Bron: Waarheid en Dwaling. 5 bladsye.

Kerkverband - Gemeenskapsbeoefening, Geen Struktuurbou

Kerkverband is nie ‘n liggaam, ‘n struktuur of selfs die kerk as sulks nie, maar ‘n aksie van gemeenskap wat ons in die eenheid van die Gees ywerig moet soek en beoefen.

Ons Gesprekke oor die Algemeen🔗

Ons praat dikwels oor vraagstukke wat met die kerkverband te doen het. Die woord kerkverband kom egter nêrens in die Bybel voor nie. 'n Ander woord wat in die omgangstaal ook hiervoor gebruik word, is denominasie. Sommige mense sal praat jóú kerk en mý kerk en bedoel daarmee ‘n groot landelike struktuur bestaande uit individuele gemeentes met dieselfde logo, etos en kenmerke wat mekaar erken. Of daar word gepraat oor kerkgenootskap, soos goewerneurs Jansen en De Mist dit in hulle ingevoerde Kerkwet aan die Kaap beskryf het. Ander praat oor verskillende kerkfamilies. As die een of ander instansie poog om op te tree ten behoewe van alle kerkgemeenskappe, stel hy homself bekend as interkerklik of as interdenominasioneel.

Buitestaanders neem sekere politieke of maatskaplike toestande waar en vra: Wat doen ‘die Kerk’? Wanneer ‘n lidmaat of gemeente nie presies dieselfde dinge doen as al die ander lidmate en gemeentes nie, dan sê ons dat so ‘n lidmaat of gemeente kerkverband verbreek. En selfs verder: Wanneer so ‘n lidmaat of gemeente dan sogenaamd met die kerkverband gebreek het, dan sê ons so iemand is buite die kerkverband. En dan gebeur dit ook dikwels dat mense aan so ‘n persoon die sonde toeskrywe van kerkskeuring omdat so ‘n persoon of gemeente se optrede, anders as die ander se optrede, blykbaar die kerkverband, die denominasie (lees as ‘die Kerk’) verbreek of geskeur het.

‘n Diep Gewortelde Geskiedenis🔗

Wat dit nou so interessant maak, is dat die denkstruktuur van sulke pratery alles nog op een of ander manier verwant is aan die Rooms-Katolieke denke wat tot en met die 16e eeu vir die tragiese deformasie van die kerk verantwoordelik was, en waaruit die Reformasie gebore is. NGB art 29 beklemtoon die gedrag van die valse kerk, veral die Roomse kerkverbandelike struktuur, soos die konsilies se uitsprake en die gevreesde inkwisisie.

Die Reformasie wou egter nie net van die immorele gedrag van die Roomse kerk ontslae raak nie, maar ook van die kerklike struktuur wat tot sulke tirannie aanleiding gegee het. Om die reformasie end-uit in ons Bybelse denke deur te voer en te handhaaf, is egter nie so ‘n maklike saak nie. Dit was waarskynlik een van die redes waarom Luther by geleentheid opgemerk het: In elke Gereformeerde hart leef daar ‘n pous. Ons raak net nie so eenvoudig verlos van die Roomse denkwyse nie, omdat ons steeds ‘n sondige natuur met sy sondige geneigdhede het waarteen ons nog elke dag moet stry.

Gedagtig aan die wyse waarop die ware kerk en die valse kerk volgens NGB art 29 onderskei word, blyk dit dat nie net die spesifieke optredes van die valse kerk verwerp moet word nie, maar ook die hele struktuur en kerklike konsep van waaruit die valse kerk haar optredes dryf. Uit die kenmerke van die ware kerk volgens NGB art 29 is dit opmerklik dat net aktiwiteite en kenmerke beskryf word wat ‘n mens in ‘n plaaslike gemeente vind.

Die gelowige word aangesê om die ware kerk te gaan soek, om daarby aan te sluit waar die lidmate ernstig daarna strewe om in alles aan Christus gehoorsaam te wees. Die ware kerk is ‘n sigbare kerk, dit is ‘n plaaslike gemeente. Die Bybelse kerkbegrip wat ons as die kenmerke van die ware kerk in art 29 NGB bely, is nie die kerkverband as kerklike struktuur nie. Kerkverband is nie kerk nie. Die ware kerk gaan soek ‘n mens dus ook nie in iets soos ‘n kerkverband nie. Die ware kerk openbaar haarself in ‘n plaaslike gemeente.

