Bron: Waarheid en Dwaling. 3 bladsye.

Kerkverband

Read Handelinge 15:1-4

‘n Sinode is ‘n belangrike byeenkoms. Nie omdat ‘n sinode as sodanig meer belangrik is as enige ander kerklike vergadering nie. In die Gereformeerde kerkregering is daar nie so iets soos ‘n sinode wat die hoogste gesag en die finale sê het nie. Die Here het al die gesag en al die sê in Sy kerk. Daar is ‘n ander rede waarom ‘n sinode ‘n belangrike byeenkoms is. Daar word gepraat en besluit oor sake wat vir elke lidmaat en elke plaaslike kerk van groot belang is.

Al hierdie sake moet in die lig van Gods Woord beoordeel word. Alles wat die sinode doen en hoe hulle dit doen, moet op die skaal van die Skrif geweeg word. In Handelinge 15 vind ons enkele direkte aanwysings en beginsels van hoe die Here wil hê dat sy kerke in sy Naam sal vergader.

Die Wonder van Kerkverband🔗

In die hoofstukke wat aan Handelinge 15 voorafgaan, word vertel hoe Paulus se eerste sendingreis verloop het. Die Heilige Gees het Paulus en Barnabas afgesonder om oral in Klein-Asië die evangelie van Jesus Christus te gaan verkondig. Daar waar hulle die evangelie van verlossing gepreek het, het God gesorg dat mense tot geloof kom. Op elke plek word daar gemeentes gestig en ouderlinge gekies wat in die gemeentes kon dien. So sorg die Here dat sy kerk op aarde toeneem en vermeerder.

Die toename in die getal kerke is egter nie die enigste wonder nie. In die loop van die boek Handelinge wys die Here op ‘n ander wonder wat hiermee saamgaan. Die kerke wat op verskillende plekke gestig word, word in eenheid saamgesnoer. Antiochië in Sirië is een met Jerusalem in Judea. Net so is die kerke op die eiland Ciprus in eenheid verbind met die kerke op die vasteland van Klein-Asië. Oor die grense van provinsies en landstreke heen strek die een kerk van Jesus Christus wat gevestig is op talle klein dorpies en in groot wêreldstede.

Dié eenheid bestaan op grond van geloof. Die gelowiges in Jerusalem en Antiochië en Ikonium en Salamis het almal een God en Vader: die Vader in Jesus Christus, ons Here. Hulle is almal gedoop met een en dieselfde doop: die doop tot vergifnis van sondes om Christus wil. In hulle almal leef en werk een Gees: die Gees wat die wedergeboorte skenk, wat die geloof werk, wat tot daaglikse bekering vernuwe.

Dit is inderdaad ‘n wonder. Mense wat mekaar nie ken nie, is tog bekend vir mekaar - in die Here. Mense wat in verskillende lande woon, verskillende kulture beoefen, verskillende tale praat, praat ten diepste tog een taal - in geloof. In sy alwysheid bind die Here die verskillende plaaslike kerke onskeibaar aan mekaar. Hulle vorm saam een verbond van kerke.

Vir hierdie kerkverbond geld presies dieselfde as vir die huweliksverbond: wat God saamvoeg, mag geen mens skei nie. Die kerkverband is nie iets wat net op papier bestaan nie; dit is iets wat beleef moet word. Die kerke in die dae van Paulus hét dit met die daad beleef. Daarop word die aandag in die eerste vers van Handelinge 15 gevestig, sommige mense wat vanaf Judea gekom het, het die broeders in die kerk van Antiochië kom onderrig. Die kansel van Antiochië is oop vir predikers van die kerk in Jerusalem. Dit is praktiese belewing van kerkverband. Gelowiges hou hulle geloofskennis nie vir hulleself nie - daar word wyd en syd gepraat. Kerke staan mekaar in alle opsigte by, ook wat praktiese sake betref. As daar in ‘n gemeente om een of ander rede groot droefheid en kommer heers, word daar in die kerkverband eendragtig voorbidding gedoen. As daar finansiële nood in ‘n bepaalde kerk ontstaan, spring die verband van kerke in om die nood te help verlig. Die geloofseenheid wat onderling in elke plaaslike kerk beleef word, moet ook tussen kerke onder mekaar uitgeleef word. Binne die kerkverband gee ons en ontvang ons, bou ons mekaar op in die allerkosbaarste geloof.

