Bron: Kompas, 2006. 4 bladsye.

Judas - Teen die Rewolusie die Evangelie

Barmhartigheid, Vrede en Liefde🔗

Die brief wat Judas geskryf het, is nie orals gelief nie. Mense kan hul nogal vererg oor die skerp woorde wat hier gebruik word. Kommentare wat oor die brief geskryf is, verskil ook nogal in hulle uitleg. Tog vertoon die brief ʼn mooi opset en ook ʼn goeie woordkeuse. Wie onbevange lees, sien dat die eerste en laaste verse van hierdie kort geskrif by mekaar hoort. Aan die einde word dus teruggegryp na die begin. En so kan ook die middelste deel beter begryp word.

Ons let dan eerstens op hoe pragtig die begin van hierdie briefie is.

Judas, ʼn dienskneg van Jesus Christus en broer van Jakobus, aan die wat geroep, in God die Vader geheilig en vir Jesus Christus bewaar is: Mag barmhartigheid en vrede en liefde vir julle vermenigvuldig word!

Watter Judas word hier bedoel? Met die meeste kommentare wat hieroor geraadpleeg is, kan ons aanneem dat met Judas bedoel is ʼn jonger seun van Josef en Maria en dus ʼn lyflike broer van Jesus. ʼn Mens kan dit aflei uit die aanduiding “broer van Jakobus”, eweneens ʼn seun van Josef en Maria en ʼn baie bekende figuur veral in die gemeente te Jerusalem.

Judas maak hom hier egter nie regstreeks bekend as lyflike broer van Jesus nie. Hy sê hy is ʼn dienskneg of slaaf van Jesus Christus. Dit is nie net beskeidenheid wat Judas so laat spreek nie. Hy beklemtoon hiermee sy verbondenheid aan Jesus Christus. Hóm wil hy dien. Verder is hy ʼn broer van Jakobus. Met wie hy dus op gelyke voet staan. Ook wat sy amp betref. Hy kan en sal daarom praat met amptelike bevoegdheid.

Ná die afsender word die adres genoem van diegene aan wie die brief gerig is. Dit is diesulkes wat geroep is deur die Woord van die profete en apostels. As geroepenes is hulle geheilig, apart geplaas, en geseën deur God die Vader. As sodanig word hulle ook bewaar vir Jesus Christus. ʼn Baie ryke en inhoudryke aanspraak. Want hiermee is gesê hulle het nie vanweë eie krag en voortreflikheid gekom nie, maar is geroep deur God. En die HERE sal hulle ook nie loslaat nie.

“Mag barmhartigheid en vrede en liefde vir julle vermenigvuldig word”, so lui die seëngroet. Barmhartigheid is erbarming of ontferming. Die lesers het die ontferming van God gesien en ervaar. Ook in die toekoms sal hulle hieraan behoefte hê. Dit bly nodig. Hierdie barmhartigheid bewerk die vrede met God en in die hele lewe. ʼn Vrede wat ver bo alles wat ons kan bedink, uitgaan. Dit gee ook liefde as die middel waardeur die vrede tot ons kom.

Vergelyk hierdie begin met wat aan die einde genoem word. Vs. 21:

… en julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag. En vs 24: Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar.

Uiteindelik keer alles terug tot God en ontvang Hy die plek wat aan Hom toekom.

ʼn Nuwe Brief?🔗

“Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (vs. 3). Uit hierdie brief is dikwels dié konklusie getrek: Judas was besig om ʼn uiteensetting op papier te sit wat oor die gemeenskaplike geloof sou handel. Sê maar ʼn soort geloofsleer. Toe hy egter merk daar is baie onrus en afval in die gemeente aan wie hy skryf, het hy sy “dogmatiese” uiteensetting eenkant toe geskuif en begin aan ʼn kort en kragtige brief.

