2 bladsye.

Kerkgeskiedenis: "Verpligte vak" vir Christene?

Nie so Belangrik Nie?🔗

Is kerkgeskiedenis so belangrik? Is dit nie maar net name en feite nie? Miskien is dit interessant vir die mense wat daarin belangstel, maar dit is tog nie so belangrik vir die normale gelowige nie?

God beskou dit wel as belangrik. Kyk na die Ou Testament. Vol van God se dade, van sondes deur God se volk gepleeg, vol van vyande en gevare. God het dit so vir ons opgeskryf, dus duidelik is dit alles baie belangrik. Sy volk moet dit onthou en daarmee besig bly. Hoekom? Om die sonde te vermy, om besield as God se volk te lewe; om in nood vir redding te smeek; om saam te jubel.

So herinner Moses, op die drumpel van die beloofde land, die volk aan sy geskiedenis en aan God se groot dade: so is die God van Israel en daarom moet sy volk bly luister na sy woorde. Slegs so kan die volk werklik lewe! Hy herinner ook aan die sondes van die verlede, en rig so waarskuwings vir die toekoms (Deuteronomium 1 – 6). Laat die volk veral nie dink dat hulle dit self alles vermag het nie (Deuteronomium 8:16–18). Josua, net voor sy sterwe, doen dieselfde. Die Here vernuwe sy verbond met sy volk (Josua 23 en 24). En na die ballingskap bring die Leviete met dieselfde bedoelings die gebeure van lank gelede in herinnering (Nehemia 9). Ook in die Psalms kry jy hierdie gedagte (sien o.a. Psalm 78, 95 en 105 – 107).

En dan die Nuwe Testament! Dit toon indringend aan hoe ons met die verlede besig moet wees om nou en later te lewe. Stefanus getuig in Handelinge 7 van wat die God van Heerlikheid deur die jare vir sy volk gedoen het. In die brief aan die Hebreërs beklemtoon die skrywer ’n voorval uit die geskiedenis, om sy lesers te waarsku om die voorbeeld van ongehoorsaamheid nie na te volg nie (Hebreërs 4:4–11). Verder roep hy hulle op om in die ware geloof te volhard, en dan volg daar ’n lang ry – nee, nie geloofshelde nie, maar van sondige mense in wie God die geloof gewerk het, sodat hulle Hom in allerlei situasies gehoorsaam het. Hulle vorm ’n groot wolk van getuies rondom ons (Hebreërs 10:35 – 12:1). En Judas wys sy lesers op die geskiedenis om hulle oë oop te maak vir die dwaalleer van hulle eie tyd (Judas 5 - 9).

Die Nuwe Testament veronderstel dat gelowiges die geskiedenis ken. Dit vertel baie oor ontstaan en groei van die gemeentes van Christus. Gemeentestigting deur Paulus, die aanstel van ampsdraers, die versterking van die onderlinge band en die bestryding van dwaalleer. Hierdie sake hoort alles by die geskiedenis van God se kerk. Die geskiedenis gaan voort, want Christus gaan voort.

Christus en Sy Liggaam🔗

As ’n mens Bybelstudie doen dan staan Christus altyd sentraal. Dit gee jou as gelowige moed. Daarenteen gaan dit in die kerkgeskiedenis tog oor sondige mense? Al die verhale oor stryd en skeuring maak ’n mens net hartseer en mismoedig.

Tog kan ’n mens nie oor die hoof Christus praat, sonder om ook aandag aan sy liggaam, sy sondige gemeente, te gee nie. Hy het vir sy gemeente gesterf en lei en bewaar dit vanuit die hemel, soos Hy belowe het. Hy laat sy gemeente deur verskeie gawes groei in eenheid en kennis (Efesiërs 4:1-16). Christus werk sy plan uit en neem sy kerk saam op weg na die toekoms. Dit is Sy lewenswerk waarby hy sondige mense inskakel. Daardie werk wil ’n mens tog graag ondersoek? As kerklidmaat kry jy dan eintlik skaam oor al die ontrou, die dwaalspore, die lewe sonder Hom, dwarsdeur die hele geskiedenis tot nou toe. Dit maak ons ootmoedig. Maar die treffendste is dat jou oë oopgaan vir die Here se trou, dat Hy steeds barmhartig bly sorg vir sy bruid en haar verder bring (Efesiërs 1:15-23). Uiteindelik bemoedig kerkgeskiedenis ons juis werklik!

Antwoorde van Gister op Vrae van Vandag?🔗

Kerkgeskiedenis is soms baie interessant, maar kan die gelowiges in die hede nie regtig verder help nie. Antwoorde van gister pas nie op vrae en dwalings van vandag nie.

Is dit so? By kerkgeskiedenis gaan dit ten diepste steeds oor dieselfde stryd: Christus teen die satan. Die Nuwe Testament spreek van Jesus en pseudo-jesusse, apostels en skyn-apostels, oor die leer van die apostels en dwaalleer, om Jesus te volg en aan satan geen plek te gee nie (2 Korintiërs 11:3-4, 13-15; Efesiërs 4:27). Ons het die wapenrusting nodig, nie teen mense nie, maar teen die duiwel (Efesiërs 6:11-12). Sien ook Openbaring 12 oor die stryd tussen die vrou en die draak. Daardie lyn moet ons steeds ontdek en volg. Watter pad het Christus met sy kerk geloop, dwarsdeur allerlei menslike knoeiwerk? En ook: hoe het satan steeds weer probeer om die kerk te vernietig, en waarheen het daardie verkeerde keuses gelei? Dit help vandag om die regte pad te vind en dit aan ander te toon. Die duiwel is nie baie oorspronklik nie, al verander sy taktiek voortdurend en word hy steeds gevaarliker. Gedurig sien ’n mens in die geskiedenis dieselfde dwaalspore wat God in sy Woord al aangewys het. Dan is dit goed om die gemeenskap van heiliges te gebruik en ook na jou broers en susters in die verlede te luister, na wat hulle al deur die Heilige Gees mag ontdek het.