Enkele Bybelse Gegewens Hieroor🔗

Die Here het sy wil in verband met die kerk, oor haar lewe en oor haar handelinge, geopenbaar deur wat Hyself gespreek en gedoen het, en wat Hy daarna in en deur die diens van sy dissipels/apostels geopenbaar het - soos wat dit met Goddelike gesag vir ons in die Heilige Skrif meegedeel word.

Daar laat Hy ons weet dat Hyself sy gemeente bou (Matteus 16:18). Hy ken sy skape (Johannes 10:14), Hy roep hulle by die naam (Johannes 10: 3), ‘een, een gebore uit die volkeskaar’ (vergelyk Jesaja 43:1 vv). Deur hulle individueel by die naam te ken en te roep, lei Hy hulle uit en bring hulle saam tot één kudde (Johannes 10:18). Daarom is Hy ook bekend as die ‘Opperherder’ (1 Petrus 5:4; Hebreërs 13:20). Dit is nie maar net ‘n figuurlike of metaforiese spreekwyse nie, maar juis daarin ‘n hoogste werklikheid, ‘n uitdrukking van die Here Jesus se aandag, sorg, beskerming vir en met sy hele Kerk gesamentlik, en elke lidmaat afsonderlik deur al die eeue heen en elke oomblik (vergelyk HK Sondag 21). Hy het immers belowe: ‘Ek is met julle, al die dae tot aan die voleinding van die wêreld’ (Matteus 28:20). Dit het Jesus nie maar net vir sy elf dissipels bedoel nie, want hulle sou nie tot die oordeelsdag lewe nie. Maar in hulle het Hy tot die hele kerk en al die lidmate van al die eeue gespreek wat deur hulle woord tot geloof sou kom (Johannes 17).

So gehoor is dit aangrypend om te besef dat die Here Jesus in die besondere sin van die woord by sy kerk aanwesig is, oral en op alle plekke waar dit vergader word, en dus by elke vergadering van die ampsdraers van sy gemeente waar die sorg van sy gemeente deur hulle diens behartig word. Hy het ook belowe dat waar twee of drie in sy Naam vergader, daar is Hy in hulle midde (Matteus 18:20). Hy het aan Johannes verskyn en ook in sy visioen aan hom getoon dat Hy teenwoordig is en opmerksaam wandel tussen die sewe goue kandelare (Openbaring 1:13; 2:1).

Jesus Christus, die Here van die kerk, dra eerstehandse kennis van:

  • Sy hele universele kerk (Hy beweeg tussen almal deur);

  • elke gemeente (Hy sien elkeen waartussen Hy beweeg individueel aan soos blyk uit die sewe briewe, aan elkeen respektiewelik);

  • elke enkele lid van die kerk (Hy verskyn aan Johannes, en noem in die briewe die name van verskeie individue).

Van elkeen van die sewe gemeentes sê Hy telkens dat Hy hulle werke ken, hulle armoede, hulle moeites, hulle volharding, hulle sonde, hulle lief en leed (Openbaring 2:9, 13, 19 ea).

Die Here gebruik ter wille van die opbouing en versorging van sy gemeente ook mense en allerlei instrumente en organe. Hy het vir sy dissipels beveel om heen te gaan en te preek (Matteus 10). ‘Net soos die Vader My gestuur het, stuur ek julle ook’ (Johannes 20:21). ‘Wie na julle luister, luister na My’ (Lukas 10: 16).

Maar al het hierdie instrumente ook opgetree, het hulle nooit die Here Jesus self vervang nie. Dit was nooit so dat hulle nou sy eintlike werk sou oorneem, terwyl Hyself terugstaan en niks meer doen nie. Nee, Hy werk self aktief en intensief in en deur hulle dienswerk. Ook werk Hy nog sonder bemiddeling, regstreeks. Ons lees dat Paulus plant, Apollos natmaak, maar dit is God wat laat groei en wasdom gee (1 Korintiërs 3:6).