Hierdie moontlikheid bestaan. Maar dit is nie noodsaaklik om die teks so te verstaan nie. Jy kan ook en miskien eerder sê: die brief gaan voort soos dit begin het. Want dit handel juis, ook in sy vermanings, oor die barmhartigheid, vrede en liefde waarmee die HERE sy kerk wil seën. Daarom moet daar so hard gestry word. Die skrywer lê hom ywerig daarop toe om oor die gemeenskaplike heil te skrywe. En terwyl hy dit doen, voel hy die noodsaaklikheid om hierin te vermaan om kragtig te stry vir die geloof.

Gemeenskaplike saligheid, of beter gemeenskaplike heil. Gemeenskaplik? Word nie elkeen persoonlik voor die aangesig van God geplaas nie? Ons bely egter dat buite die kerk geen saligheid is nie (art. 28 NGB). Hierby moet bedink word: binne ʼn gemeenskap het elkeen ʼn persoonlike verantwoordelikheid. Maar waaroor gaan dit dan? Dit word vervolgens genoem. “Om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is”. Met “geloof” word hier bedoel die geloofsinhoud. Dus nie soseer die geloofsdaad nie. Die geloofsinhoud is eenmaal aan die heiliges of gelowiges oorgelewer.

Eenmaal – dit beteken eens en vir altyd. Dit sluit alle veranderinge uit. Die roeping, heiliging, barmhartigheid, vrede en liefde in Jesus die Christus, is onveranderbaar. Hierdie sake is breedvoerig in beide die Ou en Nuwe Testament uiteengesit. En hulle is “oorgelewer”. Daar het ʼn heilige tradisie ontstaan.

Voordat ander sake genoem is, het Judas die fondament gelê. Hierop gaan hy bou en daarvan sal hy nie afwyk nie. Ter wille van die barmhartigheid en liefde van God.

Afdwaling Binne die Kerk🔗

Hoekom herinner Judas so nadruklik aan die gemeenskaplike en onveranderlike leer? Wel daar het mense ingesluip “wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën”. Twee dinge word dus oor hierdie mense gesê: hulle verander eers wat vasstaan en vervolgens kom hulle tot verloëning.

Dit is dikwels die volgorde wat bemerk kan word. Sekere mense het ingesluip. Aanvanklik was hul optrede nie so duidelik nie. Maar gou-gou kom dit helderder aan die lig. Dan blyk: hulle verander die genade in ongebondenheid. ʼn Mens kan roem in die genade van God. En dan vergeet dat genade jou afhanklik maak. Sekerlik nie ongebonde nie. Van hul ongebondenheid vorder hulle tot verloëning van die enigste Heerser, die enigste Despoot – God – en daardeur ook van ons Verlosser Jesus Christus.

Agter hulle ongebonde lewe lê dus ʼn valse leer. Hulle weet nie eintlik wat genade is en beteken nie. Dat jy daardeur slaaf word van God en Christus, soos ook Judas self. Want om God as Despoot te wil aanvaar – dit gaan te ver. Tog sal dit moet gebeur.

Kyk maar wat het in die geskiedenis gebeur. Die lesers aan wie die brief gerig was, was blykbaar veral Jode of anders mense van buite-af wat volkome met die geskiedenis van die volk Israel op die hoogte was. Nou ja, hulle weet dat aan Israel groot genade bewys is. Die HERE het die volk verlos uit Egipte. Maar wat het later gebeur? Toe hulle nie by die verworwe verlossing gebly het nie, het hulle in die woestyn omgekom.

ʼn Ander voorbeeld. ʼn Aantal engele het aan die begin van die skepping teen hul Despoot, God, in opstand gekom. Dit het daartoe gelei dat hulle van hul hoë posisie vervalle verklaar is. Hulle word ook bewaar, maar nie soos die gelowiges by die genade van God nie, maar vir die ewige oordeel.

Die derde voorbeeld is Sodom en Gomorra en die omliggende stede. In daardie stede is ver afgewyk van die lewenstyl wat vir God aangenaam is. Dit het vir hulle die oordeel gebring. Elkeen wat na die onvrugbare gebied van die Dooie See kyk, kan dit konstateer.

