Bron: Kompas, 2011. 3 bladsye.

Kaapse Kerklike Lewe in die Vroeë 19de Eeu

Onlangs was daar ’n berig oor die 175-jarige bestaan van ’n Kaapse NG-gemeente. Dit is darem iets anders as die 50-jarige bestaan wat sommige Vrye Gereformeerde kerke die afgelope dekade herdenk het.

Nog nie so lank gelede nie het die NG Kerk ’n gedenkboek “NG Kerk 350” uitgegee. Dus bogemelde gemeente is net mooi halfpad Jan van Riebeeck en vandag gestig. Dalk ’n goeie geleentheid om te kyk watter sake die gemeentelede en kerklike organe in dié tyd besig gehou het.

Die Jare 30 in die 19de Eeu🔗

Dit was beslis nie ’n tydperk waarin die lewe sonder groot probleme of moeites verloop het nie. Ons kies sommer ʼn paar opvallende sake wat in hierdie jare die aandag geniet het.

Die eerste en mees algemene probleem wat baie van die Kaapse inwoners ervaar het, was die beleid van die Engelse regering om die Kaap in alle opsigte te verengels. Hoewel die oorgrote deel van die bevolking Nederlands as voertaal gebruik het, was Engels sedert 1822 die enigste amptelike voertaal in die Kaapkolonie. Dit het groot ongelukkigheid veroorsaak.

Dan was daar in 1834 die vrystelling van die slawe, ’n saak wat groot maatskaplike veranderings teweeg gebring het – en deur die baie swak hantering van die vergoeding vir baie boere groot skade berokken het.

’n Ander saak, wat met die voorgaande twee verband hou, was dat in 1836 die eerste boere na die Noorde begin trek het. Die beoogde trek was ’n onderwerp van ernstige diskussie. Nie maar net die gevare en moeites wat verwag kon word nie, maar ook die vraag of dit geoorloof was om te trek. Nie net die regering nie, ook die kerk het die trek afgekeur en lidmate is daaroor selfs gesensureer.

En dan volg in 1838 die groot teenslae vir die trekboere wat uiteindelik uitloop op die slag by Bloedrivier en die vestiging van die Republiek Natalia.

Dit wil voorkom of die voorgeslagte in daardie tyd met min of meer dieselfde probleme te kampe gehad het as ons vandag.

Die NG Kerk🔗

Op kerklike gebied was daar sowel verskille as ooreenkomste met vandag.

Om die kerklike lewe in daardie jare te verstaan, moet die posisie van die kerk in ag geneem word. Die Gereformeerde Kerk, soos dit in die jare van volksplanting aan die Kaap gestig is, het altyd ’n baie onderdanige posisie teenoor die regering ingeneem. Die eerste 125 jaar is geen ander kerk as die Gereformeerde Kerk toegelaat nie. Dan kry die Lutherse Kerk vryheid van bestaan en in 1804, met die bekende kerkwet van De Mist, kom daar algehele godsdiensvryheid.

Ongeveer 80% van die inwoners van die Kaap was lidmate van die Gereformeerde Kerke. In die sogenaamde buitedistrikte was dit selfs nagenoeg 100%. Die Gereformeerde Kerk was dus in hoë mate die volkskerk. (Van 1804 tot 1842 was die offisiële naam trouens Hervormde Kerkgenootskap, maar die naam ‘Gereformeerd’ het redelik algemeen in gebruik gebly).

As volkskerk is die finansies van die Gereformeerde Kerk deur die owerheid voorsien en die gevolg was dat die owerheid ’n baie sterk hand in kerklike sake gehad het. Eintlik kon die kerk niks doen sonder goedkeuring van die owerheid nie.

In 1824 het die Engelse bewind aan die Kaap besluit dat die kerk meer selfstandig sy eie sake moes gaan behartig. Hierdie besluit is egter maar halfhartig geformuleer en deurgevoer, want die reëlings van die kerkwet van De Mist moes wel in ag geneem word. En dit was juis hierdie kerkwet wat die onderdanige posisie van die Gereformeerde Kerk geformaliseer het! Die gevolg was dat eintlik niemand met sekerheid kon sê wat die kerk nou wel en wat hy nie self mog besluit nie.

Beroeping van Predikante🔗

Die onsekerheid kom duidelik uit by die beroeping van predikante. Predikante vir die volkskerk is altyd deur die owerheid voorsien, betaal, na willekeur verplaas en indien nodig ontslaan. In die dertigerjare word die vraag gestel of die kerkrade nie die reg en plig het om self predikante te beroep nie. Die owerheid wil wel aan die wens toegee, behalwe vir gemeentes wat ’n finansiële toelae ontvang. Die verste wat die sinode van 1837 durf gaan, is om uit te spreek dat die gemeentes die reg behoort te hê om self te beroep met goedkeuring van die goewerneur! Daar was dus wel ’n begeerte na selfstandigheid, maar tegelykertyd ook ’n vrees om die hand van die owerheid te los.

Dieselfde tweeslagtigheid sien ons by die sinode van 1829. Die sinode het ’n reglement vir die kerkrade opgestel. Daar is in die verskillende gemeentes baie uiteenlopende werkwyses toegepas. ’n Voorbeeld daarvan was die verkiesing van ampsdraers. In sommige gemeentes het net die kerkraadslede ʼn stem daarin gehad, in ander gemeentes ook oudkerkraadslede. Dit het gebeur dat iemand wat verkies is, sonder genoegsame rede geweier het om die benoeming te aanvaar. Die sinode besluit nou dat die regering versoek sal word om in voorkomende gevalle die weieraars te beboet met 150 riksdaalders ten behoewe van die Predikante-Weduweefonds.

