Kersfees in die Ou Testament Aangekondig
Kersfees in die Ou Testament Aangekondig

Sal ons wel Kersfees vier? Van die ander Christelike feesdae soos Goeie Vrydag, Pase en Pinksterdag, kan ons sê dat hulle by Ou Testamentiese feesdae aansluit. Hulle kan ook presies gedateer word. Ons kan weet wanneer Christus aan die kruis gesterf het, wanneer Hy opgestaan het en wanneer Hy sy Gees uitgestort het. God het dit vir ons so te sê op die kalender gesit. Dit kan nie van Kersfees gesê word nie. Kersfees vind geen aansluiting by ’n bekende Bybelse feesdag nie. Ons weet ook nie presies op watter datum Christus gebore is nie. Ons weet wel dat dit nie op 25 Desember gebeur het nie. Wat gee ons dan die reg om die geboorte van Christus wel op die Christelike kalender te plaas en dit te vier? Moet ons dit nie los nie?
In die Ou Testament het God die goeie nuus van verlossing van sondaars deur Christus reeds verkondig. Ja, God het reeds die Christus verkondig. Dit begin by die bekende moederbelofte van Genesis 3:15. Die saad van die vrou sal die kop van die slang vermorsel. Hoe verder ons in die Ou Testament kom, hoe duideliker word dit Wie die verlossing sal bring. Hy sal ’n nakomeling van Abraham wees. In Hom sal al die geslagte van die aarde geseën word (Genesis 12:2, 3; 18:18; ens). Hy sal uit die stam van Juda voortkom (Genesis 49:10). Hy sal uit die huis van Dawid wees (2 Samuel 7:16; Jeremia 23:5; ens). God laat in Miga 5:1 ook weet waar die Verlosser gebore sal word. Deur die Ou Testamentiese offerdiens en ander seremonies van die wet vertel God ons ook hoe Hy die verlossing tot stand sal bring. Dit word heel duidelik verklaar in Jesaja 53. So kan ’n mens tallose verwysings na die Christus in die Ou Testament vind. Tereg het die Here Jesus gesê dat die Skrifte van Hom getuig (Johannes 5:39). Die hele Ou Testament verkondig Christus en sy verlossingswerk.
’n Uitsonderlike geboorteberig⤒🔗
Die Ou Testament verkondig nie net Christus en sy werk nie, maar vestig ook nadruklik die aandag op sy geboorte en koms. In Jesaja 9:5 ontvang ons selfs ’n uitdruklike geboorteberig:
Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee.
’n Opvallende geboorteberig. Die profeet Jesaja moes hierdie berig namens God opstel.
Wat nog meer opvallend is, is dat hierdie geboorteberig die wêreld ingestuur word meer as 700 jaar voordat Jesus Christus gebore is.
Wie gaan nou 700 jaar voor iemand se geboorte sê dat hy gebore is! Die Here doen dit. Hy kan dit doen omdat wat Hy sê, ook metterdaad gebeur. Niks kan dit keer nie. So seker mag Jesaja en God se volk van hierdie geboorte wees dat dit 700 jaar voor die tyd vermeld kan word as ’n werklikheid. Hulle mag hul nou reeds daaroor verheug en hulself daarmee vertroos.
Hierdie geboorteberig is nog op ’n ander manier baie opvallend. Dit gaan oor ’n wonderkind. ’n Mens praat dikwels eers agteraf van ’n wonderkind. Soms droom ouers miskien daaroor. Maar eers mettertyd sal uit die kind se ontwikkeling blyk of hy ’n wonderkind is of nie. In sy geboorteberig maak Jesaja 700 jaar vantevore reeds melding van ’n wonderkind. Die verskyning van hierdie kind as wonderkind staan reeds vantevore vas. Dis dan ook nie ’n gewone kind deur mense verwek nie, maar van God aan ons mense gegee. “Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen” (Jesaja 9:6).
Luister maar na die pragtige name wat Hy ontvang:
… en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors.

Sy name tipeer Hom. So is Hy. So werk Hy. Hierdie kind is werklik ’n wonder. In Christus bereik God se wonders van verlossing hul hoogtepunt. Hy is wonderbaar. ’n Wonder van ’n raadsman. Ons hoor hierin: die Here is wonderbaar van raad, groot van beleid (Jesaja 28:29). Dit sal in die lewe van hierdie wonderkind werklikheid word, soos nooit tevore nie. Hy is nie net wys nie, maar ook sterk, selfs almagtig, “Sterke God”. Hy kan en wil en sal in nood, selfs as ons sidder vir die dood, volkome uitkoms gee (Psalm 68:9 ber.). Hy is magtig om te red. Hy sal soos ’n Vader vir sy volk wees. Vol sorg en liefde. Daarom word Hy ewige Vader genoem. Jy kan altyd op sy sorg en beskerming staatmaak. As Vredevors gaan Hy die vrede herstel. Oorlog en verdrukking, geweld en bloedvergieting, sonde en vervreemding was en is aan die orde van die dag. Hierdie wonderkind bring die ware vrede tot stand deur die sonde en sy gevolge aan te spreek. Vrede tussen God en ons mense, vrede tussen die mense onderling, volkome harmonie in God se skepping, herstelde paradys. En die heerskappy is op sy skouer. Hy sit op die troon van Dawid. Jesaja 9:6 praat van die vermeerdering van sy heerskappy. Sy heerskappy sal hom oor die hele wêreld uitstrek. Hy sal ’n volk vergader uit alle stamme en tale van die aarde. So omvat sy ryk ook donker Afrika, inklusief ons reënboognasie Suid-Afrika. Dieselfde vers noem ook die basis van sy heerskappy. Hy sal dit vestig op reg en geregtigheid. Is dit nie wat ons in ons land vurig begeer nie: reg en geregtigheid?