So kom Judas tot die eintlike dwaling van hierdie mense. Daar is voorbeelde uit die verbondsgeskiedenis genoem. “Tog besoedel ook hierdie mense net so in hulle dromerye die vlees en verag die heerskappy en laster die heerlike wesens” (vs. 8). Judas werk hierby van agter na voor. “Besoedel die vlees in hulle dromerye” korrespondeer met die sondes van Sodom en Gomorra. “Verag die heerskappy” slaan op die voorbeeld van die duiwels. “Laster die heerlike wesens” sluit aan by die optrede van Israel in die woestyn en dit is eintlik die eerste. Heerlike wesens of heerlikhede moet dan opgevat word as owerheidspersone, leiers van die volk en spesifiek die ampsdraers, soos ook blyk uit die latere voorbeeld van Korag.

Maar is dit al? Hoekom moet hierdie dwalings, wat eintlik maar sonde teen die vyfde gebod beteken, so sterk bestry word? Dit was toe reeds duidelik en het in die loop van die kerkgeskiedenis steeds weer geblyk dat afwysing van die owerheidsgesag, ingaan teen ampsdraers wat die onveranderlike leer van die kerk verkondig, altyd op losbandigheid uitloop. Dink net aan die optrede van die wederdopers in die tyd van die reformasie en hulle goddeloosheid te Munster. Hieragter lê die dwaling dat die volmaaktheid reeds bereik is. Jy verwag dan nie meer die genade van God nie. Jy gryp self na die volmaakte kerk en maatskappy. In tye van rewolusie wat soms met vroom woorde verkondig word, sien jy afval en bandeloosheid. Ons kan net om ons heen kyk (en na onsself).

Verdere Voorbeelde en Aankondiging van die Oordeel🔗

Ter illustrasie noem Judas nog meer voorbeelde. Uit die Joodse oorlewering is bekend die verhaal van die aartsengel Migael wat met die duiwel in ʼn woordestryd gewikkel was oor die liggaam van Moses. In Deuteronomium 34 word ons dit nie so uitvoerig vertel nie. Maar volgens ʼn apokaliptiese geskrif het die Satan Migael bestry toe hy die liggaam van Moses wou begrawe. Judas spreek hom nie hieroor uit nie, maar wys wel daarop dat, volgens dieselfde verhaal, Migael die Satan nie sonder meer veroordeel het nie. Heg sy lesers waarde aan daardie verhaal? Laat hulle dan ook kyk na die optrede van Migael. Satan was ʼn hooggeplaaste engel en het nog altyd in sy kring aansien gehad. En daarom spreek Migael geen oordeel uit nie, maar sê: “Die Here bestraf jou!”

So ʼn houding neem die dwaalgeeste in Judas se dae egter nie aan nie. Hulle lyk meer soos ander voorbeelde uit die Skrif, naamlik Kain en Bileam en Korag. Kain was nie net die eerste moordenaar en dit nogal van sy broer nie, hy was die eerste kerkvervolger wat nie van genade wou leef nie. En Bileam het geweet van die besondere posisie van Gods volk. Maar sodat dit hom iets in die sak kon bring, het hy dit gerieflik weerstaan. Hy kon Gods volk nie vervloek nie, maar het wel slegte advies gegee om dit tot verleiding te bring. En dan Korag uit die stam van Levi. Hy het saam met ander opgestaan teen die wettige gesag wat die HERE oor sy volk aangestel het. Tereg is opgemerk dat Korag die Leviet spesifiek die posisie van Aäron as hoëpriester teengestaan het. Altyd weer verset teen Gods genade.

Die dwaalgeeste verlei egter die kerkvolk. Hulle sit aan by die liefdesmaaltye wat verbind was met die nagmaal. Ondertussen bring hulle die gemeente tot afval. Maar hulle oordeel sal kom. Hulle is, ondanks moontlike uiterlike sukses, tog uiteindelik onvrugbaar soos waterlose wolke, bare van die see en bome wat geen vrugte oplewer in die herfs nie.

