Hierdie artikel handel oor Christen wees as bejaarde.

4 bladsye. Vertaal deur Awie Buitendag.

As Jy Ouer Word

🔗

Oud word🔗

By al die verskille wat daar tussen mense kan bestaan, is daar één ding wat almal gemeen het, nl. dat ons almal ouer word.

Wat ons ouderdom tans ook al mag wees, ons sal eendag – as God ons nie ten minste voor die tyd al ‘die ewige jeugdigheid’ gegee het nie – almal oud en bejaarde mense wees.

Mense, van wie ‘die sieraad hulle grys hare is’, sê die Spreukedigter (20, 29).

Mense wat, naas die probleme en geloofsmoeite wat alle kinders van God het, ook hul eie bepaalde moeite ken.

Omdat ek, met my 37 jaar, nog maar ʼn jongeling is, is dit vir my moeilik om my in te leef in dit wat ʼn mens, as hy of sy reeds ʼn hoë leeftyd bereik het, dan presies ervaar en besig hou.

Daarom het ek twee ouer mense uit ons gemeente (76 en 86 jaar) daaroor gevra.

Ouer word en sterf🔗

“Om te sterf” was vir hierdie mense ʼn heel belangrike onderwerp. Sou hulle, as daardie dag gekom het, die geloofsrus en sekerheid kan bly ervaar? Een van die twee was selfs elke dag (!) met hierdie vraag besig. Of sy wou of nie, aan sterwe word sy elke dag herinner.

As jy jonk is staan jy nie só daarby stil nie, maar reëlmatig beland daar by ouer mense so ʼn  swart omraamde koevert in die posbus. Dit is ʼn kennisgewing dat daar wéér een van die kennisse of vriende, in die selfde ouderdomsgroep as sy, oorlede is. ʼn Ongemaklike situasie.

Dit maak elke keer ʼn diep indruk op die betrokke persoon. Dit word byna by jou keel afgedruk hoe kwesbaar jy is, en dat daar onverwags ʼn oomblik kan aanbreek dat ook jy jou kinders en kleinkinders en vriende en vriendinne moet loslaat.

Ek sou my kon voorstel dat die besef van die naderende einde jou ook beangs kan maak.

Beangstheid oor sonde in die verre verlede. Dit gebeur met al die gevolge wat daaruit voortkom, en waaraan niks verander kan word nie: jou houding teenoor die kerk, die opvoeding van jou kinders, felle en harde reaksies teenoor sekere standpunte, nie-bygelegde konflikte, ens.

Afgesien van die naderende lewenseinde, vind my gespreksgenote dat die lewe selfs nog moeiliker word namate hulle ouer en bejaard word.

Ouer word en afhanklikheid🔗

Wie ouer word, word beperk in sy of haar moontlikhede. Sommige mense durf nie meer om uit te gaan nie en vir hulle word die deelname aan allerhande aktiwiteite te moeilik. Dit kan vir ʼn groot stuk eensaamheid sorg, al bevind jy jou in ʼn groot versorgingsoord of ouetehuis.

En dan is daar nog die liggaamlike ongemaklikhede. Sommige bejaardes se bene verswak, andere se gehoor of sig verswak, en andere se verstand gaan agteruit.

Die feit dat jy al hoe meer afhanklik raak namate jy ouer word, kan heel moeilik wees.

Vir die mense met wie ek gepraat het, was dit nie die uiteindelike kranksinnigheid of verstandelike agteruitgang wat die ouderdom meebring, waarteen hulle die meeste opsien nie.

Soos een persoon dit so treffend gestel het: ‘As dit my sou oorkom dan sal ek gelukkig nie daarvan bewus wees nie.’

In hulle ouerwording het hulle die meeste las van – en sien hulle die meeste op teen – liggaamlike aftakeling.

‘Dat jy nie meer kan gaan en staan waar jy wil nie; dat jou liggaam steeds verder afgetakel raak; dat jy toenemend afhanklik word van ander mense’; so verwoord een haar grootste moeite met haar ouerwording.

Dawid en afhanklik wees en sterf🔗

Die komponis van Psalm 71 (Dawid?) is self ook ʼn bejaarde. Hy praat oor ‘die tyd van die ouderdom en grysheid’. Dit is ook iemand wat die gevolge van sy ouderdom by homself kan opmerk.

Êrens in hierdie psalm, waar hy begin om melding te maak van sy ouderdom, praat hy daarvan dat ‘sy kragte vergaan’. Dit kan op verskillende maniere gebeur. Die persoon onder bespreking kan byvoorbeeld vanweë sy ouderdom nie meer so flink stap nie. Soos koning Asa, van wie vertel word: ‘In sy ouderdom het hy ʼn kwaal aan sy voete opgedoen’ (1 Konings 15:23).

Dit kan ook wees dat die gehoor of die sigvermoë van die psalmdigter agteruit gegaan het. Soos die bejaarde Jakob, van wie in Genesis 48:10 gesê word: ‘In sy hoë ouderdom was Israel (Jakob) se oë al sleg en hy kon nie meer goed sien nie’.