Die Stryd Binne Kerkverband🔗

Vanweë ons gebroke bestaan is die geloofseenheid egter voortdurend in die spervuur. Uit die vervolg van Handelinge 15 word dit duidelik dat daar stryd in die kerkverband ontstaan. Die feit dát daar predikers uit Jerusalem kom wat preek, is wonderlik. Maar dit wát hulle preek, is glad nie so wonderlik nie: ‘As julle nie besny word volgens die gebruik van Moses nie, kan julle nie gered word nie’. ‘n Tipies Fariseïstiese preek - op die kansel van die kerk van Jesus Christus in Antiochië. Die besoekende leraars uit Jerusalem verkondig ‘n dwaalleer, asof Jesus se kruisdood alleen nie genoeg is om die mens se redding te bewerk nie. Hulle sny aan die hart van die evangelie.

Vir die gemeente in Antiochië was die lering van die besoekende predikers ‘n ontstellende ervaring. Alles wat hulle tevore van Paulus en Barnabas oor die verlossing in Christus geleer het, word deurmekaar gekrap. Die vaste fondament waarop hulle, hulle geloof bou en vestig, word skielik bevraagteken deur broeders van dieselfde geloofsfamilie - broeders uit Jerusalem, waar die eerste gemeente gestig is. Satan kry dit reg om binne die kerkverbond ‘n reusagtige slag te slaan. Die vertroue wat daar tussen gelowiges en tussen kerke in een kerkverband moet bestaan, kan ernstig geskaad word.

Dit is nie vreemd dat daar geen klein stryd en woordewisseling van die kant van Paulus en Barnabas teen die besoekende predikers ontstaan het nie. Die suiwer leer wat Paulus en Barnabas onder die leiding van die Heilige Gees tydens hulle eerste sendingreis verkondig het, word aangetas. As dié dwaalleer aanvaar word, hou die kerk op om kerk te wees. As die verkondigers van dié dwaalleer nie insien en erken dat hulle dwaal nie, kan dit tot ‘n breuk in die kerkverband lei. Twee kerke wat op twee verskillende fondamente staan, maak saam geen verband nie. Eenheid rus in waarheid. Buite die waarheid is daar geen eenheid nie, maar verskeurdheid.

Reeds in die eerste jaar na Christus se hemelvaart was daar stryd en onrus binne die kerkverband. Dit gaan onverpoosd voort. Ons beleef dit vandag, waar talle nuwighede in die kerk van die Here uitgetoets word. Daardie nuwighede val nie sommerso uit die lug nie. Daar is ‘n rede waarom daar ook binne die Gereformeerde kerkverband gedurig gepraat word oor die verkiesing van die vrou tot die besondere ampte. Daar sit ‘n gedagtestroom onder die strewe om die nagmaalbeker met kelkies te vervang en die nagmaaltafel uit te rangeer. Die Woord van die Here het nie verander nie - mense se beskouing van die Woord en hantering van die Woord wel. Die skerp punt waarheen die meeste geloofs- en kerklike vraagstukke in ons dae terugverwys kan word, is die eenvoudige buig voor Gods Woord. Wil ons, ons omstandighede volgens die Skrif inrig, of wil ons die Skrif by ons omstandighede inpas? Dié dinge skep spanning en veroorsaak stryd.

Die vraag is: wat maak ons met hierdie stryd? Party sê: kom ons los al hierdie dinge, kom ons bewaar vrede deur mekaar in liefde te verdra. Wees buigsaam, laat elke kerk vir homself uitmaak wat goed en reg is. So kon Paulus en Barnabas ook ‘n konfrontasie in Antiochië voorkom het, deur maar net stil te bly oor die besnydenispreek. Maar dit getuig nie van gehoorsaamheid aan God nie. Stilbly terwyl die kanker vreet is sonde.

Nou kan daar ook presies teenoorgesteld gereageer word. Die lidmate van Antiochië kon die predikers van Jerusalem summier in hulle harte en gedagtes afgeskryf het. Die gevaar het bestaan dat hulle die kerkverband onmiddellik sou breek deur die predikers van Jerusalem sonder enige vêrdere gesprekvoering huis toe te stuur en nooit weer in hulle midde te ontvang nie. Tot sulke optrede hits die duiwel ‘n gelowige graag aan. Daardie dominee wil ek nooit weer sien of hoor nie, van daardie ouderling wil ek niks weet nie, in daardie gemeente sal ek my voete nie weer sit nie. Van ‘n verskilpunt wil Satan so gou as moontlik ‘n breekpunt maak.

