Bron: Die Kerkblad, 1986. 2 bladsye.

Jy mag nie doodry nie

Die dag van 'n Christen behoort te begin in sy binne­kamer — met lees van die Woord en antwoord met toe­wyding in die gebed. Mens kan tog nie regtig 'n werks­dag ingaan sonder om eers die seën en leiding van God te vra nie. So moet jy eers op die grootpad gaan nadat jy jou voor die Here verootmoedig het.

Dalk bevat die opskrif bo iets van 'n skok vir gelowige mense. So is dit nie bedoel nie. Veel eerder om net 'n meer byderwetse aanduiding te gee van dit wat in die Sesde gebod gestel word.

Die Sesde gebod lui in die Afrikaanse Bybel: "Jy mag nie doodslaan nie" (1953) en "Jy mag nie moord pleeg nie" (1983). Maar verder word in die wette van Moses allerlei ander aanduidings hiervan gegee:

Wanneer iemand egter 'n ander een opsetlik dood­maak… Eksodus 21:14.

As iemand 'n stoterige bees het en die eienaar hom nie opgepas het nie en die bees iemand se dood ver­oorsaak, moet die bees en sy eienaar doodgemaak word 21:29.

"As iemand 'n ander een met 'n stuk yster slaan, sodat hy sterf, is hy 'n moordenaar…" Dit kan ook wees 'n klip of 'n stuk hout waarmee hy slaan; ook dat 'n mens uit haat 'n ander stamp of doelbewus met iets gooi, of met die vuis slaan… dan is hy 'n moor­denaar Numeri 35.

Wat dus wesenlik in die Wet gestel word, is dat die instrumente van moord en doodslag kan verskil. Die saak is egter dat dit gaan om 'n opsetlike daad van moord. Anders is dit wanneer sonder opset of vyand­skap gehandel is en die dood gevolg het — dan kan oor sake onderhandel word.

Nou het die Skrif bloot volgens die destydse sosiale omstandighede — op die woestyntog — oor werktuie van moord gepraat. Daar was ook die moontlikhede van swaard of pyl (en boog). In vandag se wêreld is daar soveel meer en ander moordtuie, soos vuurwapens, chemiese en biologiese wapentuig, bestraling. In hierdie milieu besef ons maklik die toepaslikheid van die bevel dat jy nie mag doodry nie — en ons weet van duisende wat op paaie sterf.

Die draagwydte van die Wet in die Ou Testament is deur die Here Jesus in sy tyd egter al heeltemal anders gestel. Dit blyk so duidelik uit sy lering in die Bergrede (Matteus 5-7). Hy handhaaf die wet en gee dit sy volle betekenis (5:17). Hy sluit aan by die Joodse tradisie (mense van ou tyd). Maar daarby gee Hy die werklike sin en agtergrond van die wet met gesag deur. Strafbaar maak nie net daardie daad van geweld nie. Die vroegste begin van die daad – die kwaad word in jou gedagte (5:22) – maak die mens al voor God strafbaar. En selfs 'n byna-onskuldige woord teenoor die ander (gek of idioot, vroeër Raka – amper soos: Jy's 'n skaap!) is 'n oortreding wat ewige straf regverdig.

Die Here Jesus bring dus die houding en optrede teen­oor ander mense op 'n heeltemal ander vlak as wat die Jode wou sien. Hy plaas die saak op 'n geestelike peil waar dit duidelik is dat elke mens skuldig staan aan doodslag en die genade van verlossing nodig het. Daar­mee word dit in elk geval duidelik dat "doodry" ook kan insluit daardie vinnige en lelike opmerkings wat bestuurders — hoorbaar of in gedagtes — in verkeer­situasies mekaar toevoeg.

Verder moet ons let hoe die Kategismus by die Sesde gebod hierdie lering van die Here Jesus in die praktyk uitwerk (V/A 105 — 107). Gee maar weer ag op die vol­gende uitsprake:

  • God leer ons – deur doodslag te verbied – dat Hy die wortel daarvan, soos afguns, haat, woede en wraaklus verafsku.
  • God eis van my dat ek nie self of deur iemand anders my naaste mag onteer, haat, beledig of doodmaak nie. Ek mag dit nie (selfs) met gedagtes, woorde of gebare doen nie… Ek moet alle wraaksug laat vaar. Ek mag ook myself nie kwaad aandoen of moedswillig in gevaar begewe nie.
  • Daarby gebied God dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Ons moet… vredeliewend, sagmoe­dig… vriendelik wees, alles wat hom kan benadeel, sover moontlik probeer voorkom, en selfs aan ons vyande goed doen.

Dit hou alles in dat ons opnuut as Christene op die pad moet nadink wat ons doen. Gereformeerde mense be­weeg ook op die paaie en nuusblaaie van plaaslike kerke toon dat lidmate in ongelukke beseer word en sterf. Daarom moet gebruik van die pad — of dit as voet­ganger, te fiets of motorfiets, in die motor is — steeds deel van die belewing van ons Christelike verantwoor­delikheid en dankbaarheid wees.

En jy sluit jou dag of deur onder meer vergewing te vra vir jou sondes op die pad daardie dag.