Bron: Kerk en Woord, 2004. 3 bladsye.

Kenmerke van die Valse Kerk

In die eerste asook die laaste sin van art 29 NGB bely ons die roeping om uit die Woord noukeurig te onderskei wat die ware kerk is; wat die liggaam asook die gemeenskap van die ware kerk is wat onderskei moet word van al die sektes wat hulself kerk noem. En die laaste sinnetjie sê dat hierdie twee kerke maklik herken en van mekaar onderskei kan word.

Tussen hierdie omarming van ons roe­ping om die ware en valse kerk van mekaar te onderskei, vind ons dan eer­stens die kenmerke van die ware kerk, tweedens die kenmerke van die lidmate van die ware kerk, en derdens die kenmerke van die valse kerk wat in hier­die artikel bespreek word.

Aangesien God sy koningskap op 'n besondere manier in die kerke laat kom, moet dit ook ons erns wees om die kerke en almal wat op die naam "Kerk" aan­spraak maak, te toets en te onderskei volgens die Woord of hulle die ware of die valse kerk is.

Hierdie roeping en hierdie standpunt word vandag oor die algemeen beveg. Dit is volgens die teenstanders ongeoorloof om so tussen kerke te onderskei, dis blyk­baar liefdeloos, en dis in stryd met die basiese regte van mense, omdat dit nie by ons kan lê om waar of vals te bevind nie.

Want ons het 'n gebrekkige visie en beslis nie die volle waarheid in pag nie.

Deesdae mag ook nie meer sendingwerk gedoen word met die verkondiging van Jesus Christus as die enigste geldige waar­heid en die enigste Weg na die Vader en die enigste bron van die ewige lewe nie. Dit sou verwaand en arrogant wees wan­neer een klomp mense die waarheidstoets op hulself en andere wil aanlê.

Maar ons lees dan uit die briewe van Christus aan die gemeentes van Klein Asië waar Hy die gemeentes leer hoe om helder te onderskei tussen die wat waarlik Jode is, oftewel die wat waarlik die kerk van God is, teenoor die ander wat aan die sinagoge van die Satan behoort.

Teenoor die wat beweer dat hulle kerk is, maar dit nie is nie, maar wat 'n sina­goge van die Satan is, het ons die roeping om ons af te skei.

Paulus stel in 1 Korinthiërs 5:11:

maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as 'n broeder bekend, 'n hoereerder is of 'n gierigaard of 'n afgodedienaar of 'n kwaadspreker of 'n dronkaard of 'n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie.

Nadat die kentekens van die valse kerk genoem is, spel die NGB nie ook die merktekens van die valse gelowiges uit nie. Dit is 'n erkenning dat ons nie 'n oordeel durf uitspreek oor die saligheid van indiwidue wat hulle in die valse kerk bevind nie.

Hoe skerp die Reformatore ook soms gespreek het wanneer hulle die eis van die Woord vir die kerklike lewe opgeëis het, oor persone het hulle geen oordeel uitgespreek nie.

Dan is dit ook 'n valse probleem wat mense jou wil toesnou as jy die same­koms waar hulle saamkom as die valse kerk herken, dat hulle onmiddellik ver­ontwaardig aanneem dat jy hulle dus as ewig verlore beskou en dat net die enke­linge wat hier aan jou gemeente behoort, salig kan wees.

Dit is ver van die waarheid. Die ken­merke van die valse kerk beweer of sug­gereer nie dat die persone wat daaraan behoort ewig verlore gaan nie, maar wel dat hulle onder korrupte herderskap staan en dat hulle met vergiftigde voedsel bedien word.

Merktekens🔗

Net soos wat die ware kerk met drie onmiskenbare merktekens uitgeken kan word wat daarin saamtrek dat hulle Chris­tus as hulle enigste Verlosser in die geloof omhels, en sy juk op hulle neem en aan Hom gehoorsaam is, net so kan die valse kerk aan drie kenmerke uitgeken word.

Dit kan in een kort sinnetjie saamgevat word: So 'n kerk wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie.

Die eerste manier waarop die valse kerk die juk van Christus afwerp, is deur die insettinge van mense aanneemliker as Heilige Skrif te ag.

In die Roomse Kerk is dit tradisies, die besluite van die konsilies en ook die uitsprake van die Pous wat heerskappy oor die Skrif voer. Menslike insettinge is op mense se gewetens afgedwing.

Deesdae kom hierdie kenteken ook baie meer verfynd voor. Deur die taalteorieë van die teologie stel slim en geleerde mense allerlei bronne op gelyke vlak agter en naas die Skrif wat dan as't ware oor die betekenis van die Bybel heers.

Hulle versin eie insettinge wat vir mense vleiend is. Hulle ontwerp denkbeelde oor God en hang populêre besluite en optre­des daaraan op.

En dan die vreemde verskynsel: Die ampsdraers word in hierdie valse kerklike praktyke nie gestraf as hulle teen die Woord van God en teen die wil van Christus handel nie. Maar hulle word wel gestraf as hulle teen menslike insettings ingaan waaroor die kerk beslis het.

Dan sal hulle waarskynlik kon kom tot 'n uitspraak dat die Skrif nou nie juis hierdie praktyk voorskryf nie, maar dat die Skrif dit darem ook nie eksplisiet verbied nie.

Dan ignoreer hulle gewoon die Skrifge­deeltes waar die Woord hom wel deeglik daaroor uitlaat, en dan vaardig hulle 'n besluit uit op die morele grondslag van menseliefde.

Dit is liefde wat nie op die waarheid berus nie, maar dit is sentimenteel, soet­sappig. As iemand hierdie sentimentaliteit teenstaan, word hy meedoënloos vervolg.