Verder het die Here geopenbaar dat sy kerk ‘n geestelike eenheid is . Daarom noem Hy dikwels sy kerk ‘sy volk’. Hy noem haar sy gemeente (Matteus 16:18) en Hy bedoel om sy kerk te vergader tot één kudde (Johannes 10:16). Sy word voorgestel as die ‘huis van God’ (1 Timoteus 2:15), God se ‘tempel’ (1 Korintiërs 3:16), die ‘liggaam’ (enkelvoud) van die Here (Kolossense 1:24).

Almal wat so deur die Vader aan die Seun gegee is, en wat deur Hom vrygekoop is, vorm ‘n groot geestelike eenheid soos ‘n menslike liggaam, waarvan al die gelowiges soos lede van die liggaam is (Romeine 12: 5). Lidmate is ledemate wat elkeen besondere gawes en roepinge het (Romeine 12:6, 1 Korintiërs 12:4–27), maar hulle hoort almal bymekaar soos een organiese eenheid, in harmonieuse samelewing met Christus as Hoof (Efesiërs 1:22–23; 4:16).

So vorm al die plaaslike kerke reg oor die hele aarde ‘n innerlike geestelike eenheid (Efesiërs 4:4–5). In hierdie sin gaan die geheel van alle kerke ook aan die totstandkoming van een plaaslike kerk vooraf. Die diepste eenheid van die onoorsienbare kerk van gelowiges oor alle eeue en alle plekke is geleë in die uitverkiesing voor die grondlegging van die wêreld (Efesiërs 1:3 ev). Die één onoorsienbare universele kerk van die Here bestaan eerste en primêr, voordat dit sigbaar plaaslik instutêr gestalte verkry, hier en daar op verskillende plekke.

Meestal kom die kerk ook eers plaaslik tot stand nadat dit deur die arbeid van ‘n ander plaaslike gemeente wat reeds sigbaar gestalte gekry het, in en deur die bedienaars van die Woord, saamgeroep en vergader word. Paulus en Barnabas gaan op die aanwysing van die Gees uit van Antiogië in Sirië na Siprus en Klein Asië, en Paulus ook later na Europa, met die doel om oral die evangelie te preek, dissipels te maak en kerke te stig (Handelinge 13, kyk ook Handelinge 11 en Titus 1).

Maar dit wil nie sê dat ons die afsonderlik gestigte gemeentes moet beskou as almal klein onderdeeltjies van die groter geheel nie. Of ook nie asof die later gestigte gemeentes onder een of ander ondergeskikte gesag van die reeds bestaande gemeentes gestaan het nie.

Want hoewel daar sekerlik één geheel tussen die kerke aangedui word in Handelinge 9:31 met die aanwysing dat die gemeente (enkelvoud volgens die beste lesings) deur die hele Judea, Galilea en Samaria vrede gehad het, sien ons nog nie daaruit dat daar enige institutêre band tussen hulle bestaan het nie. Dit was maar die gemeenskaplike faktor van die apostel/s waaraan hulle onderworpe was; verder het hulle gewoonweg naas mekaar bestaan. Die gemeente van Filippi het niks oor Thessalonika of Korinthe te sê gehad nie.

Die apostel het sy brief aan die Galasiërs geskryf, weliswaar nie aan die gemeente (enkelvoud) van Galasië nie, maar aan die gemeentes (meervoud) in die provinsie Galasië (Galasiërs 1:2). In Openbaring 1:12 sien Johannes nie één goue kandelaar nie, maar sewe kandelare wat los van mekaar op hulle eie staan en brand, waartussen die Here deurloop.

Die punt om tuis te bring is dat die eenheid van die Here se kerk oor die hele aarde ‘n geestelike eenheid is, nie struktureel-institutêr nie. Die Here het vir sy kerk op aarde nie streeks, provinsiale, nasionale of ekumeniese ampsdraers gegee nie. Maar Hy het vir haar voortgaande bestaan alleen plaaslike ampsdraers as ouderlinge en diakens, herders en leraars gegee.

Die kerk is dan wel ‘n geestelike eenheid, maar nie met strukturele geografiese onderafdelings of takke nie. Dit is plaaslike kerke wat deur hulle gemeenskaplike geloofseenheid in Christus geestelik een is, maar wat deur hulle plaaslike sigbare bestaan en regte funksionering almal onafhanklik en selfstandig van mekaar bestaan, en ook ampsdraers het wat alleen in hul eie gemeentes take het, sodat die een gemeente geen seggenskap oor die ander het nie.