Tot watter mate die ouderdom ʼn invloed uitgeoefen het op die sleutelfiguur van Psalm 71, weet ons nie. Tog is dit duidelik dat hy met die verloop van jare aan liggaamskragte ingeboet het. En hy het al hoe meer van mense afhanklik geword.

In sý geval kom daar nog ʼn belangrike aspek by, nl. dat hy lastig geval word. “My vyande sweer saam teen my, dié wat my lewe soek, smee ʼn komplot teen my” (Psalm 71:10).    

Die bejaarde digter van Psalm 71 sien homself, naas sy toenemende afhanklikheid, ook as gekonfronteerd met die moontlikheid om binne-kort te sterf.

God en afhanklik wees🔗

Om te sterf, sonde, om afhanklik te wees of te word, is sake wat jou (as jy oud en bejaard is), intensief besig kan hou en die lewe vir jou moeilik kan maak. Dit is ook dinge waarvoor jy maklik kan wegloop ... deur nie daaraan te wil dink nie of dit met jou kinders en kleinkinders of broers en susters te wil bespreek nie; ...deur in bitterheid of teleurstelling oor dit wat verby is, of angs vir wat voorlê, te bly vassteek. Maar dit is alles dinge wat jy voor God mag neerlê!

Die komponis van Psalm 71 laat, by al sy moeite, dit duidelik blyk dat hy weet by wie hy as ʼn bejaarde sy hulp moet soek: by God! Ook in die kleinste behoefte in jou bejaardheid kan en wil God aan jou hulp verleen. Daaroor hoef jy as bejaarde geen sekonde aan te twyfel nie.

Die psalmdigter dui met argumente aan waarom nie: omdat God ʼn verbond met hom gesluit het!

Hierdie bejaarde man begin sy psalm met : “By U, HERE, skuil ek.”  Daarin word die majestueuse sowel as die intieme aanspraak op “HERE” vervat. Niks van ʼn veraf “God” nie, maar eerder die betroubare “HERE”/ “Jahwe” / “Ek is wat Ek is” / “Verbondsgod”.

Die noem van dié naam wil hier iets sê, soos : “Ek is by jou, of jy 17 is, 37 of 77, Ek is by jou”; in jou bejaarde woonplekkie, in die versorgingstehuis waar jy nou is, in die inrigting waarin jy verpleeg word, tuis en ook selfs ná jou sterwe; Ek is by jou!”

God is vir hierdie psalmdigter meer as maar net ʼn God. Hy is vir hom ‘die God van die verbond’, met wie hy ʼn blywende verhouding gesluit het. Hý laat hom nooit alleen nie.

Die vaste vertroue van hierdie oue van dae weerklink ook in die sterk woorde wat hy gebruik. God is vir hom ʼn ‘rots’ en ʼn ‘vesting’, sy ‘verwagting’ en ʼn ‘magtige toevlug’.

Daaruit spreek ʼn omvattende vertroue. ʼn Vertroue wat hy graag vir al sy bejaarde broers en susters maar al te graag sou wou gee, in dié woorde: ‘Jy word deur God bewaar! God het tog ʼn verbond met jou gesluit?’ God het tog by jou doop vir jou gesê: ‘jy behoort aan My?’ God het tog sy Seun as Middelaar van die nuwe verbond vir jou gegee? Daaraan mag jy, nou dat jy oud en bejaard is, die sterkste moontlike vertroue ontleen dat God jou sal help.

Dit kan God regstreeks doen, alhoewel Hy ook mense daarvoor kan gebruik.

God se verbond ken geen onderskeid tussen ou-afhanklike of jong-onafhanklike mense nie.  God se verbond ken slegs (vir oud en jonk) afhanklike mense, wat vanuit die gemeenskaplike afhanklikheid vir jou as bejaarde, jou graag wil kom opsoek; om, as dit by jou, vanweë jou hoë ouderdom nie meer kan nie, jou by geleentheid te kom help om die huisie skoon te maak of inkopies te doen. Afhanklikes in die verbond wat jou met liefde uitnooi om by geleentheid by hulle te kom eet, om daardeur die eensaamheid te verlig, of om met jou te gaan ry of stap, bid of Bybellees.

God en sterwe🔗

Ouer mense praat baie oor dinge wat vroeër gebeur het. Dit is logies. Omdat die kring waarbinne hulle nou beweeg veel kleiner is, maak hulle veel minder mee as toe hulle nog jonger was en nog ten volle in die lewe gestaan het. Daarom hoor jy ouer mense nogal dikwels terugval op hul eie jeugtydperk, op die jare toe hulle pas getroud was en nog ten volle aan die sosiale en kerklike lewe deelgeneem het. So blyk dit ook die geval te wees met die ou en bejaarde digter van Psalm 71, dat hy dikwels terugkyk op sy lewe – ʼn lewe wat nie altyd maanskyn en rosegeur was nie. Soos wat daar maar min oumense is wat terugskouend kan sê: ‘In ons lewe het alles altyd glad verloop; ons het prakties nooit moeite ondervind of teenslae geken nie’.

