Konsekwensies van die Evolusiegeloof
Konsekwensies van die Evolusiegeloof
In die konfrontasie van skeppingsgeloof en evolusieteorie word dikwels geprobeer om met feite die een of die ander standpunt reg of verkeerd te bewys. In die meeste gevalle is dit nie suksesvol nie. Die rede is dat die geloofsuitgangspunte by die interpretasie van die feite van beide kante onversoenbaar bly. Dit is dus belangrik om die geloofvooronderstellings van die aanhangers van beide kampe duidelik uit te lig.
Verder sal dit ook nuttig wees om te let op die implikasies wat die evolusiegeloof het. Dit is veral van belang vir ons kinders wat op staatskole onderrig ontvang in die evolusie-“wetenskap” en die impak op die moraliteit wat daaruit voortvloei.
Vooronderstellings⤒🔗
Die vooronderstelling van hulle wat in ʼn Goddelike skepping as oorsprong van die wêreld glo, word deurgaans duidelik deur hulle erken. Ons glo in die Almagtige God, wat die hemel en die aarde uit niks geskep het. Ons verhouding tot en omgang met die skepping word bepaal deur ons geloof in en kennis van hierdie Skepper-God. Maar omgekeerd leer ons ook die Skepper-God, ons Vader in die hemel, ken uit sy skepping. Dit bely ons in Art. 2 van die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB). Hierdie God is ʼn betroubare God, so bely ons reeds in Art. 1 van die NGB. Deur die “lees van die boek van die skepping” wil God ons nie mislei nie, maar juis bewus maak van sy grootheid. Hierdie basis skep vertroue vir ’n gelowige ondersoeker van die natuur.
Die vooronderstellings van die aanhangers van die evolusieteorie is dat slegs menslike verstand die uiteindelike bron van kennis is. Dit het begin met Descartes (1596-1650) wat gesê het “ek dink, dus is ek ”. Die denke, die ratio, die verstand van die mens is die basis van sy hele lewe en begrip van die wêreld om hom heen. Gedurende die laaste 350 jaar het hierdie denke al hoe meer veld gewen. Dit het gelei tot die moderne outonome mens, wat self bepaal wat die wette van sy bestaan is. Daar is niks buite sy verstand wat vir hom tot wet is nie. En as daar dan nog iets is soos ʼn Bybel, dan moet dit onderwerp word aan die gesag van sy verstand. Sy verstand sal bepaal wat daarin waarheid is en vir hom reg en aanneemlik is.
Verder lei die aanvaarding van die verstand van die mens as die vaste punt (die “Archimediese punt”) van sy bestaan tot ʼn geslote wêreldbeeld. Die wêreld en die bestaan word materialisties en beperk tot dit wat sintuiglik waarneembaar is. Daar is dan geen plek vir God nie. Die godsbegrip was deel van die primitiewe mens, om die dinge wat hy nie verstaan het nie daaraan toe te skryf. Maar dit is net sowel ʼn geloof om te glo dat God nie (meer) bestaan nie, as om te glo dat Hy wél bestaan en Hom aan mense geopenbaar het in die Bybel. Hierdie twee gelowe wat teenoor mekaar staan, bepaal dikwels die debat oor skepping en evolusieteorie.
Vorme van Kritiek←⤒🔗
In ander artikels in hierdie uitgawe van Kompas sal moontlik aandag gegee word aan die “bewyse” vir evolusie of skepping. Daar is ʼn aantal benaderings wat gevolg kan word om ʼn teorie verkeerd te bewys: jy kan aantoon dat die teorie berus op verkeerde uitgangspunte, feite of interpretasies, of jy kan bewys dat ʼn ander teorie beter in ooreenstemming is met die feite. ʼn Mens kan egter ook probeer om aan te toon dat as die teorie reg sou wees, die gevolge onaanvaarbaar is. So ʼn benadering word “immanente kritiek”, kritiek van binne uit die teorie, genoem. In die geval van die evolusieteorie sou dit dan byvoorbeeld gedoen kan word deur te let op die morele implikasies van die geloof wat die grondslag is van die evolusieteorie. Deur die leer van die evolusie-“wetenskap” in die staatsonderwys mag dit ook ons kinders beïnvloed op morele vlak.
