Bron: Kerk en Woord. 2 bladsye.

Kliniek, Sending en Tradisie

Daar is baie bohaai oor die Afrika­-renaissance in tydskrifte en koerante die laaste maande. En dis begryplik dat in die nuwe politieke bedeling gesoek word na nuwe besieling vir die nuwe samelewing, wat opgebou moet word.

Dat mense teruggryp na waar die wortels van hulle beskawing vandaan kom, is dan ook toe te juig. Die swart kultuur het te lank gely onder oorheersing van die blank, Westerse kultuur. Ek dink nog nie eens alleen aan politieke oorheersing nie, hoe belangrik dit ook was in die afdraan­de pad wat die swart kulture oor die de­kades geloop het. Ons sal tog in beson­der moet dink aan die tegnies-weten­skaplike hand van die Westerse kultuur, wat op die Afrika kulture gedruk het.

Ek dink egter dat juis hierdie invloed nie meer ongedaan gemaak kan word nie. Watter positiewe waardes die Afrika-re­naissance ook sal voortbring, die nega­tiewe invloede van ’n gesekulariseerde Westerse kultuur sal juis in tegnies-weten­skaplik opsig merkbaar bly. Dis juis die Westerse heidendom, wat deur middel van die tegnies-wetenskaplike ontwikkelinge kragtig wortel geskiet het in Afrika bo­dem.

Geneeskunde as voorbeeld🔗

Kom, ons neem geneeskunde as voor­beeld. Met die sending het ook die kli­niek intrede geneem in Afrika. Sending­hospitale was wyd verspreid deur heel Afrika. Die vrugte van die mediese wetenskap het aan die lydende menigte swartmense ten goede gekom. Daar is baie op­offerings gemaak deur sendingpersoneel dwarsoor Afrika juis in die mediese sorg aan die mense, aan wie hulle die goeie nuus van die evangelie gebring het.

Maar die mediese wetenskap het in Eu­ropa lankal gesekulariseer; die band met die evangelie is lankal deurgesny. In die mediese wetenskap, soos in die Weste bedryf, het die heidendom kragtig wortel geskiet. Want wat het die doel van die Westerse geneeskunde geword?

Dit gaan nie om leniging van fisieke of ook psigosomatiese node nie, maar om lewensverlenging teen elke prys. Die lewe as sodanig word verafgod. Elke mens het nou reg op ’n kwalitatief goeie lewe sonder pyn en lyding.

Daarom word die lewe deesdae ook baie maklik verkort deur aborsie en eutanasie: want wat nie as goeie lewe gesien word nie, is nie die moeite van sorg werd nie. Medies-tegnies kan ons nou die lewe baie verleng en ook ontydig verkort. Na By­belse norme en waardes word in Europa nie meer gevra nie.

Ook in ons land het die mediese weten­skap ’n hoë vlug geneem. Maar die band tussen sending en kliniek, tussen die evangelie en die geneeskunde het lankal in die slag van die sekularisasie gebly. Dit dring nou ook deur na die Afrika kulture.

Die beleid wat die gesondheidsdepar­tement ontwikkel, is baie meer deur die Westerse as deur Afrika waardes bepaal. Die etiek van “alles wat kan, mag”, het sterk oorheersend geword. Of hierdie me­diese sorg ook betaal kan word, kan slegs ontkennend beantwoord word.

Afrika tradisies🔗

Tog is daar ’n merkbare invloed van Afri­ka tradisies aanwysbaar in die mediese politiek in ons land. Eerstelynsgesond­heidsorg, wat alle mense ’n kans wil gee op ’n mate van mediese sorg, word sterk deur die ou ubuntu-konsep gestimuleer. Medisyne wat vir die mense bekostigbaar is, is ’n gedagte wat goed inpas in die ou Afrika kultuur.

In hierdie kultuur vind ons baie meer Bybelse motiewe as in die moderne Wes­terse een, waarin elke individu vir hom­self moet sorg. In daardie kultuur pas dan ook die uitgebreide versekeringsindustrie, waarsonder ’n mens nie kan klaar kom in die moderne samelewing nie.

By Afrika tradisies kan ons ook aan an­der sake dink soos die kennis van natuurgeneeskunde, waarin kruie ’n belangrike rol speel. Dis nie vir niks dat die medisy­nemanne en – vroue hoog in aansien staan onder hulle mense nie. En ons kan wel ’n argument maak vir inskakeling van hierdie geneeskundiges in die offisiële gesondheidspolitiek.

Dis beter om hierdie geneeskunde te reguleer as om dit ondergronds te dryf, sodat kontrole oor standaarde nie meer moontlik is nie, en uitwasse nie meer uitgeroei kan word nie. Die grootfamilie is baie intensief betrokke by die sieke in hulle midde en dra by in die koste.

Ook die Afrika Inheemse Kerke is sterk op siek wees en genees gefokus. Hier is dit die gebed wat as genesingsmiddel by uitnemendheid toegepas word. Maar met die kultuur kom ook die religie in fokus. Die medisyneman of — vrou is nou een­maal ook in kontak met die voorvader­geeste, wat die insig in die aard van die siekte en die vasstel van behandeling baie beïnvloed.

Renaissance🔗

Nee, ons is nie teen Afrika-renaissance gekant nie. Dis goed dat ou tradisies weer erken word. Maar ons sal as Christene tog ook krities moet wees Die tradisies, of hulle nou van Afrika of van Europa afkom, sal deur die sif van die evangelie moet gaan. Nie alles sal dan aanvaarbaar blyk nie.

Ons sal baie krities kyk na die individualistiese gesondheidsindustrie wat ons van die Weste oorgeneem het. Maar nie minder krities sal ons die ou Afrika tradisies moet hanteer nie. Maar laat ons asseblief dit saam doen as swart en blank Christene.

Want ons albei staan met die rug teen die muur en word bedreig deur ou en nuwe heidendom. Die geestelike wapen­rusting moet ons saam aantrek en saam in krag van die Gees moet ons die stryd stry.