Let op hoe die gemeente in Antiochië, gelei deur die Heilige Gees, die stryd aangesê en uitgesorteer het. Hulle het nie geswyg oor die probleme in die kerklike lewe nie. Hulle het ook nie summier die bande gebreek nie. Hulle volg die pad wat die Here van ons almal verwag om te loop: die pad van opregte en reguit gesprekvoering.

Die Krag van die Kerkverband🔗

In Antiochië het die heftige woordewisseling oor die besnydenispreek klaarblyklik nie tot ‘n punt gekom nie. Die gemeente besluit toe om Paulus en Barnabas saam met nog ‘n paar ander na die apostels en ouderlinge in Jerusalem af te vaardig. Die bedoeling is duidelik. Die ampsdraers van Antiochië moet saam met die ampsdraers van Jerusalem oor die vraagstuk besin. Hulle moet in die lig van God se Woord saam tot ‘n antwoord op die vraagstuk kom. Per slot van sake is dit nie net die kerk van Antiochië wat deur hierdie saak geraak word nie. Dit is van wesenlike belang dat al die kerke in die destydse kerkverband eenstemmigheid oor die besnydenis sal hê. Daar mag in die kerkverband geen verskil van mening of verskil in praktyk oor die toepassing van die wet van Moses bestaan nie.

Terwyl die afvaardiging van Antiochië na Jerusalem op pad is, het hulle deur Fenisië en Samaria gereis. Oral waar hulle christen-gelowiges raakloop, vertel hulle van die groot dinge wat die Here onder die heidene doen. Opvallend: hulle gesprekke word nie deur die strydpunt rondom die besnydenis oorheers nie - wel oor die Here wat heidene tot bekering bring. Dit is ‘n saak wat aan al die broeders groot blydskap verskaf. So word die gemeenskap van heiliges tussen kerke gebou: as daar met mekaar gepraat word oor die groot dade van die Here. Dit is nie goed as daar altyd net oor die probleme gepraat word nie - selfs nie in ‘n kerkraad nie. Tydens meerdere vergaderinge moet oor méér gepraat word as net dalende lidmate talle en stygende ramings. Natuurlik moet die probleme in die oë gekyk en aangespreek word. Maar daar mag dit nie stop nie. Die geloof word gestig en gebou as ons vir mekaar kan vertel wat God in sy almag doen; as gelowiges mekaar se aandag kan vestig op die Here wat die werk van sy hande nie laat vaar nie.

So kom die ampsdraers van Antiochië in Jerusalem: die harte vol van God se werke.

In dié gees word hulle daar ontvang. Die hele gemeente wag hulle in. Die ampsdraers van Jerusalem staan gereed om die ampsdraers van Antiochië amptelik te ontmoet. Die twee susterskerke van die een kerkverband erken mekaar se ampsdraers en ag mekaar hoog in die Here.

En dan? As die ampsdraers van die twee kerke mekaar ontmoet - val Paulus en Barnabas onmiddellik weg deur hulle brandende geskilpunt voor te lê? Nee! Soos wat hulle al die tyd gedoen het terwyl hulle op reis was, so doen hulle ook nou. Voordat daar ‘n woord oor verskille gerep word, word daar verslag gelewer van al die dinge wat God met hulle gedoen het. Daar word ‘n gesamentlike mosie van vertroue in God uitgespreek. Dan word die vraagstuk op die tafel geplaas.

Dit is die krag van die verband waarmee die Here sy kerke op aarde aan mekaar verbind. Satan wil met mag en mening strydpunte tot verdelingspunte verhef. Hy jaag gemoedere op sodat gelowiges van een kerk en een kerkverband mekaar langs die pad verloor. Hy doen dit deur die swaartekrag op die verskilpunt te plaas. Maar die Here draai sake om. In sy kerk bind ons mekaar allereers aan Hom. Ons verklaar openlik dat ons Hom liefhet en wil dien soos Hy in sy Woord van ons vra. Ons bind mekaar aan ons gesamentlike belydenis en kerkorde - aan ons vaste afsprake. Op daardie basis kan ons met mekaar verder praat, selfs oor die sensitiefste sake. Op daardie basis behoort ons mekaar altyd te vind.