Wetenskapsbasis←⤒🔗
Die evolusieteorie word sterk ondersteun binne die biologie, die geologie en die astronomie. In die biologie gaan die evolusie veral oor die ontstaan van plant- en diersoorte, waarvan die mens op die oomblik die hoogste trap van ontwikkeling vorm. In die geologie gaan die evolusie oor die ontstaan van aardlae, berge, kontinente en minerale. Hierdie twee word dan met mekaar “versoen” deur die paleontologie, die wetenskap van fossiele van plante en diere wat in aardlae gevind word. Ouderdomsbepaling van fossiele word gedoen deur meting van die radio-aktiwiteit van die koolstof-14 isotoop. In die astronomie gaan dit oor die ontstaan van en veranderings in die heelal.
Hierdie wetenskappe kom tot die gevolgtrekking dat die aarde honderde miljoene jare oud moet wees en geleidelik, deur die proses van evolusie, ontstaan het. Die biologie het hierdie lang tyd nodig vanweë die stadige verloop van mutasies en seleksie om so tot die ontstaan van die huidige veelheid, gevarieerdheid en gevorderde ontwikkeling van soorte te lei. Die geologie het hierdie lang tyd nodig vanweë die stadige verloop van afsettings en aardlaagvorming. Die oorsprong van die aarde en die heelal is dan die “oerknal”, waardeur ons heelal uitmekaar gespat het en wat ons nog waarneem in die uitsetting van die heelal. Wat daar voor die oerknal was weet ons nog nie presies nie.
Twee van die prosesse wat beslissend is vir die biologiese evolusie is die oorerflikheid van genetiese mutasies en die seleksie deur oorlewing van die sterkes. Byvoorbeeld, die bok met effens langer pote kon die beste kos hoog uit die bome vreet en was dus sterker en minder kwesbaar vir roofdiere. So het stadigaan die kameelperd ontstaan.
Die evolusieteorie is egter nie beperk tot hierdie natuurwetenskappe nie. Dit het sy invloed op die denke van mense. Die bekende ondersteuner van die Bybelse skeppingsleer, prof. Henry Morris, het geskryf: “evolusie is nie slegs ʼn biologiese teorie nie, maar is ʼn omvattende kosmologie” (“Studies in the Bible and Science”, 1966, p 136). Hierdie teorie bepaal al hoe meer die menslike samelewing en gee rigting, in die onderwys, in die politiek, in die menswetenskappe, in die teologie, in die bepaling van norme.
In teenstelling tot die ondersteuners van die skepping, weier die aanhangers van die evolusieteorie deurgaans om hulle vooronderstellings ter bespreking te stel. Dit berus volgens hulle op rasionele wetenskap en is daarom reeds waarheid. Daar is in hulle teorie, behalwe hul geloofsuitgangspunte, egter ook ʼn aantal aannames wat berus op niks meer as wat dit sê nie: veronderstellings. So ’n aanname is bv. dat die huidige fisiese natuurprosesse oor die afgelope miljoene jare net so plaasgevind het. Maar in die verlede is al meer bevind dat sogenaamde wetenskaplike konstantes nie steeds konstant was nie.
Kritiek van Binne Uit←⤒🔗
Een van die inkonsekwensies van ʼn evolusionis lê in sy eie waarnemingsorgaan. Hy kyk na die skepping met sy oë. Maar die oogkundige waar hy sy bril koop sal vir hom kan vertel dat as daar ook maar net ietsie verkeerd is met sy oog, hy nie meer goed daarmee sal sien nie, dan is hy ʼn gesiggestremde. Tog glo hy dat die oog stadig ontwikkel het. Hoe kan so ʼn ingewikkelde orgaan ontwikkel tot so ʼn vlak van gekompliseerdheid deur toevallige mutasies terwyl dit eers in sy finale vorm (na miljoene jare?) nuttig begin word vir sy eienaar? Dit geld nie net vir die menslike oog nie, maar ook vir die oë van “meer primitiewe” diere en vir ander organe.
ʼn Ander probleem met die biologiese evolusie is die (on)waarskynlikheid van oorerflike mutasies. Sir Fred Hoyle, voormalige Britse hoofastronoom, het gesê dat dit waarskynliker is dat ʼn orkaan, wat oor ʼn skrootwerf trek, ʼn volledige Boeingvliegtuig sou agterlaat, as wat daar spontaan ʼn mens sou ontwikkel het uit die oersop van miljoene jare gelede. Selfs die miljoene jare is ʼn statistiese verleentheid as slegs op ongestuurde toevallighede staatgemaak word.
