Bron: Kompas, 2007. 2 bladsye.

Kerk, Ekumene en Sending

kerkbrand

Dit mag vir ons lyk asof hierdie drie sake ʼn eenheid vorm wat onbreekbaar is. En dit hoort ook wel so. In die huidige denke wêreldwyd oor sending is die plek van die kerk in hierdie (drie-)eenheid glad nie meer so seker nie. Die kerk verdwyn byna geheel uit die prentjie. In die plek daarvan kom die koninkryk van God te staan. Een van die opvallendste gevolge is dat gemeentestigting en die gepaardgaande toevoeging van bekeerlinge tot die kerk, glad nie meer die prioriteit kry wat dit behoort te geniet nie. Verskuiwings in die verstaan van wat ekumene in hierdie verband is, bly nie uit nie.

Plantatio Ekklesiae – Kerkplanting🔗

In die moderne sendingwetenskap (missiologie as u wil!) word groot klem geplaas op die dienende karakter van die kerk ten opsigte van die wêreld. Die kerk is daar om te dien en bevrydend in die samelewing op te tree. Die tradisionele verstaan van sending as kerkplanting wat tot stand kom deur bekering van ʼn lewe in duisternis na die gawe van lewe in Jesus Christus, word gesien as ʼn verindividualisering van die verlossing. Toevoeging van bekeerlinge tot die kerk word sekondêr of word gesien as sonder bestaansreg.

In hierdie verband word ʼn sprekende beeld gebruik. Die kerk word gesien as ʼn huis wat besig is om te brand. Uitreikwerk na die wêreld deur ʼn sendeling om bekeerlinge by die kerk te voeg, word gelykgestel aan ʼn kranksinnige wat sy oes in ʼn brandende skuur indra. Hiermee word die kerk teruggeroep van die sendingveld. Die probleem word nie meer gesien buite die kerk nie, maar in die kerk. Die kerk moet word wat dit veronderstel is om te wees – kerk van Jesus Christus te midde van die volke van die wêreld. Bepalend vir die toekoms van die koninkryk van Christus is nie meer wat “buite” op die sendingveld gebeur nie, maar deur wat in die kerk self plaasvind.

Toevoeging tot die kerk speel in die model hierbo beskryf, eintlik geen rol meer nie. Die inlywing in die kerk het in elk geval daarvolgens geen teologiese begronding meer nie. Die kerk leef nie meer haar sendingsroeping uit deur ʼn verkondiging van die evangelie aan almal nie. Haar missionêre karakter word bepaal deur die verkondiging van ʼn evangelie wat “universeel” is. Die lyne van kerk na sending as aktiwiteit waardeur mense tot die kerk toegevoeg word, loop dus nie meer so duidelik soos voorheen nie. Volgens die bekende Nederlandse sendingkundige, Verkuyl, is dit ʼn model wat té veel die kerk in die sentrum plaas (“ekklesiosentries”). Hy bepleit daarteenoor ʼn model wat meer die koninkryk van God in die middel plaas (“regnosentries”). Kerk en sending kom hiermee in ʼn verwyderde verhouding tot mekaar te staan.

Kerk en Sending🔗

Voordat nog enige betekenisvolle woord gesê kan word oor die kerk se plek in sending, behoort ons aandag te hê vir God wat die wêreld só liefgehad het dat Hy sy eniggebore Seun na die wêreld gestuur het. Die Eerste wat stuur en kom, is God Self. God self het in hierdie wêreld ʼn sending. Heel mooi is die inset van die Dordtse Leerreëls by hierdie sending van God. In die eerste hoofstuk paragraaf 2 word by God se sending in hierdie wêreld begin as antwoord op die mensdom se vloek onder die sonde.

Daarby laat die Here God dit nie. Christus self skakel sy dissipels/apostels by hierdie Goddelike sending in wanneer Hy hulle uitstuur net soos die Vader Hom gestuur het. Op hierdie fondament van die apostels en profete word die kerk van Christus verder gebou. Hierdie bouwerk is kerkwerk. Daarmee bedoel ek dat dit die kerk self is wat, vervul met die krag van die Gees, bou aan die woonplek van God op aarde. Die gelowiges word in die huis ingebou, maar bou tegelyk self ook aan die huis.

