Bron: Kompas. 2 bladsye.

Kinders in die kerk, is dit nou nodig?

In hierdie artikel wil ek u aandag vra vir ʼn aspek wat aan die erediens en daarom ook aan die liturgie verbind is. Die onderwerp is “kinders in die erediens”, daarmee saam wil ek ook iets sê oor persoonlike- en gesinsliturgie.

“Dis heeltemal te moeilik vir hulle!” hoor mens soms ʼn ma sê as sy oor haar kinders in die kerkdiens praat. Ek is seker dat almal sal saamstem dat daar inderdaad makliker dinge vir ʼn kind is om homself mee besig te hou. Veral wanneer die erediens in die belewing van die kind net bestaan uit lang en moeilike preke, stilsit, eerbiedig wees, nie hard kou op jou peperment nie, nie agterstevoor in die bank sit nie, na die dominee kyk, saamlees en saamsing. Dit is alles dinge waarvan die gemiddelde kind nie regtig hou nie.

Die gevolge hiervan kan baie sleg wees. Die kind kan dalk negatief oor die kerk gaan dink. Is ʼn kinderdiens die oplossing? Is ʼn aangepaste preek die oplossing? Moet ons die kinders ʼn taak in die erediens gee? Is ʼn kinderkoor die oplossing? Hoe kan ons tog bereik dat die kinders nie ʼn negatiewe beeld van die eredienste kry nie? Meer nog: hoe kan ons bereik dat hulle dit gaan waardeer? Met ander woorde, dat dit vir hulle meer beteken as “dit hoort nou eenmaal so”?

Kinders hou van die dinge wat hulle ouers as aangenaam ervaar. Ons is ons nie altyd bewus hiervan nie, maar dit is gewoonlik wel so. Die vraag is dan: wys u as ouer(s) dat u bly is om weer kerk toe te gaan? Dalk nog ʼn belangriker vraag: IS u ook bly om kerk toe te gaan? Indien wel, wys u dit dan ook vir die kinders? Nie slegs die ouers nie, maar alle volwassenes in die kerk het hier ʼn verantwoordelikheid. Laat u, wanneer die kinders saam luister, in u gesprekke oor die kerkdiens u dankbaarheid deurklink, of het u net negatiewe kommentaar? Wanneer u kritiek het, word dit opbouend gelewer? Natuurlik weet u lankal dat kinders (of hulle nou van u eie gesin is of nie) haarfyn aanvoel of u met plesier oor die kerk praat of met ʼn negatiewe ondertoon. As iemand aan u kind sou vra: “Is jou ouers bly om kerk toe te kan gaan?”, wat dink u sal u seun of dogter antwoord?

Ouers moet vir hulle kinders hulpmiddels verskaf waardeur hulle die eredienste kan geniet. Dit is ʼn moeilike taak, maar dit word onmoontlik as u nie self bly is met die eredienste nie. Daarmee kom ons by persoonlike en gesinsliturgie. Dit vorm die basis van die kind se kennis oor die betekenis van die erediens. Ons weet almal dat dit nie eenvoudig is nie! Maar dit hoef ook nie eenvoudig te wees nie. ʼn Kind wat vir die eerste keer ʼn potlood in sy hande kry, teken ook nie dadelik ʼn volledige jagtoneel nie. Dit begin met ʼn paar krappe, later word dit kopvoeters en nog later staan daar skielik ʼn herkenbare motor op die papier. Maar dink u dat die kind by sy eerste krappery minder plesier gehad het as met die motor? Dit hang af hoe mamma reageer. As sy sê dat dit maar net krappe is of dat die kar se wiele nie mooi rond is nie, dan vrees ek dat die artistieke neigings van die kind gou geblus sal word. So moet die kind ook op sy of haar eie tempo leer om die erediens te ken. Klein stappies, wat vir die kind geskik is. Maar ons moet onthou om die handjie vas te hou, aan te moedig, want as die kind val of nie stimulasie kry nie, dan is die gevolge rampspoedig.

Ons lees in sommige boeke oor kinders in die erediens van voorbeelde wat in die Ou Testament genoem word, veral in die besondere byeenkomste en feeste. Ons weet nie hoe dit in die Ou Testament by die “gewone dienste” was nie. Ook uit die Nuwe Testament weet ons nie veel daaroor nie. Uit ander bronne weet ons dat die seuns op hulle twaalfde of dertiende jaar “Bar Mitswa” word. Dit beteken “seun van die wet” – verantwoordelik sou ons kan sê. Uit Bybelse bronne kan ons egter niks vind oor die jonger kinders nie. Waar die Bybel praat oor die kinders en oor hulle (geloofs)opvoeding, word daar altyd gewys op die taak van die ouers om “die groot dade van die Here te vertel.”