So maak die valse kerk. Hulle skryf aan hulself en hul ordonnansies meer mag en gesag toe as aan die Woord van God.

Nog 'n manier waarop die valse kerk die juk van Christus afwerp, is deur die sakramente nie te bedien soos wat Chris­tus beveel het nie.

Eintlik word net twee werklike seremo­nies in die Nuwe-Testamentiese kerk onderhou wat Christus beveel het. Hy het opdrag gegee om al sy dissipels te doop in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en Hy het ook beveel om die nagmaal te onderhou.

Ons weet dat die Ou Testamentiese priesters allerlei alternatiewe, bykomende of selfs aangepaste offers en seremonies ingestel het wat God hulle nie presies beveel het nie.

Ons weet dat dit in die Ou Testament verskeie kere daartoe gelei het dat Hy die priesters voor die offeraltaar gedood het. Hy het die priesters by die ark omge­bring as hulle maar net 'n reukoffer met 'n ander resep voorberei het as wat die HERE beveel het, of as hulle die ark op 'n koeiwa vervoer het, pleks om dit aan die draaghoute te dra.

Die punt is dat ons nie aan die hoe­veelheid sakramente en seremonies wat Christus ingestel het, mag peuter nie.

Ons mag nie soos die Roomse Kerk sewe sakramente instel as Christus net twee beveel het nie. Maar ons mag ook nie aan die inrigting van die seremo­nies peuter nie, want daar is 'n baie spesifieke rede waarom Christus dit op daar­die spesifieke manier ingestel en beveel het.

Die Roomse mispriester mag nie die lig­gaam van Christus aan die lidmate met die broodjies uitdeel en die bloed van Christus met die drink van die wyn net vir homself neem nie. Veral nie as ons sien watter besondere betekenis nie alleen die liggaam van Christus nie, maar ook sy bloed het tot die versoening van al ons sondes.

Net so mag mense nie eiesinnig met die uitdeel van die bloed van Christus by die nagmaal handel nie. Wanneer 'n tafelgenoot die beker van die Here Jesus vanaf die bedienaar ontvang en onaange­raak verbystuur, en daarna sy eie beker­tjie wyn neem en dit drink, is die verkondiging daarvan presies die teenoorge­stelde as wat ons met die nagmaal bely.

Die bekertjiedrinker laat die heil van Christus rustig by hom verbygaan en drink sy eie heildronk.

Diesulkes heg aan eie besluite meer mag en gesag as aan die Woord van Christus, en werp die juk van Christus van hulle af weg.

Die derde helder merkteken van die valse kerk waaraan ons kan sien hoedat hulle die juk van Christus afwerp, is die korrupte manier waarop hulle die tug bedien. Bykans op dieselfde manier as wat die Jode gemaak het met die blind­gebore bedelaar wat Jesus by die tempel genees het (Johannes 9).

Toe Luther in sy stellings die afgodery van die Roomse Kerk blootgelê het, is dit verbete beveg, en is die banvloek oor hom uitgevaardig, sy boeke verbrand en is hy selfs voëlvry verklaar.

Hulle bedien nie die Christelike dissipline soos Christus en sy apostels dit beveel het nie, maar voer 'n skrikbewind vir eie gewin.

Net soos wat die despote van ouds heer­skappy oor die lewens van hul onderdane gevoer het, so ook voer hierdie diktators 'n soort swaardmag oor die mense wat hulle oor hul afgodery en gierigheid aanspreek.

Ons sien hierdie verskynsel intree sodra meer geldmag in die hande van 'n gesa­mentlike kerklike struktuur beland.

'n Kerk openbaar haarself as 'n valse kerk sodra sy die gewetens van mense met vervolgingsdrang bind aan haar eie instellings en nie aan die Woord van die HERE nie, wanneer hulle nie meer teen die sonde ingaan nie, maar dit op allerhande maniere begin goedpraat, en wanneer hulle diegene uitban wat deur woord en daad aan die Woord van God getrou wil wees.

Dit is opmerklik wanneer ons sien dat die kerklike dissipline by 'n gemeente al hoe slapper en slapper word. Veral wan­neer hulle die wêreldgelykvormigheid goedsmoeds laat gaan. Of wanneer niks daaraan gedoen word as lidmate dieselfde lewenskultuur van die wêreld rondom hulle opslurp en daarin meegesleur raak nie.

Die wêreld met sy vermaaklikheidskul­tuur kom die kerk binne.

Maar later, sodra iemand begin wal gooi en golwe maak teen die afwykings van die Woord, dan word so iemand as 'n moeilikheidmaker eenkant toe geskuif, en later as 'n laspos uit die gemeente uit­gedryf.

Hierdie praktyke het noodwendig die manier om ook mettertyd in allerlei kerklike strukture vorm te kry. Want die mens is geneig om vir homself mag op te bou.

By die valse kerk wat die juk van Christus afwerp, sal 'n mens behoorlike gesagstrukture vind om korrupsie deur te dryf.

Daarom is die merktekens van die valse kerk so uitstaande uniek afgesonder van die ware kerk.

Want by die valse kerk word die valse woordbediening en die verdraaide sakra­mentsbediening en die verwronge tugbe­diening deur hul eie magstrukture aan­gedrywe, deur hul konsilies en hul pouse en inkwisisies.

Ten slotte, die derde deel van art 29 NGB leer ons vanuit die Skrif om die ware kerk van die valse kerk te onder­skei. Die bedoeling is dat ons aktief en met brandende ywer ons gaan voeg by die ware kerk waar God haar vergader.