Ook hiervan was tevore reeds sprake. Weer word apokriewe literatuur aangehaal wat onder sekere Joodse groeperings baie gewild was. Hierdie keer uit die apokriewe boek Henog. Henog, die sewende van Adam af, die man wat met God gewandel het, het teen die mense van sy tyd geprofeteer en die oordeel aangekondig. En hulle was mos so slim en “kultureel ontwikkeld”? Maar die oordeel het gekom. So sal ook die afvalliges waaroor Judas praat, tot ʼn val kom, al spreek hulle mond ook trotse woorde en vlei hulle mense ter wille van voordeel. Judas sê: daardie apokriewe literatuur is mos populêr onder julle? Luister en handel dan ook daarna!

Pastorale Benadering🔗

Gelukkig het nie alle lidmate hulle ore aan die dwaalleraars uitgeleen nie. Hoe moet hulle houding wees in moeilike omstandighede? In die eerste plek moet hulle daaraan dink: dis nie so vreemd dat dergelike toestande ontstaan nie. Hulle is daarteen gewaarsku. Die apostels het die woorde van die Here Jesus deurgegee oor swaar tye en afval. Dit sou plaasvind in die “laaste dae”. Dit is die tyd tussen Hemelvaart en die wederkoms van Christus. Dan kom daar spotters wat skeuring maak. Nie diegene wat vashou aan die onveranderbare leer nie.

In die tweede plek moet hulle (en ons) hulself opbou in die allerheiligste geloof. Dit handel hier weer oor die geloofsinhoud. Om jouself daarin op te bou beteken om dit te bestudeer, te oordink en daarvolgens te lewe. Daarby staan die kerk nie alleen nie. Daar moet gebid word in die Heilige Gees. Verder is daar die bewaring (weer daardie woord) in die liefde van God. Omdat dit hier gaan om die liefde van God vir sy kerk en nie maar oor ons liefde vir Hom nie, kan daar ook op sy beloftes staatgemaak word. En ten slotte is daar die verwagting van die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe. Op sy barmhartigheid kan ʼn mens reken. Dit alles beteken die Drie-enige God sal sy kerk in stand hou en help en lei, en die gemeente moet altyd hierdie belofte aanvaar.

In die derde plek is daar ook die opdrag om om te sien na die afvalliges. Twee groepe word daarby m.i. onderskei.

  1. Aan mense wat twyfel, wat reeds onder invloed van die afval gekom het, maar nog nie daarin versink het nie, moet barmhartigheid bewys word. Die HERE bewys barmhartigheid aan sy kerk, die broeders en susters en veral ook die kerkraad moet barmhartigheid bewys aan mense wat dreig om af te val.

  2. ʼn Tweede groep mense het reeds verder afgedwaal. Hulle moet met vrees gered en uit die vuur wat hulle reeds aangetas het, geruk word. Soos ʼn brandhout uit die vuur geruk (vergelyk Sagaria 3). In die laaste geval moet versigtigheid betrag word. Want wie is onfeilbaar en immuun vir afval?

Lofverheffing🔗

Judas kom aan die einde van sy briefie. Dit was kort maar baie inhoudryk. En aktueel in alle tye. Daar is ʼn kerk wat mag bly bestaan. Maar nie uit eie krag nie.

Nee, Aan Hom wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig, aan die alleenwyse God ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou en tot in alle ewigheid! Amen.

Dit is altyd die krag van die kerk – om te glo in so ʼn God. Hy is die enigste en die wyse God. Hy het die mag, die ekousia, die volmag en die krag, die dunamis, om ons vir struikeling te bewaar. En dit nie vir ʼn oomblik nie, maar Hy is gister en vandag Dieselfde en Hy bly dit tot in die eeue van die eeue, wanneer die Christus kom en die volle heerlikheid ons deel sal word.