In die Israel van vroeër, en vandag nog by die ortodokse Jode, het hulle dit goed verstaan. By die Pasgaviering was en is dit ʼn vaste gewoonte dat een van die kinders moet vra: “Vader, wat beteken tog die bitter kruie?” Die vader van die gesin moet dan verduidelik van die ellende in die land Egipte en oor die sterk arm van God waarmee Hy Israel bevry het. Pragtige gesinsliturgie! (Soms wonder ek by myself hoe dit by ons gebeur. By Paasfees: “Pa, wat beteken die eiers?” En by Kersfees: “Mamma, wat beteken die versierde denneboom?”)

Kinders hoort by die erediens. Die redes hiervoor is presies dieselfde as by die doop: hulle is in Christus geheilig en behoort daarom as lede van sy gemeente gedoop te wees. Lede van sy gemeente: klein, maar belangrik.

ʼn Predikant mag en moet ook daarmee rekening hou. Hy weet wanneer hy sy preek maak, wie in die gemeente is. Daar sal ook kinders by wees. Maar, net so min as wat hy in sy preek uitsluitend die broeders aanspreek en nie die susters in die gemeente nie, net so min sal hy ook uitsluitend die kinders aanspreek. Want op sy skouers rus die swaar taak waarvan al vroeër gepraat het: om die gemeente te vertroos, te vermaan, op te skerp, ens. Die hele gemeente. Dit is ook die kinders, ook die alleenstaandes, ook die bejaardes, die tieners, die meelewende jongmense en die twyfelende broeders. Dit sal vir almal duidelik wees dat dit nie alles op dieselfde tyd kan gebeur nie. Dit sou ook te kunsmatig word dink ek. Maar deur die bank sal elkeen deur die loop van ʼn paar eredienste hom aangespreek kan voel. As die kinders in hierdie opsig minder kry as die res, moet ons hulle nie uit die erediens wegvat nie, want die gevolg hiervan is dat hulle nie meer by die gemeente behoort nie. Dan gooi jy die kind met die badwater weg. Dan is dit belangrik om die dominee in alle sorgvuldigheid daarop te wys. Hy sal dankbaar wees daarvoor dat hy so deur die gemeente gesteun word in sy swaar taak wat hy op Sondag het.

Daar is in die kerklike lewe allerlei moontlikhede vir elke “groep” gemeentelede en vir elkeen afsonderlik, om aan die werk te spring met die Woord. Manne- en vroueverenigings, Bybelstudieverenigings, jeugverenigings, katkisasies vir jong kinders en jeug, Bybellesse en onderwys in die kerkgeskiedenis op die laerskole, kinderbybels by die huis, ouers wat die kinders oor die Here vertel … so kan ons aangaan. Gedurende die week kan elkeen reëlmatig op sy of haar eie vlak aangespreek voel oor die Here en sy Woord. Dit word nie net ingedeel volgens leeftydsgroep nie, maar ook volgens belangstelling, leefwêreld en moontlikhede.

Daarom is dit juis ekstra mooi dat die twee momente in die week waarop die hele gemeente saamgeroep word, eintlik die diversiteit van die ander moontlikhede onderstreep en van ʼn skitterende uitgangspunt voorsien. Jy sou kon sê dat ons op die eerste dag van die week gesamentlik begin en daarop voortbou in die huiskamer, die klaskamer, die katkisasielokaal en saans wanneer die kleintjies bed toe gebring word. Wys maar terug na die erediens, juis en veral as dit vir die jongstes moeilik was.

As gevolg van bogenoemde is ons in ons kerke nie beïndruk met kinderdienste nie. Laat die kinders liewers saamgroei in die “normale” dienste. Saamgroei vra om voedsel. Voedsel wat deur hulle ouers aan hulle voor gesit word. Vir die kleinstes is dit fyngemaak om maklik te eet, die oueres kry groter stukke. Voedsel wat Vader hulle voorsit in die eredienste, en wat deur pa en ma in kleiner stukkies gesny moet word.

Weet u wat die mooiste hiervan is? Wanneer u met u kinders praat oor die eredienste en oor die verskillende onderdele daarvan, dan leer u self ook baie daarvan. Die vrae van kinders kan soms ʼn verrassende lig laat skyn op vanselfsprekende sake. Hulle kyk met nuwe oë daarna en die formulering van ʼn antwoord kan u dwing om self ook goed daaroor na te dink.

Nadink oor liturgie, in gesinsverband en persoonlik, by die vereniginge of saans voor jy gaan slaap, vergroot die genot van die Sondag.