En tog, al bestaan en funksioneer elke gemeente selfstandig op hulle onderskeie plekke, verstrooid oor die hele aarde soos ‘n koninklike priesterdom wat uitgeroep is om Christus se deugde te verkondig, en al is dit ook so dat die een geen seggenskap of heerskappy oor die ander het nie, is dit belangrik om daarmee rekening te hou dat ‘n plaaslike gemeente nie die enigste plaaslike gemeente van Christus is nie, en dat dieselfde geloofsgehoorsaamheid by almal aanwesig moet wees, omdat hulle almal op dieselfde manier aan Christus behoort.

Daar is sake van gemeenskaplike aard, waar nou in geloofsgehoorsaamheid en by afwesigheid van die apostels, ander meganismes gebruik moet word om die goeie onderlinge orde te reël in sake wat voorkom. So ‘n tipiese geval het hom in die vroeë Christelike kerke voorgedoen met die vraag of die heidene wat tot bekering kom, ook besny moet word. Vir doeleindes van die uniforme bediening in die kerke van Christus, is toe afgevaardigdes van verskillende gemeentes na Jerusalem gestuur om daar saam met die kerkraad van Jerusalem te vergader (Handelinge 15).  ‘n Hulpmiddel om goeie gemeenskaplike orde in die plaaslike gemeentes te handhaaf was dus dat die plaaslike kerke met mekaar afgespreek het om saam uit die Woord te soek en te besluit hoe die regte geloofsgehoorsaamheid in die besondere sake daar behoort uit te sien.

Die uitroep van sogenaamde meerdere vergaderings was nie aanvanklik deel van die totstandkoming of voortbestaan van die kerke nie, en kerke is ook nie afhanklik van die uitroep van meerdere vergaderings nie. Die nut en doel van die meerdere vergadering is egter besonders daarin dat meerdere plaaslike kerke mekaar hierdeur bystaan om op ‘n goeie manier as kerke voort te bestaan. Hieruit is dan ook die bekende stelling gebore dat kerkverband en meerdere vergaderings nie nodig is vir die wese, die bestaan van die kerke nie, maar wel nodig vir die welwese, die goeie voortbestaan van die kerke.

Hieruit vloei dan ook voort dat die Gereformeerde kerkbegrip nie ‘n sinodale kerkbegrip, ‘n denominasionele kerkbegrip is nie, maar presbiteriaal, wat van die plaaslike kerk as die enigste voortgaande en permanente organisme, as sigbare gestalte van die onoorsienbare en universele kerk van die Here Jesus Christus uitgaan. En kerkverband in presbiteriale sin is nie ‘n vaste institutêre struktuur nie, maar slegs ‘n onderlinge hulpaksie, ‘n kommunikasie-funksie en ‘n reeks afsprake tussen plaaslike kerke.

Hierdie afsprake in onderlinge verbondenheid is vir gelowiges uiters belangrik. Dit is immers ondenkbaar dat ‘n gelowige in wie Christus deur sy Gees werk, nie in erkentlikheid sal wil saamwerk met ‘n ander gelowige in wie Christus ook deur sy Gees werk nie. Soos wat dit tussen gelowiges individueel geld, so geld dit ook tussen ware kerke van Christus. Daarom ook dat ons die oproep van Paulus nougeset moet gehoorsaam waar hy skryf:

Ek vermaan julle dan, ek, die gevangene in die Here, om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is, met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede. Efesiërs 4:1-3

Uit bogenoemde volg dat dit baie problematies is om in presbiteriale terme te praat van ‘kerkskeuring’ of ‘verbreking van kerkverband’ of ‘afstigting’, as daarmee bedoel word om iets van die kerkverband te sê. Sulke uitdrukkings pas hoegenaamd nie in die presbiteriale kerkbegrip en kerkverband nie. Dit is slegs in ‘n sinodale kerkbegrip dat van verbreking van kerkverband en kerkskeuring gedink en geredeneer kan word.