Dit het mode geword om van Christus se gemeente te praat as “missionêre” gemeente. Dit is nie onbelangrik dat op hierdie manier die sendingstaak wat aan die gemeente verbind is, na vore gebring word nie. Die gemeente is nie net missionêr nie, maar dit vertel wel iets baie belangriks oor die karakter van die gemeente en haar roeping. Ons mag en behoort te sê dat dit deel van die wese van gemeente-wees is om te leef met die bewuste roeping om Christus se aanspraak op die wêreld en sy mense ook buite eie gemeente bekend te maak.

sending

Kerk, Sending en Ekumene🔗

Die verkondiging van Christus ook buite eie gemeente sou kon beteken dat ons dit op ons eie kerklike voorstoep doen of verder weg van eie adres. Die een gemeente sal moontlikhede hê wat die ander nie het nie. Ons hoef ook nie só ʼn klem te plaas op die roeping van die plaaslike gemeente om die evangelie na buite uit te dra asof elke gemeente per definisie moet begin werk aan ʼn groot evangelisasieprojek nie.

Dit is in hierdie verband dat die verhouding ekumene en sending konkreet gestalte kan kry. Elke gemeente behoort doelbewus en aktief gawes, tyd, middele (ook finansieel) en energie te rig op die missionêre roeping van die gemeente. Dit beteken nog nie dat elke gemeente besig hoef te wees met ʼn eie projek nie. Deeglike aanpak van sending- en evangelisasieprogramme vra nie net baie aandag nie, maar veral ook volgehoue aandag. Of die drakrag in een enkele gemeente altyd aanwesig is, is te betwyfel. Samewerking juis om die evangelie uit te dra is altyd ʼn baie mooi manier waarop die ekumene gestalte kry.

ʼn Oordrewe selfbewussyn van die plaaslike gemeente se belang het al baie daartoe gelei dat die sig op die ekumene spesifiek in die sending nie goed ontwikkel is nie. Ons hoef nie daarvan uit te gaan dat al die gawes en middele wat nodig is om op ʼn verantwoorde manier sending/evangelisasie te doen, in enige spesifieke gemeente teenwoordig moet wees nie. Dit is baie mooi as ʼn gemeente so ryklik deur Christus geseën is met gawes. Die werklikheid is dat daar min gemeentes is wat beskik oor die gawes wat nodig is om oor ʼn langer termyn hou met ʼn sendingsprojek vol te hou.

Die beperktheid van gawes kom soveel te meer na vore wanneer daar verder gepoog word om oor kultuurgrense heen na mense uit te reik. Laat ons eerlik wees – noodsaaklike kundigheid ontbreek dan dikwels en die afwesigheid van kundigheid kan selfs die evangelie grootliks skade berokken. Hoe mooi is dit dan as in die sendingwerk die eenheid in die geloof tussen kerke uitdrukking kan kry. Kerke kan mekaar op ʼn baie konkrete manier bystaan in die uitdra en verdediging van die geloof op plaaslike, nasionale en selfs internasionale vlak. Die band tussen sending en ekumene is hierin vanselfsprekend.

Besinning🔗

Hierdie uitgangspunte in die sendingwerk kan en moet ewe goed toegepas word op die evangelisasiewerk. Dit is daardie werk wat ons dikwels nader aan eie kerklike huis doen. Die meeste kerke sukkel om op ʼn konstruktiewe manier aan die gang te kom met georganiseerde uitreik-aksies met die evangelie. Op ʼn beskeie manier wil ek met hierdie skrywe besinning vra oor die moontlikhede van samewerking tussen kerke onderling en binne bestaande kerkverbandelike strukture. Daar is werk genoeg, geleenthede te veel en gawes genoeg, as ons maar almal bereid sal wees en bly om nie vanuit ons eie kleiner (plaaslike) kerklike verwysingsraamwerk te dink nie.