Die Eredienste🔗

Een van die groot probleme wat in die eerste helfte van die 19de eeu reëlmatig aandag vra, is die reëling van spesiale sitplekke in die kerk.

In die volkskerk het die belangrikste owerheidspersone gereserveerde (en dikwels fraai uitgevoerde) sitplekke gehad. Die probleem wat opgeduik het, was nie soseer hierdie gereserveerde plekke nie, maar die ‘waarde’ wat aan elke plek toegeken kan word. Die een ereplek is belangriker as die ander ereplek.

Die gereserveerde plekke moes dus in ’n bepaalde rangorde toegeken word. En die vasstelling van die rangorde het geweldige probleme veroorsaak.

Soveel so dat selfs besluit is dat die verdeling nie deur die kerkraad nie, maar deur die landdros vasgestel moes word.

In 1829 word ’n poging aangewend om die gebruik heeltemal af te skaf. In Kaapstad se gemeente word dit geredelik aanvaar, maar in die buitegeweste stuit dit op teenstand. As kompromis word dan besluit dat die getal persone wat in aanmerking kom vir gereserveerde plekke, beperk sal word tot diensdoende regeringsamptenare en kerkraadslede.

’n Ander, tans ook onbekende, gebruik was die benoeming van ’n voorleser. Aan die voorleser is die lees van die Bybelgedeelte wat in die diens behandel sal word, opgedra. Maar die voorlesing het plaasgevind voor die aanvang van die erediens. By die tweede klokgelui moes die voorleser die hoofstukke wat deur die predikant daarvoor aangewys was, begin voorlees. By die derde gelui het dan die kerkraad en die predikant verskyn en die kerkdiens ’n aanvang geneem.

Hierdie gewoonte het daartoe gelei dat die lidmate die Skriflesing verontagsaam het en net voor die derde gelui die kerkgebou ingegaan het. Die sinode van 1842 het in ’n herderlike brief teen hierdie optrede gewaarsku.

Ook die voorlesers is partykeer tot die orde geroep. Wanneer geen predikant beskikbaar was nie, moes die voorleser ook die preek lees. Uiteraard mog hy nie van die geskrewe teks afwyk nie, maar ook in die gebede moes hy die formuliergebede lees en mog hy nie sy eie woorde gebruik nie. Dit het selfs wel voorgekom dat hy na die diens die seën uitgespreek het, iets wat hom nie toegestaan was nie.

Ernstiger nog is die klag dat die bywoning van die kerkdienste soms veel te wense oorgelaat het. Die verskynsel was veral duidelik by die Kategismusprediking. Daar was lidmate wat slegs daarvan gebruik gemaak het by die doop van hulle kinders.

Kerk en Kleur🔗

Vanaf die stigting in 1652 is daar in die kerk geen onderskeid volgens velkleur gemaak nie. Khoi, slawe en kleurlinge wat tot die geloof gekom het, is as lidmate van die kerk aanvaar. In die beginjare van die 19de eeu kom daar verset teen hierdie houding. Daar is talle aspekte wat in die verandering ’n rol gespeel het: die Britte se houding ten opsigte van die gekleurde bevolking; die invloed van die Verligtingsgees; die groeiende getal nieblanke lidmate; die optrede van die buitelandse sendinggenootskappe, ens. Die kerk het altyd die standpunt ingeneem dat daar geen onderskeid op basis van velkleur gemaak mag word nie. Die verset daarteen het egter toegeneem en is aanvanklik veral toegespits op die viering van die nagmaal. Daar was al gemeentes waar die gekleurde lidmate afsonderlik nagmaal gevier het nadat die blanke lidmate (die ‘gebore Christene’!) eers aangesit het.

Aan die sinode van 1829 is gevra om die saak te bespreek en ’n eenvormige reëling vas te stel. Tereg is tydens die vergadering opgemerk dat ’n dergelike bespreking aan die Christelike godsdiens afbreuk sou doen. Die afgevaardigdes was eenstemmig daarin dat gelyktydige deelneming van alle lidmate aan die nagmaal, sonder onderskeid van kleur of afkoms, ’n onwrikbare stelreël is wat op die Woord van God gegrond is en dat alle Christengemeentes en gelowiges verplig was om daarvolgens op te tree.

Daar was egter lidmate en kerkraadslede wat hulle openlik teen hierdie gevoelens verset het. Die stryd oor hierdie saak het dwarsdeur die 19de eeu groot moeites in die NG Kerk veroorsaak en uiteindelik het die kerk aan die druk om rasskeiding in die kerk toe te pas, toegegee.

Sondagsheiliging🔗

Op byna elke kerklike vergadering se sakelys kom die onderwerp Sondagsheiliging voor. Daar is baie klagtes: koop en verkoop, dans, timmer, messel, onnodige reise vind ongehinderd plaas. Baie mense bring die rusdag deur in vermaak en dronkenskap. Die komediespele op Saterdagaande het aanleiding daartoe gegee dat baie blanke lidmate óf met baie min vrug aan die eredienste deelgeneem het óf die dag op hul bed deurgebring het.

Merkwaardig genoeg word as een van die oorsake van ontheiliging van die Sondag ook genoem die gewoonte om die huweliksbevestiging op Sondae te laat plaasvind. Dit het waarskynlik te doen met die feestelikhede wat by so ’n geleentheid gereël is.

En die oplossing vir die probleem van die ontheiliging van die Sondag? Die owerheid sal versoek word om strenger Sondagswetgewing vas te stel.

Alles byeen is daar merkwaardig baie ooreenkomste met vandag se vraagstukke en probleme. Die aanslae op die kerk is dan ook deur die eeue dieselfde, soos wat ook die beskermende Hand van God altyd daar is.