As ʼn evolusionis ʼn simpel horlosie op die strand vind, sal hy besef dat iemand dit moes ontwerp en gemaak het. Maar as dit ʼn baie meer ingewikkelde seester is dan beweer hy dit is die gevolg van miljoene jare se toevallighede. As hy ʼn tuin in die oerwoud aantref, sal hy soek na die eienaars. Die Stonehenge klippe móét deur mense so gebou gewees het. Hy dink nie eers daaraan dat dit die produk van toevallighede volgens sy teorie sou kan wees nie. Eenvoudige orde wat in die skepping aangetref word moet blykbaar van menslike oorsprong wees. Maar die bomenslike orde berus blykbaar op toevallighede! Die evolusiegeloof heers dus oor die verstand.
Die teorie van die toevallige ontstaan van die huidige skepping sonder ʼn Skepper lei tot die sinloosheid, doelloosheid en normloosheid daarvan. En dit sluit die menslike lewe in. Die konsekwente toepassing van die oerwoudwette van die evolusieteorie skep vir die mens ʼn onleefbare samelewing. Dit sal ontaard in ʼn selfgerigte lewe, gefokus op besit en genot. Dit mag reeds deurfilter in die onderwys, wat gebou is rond die evolusieteorie. As Christene kan ons die uitgangspunte en konsekwensies van die evolusieteorie nie aanvaar nie.
Gevolgtrekking←⤒🔗
Ons sien in die skepping dat daar ʼn pragtige beplanning en samehang aanwesig is, van die makrostruktuur tot in die kleinste detail. Dit moet noodwendig wys na die grootheid van die Skepper van hierdie indrukwekkende geheel en gevarieerdheid (Romeine 1:20). Hierdie groot Skepper-God is egter nie die “Gans Andere” (Barth), wat ons nie kan verstaan nie. Hy maak Homself aan die mens bekend, in die besonder deur sy Woord. Nogtans kan ons God nie in sy totale wese verstaan nie. Hy bly ver bo die menslike verstand verhewe, ook in sy skepping. Dit moet ons beskeie maak in ons interpretasie van die skepping en sy ontstaan. Ook die skepping vra ʼn eerbiedige luisterhouding.
Die sin van die bestaan van die skepping en van die mens se lewe kan nie regstreeks uit die skepping afgelei word nie (al probeer filosowe ook hoe hard). Dit moet afsonderlik aan die mens geopenbaar word.
Die Skepper van die kosmos is ons Vader in die hemel. As ons hierdie God by voorbaat uitsluit by die ondersoek van die ontstaan en voortbestaan van die skepping, raak ons op ʼn dwaalspoor en raak ons wêreldbeeld verwronge. Hy is ook ʼn betroubare God en sal nie sy kinders mislei deur in die skepping iets te suggereer wat nie werklikheid is nie. Skeppingsnavorsing vra verwondering en eerbied van die ondersoeker. Ook ʼn Christen kan bioloog, geoloog of astronoom wees, al is hulle lewe tussen evolusiekollegas nie maklik nie.
Die ondersoek van God se skeppingsdade uit die natuur en die geloof in sy heilsplan, soos dit in die Bybel aan ons geopenbaar is, moet in beginsel versoenbaar wees. Want dit kom van dieselfde God. Hierdie God is inderdaad magtig om in ses dae die hele kosmos te skep. Maar of Hy dit inderdaad ook in 6 x 24 uur gedoen het moet ons probeer aflei uit ons verstaan van sy Woord en sy skepping. Die ondersoekers van die Bybel (teoloë) en gelowige ondersoekers van die natuur (natuurwetenskaplikes) moet saam hul onderskeie aannames en afleidings van God se openbarings bespreek en probeer om hierdie magtige God beter te leer verstaan in sy grootheid as Skepper, Onderhouer en Verlosser.
Ons en ons kinders moet ons God en Vader in sy volle openbaring leer ken. Daarby is ons gelukkig in Suid-Afrika met sy indrukwekkende natuur: berge, oseane, vlaktes, plante, diere. Maar sonder die besondere openbaring van God se Woord sal ons slegs ʼn skewe beeld van die werklikheid kry en nie die norme leer ken wat heilsaam is vir ons bestaan as God se rentmeesters in hierdie skepping nie. Dit moet ons kinders reeds vroeg leer. Daarop moet ons as ouers toesien.