Die takkie uit die stomp van Isai←⤒🔗
Die profeet Jesaja vestig ook nog op ’n ander manier aandag op die koms van Jesus Christus. In Jesaja 11:1 profeteer hy:
Maar daar sal ’n takkie uitspruit uit die stomp van Isai, en ’n loot uit sy wortels sal vrugte dra.
Let daarop dat Dawid se naam hier nie eers genoem word nie. Van Dawid se glorie en van sy ryk sal niks oorbly nie. Juda sal in ballingskap weggevoer word en ná die ballingskap sal daar nie meer ’n koning van die Dawidshuis op die troon sit nie. Die huis van Dawid val terug na die onaansienlikheid van sy oorsprong, toe Dawid nog in Betlehem by sy vader skape opgepas het. Dit is die rede waarom daar in die teks sprake is van die stomp van Isai. Daar het slegs ’n stomp oorgebly. Die boom het verdwyn – hy is afgekap.
Maar kyk! Uit daardie skynbare dor stomp kom nuwe lewe voort! Menslik gesproke kan daar niks meer van die huis van Dawid verwag word nie. Dit lyk of die vervulling van die Messiaanse beloftes aan Dawid nog nooit so ver weg was nie. Dit lyk of dit nou onmoontlik geword het. Kan uit daardie stomp God se Messiaanse ryk nog voortkom? Maar juis in daardie situasie, waar dit menslik onmoontlik lyk, juis daarin openbaar God sy krag. As alle menslike paaie doodgeloop het, as die mens gekonfronteer word met sy eie onmag, dan toon God sy Almag. Hy gaan nuwe lewe wek uit daardie afgekapte stomp. ʼn Loot sal daaruit voortspruit. ’n Klein begin. Onopvallend en onaansienlik. Jesus sal in die vervalle huis van Dawid, in ’n stal, gebore word. Maar hierdie begin sal wel ’n geweldige vervolg hê.
ʼn Mens vind soortgelyke aankondigings van Christus se koms in die profesieë van Jeremia en van Sagaria. Daar word hierdie takkie as Spruit aangedui. Jeremia profeteer:
Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid ’n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land.Jeremia 23:4; vgl. Jeremia 33:15
Ná die ballingskap gryp Sagaria op daardie woorde terug wanneer hy profeteer:
Want kyk, Ek sal my Kneg, die Spruit, laat kom!Sagaria 3:8; vgl. Sagaria 6:12
Wat in die profesieë van Sagaria opval, is dat die koms van die Spruit juis vir die priesters aangekondig word. In hierdie Spruit sal die priesters hul vervulling en bekroning vind. Van hierdie Spruit word mos gesê dat Hy ’n priester op sy troon sal wees (Sagaria 6:13). Hy sal die Priesterkoning wees waarvan Psalm 110 spreek.
←⤒🔗
Herdenk God se nuwe begin←⤒🔗
In die Ou Testament het God Jesus se koms en geboorte dus uitdruklik aangekondig. God Self het by sy kinders die verlange na sy nuwe begin in die geboorte van die Verlosser, die Spruit, opgewek. Ons sien dat God in die Nuwe Testament opnuut heel nadruklik ons aandag op die geboorte van Jesus Christus vestig. Hy stuur sy engel Gabriël na beide Maria en Josef. Hy laat Maria en Sagaria profeteer en sing van God se nuwe begin, volgens die belofte. Hy laat ’n engel die geboorte van ons Verlosser aan die herders van Betlehem verkondig. Hy laat ’n groot menigte van engele die Kersboodskap aan ons voorsing. Hy skakel selfs die sterre in om die wyse manne uit die Ooste tot aanbidding van die gebore Koning te roep. Hemel en aarde moet die Here loof vir sy nuwe begin in die koms en geboorte van Jesus Christus. Sou ons dan nie die heilsfeit van Christus se geboorte herdenk nie? Op watter dag ons dit doen, is nie belangrik nie, maar dat ons dit doen, is gepas vir ’n Christen wat leef in verwondering oor God se wonderbaarlike nuwe begin. Die evangelie van Kersdag wil gehoor word tot eer van God en tot ons troos.