In die Bybelse konteks van kerkverband kan alleenlik gepraat word van die skending van gemene akkoord, die verbreking van afspraak, die opskorting van korrespondensie of iets dergeliks. Juis dan is dit die regte verstaan van verbreking van kerkverband soos Jesus dit in Johannes 15 beskrywe, naamlik wanneer mens homself of andere van die Woord van Christus distansieer of beroof en gevolglik van Christus amputeer.

‘n Paar Praktiese Implikasies🔗

‘n Mens skeur jouself af van Christus en die wat aan Hom behoort deur eie gebruike of idees in te voer wat God in sy Woord nie beveel het nie, of om weg te vat en te verhinder wat Hy wel beveel het.

Dit is merkwaardig dat al ons belydenisgeskrifte, asook die kerkorde, oor die loop van die eeue as ‘n gemene akkoord tussen plaaslike kerke tot stand gekom het, deurdat afgevaardigdes van die kerke (dikwels te midde van uiteenlopende sienings) saamgekom het en die korrekte siening volgens die Woord daaroor besin en besluit en op skrif gestel het.

Die standpunt wat Calvyn in sy Institusie (1559, 4.9–10) gestel het, dat daar nie kerkverskeurend te werk gegaan moet word in sake van middelmatige belang nie, is al met aanhaling en akklamasie verdedig. Daar sal egter weer gekyk moet word hoe Calvyn die begrip kerkskeuring beskou voordat ons met ons sinodale kerkstruktuurkonsep in gedagte sy werke lees. Hierdie twee hoofstukke moet paragraaf vir paragraaf en selfs reël vir reël bestudeer word. Want Calvyn is daarin veel eerder besig om te verduidelik waarom gereformeerdes nie langer met die tirannieke Roomse dwingelandy kan saamgaan nie, as dat hy teen skismas oor middelmatige sake praat.

Trouens, onthou dat Calvyn in hierdie hoofstukke juis verduidelik hoedat gereformeerdes hul uiterste gedoen het om die Roomses vas te hou. Bouwman (Kerkrecht, deel 2 hoofstuk 1) het bevind dat ‘n kerklike organisasie onder die Gereformeerde kerke eers die lig gesien het nadat die Institusie klaar geskryf is. Calvyn het in Mei 1564 gesterf. In 1561 was daar 2 150 gemeentes in Frankryk op soek na ‘n sinodale organisasie. In 1559 het die kerke in Parys byeengekom om naas hul selfstandigheid wat in die Dissipline Ecclesiastique gereël is, ook te handel oor sinodale vergaderings waarin afgevaardigdes van plaaslike kerke saamkom om saam die welsyn van al die kerke te behartig. Op hierdie wyse kon independentisme voorkom en die eenheid van die kerke gehandhaaf word sonder om in ‘n hiërargie te verval. Die ordening in klasses en andere is eers in 1572 deur die sinode van Nimes gereël.

Artikel 31 Kerkorde (KO) lui dat onderlinge afsprake voorwaardelik is. Kerke het ook met mekaar ooreengekom dat onderlinge afsprake voorwaardelik is. As ‘n buurgemeente dinge doen wat ten aansien van die Woord tugwaardig is, is dit ons ordelike afspraak volgens artikel 31 KO dat erkenning en deelneming nie vas en nie bindend is nie, maar voorwaardelik, toegespits, vermanend, afkeurend volgens dieselfde praktiese stappe as wat die Here Jesus in Matteus 18 gestel het vir die optrede tussen broeders.

‘n Kerk mag egter nooit die geringste aanleiding daartoe gee dat sy iets doen om die onderlinge band van die eenheid van die Gees te versteur of te verskeur nie (Efesiërs 4:1–4). Omdat hierdie band deur die Here self aan ons gegee is, is dit onverhandelbaar kosbaar.

Dit neem egter nie weg dat as ander wel die band wat die Gees gegee het, deurbreek (Johannes 15), ons nie met hulle mag saamgaan in die deurbreking van die band van die Gees nie. Ons hou die roeping om te vermaan en terug te roep. En wanneer hulle ons vervolg en uit die kerkverband uitsit, dan is ons geroepe om die kerk van Christus opnuut te vergader onder sy juk en om gehoorsaamheid aan Hom te soek.