Klein en groot geloof
Klein en groot geloof
Hoe staan die gelowige teenoor die geloof? Is geloof God se werk of die mens se eie verantwoordelikheid? Hoe weet ek of my geloof klein of groot is? Kan 'n mens in jou ouderdom nog groei in die geloof?
Vrae oor die geloof is altyd aktueel. In die Bybel is geloof van sentrale belang. Die opstellers van die Kategismus het daarom ook amper 'n derde van die Kategismus (Son 7 tot Son 23) afgestaan aan vrae oor die geloof. In hierdie Sondagafdelings kry 'n mens antwoorde op baie vrae oor die geloof.
- Uit die Bybel is dit duidelik dat God aan die mens geloof gee. Ons geloof is God se werk. In Efesiërs 2:8 skryf die apostel Paulus uitdruklik: "Uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is 'n gawe van God". Sommige verklaarders is van mening dat Paulus eintlik bedoel dat julle redding 'n gawe van God is (en nie die geloof nie). Die 1983-vertalers het hierdie verklaarders se verklaring gevolg. Wanneer 'n mens egter in die oorspronklike taal gaan kyk hoe Paulus sy woorde in hierdie vers inspan, is dit myns insiens duidelik dat hy wel na die geloof as 'n gawe van God verwys. Dat God self die geloof in menseharte bewerk, blyk verder uit Jesus se eie woorde in Matteus 16. Wanneer Petrus sy geloof in Jesus as die Christus, die Seun van God, bely (Matt. 16:16), antwoord Jesus: "Vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is”.
Ons geloof is dus die resultaat van God se werk in ons harte. - Tog word geloof uitdruklik as 'n opdrag aan die mens gegee. Jesus sê vir sy dissipels: "Glo in God, glo ook in My" (Joh. 14 : 1). Wanneer die tronkbewaarder van Filippi vra: "Wat moet ek doen om gered te word?", antwoord Paulus: "Glo in die Here Jesus Christus". Die mens dra dus self die verantwoordelikheid om te glo. Op die oog af lyk dit of hierin 'n teenstrydigheid lê: hoe kan die geloof 'n gawe van God wees en ook 'n opdrag aan die mens? Dit is egter nie 'n teenstrydigheid nie. God gee die geloof, maar Hy gee dit nie sonder om die mens self aktief daarby te betrek nie. Hy beveel die mens om te glo en deur sy Gees bewerk Hy dan in die mens se hart die bereidwilligheid om te glo (vrugbare saaigrond), sodat die mens se inspanning tot geloof dan werklik oorgaan tot geloof. 'n Mens sou dit kon vergelyk met die mens se stoflike versorging: God versorg ons volkome met lewensmiddele. Maar tog doen Hy dit nie sonder om die mens self aktief daarby te betrek nie. Die mens moet sy talente gebruik en werk. Maar wanneer die salaristjek (byvoorbeeld) daar is, is dit die vrug van God se sorg. Ons moet werk, maar dit is steeds God wat versorg.
- Geloof is dus gawe én opdrag. Uit en uit God se werk, maar ook 'n saak waaraan die mens self moet werk asof dit sy eie werk is. Let wel: geloof kom nie deur samewerking tussen God en mens tot stand nie (waarin God se bydrae byvoorbeeld 50% en die mens se bydrae 50% is nie). Dit is 100% 'n gawe van God. Maar tog ook 100% opdrag aan die mens. Miskien sien 'n mens in die geloof iets van die geheimenis wat ons ook in die Bybel het: die Bybel is 100% God se woord. Tog is dit 100% deur mense geskrywe. Lees hieroor 2 Petrus 1:21.
- Die manier waarop God die geloof in ons harte bewerk, is deur kennis en vertroue in ons harte te gee (vergelyk Sondag 7 van die Kategismus). Ons moet kennis opdoen (die Bybel bestudeer) en ons vertroue op Hom stel (deur byvoorbeeld te bid). Maar terwyl ons dit doen, weet ons: ons sou God en sy wil nooit kon leer ken nie as God nie sy openbaring aan ons gegee het nie. Verder sou ons nie sy openbaring verstaan het as sy Heilige Gees ons nie láát verstaan het nie. In Matteus 13:11 hoor ons Jesus se: "Dit is aan julle gegee om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie". Ons kennis kom dus tóg van God af. Verder sou daar ook geen vertroue in ons harte kon wees as die Heilige Gees dit nie bewerk het nie. Al is dit die gelowige self wat hard werk aan sy geloofskennis en -vertroue, is die geloof uiteindelik volkome die werk van God.
