gesing het vir die gevangenes: ingedrilde en parate kennis wat geloofsversterkend binne die krisissituasie werk.

Ons weet ook wat dit vir iemand beteken wat voor 'n benouende mediese ondersoek of operasie lê en kan prewel wat sy enigste troos na liggaam en siel, in lewe en in sterwe is, dat hy aan sy getroue Saligmaker Jesus Christus behoort…

En dit is presies dieselfde wanneer 'n gemeente binne 'n gevaarlike aanslag beland as daar mense binne die geledere van die gelowiges ingekom het wat die genade van God met hul leer of hul lewe in ongebondenheid verander en die res van die gemeente tot afvalligheid wil verlei.

Daarom is dit so belangrik om daardie vasgelegde kennis uit die verbondsgeskie­denis steeds weer vars te maak, die lyne raak te sien, opnuut ons onveranderlike belydenis vas te gryp, en te stry vir die behoud van die geloof wat aan ons oorgelewer is.

Nou druk Judas sy wysvinger op die belangrike getuienis uit die Bybel – om ons daaraan te herinner wat die HERE in die verlede aan ons bekend gemaak het ten opsigte van diegene wat eens sy geseënde guns geniet het, maar deur hul optrede die Here Jesus geloën het.

Eerste Belangrike Voorbeeld van Herinnering🔗

So 'n voorbeeld kom onder meer uit die hele Exodus, maar besonderlik uit Numeri 14 en wat verder in die geskiedenis van veertig jaar volg. Hy herinner: nadat ons Kurios destyds die volk uit Egipteland gered het, het Hy daarna die wat onge­lowig was omgebring. Met besondere nadruk praat Judas hier van dieselfde Here as wat hy in vers 4 benoem as ons Here Jesus Christus. Hy sê dit is die Here wat Homself deur ons Here Jesus Christus destyds uit Egipteland gered het.

Deur sy plaasbekledende offer en sy uit­gestrekte arm het die Lam van God die volk uit Egipteland gered, verlos uit die slawerny van die dood. Heerlike beloftes was hul deel… Hulle gaan die beloofde land in besit neem.

Watter uitnemende genade van vryspraak en bevryding. Watter heerlike vooruitsig na 'n land wat oorloop van melk en heu­ning.

En tog, as ons daardie geskiedenis nagaan, sien ons hoedat hulle herhaaldelik teen die Here murmureer, hoedat hulle die Here met hul verfoeisels terg. Hulle verlang terug na die vleispotte van Egipte. Hulle bou 'n goue kalf en aanbid dit. Hulle kom in opstand teen Moses en Aron. En die laaste strooi was toe hulle op die vooraand gestaan het om die beloofde land binne te gaan en die rapport van die verspieders ­die studiedeputate – afwag oor die weg waarlangs hulle moet inval. In Numeri 14: 9 lees ons hoe Josua by die volk pleit om geloofsgehoorsaamheid aan die dag te lê:

Numeri 14:9 Wees net nie teen die HERE opstandig nie, en wees julle nie bevrees vir die volk van die land nie, want hulle is ons spys. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en die HERE is met ons. Wees nie bevrees vir hulle nie!

As hul vrees vir daardie groot en gedugte mense met al hulle menslike mag, groter is as hul liefdesgehoorsaamheid aan die HERE, dan kom dit daarop neer dat hulle teen die HERE opstandig is. Dan verloën hulle die Here Jesus Christus.

En wat doen die verbondsvolk toe? Die tragiese val lees ons in vers 10:

Numeri 14:10 Toe sê die hele vergadering dat hulle (Josua en Kaleb) gestenig moet word.

Twee gelowige manne wat die volk teen goddeloosheid vermaan, word vervolg. Dit is die presiese ken merk van die valse kerk (NGB art 29). Hulle het die genade van onse God verander in ongebondenheid. Die vrees vir voorspooksels wat kleingelowige mense aan hulle voorhou, verlei hulle om Christus te verloën. Voorspook­sels wat hulle moet laat dink dat die Here Christus nie daar by hulle aanwesig was toe die dinge gebeur het nie.

Hulle het vergeet van die wonders van die verlossing uit Egipteland; vergeet van die verskyning van die HERE by Sinaï. Hul vrees vir mense is groter as hul liefde vir God.

Maar dan gebeur die mees angswek­kende, die mees tragiese oomblik van die hele uittog: Die enigste Heerser, God, en onse Here, Christus, kom met sy heer­likheid en het in die tent van samekoms verskyn voor al die kinders van Israel.

Hulle het die toorn van die HERE ver­wek en in sy ywer gaan Hy hulle tref.

Almal wat bo die ouderdom van 20 is, behalwe Josua en Kaleb, sal daar in die woestyn sterwe sonder om 'n voet in die beloofde land te sit. En in die loop van veertig jaar van rondswerwe in die woes­tyn word hierdie straf oor Israel voltrek.

Daarmee is dit nie te sê dat almal wat in die woestyn gesterwe het, ook nie die ewige lewe ontvang het nie. Dit is nie te sê dat almal van hulle ewig verdoem is nie. Ons weet dat Aaron en Moses beslis tog die ewige lewe beërwe het, maar hulle het ʺhierdieʺ oordeel (Judas vers 4) ontvang. Hulle het 'n spesifieke oordeel ontvang wat hier op aarde oor hulle voltrek is. Die Here het hulle omgebring.

Toepassing🔗

Dit is die eerste voorbeeld wat Judas in ons herinnering wil oproep. Hieruit kan ons sien wat mense kan verwag as hulle besig is om God se goeie guns te geniet, maar hulle skrap die Here Jesus Christus uit hulle samekomste, uit hulle gebede, uit hulle lewe van elke dag… Dit kom daarop neer dat hulle Hom verloën. Dit impliseer dat hulle Hom hierin en daarin nie wil erken as hul vrees vir slim en magtige mense groter geword het as hul liefde vir die Here. As hulle hul op die genade van God beroem, maar hoogmoe­dig voortsondig.

Sulke mense leef in 'n uiterste gevaar. Hulle trek 'n oordeel oor hulself wat reeds in hierdie lewe voltrek word as hulle hul nie dringend van hulle opstandigheid teen die Here bekeer nie.

Tog is daar in dieselfde voorbeeld wat Judas betrek, ook die blye boodskap van die heerlike teendeel opgesluit. Op daar­die stadium is dit nog so klein soos in die persone van Josua en Kaleb en al die jongmense onder 20.

Dit toon dat daar vir die kerk van die toekoms 'n blye boodskap is, nie sonder swaarkry nie, nie sonder baie stryd nie, maar steeds 'n blye boodskap.

Onthou dat julle die genade en die guns van God geniet.

Onthou dat die Here Jesus ons enigste Heerser is.

Laat julle dus opwek, laat die Heilige Gees u deur herinnering aan die Skrifte aanvuur om ernstig te stry vir die suiwer behoud van die geloof wat aan u oorge­lewer is.

Daar is geen nuwe verlossingsboodskappe nie. Daar is geen ander evangelie nie. Laat u nie van hierdie kosbare skat berowe nie. Want vervloek is elkeen wat aan ons 'n ander evangelie wil bring as die wat reeds eenmaal aan ons oorgelewer is.