Daarvoor is die sonde te veel deel van ons lewe.

Maar, die sonde en sy gevolge het nie die laaste woord nie. Daarvan weet die psalmdigter alles. ‘God is my helper vanaf die heel eerste oomblik dat ek my in die baarmoeder van my moeder bevind het’, erken hy. Dit het in my lewe dikwels veel anders gegaan as wat ek gedink of gewens het. Moeilikhede het hom nie gespaar gebly nie.

Maar vanaf die allereerste oomblik dat hy daar was, was God ook daar om hom te help.

Soos een van die oueres met wie ek gepraat het, het daar in die kombuis teen die muur ʼn bordjie gehang met die volgende teks daarop : ‘God het my lewe anders geweef as wat ek verwag het, tog het dit meegebring dat ek sy seën in my lewe kon ervaar’. God is by sy kinders – vanaf die allereerste begin van hul lewens op aarde, tot die allerlaaste einde!

Die hoogsbejaarde psalmdigter kon in alle sekerheid dit as sy geloof bely: ‘God sal my weer lewend maak en my uit die kolke van die aarde weer laat opstyg’.

Dit het vir hom toe ʼn redding uit konkrete lewensgevaar beteken. Vandag beteken dit ten diepste: om in Christus immuun te wees vir die ewige dood.

Stel jou voor jy is 70 of 80 jaar oud. Jy staan dikwels by die begraafplaas. Jy weet: binnekort staan hulle hier vir my – sondige mens.

Dan hoef hierdie vooruitskouing nie benouend te wees nie. Om dit met hierdie psalmdigter te beaam: ‘op dieselfde oomblik dat jy sterf, sal God jou weer lewend maak’.

vrou in rolstoel

Dan sal Hy, op voorspraak van Christus, jou as her-geborene in die hemelse paradys laat leef. Vir ewig gelukkig!

Ouer word en God🔗

Waardeur word jou lewe bepaal? Waaroor gaan jou lewe? Voor hierdie vraag kom ons elkeen te staan, en seker ook mense wat oud en bejaard is. Ouer mense staan immers op die skarnierpunt van die lewe: Die lewe op aarde lê vir hulle grootliks agter hulle, en die nuwe lewe lê reg voor hulle. Waaroor gaan jou lewe dan? Die digter van Psalm 71 hoef nie lank daaroor na te dink nie. As jy oud en bejaard is, het jy die voorreg gehad om jou hele lewe uit God se genade te leef; dan het jy vir jare aaneen kon ervaar wie die God van die verbond is; dan het jy ʼn menselewe lank kon hoor en meemaak wat vergewing van sonde beteken, hoe God in jou moeite tog telkens weer hulp bied; ook hoe groot jou sonde is en hoe diep God se liefde in Christus vir jou uitgaan. Dan kan daar eintlik maar een ding sentraal staan in jou lewe, nl. die lof tot God!

As jy Psalm 71 in een geheel deurlees, dan is dit ook presies dit wat opval: die lof op God loop soos ʼn rooi draad deur die lewe van hierdie digter heen. As ons self al oud en bejaard is, of word, is dit goed om bietjie hieroor na te dink. Want sonder dat jy dit miskien besef kan jy in jou omgewing, by jou kinders en kleinkinders bekend staan as broeder of suster, as (ou)pa en (ou)ma, by wie jy nie so direk kan opmerk dat God sentraal in jou lewens staan nie - omdat jy altyd net oor jouself praat, oor jou kwale en jou sorge, en dat dit in jou tyd altyd orals beter gegaan het...

So sou jy tog nie bekend moet wees nie, sê Psalm 71. Dit gaan tog, juis ook as jy ouer word, oor God! Juis dan weet jy wat genade beteken!  Juis dan weet jy om heelhartig te sing:

Ek sal aan U my psalm wy, O God van Israel,
met harp en siterspel.
My mond sal juigend U bely,
my siel sal bly U trou besing.Psalm 71:13 berymd.  

Gebed vir ouer mense🔗

Here God,
sorg vir hulle wat deur die winter van hul lewe gaan.
Die spankrag van hul gees verminder
en hul hart word moeg.
Hul lewenskragte neem af
en hulle handhawing is moeilik
in hierdie wêreld.

Hulle ken geen besige dae meer,
en hul tyd word gevul
met skynbaar onbelangrike dinge.

Here God,
gee hul die besef
dat elke dag van die jaar
sinvol bly.
Dat hulle vry mag wees
van alle verbittering uit die verlede,
van alle ontnugtering van die hede
en van alle angs vir die toekoms.

So sal eie onmag
hulle nie ontmoedig,
en die ontrou van andere
hulle nie ongelukkig maak nie.

In Christus.
AmenJean Galot