- Hierdie geheimenisvolle en wonderbare werking van die geloof geld ook wanneer dit kom by geloofsgroei. Kleingeloof word die mens ten laste gelê (byvoorbeeld Luk. 14:31). Die mens moet groei in die geloof (Ef. 4:15). Maar inderwaarheid is dit God wat laat groei, skryf Paulus in 1 Kor. 3:6. Daarom vra die dissipels vir Jesus: "Gee ons meer geloof" (Luk. 17:5). Weereens gee God die geloofsgroei, maar sonder om die mens daarin passief te laat. Die gelowige se verantwoordelikheid bly steeds om sy kennis van die Bybel te vermeerder en te verdiep en hy moet dit biddend doen, dat God die groei sal gee.
- In al hierdie dinge moet ons aanvaar dat God in sy genade die swakheid van die mens tegemoet kom. Dit beteken dat dié mens wat moeite het om te studeer, soos klein kindertjies, diep bejaarde mense en ook verstandelik gestremdes, nie agterbly in die geloof nie. Die profeet Jesaja skryf: "God gee die vermoeides krag" (vergelyk Jes. 40:29-31). In sulke gevalle skenk God in sy genade deur sy Gees 'n geloofsvertroue wat vir die mense wat wel kan studeer, selfs tot beskaming kan wees. In Matteus 11:25 bid Jesus: "Ek loof U, Vader, dat u hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het". Daarom kan 'n mens aanvaar dat God die mens in sy ouderdom deur die krag van sy Gees sal tegemoet kom om die geloof sterk te maak waar liggaamskragte wyk.
- Vanuit hierdie gegewens, dink ek, moet 'n mens die vraag: "Hoe moet ek weet of my geloof klein of groot is?" benader. Van God se kant gesien, is die geloof wat Hy in die harte van sy uitverkorenes lê, groot genoeg om tot ons redding te dien. Daarom: "Jou geloof het jou gered" (Matt. 9:22). Van die mens se kant gesien, is jou geloof altyd klein. Op die dissipels se vraag dat Jesus hulle meer geloof moet gee, antwoord Hy: "As julle geloof maar so groot soos 'n mosterdsaadjie was ..." (Luk. 17:6). En daarom moet ons altyd tot God bid dat Hy ons groter geloof sal gee. En dan moet ons aan ons geloofsgroei gaan werk. Vir die geloof wat ons wel ontvang, moet ons God dank (Kol. 1:3-4).
Terselfdertyd moet ons bely dat ons in onsself klein van geloof is en moet Hom daarom steeds bid om toename in die geloof en dank vir die groei wat Hy wel gee 2 Tess. 1:3.
In albei (kennis én vertrou) is dit God wat werk sonder dat die mens passief is. Wat die kennis betref ons sou geen kennis van God en sy wil en die weg tot saligheid kon hê as God nie sy Woord na ons laat kon het nie. Sonder die Woord van God kan ons Hom nie ken nie (die hele kwessie van die algemene en besondere openbaring is daar gelaat). Ons kan dus kennis van God hê net omdat Hy Homself aan ons geopenbaar het. Maar tog moet ons glo. In Rom 10:17 lees ons: "Die geloof is uit die gehoor, en die gehoor is deur die Woord van God". Buite die Woord van God om is geen kennis nie. In die (gepredikte) Woord maak God Homself dan aan ons bekend - wie Hy is en wat sy wil is - en maak Hy ook aan ons die ewige lewe bekend wat Hy deur sy Seun aan ons gee. Hiermee saam gee Hy dan die opdrag: Glo! Ons moet dus met volharding luister na en alles lees wat God in sy Woord aan ons bekend maak en dit alles glo. Dit is die vasstaande kennis en vaste vertroue waarvan Sondag 7 van die Kategismus praat.