1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Kerk en Koninkryk

Daar is vandag baie gepraat oor die koninkryk van Christus, die meeste daarvan nie-Bybels. Ons hoor al hoe meer van ʼn sogenaamde koninkryk wat in hiérdie wêreld, vóór die wederkoms van Christus, verwerklik sal word, maar dit is die een ding wat die Skrif nie oor die koninkryk leer nie. Die koninkryk van Christus is bowenal ʼn hemelse koninkryk (Matt. 26:29; Joh. 6:15; Joh. 18:36). Dit kom van die hemel. Dit is hemels en geestelik van aard (Joh. 3:3, 5; Luk. 17:20, 21). Die verwerkliking daarvan is hemels (Openb. 12:10).

Wanneer ons van die koninkryk van Christus praat, praat ons van die koninkryk van sy genade, waarin alles deur sy genadige, saligmakende krag georden en regeer word. In ʼn algemene sin behoort alles natuurlik aan die koninkryk van Christus, omdat Christus soewerein in sy almag oor alles regeer (Matt. 28:18; Filip. 2:9-11). In eintlike sin is sy koninkryk ewenwel die plek van sy genade, en die plek van sy genade, wat ons vandag koninkryk noem, is die kerk van Christus. Die koninkryk is nie iets anders, afsonderlik van die kerk nie, die koninkryk is die kerk. Net daar regeer genade. Genade strek nie verder as die kerk nie. Daar is nie ʼn “algemene genade” nie.

Deur genade is die burgers van God se koninkryk in die kerk. Hulle word in daardie koninkryk deur die genade en die Gees van God versamel (Kol. 1:13). In daardie koninkryk word hulle deur sy genadige krag bewaar en as burgers van daardie koninkryk word hulle, by die volle verwerkliking van die koninkryk van Christus, oorgebring in die hemelse heerlikheid. In die Onse Vader bid ons vir die koms van daardie koninkryk. Aan daardie koninkryk behoort die sleutels waarvan Christus in Matthéüs 16:19 praat. Soos Jesaja lank gelede reeds geprofeteer het, is heil die mure van die koninkryk, en lof die poorte daarvan (Jes. 60:18).

Die koninkryk ís in hierdie wêreld teenwoordig, maar as ʼn buitepos in vyandige gebied waarin die koninkryk voortdurend soos ʼn leër in die stryd en ʼn beleërde stad is (Jes. 1:8; Matt. 16:18; Openb. 20:9). Die kerk bly in hierdie wêreld die strydende kerk, die kerk wat oorlog voer.

Die kerk is die koninkryk van Christus en kan daarom nie (en mag ook nie) die wapens van hierdie wêreld gebruik nie. Selfs as die kerk die wêreldoorheersing wat sommiges begeer, sou behaal, sou sy nie die koninkryk van Christus ʼn enkele tree in die stryd laat vorder nie. Die koninkryk word bevorder deur die stil, klein wêreld van die evangelie, waarin hulle, wat eers burgers van hierdie wêreld en slawe van Satan was, minsaam oorwin en in gemeenskap met Christus gebring word, om saam met die heiliges burgerskap te verkry en deel te word van die huisgesin van gelowiges (Ef. 2:19). Dit is die oorwinning van die koninkryk van Christus, ʼn oorwinning wat reeds aan die kruis behaal is (Kol. 2:14, 15). Geen aardse mag, nie eers die sonde van die burgers van die koninkryk, kan die oorwinning van die koninkryk ooit weerstaan nie (Matt. 16:18).

Die koninkryk van Christus is sodanig en so volkome geestelik van aard dat niemand dit sal sien tensy hy weergebore word nie. Deur genade en deur die evangelie behoort almal wat geroep en nog nie verheerlik is nie, aan hierdie koninkryk. In hierdie koninkryk is hulle, deur Christus, meer as oorwinnaars.

Is jy ʼn burger van dié koninkryk?